Matteus 24: Om meer en meer soos Jesus te lewe

Om aandag te gee aan die hier en nou is een van die hoof temas van die Advent tyd. Met die volgende paar vrae wil ek graag ons gedagtes prikkel om bewus te raak van waar ons met wat besig was, is en sal wees. Kies een van die volgende vyf vrae om oor te dink:

 

–           Hoe sal jy liefde gee en neem in verhouding met die mense naaste aan jou?

–           Hoe sal jou interaksies met mense aanleiding gee tot heilige oomblikke?

–           Hoe sal jy leer van die mense wat die minste soos jy is?

–           Hoe sal jy jou sintuie aanwakker om die goeie en die vrede raak te sien waarmee die Here besig is?

–           Hoe kan jy wakker word in jouself, jou liggaam, siel en gees?

 

Hoe sal so ‘n bewussyn van die mense die naaste aan jou, die interaksies met vreemdelinge, die mense die minste soos jy, God, en jouself, bepaal hoe jy jou tyd spandeer?

 

Luister, kyk, dink oor hoe jy jou tyd spandeer.

 

Daar word vir ons vertel dat met Noag se sondvloed het die mense geëet, gedrink en getrou en soos normaal aangegaan met hul lewens. Dat daar spesifiek vertel word van dat hulle getrou is om te wys dat die mense verwag het dat die toekoms vanselfsprekend daar sal wees.

 

Terwyl ons besig sal wees met ons alledaagse dinge, eet, drink, trou sal die Here se koms (parousia) skielik gebeur. Van die 24 keer wat die Griekse term parousia in die Nuwe Testament voorkom, kom dit viermaal in die Matteusevangelie voor (24:3, 27, 37, 39) al vier keer in Matteus 24. Dit kom nie in enige van die ander evangelies voor nie. Parousia is ‘n antieke Griekse woord wat as “teenwoordigheid”, “aankoms” of “amptelike besoek” vertaal kan word.

 

Die teenwoordigheid van die Here vind op alle terreine van ons lewens plaas. In al die voorbeelde wat Matteus gebruik is mense besig met alledaagse dinge.

Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy besig is om in die ry by Spar te staan. Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy besig is om voor die TV te lê. Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy besig is om om te wonder hoeveel en van wat jy moet plant vir volgende jaar. Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy op jou selfoon scroll, double tap en like.

 

Dink jy die Here sal van dit hou waarmee jy besig is? Dink jy, jy sal graag met dit wil besig wees terwyl die Here aan jou verskyn?

 

Om waaksaam te wees beteken om met afwagting te lewe. Hier is Matteus word van waaksaamheid te midde van die alledaagse lewe gepraat. Die gelykenis van die dief in die nag wil vir ons sê dat ons wat onsself Christus se volgelinge noem in ‘n konstante status van afwagting moet leef. As ‘n huiseienaar gereed is en wag, sal hy nie onkant gevang word deur die dief wat inbreek nie.

 

Wat my laat wonder oor hierdie gedeelte is twee dinge:

–           Hoe wag ‘n mens?

–           Hoekom moet ons in afwagting lewe?

 

En soos ek wonder, dink ek dat hierdie twee vrae se antwoorde naby aan mekaar is.

 

Matteus help ons om verder in die toekoms in te kyk as waaraan ons gewoond is. Hy help ons om die teenwoordige Here in ons midde – waar ons leef en werk, waar ons eet, drink en trou – raak te sien. Hy help ons om in die hier en nou met hoop vir die toekoms te lewe. Matteus help ons droom, maar hy help ons nie om in ons slaap te droom nie, Matteus maak van ons dagdromers.

 

Matteus help met fokus, op die hier en nou. Ons lewe in ‘n tyd van slim horlosies en ons tel tyd in nanosekondes. Wanneer kinders gebore word, dink ons al aan hulle naskoolse opleiding, beroepe en troues. Wanneer ons begin werk, begin ons spaar en voorbereidings tref vir ons aftrede. Ons tyd het vloeibaar geword. Ons kan baie maklik die huidige, die onmiddellike, die teenswoordige, die hier en nou, mis. Ons moet leer om in die hede en oop vir die oomblik te leef. Híér waar Jesus nóú teenwoordig ís.

 

Die geleerde Karl Barth sê ons moet leer om tussen die tye te leef, wat dalk ‘n antwoord in die rigting is van ‘hoe wag ‘n mens’. Terwyl ons wag moet ons terug kyk en onthou van hoe die Here ons in die verlede gered en gehelp het, oor geslagte heen, van Noag en Job, na die aardbewing, deur die leë damme, tot vandag toe.

 

Terwyl ons wag moet ons vorentoe kyk met die verwagting van die Here wat teenwoordig is. Dit is ‘n massiewe gedagte om in gedagte te hou. Dit verander alles wat ‘n mens doen. Om te dink dat die Here, nou, hier, teenwoordig is. Hy is hier! Immanuel, God met ons! Sal ons doen wat ons doen as ons leef met so ‘n bewussyn? Sal ons vroeg oggend al in Checkers Hyper of Game se rye gaan staan om daardie uitgesoekte televisie op uitverkoping te koop? Of sal ons eerder vroeg oggend help om die haweloses kos te gee?

 

Dit is presies waartoe Adventstyd ons uitnooi: om terug te kyk oor die jaar wat verby is, en ook verder in die verlede in. Om te kyk na wat ons gedoen het. Het ons werklik ‘n verskil in die gemeenskap gemaak, of het ons net aan ons eie koninkryk gebou? Advent tyd roep ons ook om vorentoe te kyk en God vandag, more en in die nuwe jaar te sien. Om met hoop te kyk na die wat naby aan ons is, om met hoop te kyk na die wat nie soos ons is nie, en om met hoop na onsself te kyk. God was nog al die jare by ons, Hy is by ons, en Hy belowe dat Hy by ons sal wees.

 

Elke dag en geleentheid moet aangegryp word. Daarom moet ons onsself voortdurend afvra of ons leef soos wat Christus dit wil hê? Vertrou ons Hóm alleen? Fokus ons op God en sy koninkryk, of het ons weereens met ons eie koninkryk behep geraak?

 

Sien, die hoekom gaan die hoe vraag voor. Ons moet in afwagting van God se teenwoordigheid leef want dit bring hoop. Dit maak dat ons ‘n swart en wit foto kan inkleur. Dit maak dat ons die gordyne kan ooptrek en die son sien opkom. Dit maak dat ons die sin van die lewe in mekaar eerder as in dinge vind.

 

En hoe vind ons die inkleurpotlode, die son en mekaar? Deur in die alledaagse in afwagting te leef om die Here raak te sien in die klein dingetjies. Hy het sy Gees gestuur om ons te begelei deur die lewe, dit vra egter van ons om in ‘n Goddelike bewussyn van die oomblik te leef.

 

Hoekom moet ons wag?

Hoe moet ons wag?

 

Terwyl ons tussen die tye leef, vertrou en hoop ons dat dit wat God reeds in ons begin het en sal voortsit, ons sal transformeer om meer en meer soos Jesus te lewe.

Lukas 21: Die Here is met jou, in jou tyd van gebrokenheid

Hierdie week het dinge gebeur wat nie net die wêreld geskud het nie, maar Suid-Afrika ook.

 

Maandag sou Julias Malema in Newcastle se magistraatshof verskyn op aanklagte dat hy die wet op oproerige byeenkomste verbreek het. Hy het vir mense aangespoor om die wet te oortree en oop stukke grond in besit te neem.

 

Ons almal het Dinsdag op sosiale media gesien hoe daar voorspel was dat Hillary Clinton die volgende president van die Verenigde State van Amerika gaan word, en toe word die teendeel deur die minderheid besluit. Ja, die minderheid, 59,938,290 stemme vir Hillary Clinton en 59,704,886 stemme vir Donald Trump, dit is hoe die Amerikaanse demokratiese stelsel werk. Donald Trump sal nou in Januarie maand sy plek in die Withuis inneem.

 

Woensdag laatmiddag het die storms begin woed. In Gauteng is baie mense deur vloede seergemaak. Motors is meegesleur. Dakke is afgewaai, besighede en huise is oorstroom. Mense is vermis.

 

Te midde van die Gautengse reën is die grootskaalse verdeeldheid in die NGK ook bevestig. Donderdag oggend word ds. Nelis Janse van Rensburg wakker en vertel aan Conette le Roux van eKerkbode: “Ek het gisteraand sleg geslaap. Ek het die hele nag gebid. Ons besluit vandag oor meer as selfdegeslagverhoudings. Ons besluit of meer of minder mense deel gaan wees van ons kerk.” Later die dag lui die opskrif van nog ‘n artikel van eKerkbode: “NG Kerk sê nee vir gay-verhoudings.”

 

Die Demokratiese Alliansie het Donderdag middag ‘n mosie van wantroue in die president, mnr. Jacob Zuma, in die parliament laat aanhoor en stem. Die mosie was verwerp. Die African National Congress se lede was nie bereid om op te staan en teen mnr. Zuma in te gaan nie, al wys die onlangs gepubliseerde dokumente oor staatskaping deur die voormalige onafhanklike beskermer Thuli Madonsela die teendeel uit.

 

Vrydag oggend is Leonard Cohan op die ouderdom van 82 oorlede. Ons ken hom vir sy liedjie “Halleluja” waar hy sing:

 

…And even though

It all went wrong

I’ll stand before the Lord of Song

With nothing on my tongue but Hallelujah…

 

…And even though it all went wrong…

 

Terwyl die hele volk na Jesus luister, sê Hy vir sy dissipels: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat graag met hulle deftige klere aan rondstap.” Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. Hy sien toe ook ‘n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi. Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: “Alles wat julle sien, alles sal afgebreek word.”

 

Oomblikke gelede het die gelowige vrou, beide weduwee en arm, haar hele lewe in die tempel se kissie gegooi. En nou kyk van die dissipels rondom Jesus op en praat oor hoe mooi die tempel is. Jesus sê daarop, alles wat julle sien sal afgebreek word. Die tempel sal afgebreek word.

 

Verbeel jou vir ‘n oomblik, alles wat bekend tot jou is word afgebreek. Jou grond word van jou onteien, jou regering erken nie jou grondwetlike regte nie, jou huis se dak word in ‘n rukwind afgepluk, die water stroom in, jou kerk toon verdeeldheid, juis daar waar na eenheid gestreef word, jou president kan nie vertrou word nie, en op dit alles sterf jou gunsteling liedjieboer.

 

Jesus is besig om met sy dissipels te praat en hulle gereed te maak op die moeilike tye wat wag. Terwyl Jesus met hulle praat luister die volk na die raad wat Hy hulle gee. Jesus se raad lei tot vrae oor wanneer hierdie vernietiging sal gebeur, en wat die tekens daarvan sal wees.

 

Die tempel wat Herodus herbou en laat groter maak het was so groot dat 400 000 mense saam daar kon aanbid. Dit is 8x die grootte van Nuweland. So groot was die tempel, en Jesus profeteer dat dit in rommelhope gaan lê. ‘n Palestynse Jood sou nêrens ‘n ander gebou soos die tempel in hulle leeftyd sien nie. Dat dit afgebreek sou kon word, was vir hulle ondenkbaar.

 

Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.

 

Maar nog voor dit alles gebeur gaan ons ‘n moeilike lewe hê. Ons gaan ‘n moeilike lewe hê, ons sal ‘n moeilike lewe hê ter wille van sy Naam. Hierdie gedagte is die enigste gedagte wat herhaal in die gedeelte, wat vir ons sê dat dit belangrik is. Hoe ons reageer ter wille van sy Naam is belangrik. Die getuienis wat ons van die Een waaraan ons behoort uitdra is belangrik. Ons familienaam is belangrik. Ons Christennaam is belangrik.

 

Jesus het nooit belowe dat dit sal maklik wees om Hom te volg nie. Die hoop waarvan Jesus in hierdie Skrifgedeelte getuig, is nie ‘n oppervlakkige ontkenning van stryd, pyn en wroeging nie. Ons gaan wroeg, ons gaan pyn ervaar. Dit is alles deel van die werklikheid van die lewe. Ja, hier sê Jesus dit hard en duidelik vir sy dissipels terwyl die hele volk inluister na hulle gesprek; stryd, pyn en wroeging is deel van die lewe.

 

Die profete van die Ou Testament het immers gesê dat verwoesting, pyn en lyding juis die plek is waar God se redding na vore kom. In Lukas sluit Jesus by die profete aan en pas dit toe op die konkrete werklikheid van die vroeë Christene. Maar dan sê Jesus in vers 13 ietsie ekstra: “Hierdie stryd, pyn en verwoesting sal vir julle ‘n geleentheid bied om te getuig, en julle volharding sal julle red.”

 

Hy sal vir ons die woorde en wysheid gee wat ons teenstanders nie kan weerstaan nie. Daar sal selfs nie eens ‘n haar van ons koppe af val nie.

 

David Livingstone, die legendariese sendeling in Afrika het gebid: “Lord, send me anywhere, only go with me. Lay any burden on me, only sustain me.” In hierdie gebed getuig Livingstone van sy afhanklikheid van die Here. Dit is die belofte wat Jesus aan ons maak, in die midde van die profetiese waarskuwings van pyn en leiding wat op ons wat Jesus se volgelinge is wag, sal Hy met ons wees. Immanuel. Hy sal ons onderhou, Hy sal woorde en wysheid gee in moeilike situasies, Hy sal sy Gees vir ons stuur sodat ons sal kan volhard in ons geloofsreis.

 

Vir sommige lê lewens krisisse nog in die toekoms. Vir ander het die lewens krisis reeds begin spoel. In hierdie teksgedeelte wil die Here vandag vir ons sê dat maak nie saak wat ons krisisse is nie, Hy sal met ons deur dit wees. Hy sal ons die woorde en die wysheid gee om van die geleentheid gebruik te maak om ter wille van sy Naam van Hom te getuig.

 

Leonard Cohen sing in sy liedjie Anthem:

 

Ring the bells that still can ring

Forget your perfect offering

There is a crack in everything

That’s how the light gets in.

 

Al is jou klank hoe gebroke en hoe vals kan jy steeds die woorde en wysheid van God laat hoor, en die Here sal ook, in jou tyd van gebrokenheid, na jou luister.

 

Amen.

Jeremia 29: Tradisie verander, God nooit!

Sy maak die olie warm en braai een groot gekapte ui, bietjie gemmer, bietjie knoffel en ‘n appel vir omtrent vyf minute. Sy gooi die speserye by en hou aan met roer om te keer dat die speserye brand. Sy sit die maalvleis by, en met ‘n vurk druk sy dit bietjie vir bietjie uitmekaar sodat dit loskom. Vir so vyftien minute braai dit in die pan, waarna tamatie porieë bygegooi word en gekook word totdat die mengsel verdik het. Sy verhit die oond tot 180’C. Die vleismengsel sit sy oor in ‘n glasbak. Sy klits eiers saam met melk en gooi dit oor die vleismengsel. Bo op dit alles sit sy amandels en lourierblare en bak dit teen 180’C totdat dit goudbruin bo op is.

 

Gaan was julle hande! Kos is op die tafel. Dit reën buite. Sy stap deur die kombuisdeur en sit die warm bak Bobotie op die tafel neer, die stoom trek, en almal sien uit daarna om op te skep.

 

Huis. Dit is ‘n woord wat sterk emosie oproep, klanke, kleure, kosse, huis, ‘n plek waar jy veilig voel wanneer dinge rof gaan. Ons almal wil tuis voel, ‘n plek van liefde en gemak. Soms is huis ‘n bekende landskap, soms is huis in ‘n persoon. Die kerk kan ook soos huis voel.

 

In hierdie hoofstuk 29 fokus Jeremia op die verlange van ‘n huis wat vêr weg is, ‘n verlies van ‘huis’ het die identiteit van die Israeliete geskud. Hierdie gedeelte bied vredevolle vertroosting dat hierdie verlies van huis ‘n baie lang tyd gaan duur.

 

Verlede week het ons die aardbewing herdenk en hoe die Here die gemeenskap daardeur gedra het. Dink terug aan daardie tyd, hoe die geboue in stukke gelê het, hoe huise se mure geval het en vir almal gewys het wat daar binne aangaan. Dink terug aan hoe dit was om so blootgelê voor almal te wees, oop.

 

Die boek van Jeremia reflekteer oor die gebeure rondom die val van Jerusalem in 587 v.C. Hoe die Israeliete in twee groepe verdeel is; die elite, vers 1 sê vir ons “…die leiers van die ballinge, die priesters en die profete…” was weggevoer na Babilonië, en die armer mense het na Egipte gegaan as vlugtelinge of agtergebly en op die rommel gelewe. Hierdie gedeelte van hoofstuk 29 fokus op die groep wat weggevoer is na Babilonië, die elite groep. Hulle wat met geweld weggevoer is na ‘n ander land en daar moes werk as goedkoop arbeid.

Die Bybel wil vir ons wys dat die generasie wat weggevoer was verwag het dat die vlugtelingskap net ‘n kort tydjie sou duur. Beide Esegiël en Jeremia sê dat die vlugtelingskap ‘n gevolg is van die sondes van daardie spesifieke generasie, wat die vlugtelinge laat hoop het dat die vlugtelingskap die duur van ‘n generasie, of min of meer 20jaar, sal aanhou.

 

Soos wat die mense ouer geword het in Babilonië het hulle begin wonder hoekom die vlugtelingskap so lank duur. Die wat kinders was toe Jerusalem geval het is nou al volwassenes, wat nooit die glorie van hulle oorspronklike ‘huis’ geken het nie.

 

Onlangs, met al die vlugtelinge regoor Europa is daar studie gedoen wat wys dat terwyl die eerste generasie soos buitestaanders of inkommers voel in ‘n nuwe plek of ‘huis’, is dit ook so dat die tweede generasie begin deelwoord van die gemeenskap en ‘n hibriede identiteit begin vorm.

 

En dit is hoekom vandag eintlik ‘n goeie vorm van ‘n jeugdiens kan wees. Jeremia praat hier met die jongmense, die mense wat kinders was toe hulle getrek het, die wat hulle eie tradisies herinterpreteer in die lig van die nuwe kulturele agtergrond. Ons gaan tog nie, ons kan tog nie, nogsteeds dieselfde optree soos ons voorouers opgetree het toe hulle aan die Kaap van Storms aan wal gegaan het nie.

 

‘n Tweede generasie vlugtelinge, terwyl sommige tradisies van die huis behoue bly, raak ander stelselmatig verlore, merkers van identiteit vervaag, ons begin anders praat, aantrek, eet en na ander musiek te luister as ons voorgeslagte.

 

Assimilasie en hibriditeit veroorsaak gewoonlik spanning in ‘n gemeenskap, terwyl die ouer generasie bekommerd is oor die nuwe generasie wat hulle sin van identiteit verloor. ‘Huis’ word anders. Ons kan met reg vra, wat is ‘huis’ vir ‘n tweede of selfs ‘n derde generasie vlugtelinge of inkommers? Wat is ‘huis’ vir mense wat voorheen op ‘n ander plek gewoon het?

 

Die teks in Jeremia 29 ontbloot hierdie angstigheid rondom ‘huis’. Terwyl dit ‘huis’ as ‘n nuwe plek van woning definieer, hou dit ook vas aan die gedagte van ‘die ware huis’ in Judea. Die Here sê vir die ballinge dat hulle moet settle en vir hulle nuwe huise bou.

 

Die teks sê ook vir ons in vers 10 dat die vlugtelingskap 70jaar, 3.5 generasies, sal duur. Dit beteken dat wanneer Jerusalem herbou sal wees, dit die agterkleinkinders van die oorspronklike vlugtelinge sal wees wat terugkeer na hulle grond. Wie sal hulle wees? Hoe sal hulle aantrek? Wat sal hulle eet? Watter liedjies sal hulle sing?

 

Die FAK sangbundel het onlangs ‘n tweede volume gepubliseer. Nou sing Boerneef, Langenhoven, Kerkorrel, Kombuis, Kramer en Zoid almal saam. Die tyd staan nie stil nie, so ook nie musiek nie, die mense wil dans, ook op nuwe maniere.

 

Hierdie gedeelte in Jeremia 29 vra op watter punt raak vermenging van kultuur vernietiging van identiteit? En watter gedeeltes van die kultuur is aanpasbaar sonder dat identiteit as mense in verhouding met God bedreig word?

 

Wat ons hier lees is dat dit nie ongehoorsaamheid is om ten volle te vermeng in die ‘huis’ in die vreemde Babilonië nie. Die Here moedig vermenging aan. Hy sê dat land besit moet word, tuine geplant moet word, en dat selfs troues gehou moet word, en interessant genoeg word daar geen beperking geplaas op wie met wie mag trou nie… Daar moet selfs gewerk word vir die voordeel van die vreemde land. Die Here sê vir hierdie vervreemde Israeliete in Babilonië om model Babiloniërs te word.

 

Daar word gesê dat hulle verblyf 70jaar sal duur, hierdie kan ook net ‘n baie lang tyd bedoel. As ons kyk na hoe lank die 40jaar in die woestyn was sal ons sien dat hierdie 70jaar meer as 1.5 keer so lank is. Die Israeliete is in vir die langafstand, daar word geen vinnige redding gebied nie.

 

[blaai om]

 

Wat besonders is, is dat ons lees in vers 4 “So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het…” Die vreemdelingskap is deel van God se plan, dit is Sy plan. God het dus nie sy mense in Babilonië gaan verlaat nie, maar is steeds met hulle. Die Here gaan verder in vers 7 wanneer Hy sê “…bid tot My vir daardie stad…” Die Here luister intiem in tye van vreemdelingskap.

 

Met hierdie lees van die Bybel vra dit dat ons gaan kyk hoe ons omgaan met inkommers, met mense van ‘n anderse agtergrond as onsself, die mense wat ons nie altyd eerste wil deel maak van ons gemeenskap nie. Hoe reik ons uit na sulke mense? Jeremia vermy woorde soos inkommer, indringer en immigrant, en probeer dat ons nuwe mense met anderse gebruike eerder as geskenke vir die gemeenskap sien.

 

Jeremia sien só iemand as iemand wat die gemeenskap ‘n beter plek kan maak, as iemand wat deur die Here beveel is om ‘n langdurige bydrae tot die samelewing te maak. Jeremia se boodskap aan die Israeliete in ‘n vreemde land bied ‘n formule vir transformasie. Dit bied hoop aan inkommers, indringers en immigrante. Dit skep hoop vir beter werkstoestande, dit bied vertroosting dat wortel geskied kan word en dat daar nie in vrees of isolasie geleef hoef te word nie.

 

Nou hoe lyk ‘n gemeenskap wat inkommers verwelkom en dit aangenaam maak vir nuwe mense, kulture, kos, musiek en idees?

[blaai om]

In die eerste plek noem Jeremia dat daar getrou moet word en dat kinders gebore moet word. Hierdie wys vir ons dat die huisgesin ‘n belangrike punt is, so funksioneer elke huis as ‘n klein ambassade waar vergifnis, liefde, en vrede in aksie gesien word. Ons huise moet goeie gesinslewe reflekteer.

 

Tweedens moet daar gebid word. Daar moet tot die Here gebid word vir die belange van die stad. Gebed tot die Almagtige Vader kan inderdaad hierdie dorpie ‘n inklusiewe dorpie maak waar almal in alle situasies ewe welkom is.

 

Derdens moet daar gewerk word. Die belange van die stad moet bevorder word. Dit beteken dat elkeen moet bydrae tot die gemeenskaplike welstand van die dorp. Elkeen moet hand bysit om Ceres ‘n welkome plek te maak, vol geleenthede vir almal.

 

Sy tel die lepel op en skep diep, ‘n heerlike warm porsie Bobotie. Die paartjie van die Bo-Kaap vertel hoe hulle as kinders brood fyngemaak het vir Bobotie. Vandag bant hulle, daarom geen suiker of brood in hierdie Bobotie nie. Eerder appels in plaas van suiker.

 

Waar Bobotie vandaan kom is daar tot vandag toe nog nie konsensus nie, party sê Jan van Riebeeck en sy seemanne, ander weer die Voortrekkers, ander weer die Kaapse slawe van ouds. Een ding stem almal oor saam en dit is dat hierdie resep wat ryk is aan tradisie op sy beurt aangepas word, oorgeskryf word om by die dag te pas. Vandag bant ons. More is daar weer ‘n nuwe manier van kos maak.

 

Ons tradisies mag verander, ons kultuur mag selfs vermeng, een ding in dit alles is wel seker. Die Here is deur dit alles met ons, Hy laat ons nie alleen nie. Hy wil hê dat ons gesinne vestig wat maak nie saak wat die mode is nie, sal vergewe, sal liefhê en vrede sal nastreef. Hy wil hê dat ons vir ons gemeenskap moet bid. En Hy wil ook hê dat ons almal saam werk en die hele gemeenskap vir almal ‘n beter plek maak.

 

Kom in, sit, daar is altyd plek vir nog een aan Sy tafel.

 

Amen.