Genesis 28:10-22

Inleidend:

Wie van julle was al bang? Waarvoor is mense bang? Party is bang vir die donker. Ander is bang vir die weer. Sommige kinders is bang as hulle te laat by die huis kom. Hulle is bang dat Pa hulle ‘n pakslae gaan gee.

Jakob was ook bang:

Die Bybel vertel ons van iemand anders wat ook baie bang was. Hy was bang vir sy broer. Sy broer was baie kwaad vir hom. Sy naam was Jakob. Esau, sy broer, was woedend kwaad vir hom. Ek wonder wie van julle kan vir my sê hoekom Esau so kwaad vir Jakob was? (Prent 3.2)

Toe Jakob en Esau se pa al baie oud was, het hy op ‘n dag vir Esau geroep en gesê: “Gaan jag en bring asseblief vir my ‘n stukkie wildsvleis. Dan kry jy jou deel van my goed.” Esau was natuurlik die oudste. Die oudste het in daardie tyd die grootste deel van sy pa se goed gekry. Die oudste seun het dubbel so veel gekry as die ander kinders. Toe Esau by die huis weg is, het Jakob se ma, Rebekka, hom geroep. Sy was vir Jakob baie liewer as vir Esau. Hy was haar witbroodjie. “Jakob,” het sy gesê, “gaan slag gou twee bokkies. Ek sal die vleis lekker gaarmaak. Jy kan dan Esau se klere aantrek en bind ook die velle van die bokkies om jou hande en nek vas. Jy moet maak of jy Esau is en die kos vir jou pa neem.” (Prent 3.3)

Arme Isak kon nie meer goed sien nie. Toe Jakob by hom kom, sê Jakob: “Pa, ek is Esau. Hier is Pa se wildsvleis.” “Jou stem klink vandag nes Jakob s’n” sê Isak. “Staan ‘n bietjie nader dat ek jou kan voel.” Toe Isak die velle om Jakob se hande voel, glo hy dis Esau. En hy sê: “Jy kan nou maar jou deel van die goed kry. Dit is dubbel soveel as Jakob s’n.” Toe Esau terugkom en uitvind dat Jakob vir sy pa gejok het en alles wat bedoel was om syne te wees, gevat het, was Esau baie kwaad.

Jakob vlug

Jakob was so bang vir Esau dat hy sy tasse gepak en gevlug het. Jakob het nie net vir Esau gevlug nie, maar hy het ook vir God gevlug.

Kan ‘n mens vir God vlug? ‘n Mens kan nie vir God vlug nie, want Hy is orals (Prent 3.6). Orals waar ‘n mens gaan, daar is God ook. As jy hokkie speel dan is God daar by jou op die hokkieveld. As jy in die klas sit en besig is om toets te skryf of mondeling te praat, dan is God ook daar by jou. As jy jou toon teen ‘n klip stamp dan is God ook daar met jou. (Prent 3.4)

Jakob stap en hy stap. Hy sal ver moet weggaan. Uiteindelik kom hy by ‘n plek aan met die naam van Lus. Dit was al donker. Hy besluit om daar te slaap. Nêrens is daar ‘n huis om in te slaap nie. Hy het nie komberse nie en ook nie lekker kussings nie. Pleks van Ma Rebekka se lekker verekussings druk hy ‘n klip onder sy kop in en probeer aan die slaap raak. Hy het seker gedink: “Ek is heeltemal alleen hier in die veld.”

Maar was hy alleen? Nee, hy was nie. (Gebruik Prent 3.6 om die tema te beklemtoon.) God het saam met Hom gegaan. God is mos oral.

Jakob droom

Jakob het aan die slaap geraak. Wat het gebeur toe Jakob slaap? Ja, Hy het gedroom. Hy droom van ‘n lang, lang kliptrap. So lank dat dit aan die hemel raak. En op die trap is daar engele. Hulle klim op en af. Jakob kyk en wat sien hy? Bo aan die trap staan God self. God het van sy troon opgestaan. Ek dink Jakob se hart het baie vinnig begin klop. Jakob het seker op sy klipkussing gesweet. Hy het seker gedink aan al die dinge wat hy al aangevang het: hoe hy vir sy pa gejok het en Esau se goed voor sy oë weggesteel het.

“Hoe verskriklik is hierdie plek”, het Jakob by homself gesê toe hy God aan die bopunt van die trap sien staan.

Die wonderlike is dat die Here nie vir Jakob wou straf nie, al het hy ‘n klomp verkeerde dinge gedoen. Hy het vir Jakob gesê: “Ek ken jou pa en oupa. Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan” (Genesis 28:15).

Dit is asof die Here vir hom wil sê: “Jakob, al het jy verkeerde dinge gedoen, is Ek lief vir jou. Ek gaan saam met jou.”

Is dit nie wonderlik nie? Jakob se God is ook jou en my God. Hy is baie lief vir jou. Hy gee vir jou om, al maak jy Hom hartseer. Al baklei jy met jou boetie of jou sussie sien Hy jou nog altyd raak. Hy sê ook vandag vir jou: “Ek wil met jou saamgaan.”

Toe jy gedoop is het Hy al vir jou gesê: “Jy is Myne, Ek sal vir jou sorg.” Jy hoef nie bang te wees nie! Al moet jy deur die donker gang stap, dan sal God by jou wees. Jy is nie alleen nie. God is by jou soos Hy by Jakob was.

Jakob plant

Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie…Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

Jakob het opgestaan, sy klip kopkussing gevat en dit geplant en olie oor die bopunt daarvan uitgegooi en die plek Bel-El genoem, wat beteken “huis van God”. Soos wat hy verder gegaan het met sy reis, en God met hom, het hy terug gekyk en daardie klip het reguit na bo gewys, diep geplant terwyl dit reguit op wys.

Wie het ons oorreed dat God vier mure en ‘n dak verkies bo die oop vlaktes? In die ooptes, daar waar die wind deur jou hare waai, daar waar jou hande tussen die grond woel, of styf om daai hokkiestok grip, ook daar is God met jou.

Die ding is; die Here wil meer en meer van ons weghardloop kinders hê en ek vermoed dat ons ook na Hom verlang en soms te skaam is oor dit wat ons gedoen het om jammer te sê, vir mekaar en vir Hom om terug te keer na Hom. En dan hardloop ons weg, of ons dink ons kan weghardloop, tog is die Here orals met ons.

Hy laat sak sy trap met engele in die ooptes, in die parkering, in jou tuin, in die klas, selfs in jou garage, as jy mooi kyk sal jy sy trap sien blink. Hy is daar. Hy is met jou. Hy verlang na jou. En sodra jy dit besef, sodra jy sy trap raaksien en sy teenwoordigheid beleef gaan ‘n hele nuwe wêreld vir jou oopgaan, net soos vir Jakob oopgegaan het.

Die Here is met ons, ons kinders van Abraham, Isak en Jakob, die weghardloop oneerlike broer, hy is deel van ons DNA en ons is deel van syne, en steeds is God met ons. Sodra jy die trap sien en die Here se teenwoordigheid beleef, plant jou klip, sodat wanneer dit weer moeilik gaan, jy kan onthou dat Hy met jou is, met jou en jou huisgesin.

Amen.

Genesis 48: God met ons

Voorganger:         More maatjies! Kom sit hier naby aan my, ek wil vir julle ‘n baie ou storie vertel.

Skopper:                More dominee!

Voorganger:         Maatjies! Kan julle onthou wie is die? Kan julle sy naam onthou?

Skopper:                My naam begin met ‘n S en eindig met KOPPER.

Voorganger:         Ja, jou naam is Skopper! Wie het jou naam vir jou gegee Skopper?

Skopper:                My pa het my naam vir my gegee, dit is ‘n mooi naam ne?

Voorganger:         Ja, Skopper, dit is definitief ‘n unieke naam. Hoekom het jou pa jou Skopper genoem?

Skopper:                Waaant, toe ek nog in my eier gelê het, het ek met een harde SKOP uit my eier uitgebreek in die lewe in geskop!

Voorganger:         Sjoe, dit is ‘n mooi storie! Skopper, weet jy wat beteken Jakob se naam?

Skopper:                Wie was Jakob nou weer dominee? Was sy pa se naam Isak?

Voorganger:         Ja, Skopper, jy is reg. Jakob se pa was Isak gewees. Onthou jy dat Jakob se naam JOK beteken? En toe verander sy naam, na wat het sy naam verander?

Skopper:                Dominee, ons volstruise onthou goed, veral Bybel stories, ons is baie lief vir Bybel stories. Jakob se naam het verander na Israel toe, en ek kan vir dominee sê wat Israel se naam beteken.

Voorganger:         Julle volstruise beïndruk my altyd so! Wat het Israel se naam beteken?

Skopper:                Israel beteken “met God”. Dit beteken God was altyd by Israel gewees!

Voorganger:         Nou Skopper, Israel het baie seuns gehad. Hy het 12 seuns gehad, en een van daardie seuns se name was Josef.

Skopper:                Ja dominee. Josef was ‘n baie belangrike man in Egipte, en hy het ook twee seuns gehad.

Voorganger:         Skopper jy ken darem die Bybelstories se families goed!

Skopper:                Manasse en Efraim was sy seuns se name, Israel was hulle oupa gewees.

Voorganger:         Maatjies, wie van julle het oupas en oumas?

Skopper:                Dominee, my oupa het nie meer tande nie, hy het al teveel klippe gekou in sy volstruis lewe.

Voorganger:         Skopper, maar dink jy jou oupa bid nog vir jou?

Skopper:                Ja, dominee. Hy bid nog baie. Hy bid elke keer voordat hy eet, in die oggend, in die middag, in die aand. EN as ons by hom kuier dan probeer ons dan ons volstruis vlerke aan mekaar raak, ons het mos nie hande nie, en dan bid hy vir ons. Hy bid vir pappa, vir mamma, en ook vir my.

Voorganger:         Nou Skopper, Israel het ook vir jy kleinkinders gebid. Hy het vir Manasse en Efraim gesê om naby aan hom te kom staan, want hy was al baie oud.

Skopper:                Ja, hy was 147jaar oud. Dit is baaie oud in volstruis jare.

Voorganger:         Ja, en soos oupa Israel naby aan Manasse en Efraim staan bid hy vir hulle. Hy bid vir hulle dat hulle onthou dat dit die Here God is wat vir hulle sorg. Hy bid dat hulle onthou dat die Here God nog sy hele lewe vir hom sorg. Hy bid vir hulle en vra vir God dat Manasse en Efraim sterk sal wees, dat hulle ‘n groot familie sal word. Hy bid vir hulle dat hulle sal gelukkig wees in die land wat God vir hulle gegee het.

Skopper:                Sjoe, dominee, hy het seker baie lank gebid?

Voorganger:         Ja, Skopper, hy het lank gebid want dit was ‘n baie belangrike gebed. Hy wou seker maak dat Manasse en Efraim weet dat God deel is van hulle familie, dat hulle nie van Hom moet vergeet nie. God was nog altyd daar vir Israel en selfs ook vir sy oupa Abraham, hulle oupa grootjie. Daarom bid hy lank, want dit is belangrik dat Manasse en Efraim weet dat God deel is van hulle familie.

Skopper:                Hulle was seker bly dat hulle oupa vir hulle gebid het?

Voorganger:         Ja, Skopper, ek is seker hulle was bly dat hulle oupa saam met hulle gebid het.

Skopper:                Dominee, dit is belangrik dat ons onthou dat die Here God deel is van ons familie!

Voorganger:         Ja, Skopper, jy is reg.

Maatjies, sê saam met ons: “As ons bid onthou ons, dat die Here God, deel is van ons familie.”.

Skopper:                Dominee, ek verlang nou na my oupa, ek dink ek gaan nou by hom gaan kuier. Sien julle weer volgende keer maatjies.

Voorganger:         Babaai Skopper!

 

Staan op, en sê hardop saam Geloofsbelydenis op.

Genesis 3: God wil weet… Wat antwoord jy?

Maandag 2 Junie 2014

 

God wil weet… wat antwoord jy?

 

Skriflesing: Gen 3:1-13

 

Een van die maniere waarop God vir jou se hoe hy dink hoe Hy voel oor ‘n situasie oor mense oor ‘n sonde, is deur middel van vrae te vrae. As Hy wil se dat Hy jou liefhet, dan vra Hy: Waarom tog wil jy sterwe? As Hy jou wil nadertrek en styf teen Hom vasdruk, dan vra Hy: Wat is jou naam? As Hy jou wil red uit ‘n dodelike situasie, dan vra Hy: Glo jy dat Ek kom? En as Hy wil he dat jy sal wees dit wat eintlik bedoel om te wees, dan vra Hy: Het jy die Heilige Gees ontvang?

 

Hierdie vrae het ‘n tweeledige doel: 1.) God openbaar ‘n noodtoestand. Hy wys die problem uit. Hy druk met sy vinger presies op die seerplek. 2.) Hierdie vrae se vir jou wat God wil he, hoe Hy wil he jy moet doen…

 

God se vrae is sielsondersoekende vrae, hartoopmaakvrae. Hierdie week gaan ons elke middag ‘n ander vraag neem.

 

Mag hierdie vrae in die lug bly hang, want: God wil ‘n antwoord he! God wil weet… wat antwoord jy? Antwoord jy maar weer soos al die kere in die verlede deur slim redenasies en verskonings… of… gaan jy hierdie week werklik toelaat dat God met jou praat en jy met Hom?

 

Soos met Adam en Eva. As Eva eerlik voor God wou wees sou sy se: 1.) Here, ek is skuldig. Ek het U uitdruklike gebod oortree. 2.) Here, ek het Satan toegelaat om twyfel in my hart te saai. 3.) Here, ek het boonop nog iemand anders saam met my laat sondig. Ek is skuldig!

 

Eva wys egter vir ons hoe ons gewoonlik maak. Deur slim argumente en verontskuldigings en beskuldigings onthef sy haarself van alle blaam.  Volgens haar is sy ‘n slagoffer van Satan, eintlik heeltemal onskuldig en daarmee uit en gedaan. Geen verdure gedagte meer oor haar sonde nie. Maar eintlik is sy vasgevang in ‘n toestand van verlorenheid, in ‘n lewenswyse waar daar nie plek is vir God se uitdruklike gebod nie.

 

Weet jy wanneer jy skuldig is? Weet jy nog wanneer jys sonde doen? Weet jy wat sonde is? Sonde is ongehoorsaamheid. Wanneer jy nie doen wat God vir jou se om te doen nie. Sonde is om God se seer aan t etas en Hom belaglik te maak!

 

Kom ons raak prakties. God wil he dat jy: eredienste bywoon, meelewend sal wees, eerlik sal wees, barmhartig sal wees, selfbeheersing aan die dag sal le, liefde sal gee, vriendelik, toeganklik sal wees. Kortom: Om te alle tye sy eer voorop te stel. Met ander woorde, God wil he dat jy ‘n lewenswyse sal aanleer, ‘n lewenswyse van oorwinning oor sonde, ‘n lewe van gehoorsaamheid aan die sagte stem van die Heilige Gees!

 

God wil nie he dat jy geldgierig sal wees nie, twis soekerig sal wees nie, ongeduldig, onverdraagsaam, onvergenoegd. God wil nie he dat jy moord pleeg nie, dat jy egbreek pleeg en steel nie. Nie sal begeer en vol hebsug wees nie. Kortom: ongehoorsaam sal wees nie. Daarvoor is Hy vir jou te lief!

 

Daarom vra hy vir Eva: Wat het jy nou gedoen? Hy wys vir haar presies waarmee sy besig is. Hy roep haar tot stilstand. Wat het jy gedoen? Waarmee is jy besig? Hoe lyk jou lewe? Ek roep julle almal nader, party is baie ver en moet daar hard geroep word. Kom nader, kom luister. God wil ‘n vraag vir jou vra… Wat antwoord jy? Hy vra dit ook vir jou! Hy vestig die aandag op jou verhouding met Hom. En hy wag op ‘n antwoord!

 

Amen.