Jeremia 29: Tradisie verander, God nooit!

Sy maak die olie warm en braai een groot gekapte ui, bietjie gemmer, bietjie knoffel en ‘n appel vir omtrent vyf minute. Sy gooi die speserye by en hou aan met roer om te keer dat die speserye brand. Sy sit die maalvleis by, en met ‘n vurk druk sy dit bietjie vir bietjie uitmekaar sodat dit loskom. Vir so vyftien minute braai dit in die pan, waarna tamatie porieë bygegooi word en gekook word totdat die mengsel verdik het. Sy verhit die oond tot 180’C. Die vleismengsel sit sy oor in ‘n glasbak. Sy klits eiers saam met melk en gooi dit oor die vleismengsel. Bo op dit alles sit sy amandels en lourierblare en bak dit teen 180’C totdat dit goudbruin bo op is.

 

Gaan was julle hande! Kos is op die tafel. Dit reën buite. Sy stap deur die kombuisdeur en sit die warm bak Bobotie op die tafel neer, die stoom trek, en almal sien uit daarna om op te skep.

 

Huis. Dit is ‘n woord wat sterk emosie oproep, klanke, kleure, kosse, huis, ‘n plek waar jy veilig voel wanneer dinge rof gaan. Ons almal wil tuis voel, ‘n plek van liefde en gemak. Soms is huis ‘n bekende landskap, soms is huis in ‘n persoon. Die kerk kan ook soos huis voel.

 

In hierdie hoofstuk 29 fokus Jeremia op die verlange van ‘n huis wat vêr weg is, ‘n verlies van ‘huis’ het die identiteit van die Israeliete geskud. Hierdie gedeelte bied vredevolle vertroosting dat hierdie verlies van huis ‘n baie lang tyd gaan duur.

 

Verlede week het ons die aardbewing herdenk en hoe die Here die gemeenskap daardeur gedra het. Dink terug aan daardie tyd, hoe die geboue in stukke gelê het, hoe huise se mure geval het en vir almal gewys het wat daar binne aangaan. Dink terug aan hoe dit was om so blootgelê voor almal te wees, oop.

 

Die boek van Jeremia reflekteer oor die gebeure rondom die val van Jerusalem in 587 v.C. Hoe die Israeliete in twee groepe verdeel is; die elite, vers 1 sê vir ons “…die leiers van die ballinge, die priesters en die profete…” was weggevoer na Babilonië, en die armer mense het na Egipte gegaan as vlugtelinge of agtergebly en op die rommel gelewe. Hierdie gedeelte van hoofstuk 29 fokus op die groep wat weggevoer is na Babilonië, die elite groep. Hulle wat met geweld weggevoer is na ‘n ander land en daar moes werk as goedkoop arbeid.

Die Bybel wil vir ons wys dat die generasie wat weggevoer was verwag het dat die vlugtelingskap net ‘n kort tydjie sou duur. Beide Esegiël en Jeremia sê dat die vlugtelingskap ‘n gevolg is van die sondes van daardie spesifieke generasie, wat die vlugtelinge laat hoop het dat die vlugtelingskap die duur van ‘n generasie, of min of meer 20jaar, sal aanhou.

 

Soos wat die mense ouer geword het in Babilonië het hulle begin wonder hoekom die vlugtelingskap so lank duur. Die wat kinders was toe Jerusalem geval het is nou al volwassenes, wat nooit die glorie van hulle oorspronklike ‘huis’ geken het nie.

 

Onlangs, met al die vlugtelinge regoor Europa is daar studie gedoen wat wys dat terwyl die eerste generasie soos buitestaanders of inkommers voel in ‘n nuwe plek of ‘huis’, is dit ook so dat die tweede generasie begin deelwoord van die gemeenskap en ‘n hibriede identiteit begin vorm.

 

En dit is hoekom vandag eintlik ‘n goeie vorm van ‘n jeugdiens kan wees. Jeremia praat hier met die jongmense, die mense wat kinders was toe hulle getrek het, die wat hulle eie tradisies herinterpreteer in die lig van die nuwe kulturele agtergrond. Ons gaan tog nie, ons kan tog nie, nogsteeds dieselfde optree soos ons voorouers opgetree het toe hulle aan die Kaap van Storms aan wal gegaan het nie.

 

‘n Tweede generasie vlugtelinge, terwyl sommige tradisies van die huis behoue bly, raak ander stelselmatig verlore, merkers van identiteit vervaag, ons begin anders praat, aantrek, eet en na ander musiek te luister as ons voorgeslagte.

 

Assimilasie en hibriditeit veroorsaak gewoonlik spanning in ‘n gemeenskap, terwyl die ouer generasie bekommerd is oor die nuwe generasie wat hulle sin van identiteit verloor. ‘Huis’ word anders. Ons kan met reg vra, wat is ‘huis’ vir ‘n tweede of selfs ‘n derde generasie vlugtelinge of inkommers? Wat is ‘huis’ vir mense wat voorheen op ‘n ander plek gewoon het?

 

Die teks in Jeremia 29 ontbloot hierdie angstigheid rondom ‘huis’. Terwyl dit ‘huis’ as ‘n nuwe plek van woning definieer, hou dit ook vas aan die gedagte van ‘die ware huis’ in Judea. Die Here sê vir die ballinge dat hulle moet settle en vir hulle nuwe huise bou.

 

Die teks sê ook vir ons in vers 10 dat die vlugtelingskap 70jaar, 3.5 generasies, sal duur. Dit beteken dat wanneer Jerusalem herbou sal wees, dit die agterkleinkinders van die oorspronklike vlugtelinge sal wees wat terugkeer na hulle grond. Wie sal hulle wees? Hoe sal hulle aantrek? Wat sal hulle eet? Watter liedjies sal hulle sing?

 

Die FAK sangbundel het onlangs ‘n tweede volume gepubliseer. Nou sing Boerneef, Langenhoven, Kerkorrel, Kombuis, Kramer en Zoid almal saam. Die tyd staan nie stil nie, so ook nie musiek nie, die mense wil dans, ook op nuwe maniere.

 

Hierdie gedeelte in Jeremia 29 vra op watter punt raak vermenging van kultuur vernietiging van identiteit? En watter gedeeltes van die kultuur is aanpasbaar sonder dat identiteit as mense in verhouding met God bedreig word?

 

Wat ons hier lees is dat dit nie ongehoorsaamheid is om ten volle te vermeng in die ‘huis’ in die vreemde Babilonië nie. Die Here moedig vermenging aan. Hy sê dat land besit moet word, tuine geplant moet word, en dat selfs troues gehou moet word, en interessant genoeg word daar geen beperking geplaas op wie met wie mag trou nie… Daar moet selfs gewerk word vir die voordeel van die vreemde land. Die Here sê vir hierdie vervreemde Israeliete in Babilonië om model Babiloniërs te word.

 

Daar word gesê dat hulle verblyf 70jaar sal duur, hierdie kan ook net ‘n baie lang tyd bedoel. As ons kyk na hoe lank die 40jaar in die woestyn was sal ons sien dat hierdie 70jaar meer as 1.5 keer so lank is. Die Israeliete is in vir die langafstand, daar word geen vinnige redding gebied nie.

 

[blaai om]

 

Wat besonders is, is dat ons lees in vers 4 “So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het…” Die vreemdelingskap is deel van God se plan, dit is Sy plan. God het dus nie sy mense in Babilonië gaan verlaat nie, maar is steeds met hulle. Die Here gaan verder in vers 7 wanneer Hy sê “…bid tot My vir daardie stad…” Die Here luister intiem in tye van vreemdelingskap.

 

Met hierdie lees van die Bybel vra dit dat ons gaan kyk hoe ons omgaan met inkommers, met mense van ‘n anderse agtergrond as onsself, die mense wat ons nie altyd eerste wil deel maak van ons gemeenskap nie. Hoe reik ons uit na sulke mense? Jeremia vermy woorde soos inkommer, indringer en immigrant, en probeer dat ons nuwe mense met anderse gebruike eerder as geskenke vir die gemeenskap sien.

 

Jeremia sien só iemand as iemand wat die gemeenskap ‘n beter plek kan maak, as iemand wat deur die Here beveel is om ‘n langdurige bydrae tot die samelewing te maak. Jeremia se boodskap aan die Israeliete in ‘n vreemde land bied ‘n formule vir transformasie. Dit bied hoop aan inkommers, indringers en immigrante. Dit skep hoop vir beter werkstoestande, dit bied vertroosting dat wortel geskied kan word en dat daar nie in vrees of isolasie geleef hoef te word nie.

 

Nou hoe lyk ‘n gemeenskap wat inkommers verwelkom en dit aangenaam maak vir nuwe mense, kulture, kos, musiek en idees?

[blaai om]

In die eerste plek noem Jeremia dat daar getrou moet word en dat kinders gebore moet word. Hierdie wys vir ons dat die huisgesin ‘n belangrike punt is, so funksioneer elke huis as ‘n klein ambassade waar vergifnis, liefde, en vrede in aksie gesien word. Ons huise moet goeie gesinslewe reflekteer.

 

Tweedens moet daar gebid word. Daar moet tot die Here gebid word vir die belange van die stad. Gebed tot die Almagtige Vader kan inderdaad hierdie dorpie ‘n inklusiewe dorpie maak waar almal in alle situasies ewe welkom is.

 

Derdens moet daar gewerk word. Die belange van die stad moet bevorder word. Dit beteken dat elkeen moet bydrae tot die gemeenskaplike welstand van die dorp. Elkeen moet hand bysit om Ceres ‘n welkome plek te maak, vol geleenthede vir almal.

 

Sy tel die lepel op en skep diep, ‘n heerlike warm porsie Bobotie. Die paartjie van die Bo-Kaap vertel hoe hulle as kinders brood fyngemaak het vir Bobotie. Vandag bant hulle, daarom geen suiker of brood in hierdie Bobotie nie. Eerder appels in plaas van suiker.

 

Waar Bobotie vandaan kom is daar tot vandag toe nog nie konsensus nie, party sê Jan van Riebeeck en sy seemanne, ander weer die Voortrekkers, ander weer die Kaapse slawe van ouds. Een ding stem almal oor saam en dit is dat hierdie resep wat ryk is aan tradisie op sy beurt aangepas word, oorgeskryf word om by die dag te pas. Vandag bant ons. More is daar weer ‘n nuwe manier van kos maak.

 

Ons tradisies mag verander, ons kultuur mag selfs vermeng, een ding in dit alles is wel seker. Die Here is deur dit alles met ons, Hy laat ons nie alleen nie. Hy wil hê dat ons gesinne vestig wat maak nie saak wat die mode is nie, sal vergewe, sal liefhê en vrede sal nastreef. Hy wil hê dat ons vir ons gemeenskap moet bid. En Hy wil ook hê dat ons almal saam werk en die hele gemeenskap vir almal ‘n beter plek maak.

 

Kom in, sit, daar is altyd plek vir nog een aan Sy tafel.

 

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *