Hierdie week het dinge gebeur wat nie net die wêreld geskud het nie, maar Suid-Afrika ook.
Maandag sou Julias Malema in Newcastle se magistraatshof verskyn op aanklagte dat hy die wet op oproerige byeenkomste verbreek het. Hy het vir mense aangespoor om die wet te oortree en oop stukke grond in besit te neem.
Ons almal het Dinsdag op sosiale media gesien hoe daar voorspel was dat Hillary Clinton die volgende president van die Verenigde State van Amerika gaan word, en toe word die teendeel deur die minderheid besluit. Ja, die minderheid, 59,938,290 stemme vir Hillary Clinton en 59,704,886 stemme vir Donald Trump, dit is hoe die Amerikaanse demokratiese stelsel werk. Donald Trump sal nou in Januarie maand sy plek in die Withuis inneem.
Woensdag laatmiddag het die storms begin woed. In Gauteng is baie mense deur vloede seergemaak. Motors is meegesleur. Dakke is afgewaai, besighede en huise is oorstroom. Mense is vermis.
Te midde van die Gautengse reën is die grootskaalse verdeeldheid in die NGK ook bevestig. Donderdag oggend word ds. Nelis Janse van Rensburg wakker en vertel aan Conette le Roux van eKerkbode: “Ek het gisteraand sleg geslaap. Ek het die hele nag gebid. Ons besluit vandag oor meer as selfdegeslagverhoudings. Ons besluit of meer of minder mense deel gaan wees van ons kerk.” Later die dag lui die opskrif van nog ‘n artikel van eKerkbode: “NG Kerk sê nee vir gay-verhoudings.”
Die Demokratiese Alliansie het Donderdag middag ‘n mosie van wantroue in die president, mnr. Jacob Zuma, in die parliament laat aanhoor en stem. Die mosie was verwerp. Die African National Congress se lede was nie bereid om op te staan en teen mnr. Zuma in te gaan nie, al wys die onlangs gepubliseerde dokumente oor staatskaping deur die voormalige onafhanklike beskermer Thuli Madonsela die teendeel uit.
Vrydag oggend is Leonard Cohan op die ouderdom van 82 oorlede. Ons ken hom vir sy liedjie “Halleluja” waar hy sing:
…And even though
It all went wrong
I’ll stand before the Lord of Song
With nothing on my tongue but Hallelujah…
…And even though it all went wrong…
Terwyl die hele volk na Jesus luister, sê Hy vir sy dissipels: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat graag met hulle deftige klere aan rondstap.” Jesus het rondgekyk en die rykes hulle gawes in die offergawekis sien gooi. Hy sien toe ook ‘n arm weduwee twee klein muntstukkies daar ingooi. Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: “Alles wat julle sien, alles sal afgebreek word.”
Oomblikke gelede het die gelowige vrou, beide weduwee en arm, haar hele lewe in die tempel se kissie gegooi. En nou kyk van die dissipels rondom Jesus op en praat oor hoe mooi die tempel is. Jesus sê daarop, alles wat julle sien sal afgebreek word. Die tempel sal afgebreek word.
Verbeel jou vir ‘n oomblik, alles wat bekend tot jou is word afgebreek. Jou grond word van jou onteien, jou regering erken nie jou grondwetlike regte nie, jou huis se dak word in ‘n rukwind afgepluk, die water stroom in, jou kerk toon verdeeldheid, juis daar waar na eenheid gestreef word, jou president kan nie vertrou word nie, en op dit alles sterf jou gunsteling liedjieboer.
Jesus is besig om met sy dissipels te praat en hulle gereed te maak op die moeilike tye wat wag. Terwyl Jesus met hulle praat luister die volk na die raad wat Hy hulle gee. Jesus se raad lei tot vrae oor wanneer hierdie vernietiging sal gebeur, en wat die tekens daarvan sal wees.
Die tempel wat Herodus herbou en laat groter maak het was so groot dat 400 000 mense saam daar kon aanbid. Dit is 8x die grootte van Nuweland. So groot was die tempel, en Jesus profeteer dat dit in rommelhope gaan lê. ‘n Palestynse Jood sou nêrens ‘n ander gebou soos die tempel in hulle leeftyd sien nie. Dat dit afgebreek sou kon word, was vir hulle ondenkbaar.
Verder sê Hy vir hulle: “Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode en epidemies sal op baie plekke voorkom. Daar sal skrikwekkende dinge wees en groot tekens van die hemel af.
Maar nog voor dit alles gebeur gaan ons ‘n moeilike lewe hê. Ons gaan ‘n moeilike lewe hê, ons sal ‘n moeilike lewe hê ter wille van sy Naam. Hierdie gedagte is die enigste gedagte wat herhaal in die gedeelte, wat vir ons sê dat dit belangrik is. Hoe ons reageer ter wille van sy Naam is belangrik. Die getuienis wat ons van die Een waaraan ons behoort uitdra is belangrik. Ons familienaam is belangrik. Ons Christennaam is belangrik.
Jesus het nooit belowe dat dit sal maklik wees om Hom te volg nie. Die hoop waarvan Jesus in hierdie Skrifgedeelte getuig, is nie ‘n oppervlakkige ontkenning van stryd, pyn en wroeging nie. Ons gaan wroeg, ons gaan pyn ervaar. Dit is alles deel van die werklikheid van die lewe. Ja, hier sê Jesus dit hard en duidelik vir sy dissipels terwyl die hele volk inluister na hulle gesprek; stryd, pyn en wroeging is deel van die lewe.
Die profete van die Ou Testament het immers gesê dat verwoesting, pyn en lyding juis die plek is waar God se redding na vore kom. In Lukas sluit Jesus by die profete aan en pas dit toe op die konkrete werklikheid van die vroeë Christene. Maar dan sê Jesus in vers 13 ietsie ekstra: “Hierdie stryd, pyn en verwoesting sal vir julle ‘n geleentheid bied om te getuig, en julle volharding sal julle red.”
Hy sal vir ons die woorde en wysheid gee wat ons teenstanders nie kan weerstaan nie. Daar sal selfs nie eens ‘n haar van ons koppe af val nie.
David Livingstone, die legendariese sendeling in Afrika het gebid: “Lord, send me anywhere, only go with me. Lay any burden on me, only sustain me.” In hierdie gebed getuig Livingstone van sy afhanklikheid van die Here. Dit is die belofte wat Jesus aan ons maak, in die midde van die profetiese waarskuwings van pyn en leiding wat op ons wat Jesus se volgelinge is wag, sal Hy met ons wees. Immanuel. Hy sal ons onderhou, Hy sal woorde en wysheid gee in moeilike situasies, Hy sal sy Gees vir ons stuur sodat ons sal kan volhard in ons geloofsreis.
Vir sommige lê lewens krisisse nog in die toekoms. Vir ander het die lewens krisis reeds begin spoel. In hierdie teksgedeelte wil die Here vandag vir ons sê dat maak nie saak wat ons krisisse is nie, Hy sal met ons deur dit wees. Hy sal ons die woorde en die wysheid gee om van die geleentheid gebruik te maak om ter wille van sy Naam van Hom te getuig.
Leonard Cohen sing in sy liedjie Anthem:
Ring the bells that still can ring
Forget your perfect offering
There is a crack in everything
That’s how the light gets in.
Al is jou klank hoe gebroke en hoe vals kan jy steeds die woorde en wysheid van God laat hoor, en die Here sal ook, in jou tyd van gebrokenheid, na jou luister.
Amen.