Die boek Romeine soos julle weet is deur Paulus geskryf. Hy het dit tussen 55nC en 59nC naby aan Korinte oppad na Jerusalem geskryf, waarna hy beplan het om in Rome en Spanje te stop. Daar is reg deur die hele Romeine boek ‘n droefheid in Paulus se stem. ‘n Droefheid vir die Jode, die verbondsvolk, omdat hulle nie die openbaringsdade van God wil aanvaar nie. Hulle wil nie glo wat hulle gesien het nie. Hulle wil nie luister na wat hulle gehoor het nie.
Kom ons lees Romeine 10:5-13
Die hoofrede vir verbrokkelde verhoudinge is onvervulde verwagtinge. Onvervulde verwagtinge bring teleurstelling en teleurstelling word later moedeloosheid en moedeloosheid later ongeërgheid en ongeërgheid later ergerlikheid en twis, en uiteindelik verbrokkeling. So onvervulde verwagtinge lei tot verbrokkelde verhoudinge.
Ons as mense is altyd in `n staat van verwagting. Ons verwag voortdurend verandering, dat ons lewe, ons omstandighede sal verander. Ons verwag sekere goed in ons huwelik, van ons huweliksmaat, van ons vriende. Ons het sekere verwagtinge van ons werk, ons kerk, ons dominee, ons ouderling. Ons verwag ook dat die worsteling van ons land en van die wêreld, die hele kosmos sal verander. Ons wag op vernuwing van ons huwelik, in ons familie, ons verhoudinge, ons geestelike lewe, ons gehoorsaamheid aan God. Ja, ons het bepaalde verwagtinge van God, dat Hy ons en ons verhoudinge sal vernuwe en herstel.
Die Jode in die eerste eeu het ook bepaalde verwagtinge van God gehad. Hulle het verwag dat Hy sy beloftes aan Abraham sou vervul en het angstig op verlossing en herstel gewag.
Toe openbaar God Hom en sy reddingsdade in Christus, maar die Jode het nie hierdie redding en herstel, die geregtigheid van God aanvaar nie. Dit is die rede vir Paulus se droefheid en angstige gebede van Romeine 9 tot 11.
Is ons nie partymal soos Israel nie? Twyfel ons nie ook aan die openbaring van God – aan die vervulling van sy beloftes nie? Ons het verwagtinge wat blykbaar onvervuld bly. Kyk maar om ons heen; ons eie geestelike lewe is arm, ons huwelik en familie in nood en ons verhoudinge broos. Wat van die geweld, morele verval, diskriminasie in die gemeenskap en die land? Onderdrukte mense wat huil om verlossing en `n aarde wat skreeu na herstel.
Het God sy beloftes van redding en herstel werklik vervul? Maak Christus regtig `n verskil? Ons glo dit nie aldag nie. Dan word ons teleurgesteld, moedeloos, selfs ergerlik, en ja, dan stotter ons geloof en ons verhouding met God verbrokkel.
Paulus erken wel hierdie spanning waar hy in Romeine 7 praat van sy eie worsteling en verlange na die verlossing van sy liggaam; van die sugtinge van die aarde om verlossing van die slawerny in Romeine 8.
Tog is dit waar, God het Hom geopenbaar, Christus het gesterf en opgestaan, die nuwe verbond is hier, die redding en die kosmiese herstel. Dit is waaraan die teks ons herinner. Vers 9 stel dit duidelik: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.”
Christus is die Here. Die nuwe era het reeds aangebreek en die huidige lyding sal nie kan opweeg teen die finale openbaring van die heerlikheid nie. Die verlossing is naby – in ons hart en in ons mond. Hier haal Paulus aan uit Deut 30:12-14 en wys juis dat Christus die vervulling van die wet is. Dat soos wat daar vasgeklou word aan die tien gebooie, so moet daar nou geglo word dat Christus uit die dood opgestaan het, en ons verlos het van ons sonde. Dat Hy deur sy Gees nou naby aan ons is, dat Hy in ons is, en ons nie in verbrokkelde verhoudinge hoef te leef nie.
Die verlossing is so naby dat dit deel van ons is. Ons hoef nie af te dwaal na die doderyk nie, ook nie op te vaar na die hemel op soek na Christus nie. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. God self het dit in ons hart en mond kom lê.
Glo ons dit? Bely ons dit? Nog meer, verkondig ons dit?
Dit is immers waarom ons afgesonder en geroep is, ons is afgesonder en geroep om aan Jesus Christus te behoort, soos Romeine 1:6 vir ons sê. Bowendien moet ons dit nie net aan ons eie mense verkondig nie, aan mekaar nie; maar ook aan vreemdelinge, die wat buite die kerk is. Die openbaring van herstel en verlossing is vir elkeen, almal, Jood en Griek, inderdaad die ganse wêreld.
Die teks herinner ons ook aan die eenheid binne die nuwe verbond en dat ons, saam, onsself moet offer as heilige en lewende offer aan God. Die eenheid van die liggaam en die eis van liefde is deel van die nuwe verbondsvolk soos Romeine 12 dit stel.
Daar is egter ook ʼn waarskuwing in die teks. ʼn Ernstige waarskuwing – die meeste van die Jode het nie die openbaring van God in Christus geglo nie. Hulle was hardkoppig en hardhorend. Luister jy na wat die Here vir jou sê? Luister julle as gemeente na die stem van die Here? Of is julle ook soos die Jode van ouds, hardkoppig en hardhorend? Daarom dat Paulus so droewig en angstig, bid en preek vir die gemeente van Rome.
Die dringende waarskuwing geld ook vir ons, vir my en vir julle, vandag. Is ons verwagtinge dalk nie reeds vervul, maar ons hoor dit nie. Is ons verwagtinge dalk nie reeds vervul, maar ons verstaan dit nie. Is ons verwagtinge dalk nie reeds vervul, maar ons glo dit nie? Naby jou is die Here, in jou mond en in jou hart.
Amen.