Hoofstuk 11 lei die finale reis na Jerusalem in. In hierdie hoofstuk word die snaar van spanning byna onuithoubaar gespan. Alles werk op na die konfrontasie in die Jerusalem. Die dissipels is pynlik bewus van hierdie gevaarlike situasie en daarom sê hulle vir Jesus in 11:8: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?” En soos die verhaal ontvou, blyk dit dat dit die opwekking van Lasarus is wat die laaste strooi is wat die kameel se rug breek. In die opbou van die Johannesevangelie is die opwekking van Lasarus dus van sleutelbetekenis. Dit is die gebeurtenis wat die skaal finaal teen Jesus laat kantel.
In die verhaal skuil die diepste boodskap. Jesus se daad van lewegewing en opwekking lei daartoe dat sy eie lewe van Hom weggeneem word. Daar is verder ook ’n ironiese kontras in Jesus wat hard roep dat Lasarus uit die graf moet uitkom en die stille stomheid van Lasarus. Hy praat nie een keer nie. Hy is die totaal passiewe karakter in die verhaal. Die oorverdowende stilte van Lasarus is ’n ontploffende antiklimaks aan die einde van die verhaal. Niks word gerep oor Lasarus as mens, oor sy gevoelens en ervarings nie.
Morris West, die fiksieskrywer, het my bewus gemaak van Lasarus se stilswye nadat Jesus hom opgewek het uit die dood. West skryf in sy bekende boek The clowns of God: “Think about the details: the sisters in grief, in fear of what might be revealed when the tomb was opened. Iam foetet, they said, ‘Already he stinks!’ Then the tomb opened, Jesus called, Lazarus stepped out, still wrapped in the cerecloths. Have you ever thought how he must have felt, as he stood blinking in the sunlight, looking anew on a world from which he had taken his last leave? … Nothing could ever be the same as it was before.”
Nadat ek hiervan bewus geword het, het hierdie kontras in die verhaal in Johannes 11 vir my al opvallender geword. Die emosielose Lasarus teenoor die emosiebelaaide optrede van Jesus en die susters. Lasarus is die totaal passiewe en Jesus die aktiewe, die Een wat die verloop van die gebeure geheel en al manipuleer. Hy stel selfs sy vertrek na Betanië met twee dae uit, skynbaar om doodseker te maak dat Lasarus dood is by sy aankoms.
Teenoor die “harde stem” waarmee Jesus “roep” na Lasarus, staan Lasarus se eie stomgeslane stilte. Die dramatiese verhaal eindig met ’n skokkende en plofbare stilte.
Waarom? Definitief nie omdat die skrywer lomp is met die beskrywing van menslike emosie nie. Dit is nie asof hy ’n swakker skrywer is as Morris West nie. Inteendeel, dit is juis in hierdie verhaal dat ons die duidelikste openbaring van emosies by Jesus kry. Jesus het nie alleen “hard geroep” nie, maar ons lees dat sy “gemoed vol geskiet” het en dat hy “aangedaan” was (11:33). En toe bars Hy in trane uit (11:35). Luther se vertaling van vers 33 suggereer selfs ’n bykomende emosie van woede: “Hy het in sy gees kwaad en ontsteld geword.”
Juis omdat hoofstuk 11 so ’n emosiebelaaide gedeelte is, staan die stomp einde en die emosielose beskrywing van Lasarus soos ’n seer vinger uit. Die stomme Lasarus beklemtoon juis dat hierdie verhaal nie ’n sappige storie oor Lasarus is wat vandag ’n sensasionele tydskrif sou gehaal het nie. Die betekenis van hierdie verhaal lê elders. Dit word nog duideliker wanneer ons kyk na die strukturele opbou van die verhaal en ook na die reeks wondertekens in hierdie eerste 11 hoofstukke van Johannes.
In hierdie eerste 11 hoofstukke van Johannes word sewe wondertekens beskryf. Die eerste by ’n bruilof, die laaste by ’n begrafnis. Feestelikheid teenoor hartseer. Tussenin vind ons genesings en ’n natuurwonder – die volle spektrum van die lewe. Die betekenis van Jesus se lyding en opstanding vir elke faset van die lewe word daardeur gedek. Maar daar is ’n opbou na hierdie laaste wonder wat gaan oor die uitbanning van die grootste hartseer en grootste vrees: die hartseer oor en die vrees vir die dood.
Die sewe wondertekens is:
- Die eerste teken in Kana (water in wyn) 2:1-11
- Die tweede teken in Kana (die genesing van die regeringsamptenaar se seun) 4:46-54
- Die genesing by die bad van Bethesda (Jerusalem) 5:1-15
- Die voeding van die 5 000 (die See van Galilea) 6:1-15
- Jesus loop op die see (die See van Galilea) 6:16-21
- Die genesing van die man wat blind gebore is (Jerusalem) 9:1-41
- Die opwekking van Lasarus 11:1-44
Daar is ook nog die interessante opbou van die hoofstuk self. Dit sou struktureel soos volg voorgestel kon word:
A1 1-16 Jesus se eerste reaksie op Lasarus se dood
B1 17-22 Marta se dialoog met Jesus
C 23-27 “Ek is die opstanding en die lewe”
B2 28-32 Maria se dialoog met Jesus
A2 33-44 Jesus se tweede reaksie op Lasarus se dood (die wonder)
Dit word duidelik dat dit in hierdie verhaal nie eerstens gaan oor die opwekking van Lasarus nie, maar oor die dood en opwekking van Jesus. Die gesinskrisis van Betanië word ’n metafoor van die krisis van die mensdom. Die doel is nie die opwekking van ’n dooie man, wat in elk geval later weer sou sterf nie, maar die gawe van die lewe aan die wêreld.
Daarom is Jesus se eerste en tweede reaksie op Lasarus se dood, sy dialoog met Marta en met Maria slegs die stutte wat die sentrale woord van die verhaal omhoog hou:
Ek is die opstanding en die lewe.
Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;
en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.
Die verhaal wat hier afspeel, is soos ’n doek wat geskilder word, maar wanneer jy dit omhoog hou, ontdek jy daar drup bloed onder uit. Dit is asof die lyding van Jesus deur die oppervlak van die verhaal drup. Jesus se diepe emosies in hierdie hoofstuk is ’n soort voorspel tot Getsémané. Hy weet sy roep na Lasarus om uit die graf te kom beteken maar net dat die tyd naby is vir Hom om die graf te betree. Dit is juis die geloof in Jesus wat deur die opwekking van Lasarus aangevuur word, wat die godsdienstige leiers oortuig dat Jesus uit die weg geruim moet word (11:45-53). In en deur die Lasarus-storie skyn die Jesus-storie.
Dit beteken egter nie dat Marta, Maria en Lasarus slegs pionne is in die verhaal en net gebruik word om ’n dieper geestelike storie te vertel nie. Hulle is werklike mense wat vasgevang is in die werklike pyn en hartseer van die lewe. Dit is nie sonder rede nie dat al die rou emosies so helder beskryf word. Dit is ook nie sonder rede nie dat Jesus hier geskilder word as die Een met die sagte hart wat meevoel. Dit gaan nie oor ’n groot saak ten koste van mense nie. Dit gaan in hierdie hoofstuk, soos altyd by Jesus, oor werklike mense en hulle gevoelens. Hy tree met medelyde in hulle lewe in.
Maar wat die skrywer van die Johannes evangelie ons wil help verstaan, is dat Jesus nie net gekom het om ’n bietjie salf aan die wonde te smeer nie, maar om vensters van hoop oop te maak. Te midde van ons lyding word ons ook ingetrek in sy lyding en kry ons deel aan sy opstanding. Ons is veilig, selfs binne-in ’n graf. Jesus se stem is ook dáár hoorbaar.
Hierdie “boek van tekens” (Joh 1-12) help ons om te verstaan dat elke faset van ons lewe opgeneem word in die groter Verhaal. Ons verliese en hartseer word uiteindelik deel van die groot verlies en die dieper hartseer van God.
Ons trane meng met Syne en ons graf word sy graf wat geopen word. Hy het nie gekom om ons te bevry van die dood in die sin dat ons siekte en dood sal vryspring nie, maar die lewe wat Hy gee, oorskry die grense van die dood.
Die finaliteit van die dood, lê nie in wat dit termineer nie, maar in wat dit inhuldig. In Hom sal ons opstaan. In Hom sal ons lewe. Hy is die Een wat die ewigheid vir ons kom oopsluit.
Amen.