Genesis 48: God met ons

Voorganger:         More maatjies! Kom sit hier naby aan my, ek wil vir julle ‘n baie ou storie vertel.

Skopper:                More dominee!

Voorganger:         Maatjies! Kan julle onthou wie is die? Kan julle sy naam onthou?

Skopper:                My naam begin met ‘n S en eindig met KOPPER.

Voorganger:         Ja, jou naam is Skopper! Wie het jou naam vir jou gegee Skopper?

Skopper:                My pa het my naam vir my gegee, dit is ‘n mooi naam ne?

Voorganger:         Ja, Skopper, dit is definitief ‘n unieke naam. Hoekom het jou pa jou Skopper genoem?

Skopper:                Waaant, toe ek nog in my eier gelê het, het ek met een harde SKOP uit my eier uitgebreek in die lewe in geskop!

Voorganger:         Sjoe, dit is ‘n mooi storie! Skopper, weet jy wat beteken Jakob se naam?

Skopper:                Wie was Jakob nou weer dominee? Was sy pa se naam Isak?

Voorganger:         Ja, Skopper, jy is reg. Jakob se pa was Isak gewees. Onthou jy dat Jakob se naam JOK beteken? En toe verander sy naam, na wat het sy naam verander?

Skopper:                Dominee, ons volstruise onthou goed, veral Bybel stories, ons is baie lief vir Bybel stories. Jakob se naam het verander na Israel toe, en ek kan vir dominee sê wat Israel se naam beteken.

Voorganger:         Julle volstruise beïndruk my altyd so! Wat het Israel se naam beteken?

Skopper:                Israel beteken “met God”. Dit beteken God was altyd by Israel gewees!

Voorganger:         Nou Skopper, Israel het baie seuns gehad. Hy het 12 seuns gehad, en een van daardie seuns se name was Josef.

Skopper:                Ja dominee. Josef was ‘n baie belangrike man in Egipte, en hy het ook twee seuns gehad.

Voorganger:         Skopper jy ken darem die Bybelstories se families goed!

Skopper:                Manasse en Efraim was sy seuns se name, Israel was hulle oupa gewees.

Voorganger:         Maatjies, wie van julle het oupas en oumas?

Skopper:                Dominee, my oupa het nie meer tande nie, hy het al teveel klippe gekou in sy volstruis lewe.

Voorganger:         Skopper, maar dink jy jou oupa bid nog vir jou?

Skopper:                Ja, dominee. Hy bid nog baie. Hy bid elke keer voordat hy eet, in die oggend, in die middag, in die aand. EN as ons by hom kuier dan probeer ons dan ons volstruis vlerke aan mekaar raak, ons het mos nie hande nie, en dan bid hy vir ons. Hy bid vir pappa, vir mamma, en ook vir my.

Voorganger:         Nou Skopper, Israel het ook vir jy kleinkinders gebid. Hy het vir Manasse en Efraim gesê om naby aan hom te kom staan, want hy was al baie oud.

Skopper:                Ja, hy was 147jaar oud. Dit is baaie oud in volstruis jare.

Voorganger:         Ja, en soos oupa Israel naby aan Manasse en Efraim staan bid hy vir hulle. Hy bid vir hulle dat hulle onthou dat dit die Here God is wat vir hulle sorg. Hy bid dat hulle onthou dat die Here God nog sy hele lewe vir hom sorg. Hy bid vir hulle en vra vir God dat Manasse en Efraim sterk sal wees, dat hulle ‘n groot familie sal word. Hy bid vir hulle dat hulle sal gelukkig wees in die land wat God vir hulle gegee het.

Skopper:                Sjoe, dominee, hy het seker baie lank gebid?

Voorganger:         Ja, Skopper, hy het lank gebid want dit was ‘n baie belangrike gebed. Hy wou seker maak dat Manasse en Efraim weet dat God deel is van hulle familie, dat hulle nie van Hom moet vergeet nie. God was nog altyd daar vir Israel en selfs ook vir sy oupa Abraham, hulle oupa grootjie. Daarom bid hy lank, want dit is belangrik dat Manasse en Efraim weet dat God deel is van hulle familie.

Skopper:                Hulle was seker bly dat hulle oupa vir hulle gebid het?

Voorganger:         Ja, Skopper, ek is seker hulle was bly dat hulle oupa saam met hulle gebid het.

Skopper:                Dominee, dit is belangrik dat ons onthou dat die Here God deel is van ons familie!

Voorganger:         Ja, Skopper, jy is reg.

Maatjies, sê saam met ons: “As ons bid onthou ons, dat die Here God, deel is van ons familie.”.

Skopper:                Dominee, ek verlang nou na my oupa, ek dink ek gaan nou by hom gaan kuier. Sien julle weer volgende keer maatjies.

Voorganger:         Babaai Skopper!

 

Staan op, en sê hardop saam Geloofsbelydenis op.

Jesaja 32: Gee aandag, luister na my…

Dit is ‘n mooi somersdag, en sy stap deur die poorte die stad binne. Sy sien ouer mense rondsit en gesels, sy hoor die gelag van kinders in die strate, soos sy die stad verder binnestap. Sy stap verby ‘n groep mans wat besig is om ‘n tonnel te kap op pad na die markplein. Daar word feesgevier, mandjies vrugte, oral vrylik beskikbaar. Vol bekers wyn word geskink en geniet. Maar bo dit alles roep iemand kliphard, “Gee aandag, luister na my…”

 

Lees Jesaja 32:9-20

 

Die tyd waarin ons onsself vandag bevind is iewers tussen 836 en 715 v.C. Dit is voor die val van Jerusalem in 701 v.C. Ons is in Juda, die Suidelike ryk, en koning Hiskia is waarskynlik aan die regeer. Hiskia het bekend gestaan as die groot hervormer, maar ook as ‘n rebel.

Hiskia was die regmatige opvolger tot die troon na die dood van sy pa, Agas. Agas het toegelaat dat morele verval die land binnedring saam met die Baalse afgodsdiens, van sy vrou Isebel, wat hy toegelaat het. Hiskia was wel anders as sy pa, hy het die hoogtes en die tempel gereinig van alles wat nie behoort tot die Jodedom nie. Hiskia het die offerdiens in ere herstel, die diens van die leviete gereël, die Paasfees gevier, en selfs vir Israel, die Noordelike ryk, daarheen uitgenooi.

Met die geestelike hervorming was daar ook uiterlike welvaart. Die lande het goed gedra en die mense kon goeie oeste in. Hiskia het selfs aandag aan die stad se watertoevoer gegee deur ‘n tonnel van 600m te laat kap. Een span het aan die kant van die Gihonfontein begin kap en ‘n ander binne die stad. Hierdie watertonnel was inderdaad ‘n ingenieurs wonder. 50m onder die grond het twee spanne vir maande aaneen na mekaar toe gekap met die hoop om bymekaar uit te kom, en op ‘n dag gebeur dit toe. ‘n Tonnel van 600m lank, 50m diep, is voltooi en toe vloei die water van die fontein tot in die stad se dam.

Hierdie is alles dinge wat veroorsaak het dat die mense op hulle gemak begin raak het. Hulle het ‘n onbesorgde lewe gelei, hulle het gedink dat die lande wat hulle gesaai en geoes het, en die waterkanale wat hulle gekap het goed is en nog lank sal staan. Hulle was selfversekerd. Hulle was selfstandig.

—–

Hierteen roep die profeet: “Gee aandag, luister na my, julle vrouens wat so onbesorg lewe, luister na wat ek sê, julle wat so selfversekerd is!”

Die roep tot aandag deur Jesaja in vers 9, gaan die roep tot publieke rou in vers 11 voor, en as die profete gebruik maak van so ‘n sterk roep tot aandag is dit gewoonlik in tye van ‘n noodgeval. So ‘n roep het tipies drie elemente; opdragte om mense bymekaar te roep, dat genoem word wie bymekaar geroep word, en die rede waarom hulle bymekaar geroep word. Al drie hierdie elemente teenwoordig in verse 11-14. Die vroue word bymekaar geroep, daar word ook gesê dat hulle verskrik sal staan, hulle sal bewe, en dat hulle rouklere moet aantrek. Die rouklere het bestaan uit ‘n growwe sak, amper soos die sakke waarin ons ons tuinvullis uitsit. Hulle moes dit om hulle middel draai en kaal bolyf rondloop, dit was die algemene praktyk as mense gerou het. Die rede waarom hulle bymekaar geroep word is omdat nie net die lande nie, maar die stad ook in bedreiging is.

Nou moet verstaan word dat hierdie vroue in ‘n vreugdevolle bui is. Hulle vier fees oor die goeie oes wat hulle ingesamel het. Hulle is gelukkig. Nou staan daar ‘n man en roep hulle tot aandag. Hy sê vir hulle om op te hou waarmee hulle besig is, en rouklere aan te trek, want in min of meer ‘n jaar se tyd sal daar nie meer rede wees om fees te vier nie. Hulle sal nie wyn hê om te drink nie, of vrugte om te eet nie, hulle sal wel rede hê om te bewe. Hy sê vir hulle dat hulle eens vrugbare lande met dorings en dissel oortrek sal wees.

Hierdie twee belewenisse of tonele staan in skrille kontras met mekaar. Die een oomblik het hulle alles, die volgende oomblik word daar vir hulle gesê hulle sal niks hê nie. Wie wil nou in tye van feesvier herinner word dat daar slegte tye gaan wees?

En waar is God?

Hierdie mense, selfs onder die koningskap van Hiskia het meer en meer op hulself begin staatmaak. Hulle het hulle landerye goed versorg. Hulle het tonnels gegrou sodat water van ver vervoer kon word tot voor hul huise. Hulle het al hoe meer in gemak begin leef. En hoe meer hulle in gemak begin leef het, hoe minder het hulle aan God gedink. Aan hoe Hy hulle eens op ‘n tyd uit Egipte verlos het, aan hoe Hy nog deur al die jare by hulle is, aan hoe hulle oeste eintlik te danke aan die Here is en nie hulle eie handewerk nie, aan hoe die lewegewende water van God af kom.

Die profeet noem dat die paleis verlate sal wees, en die stad leeg. Dat selfs die wagtoring op Ofel, die wagtoring op die heuwel, leeg sal wees, daar sal wilde donkies lustig vreet en troppe vee vrylik wei. Nou verbeel jou Bloemfontein is leeg. Niemand stap in die Waterfront rond nie, daar ry nie motors in die strate nie, Woolies se deure hang skeef uit hulle skarniere, die rakke is leeg… Die kerkklok is stil… As dit aand word brand daar nêrens ‘n liggie nie, daar is nie eens selfoon sein nie, alles is verlate… Dít is wat die profeet vir hierdie mense voorspel.

—–

En tog gaan die profeet verder in vers 15, “So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word.” Ewe skielik ruk die profeet weer die mense tot aandag. So sal dit wees tot die Gees van Bo af op ons uitgestort word.

Die ‘van Bo af’ waarvan hier gepraat word verwys waarskynlik na die hemel as die plek van God. In hierdie situasie is die Gees wat van Bo af kom, die Gees wat van God af kom. Hierdie gedagte het ook via Joël 3.1 sy weg na die Nuwe Testament gevind met die Pinkster verhaal in Handelinge 2:1 en 2:15. Die Gees word intiem gekoppel aan die lewegewende aspekte van God, wat Sy wil en doel vir ons lewens insluit. Die uitstorting van die Heilige Gees is ‘n heilige krag wat deur niemand weerstaan kan word nie, en is karakteriserend van ‘n tydperk van verlossing. Die uitstorting van die Heilige Gees bring ‘n wonderlike lewenslus in die mens wat saamhang met ‘n gehoorsaamheid waarsonder verlossing nie kan wees nie.

Verse 16 tot 18 wil dit duidelik maak dat vrugbaarheid en geregtigheid met mekaar verband hou. Die mense wat hier aangespreek word sal eindelik in veiligheid en rus sonder sorge kan lewe, mits hulle regverdig handel. Die profeet maak dit duidelik; deur geregtigheid te laat geskied, word die land ‘n oord van vrede.

Hierdie vrugbaarheid word beklemtoon in die oorvloedigheid van vers 20. Die profeet maak weer gebruik van die landbou taal wanneer hy noem dat die saad langs baie waters gesaai sal word, en die vee vrylik sal kan rondloop, anders as wat hulle in stalle gevoer word vanweë droogte en onveiligheid.

—–

Nou wonder ons, wat het hierdie mense gedoen sodat die Here sy Gees oor hulle uitgestort het? Het hulle ooit hulle rouklere gaan aantrek? Het hulle op hul borste geslaan? Het hulle iets gedoen? Of het God alles gedoen?…

Aan die een kant het ons valse onbesorgdheid. Selfversekerdes wat hulle vertroue in hul oeste en ingenieursvernuf plaas. Vroue wat geroep word om berou te toon sodat hulle land en stad nie sal vergaan nie. ‘n Profeet wat verlatenheid voorspel. Velde waar dorings en dissels sal groei. Waar groot wagtorings was, sal daar nou wilde donkies wees. Mense wat op hulself probeer staatmaak.

En aan die ander kant die Heilige Gees. Waar ‘n woestyn in ‘n digte vrugteboord verander. Waar mense reg doen en ware vrede geniet. Waar die volk in ‘n veilige stad woon. Waar daar langs strome water gesaai word. Waar beeste en donkies sonder oppassers kan wei.

Dit staan direk teenoor mekaar. Hierdie mense het waarskynlik berou getoon, maar ons weet dit nie, dit staan nie in die teks nie. Wat in die teks staan is dat God sy Gees van Bo af uitgestort het. Hy het na die mens gekom. Sonder dat hulle dit verwag het, verskyn God in die vorm van die Heilige Gees en verander hulle lewens. Omdat Hy vir hulle lief was het Hy keer op keer sy hand na hulle uitgesteek en die beter lewe vir hulle aangebied. Hulle het niks gedoen om dit te verdien nie, met al hulle dade kon hulle dit nie verdien nie. Die beter lewe was ‘n geskenk aan hulle. Dit was genade van God.

So, op wie vertrou jy? Maak jy op jouself staat? Of maak jy op God staat?

Filemon: Drie karakters

Jy maak jou oë oop, jy weet nie waar of wanneer jy wakker geword het nie. Jy sien wel dat jy in ‘n tronk lê… Droom jy of is hierdie die werklikheid? Jy voel die koue klipperige vloer, dit is donker met net ‘n klein venstertjie wat ‘n blokkie lig op die vloer laat val. Jy hoor hoe mense praat. Jy begin rondom jou kyk. Iemand is bang vir as hy uit die tronk gaan kom, dat hy nie meer gaan inpas by sy mense nie. Dat hy gesien gaan word as ‘n vreemdeling wat niks werd is nie omdat hy in die tronk was.

Jy word wakker van jou middagslapie en die wind waai deur jou Bybel. Dit val oop by die brief aan Filemon. Wie was Filemon. Hoekom is daar ‘n brief aan hom geskryf? Wie skryf nog briewe? Ek het nie eers vir my Valentyn ‘n brief geskryf nie.

Filemon was ‘n ryk man gewees, hy het in Kolosse gebly, en daar sy eie huiskerk gehad. Huiskerk, vandag “homecell”, sy eie gesin, die mense wat vir hom gewerk het, en waarskynlik die mense wat naby aan hom gebly het, het daar saam die Here aanbid, geloof, en geprys. So, Filemon was ‘n gerespekteerde burger van Kolosse, mense het na hom opgekyk, mense het sy voorbeeld probeer volg.

Ons word ook voorgestel in die brief aan Filemon, aan sy vrou, en sy seun. Sy vrou Appia is ‘n geliefde suster van die skrywer. Sy seun Archippus hoor ons is ‘n medestryder. Nie in die vorm van 300 nie soos die Spartane nie, maar eerder in die vorm van ‘n geweldlose oorlog, ek wens al die betogers kon vir Archippus geken het.

Hoekom ontvang Filemon ‘n brief? ‘n Brief is mos ‘n baie persoonlike ding wat stadig geskryf word, met die hand, en waar jy jou woorde tel, en waar jy sê presies hoe jy voel. ‘n Brief was kosbaar, en is vandag nog meer.

Wie skryf die brief? Een van Filemon se vriende. Ons almal ken hom, of het al van hom gehoor. Paulus, skryf die brief aan Filemon. Paulus weet ons het groot dele van die Romeinse Ryk deurgetoer en vir mense gaan vertel van Jesus. Hy het geloop en die evangelie aan gemeentes, aan huiskerke, en aan sy vriende gaan verkondig. Ons weet ook dat Paulus waarskynlik hierdie brief uit die tronk geskryf het, waar en wanneer hy in die tronk was, weet ons nie presies nie. Maar hy was in die tronk, en by hom was iemand wat ook vir Filemon geken het.

Kom lees lees die brief aan Filemon saam deur. (na Titus, voor Hebreërs)

Nou dat ons hierdie baie persoonlike brief tussen twee vriende gelees het weet ons bietjie meer oor die twee vriende, en ook oor die derde ou wat saam met Paulus in die tronk was.

Onesimus, die derde ou, was ‘n slaaf van Filemon in Kolosse gewees, maar hy het weggehardloop van Filemon af. Hoekom weet ons nie, maar dit het veroorsaak dat hy in die tronk beland het, saam met Paulus. Paulus en Onesimus begin mekaar so goed te ken dat hulle later vriende raak. Paulus noem Onesimus selfs sy kind, sy kind in die geloof. Onesimus het dus in die tronk saam met Paulus al nader aan die Here begin lewe.

Omdat Paulus begin verstaan het in watter penarie Onesimus homself bevind het, het hy besluit om ‘n brief aan sy vriend en Onesimus se eienaar, Filemon te skryf. Hierdie brief van Paulus aan Filemon gaan oor Onesimus. Oor wie hy was, en wie hy geword het, en wat die implikasies daarvan is.

Kan jy onthou wie jy was? Hoe was jy selfs ‘n jaar gelede? Hoe het jy opgetree? Wat het jy saam met jou vriende gedoen? En hoe is jy nou? Wat doen jy nou saam met jou vriende?

Pa, ma, kan jy onthou hoe jou seun of dogter was en hoe hulle nou is? Dinge het verander in hulle lewens. Ja, dinge het verander in jou lewe! Daarom word ons gevra om anders op te tree. As dinge verander kan ons tog nie dieselfde optree soos wat ons voorheen gedoen het nie.

Onesimus het waarskynlik iets baie sleg gedoen dat hy moes weghardloop van Filemon af. Hy het dalk iets gesteel, verkeerd opgetree, of moeg geraak vir die lewe onder Filemon en wou op sy eie aangaan. Ons kan nie ontken dat Onesimus verkeerd opgetree het nie. Gelukkig ontmoet Onesimus toe vir Paulus in die tronk.

Paulus en Onesimus begin gesels en dinge raak beter in Onesimus se lewe, hy besef dat hy verkeerd opgetree het, en nou moet terug gaan na sy eienaar toe. Die tronk ervaring het vir Onesimus verander. Onesimus is nie meer net nog ‘n slaaf nie. Onesimus is nou ‘n Christen. Dit maak hom anders. Dit verander ook die manier van hoe hy optree.

Paulus weet dat Onesimus verander het, hy het dit self gesien, hy weet dat Onesimus nou ‘n goeie man is wat mens kan vertrou en op kan staat maak, maar Filemon weet dit nie. Vir Filemon is Onesimus steeds die lafhard, wegloop, nikswerd slaaf. Daarom skryf Paulus vir Filemon, Paulus wil vir Filemon sê dat Onesimus nou ‘n nuwe mens is. Om vir Onesimus te ontvang as ‘n nuwe mens, om nie meer in sy ou dade vas te kyk nie, maar hom te ontvang soos hy vir Paulus sou ontvang.

Dink nou bietjie julle aan julle bediende of tuinwerker, hulle doen hulle werk getrou en eens op ‘n dag daag hulle net nie meer op nie. Hulle bly sommer net weg. Jy kom agter van suiker, blikkies kos, en jou geheime wegsteekgeld is ook weg. Na twee weke kom hulle weer by jou huis aan, uit die bloute, wat gaan jy maak? Jy het alle reg om hulle in die pad te steek. Jy hoef hulle nie meer in jou huis toe te laat nie. Jy kan hulle selfs by die polisie gaan aangee as jy lus het.

Dit is min of meer wat hier gebeur. Onesimus moet terug gaan na sy eienaar nadat hy vir lank net weg was. Hy het verander, verander van harte, maar Filemon sy eienaar weet dit nie. Filemon het die volste reg om hom in die tronk te laat gooi, om selfs te eis dat hy lyfstraf in die openbaar ontvang.

Paulus vra hom om dit nie te doen nie. Nie omdat hy die groot vriend Paulus is nie, maar vanweë die liefde. In vers 8 sê Paulus dat hy by Filemon pleit ter wille van die liefde. En hierin lê die les. Soos wat Jesus Christus vir ons, wat sondaars is, ons wat Onesimusse is, in ons plek by God die Vader kom pleit het, so kom pleit Paulus by Filemon. Nie op grond van hierdie en daardie reg wat hy verdien het nie, maar op grond van die liefde. Omdat Paulus waarlik lief geword het vir Onesimus, en hom selfs sy kind en sy broer noem, vra Paulus vir Filemon om vir Onesimus met liefde te ontvang. En dit vat ook liefde van Filemon se kant af om te vertrou in die woorde van Paulus en Onesimus nog ‘n kans te gee.

Ons weet dat die liefde alle vrese verdryf. En dit is inderdaad wat hier gebeur in hierdie kort brief aan Filemon. Ons sien hoe Paulus vreesloos vriende raak met iemand wat as nikswerd in die tronk gegooi word. Ons sien hoe Onesimus met deursettingsvermoë en dapperheid bereid is om terug te keer na die een teen wie hy gesondig het. Ons sien hoe Filemon homself moet konfronteer oor hoe hy regtig na mense kyk. Niks van hierdie sou moontlik gewees het sonder die liefde nie. Om Christen te wees beteken om lief te wees! Om so lief te wees dat jy sonder vrees ander onvoorwaardelik sal aanvaar.

So voor jou gedagtes weer begin dwaal na die tronk, die koue vloer, die donkerte, die alleenheid, #imagine wat jy kan doen vanuit die liefde, vir jouself, en vir ander! #imagine!