1 Timoteus 6: Vlug van alle begeertes wat tot sonde lei

Paulus is `n ou man in die tronk en nou skryf hy vir die jong Timoteus. Dit is nou Paulus se laaste woorde aan die jonge Timoteus.

 

Skriflesing:  1 Timoteus 6:11-21   Teksvers:  1 Timoteus 6:12

 

Paulus sê in vers 11: “Maar jy, man van God …” Paulus praat dus met `n gelowige. `n Mens kan dink dat Paulus hier vir hom sou sê: “Storm, ou maat, veg, baklei en onthou alle krag is tot jou beskikking.” Maar dit is nie die eerste ding wat Paulus sê nie. Nee, hy sê vir Timoteus in vers 11: “Jy moet van dié dinge af wegvlug.”

 

Vlug:  As hy sê jy moet van hierdie dinge af wegvlug, van watter dinge praat hy dan? Vers 3 – valse leer;  vers 4 – twisvrae en stry oor woorde, afguns, beledigings en verdagmakery; vers 5 – moenie godsdiens van geld maak nie. Kortom: “Vlug weg van enige versoeking af.”

 

Andrew Fuller skryf dat die beste manier waarop die Christen vir die sonde kan wegvlug, is deur die “Opposite principle”. Hy verduidelik dit so: As jy vuur wil doodmaak, kan jy dit met jou hande probeer doen, maar jy gaan jou arms stompies toe brand. Hy sê, gebruik liewers die “Opposite principle” en gebruik water. As jy vuilgoed in jou tuin wil wen, kan jy jou hande eelte en knoppe werk en dit gaan dalk vir ’n ruk werk of jy kan die bedding toe plant met goeie plante en dan word die onkruid minder. Net so met sonde – jy kan dit op jou eie krag probeer oorwin deur jou aanmekaar daaraan bloot te stel of jy kan ander goeie goed beoefen in die plek daarvan.

 

Jesus voel so sterk hieroor dat Hy by geleentheid sê: “As jou oog jou laat struikel, ruk hom uit. Beter om met een oog in die hemel te kom as met twee oë in die hel. Kap jou hand af as jy struikel, beter met een hand in hemel as twee in hel.”

 

Iemand het eendag gesê: “Dapperheid is nie om te veg tot die dood toe nie. Dapperheid is om die balans te ken tussen veg en vlug. Vlug nou want dan kan jy kans kry om later weer te veg en om dan selfs beter planne te beraam om die vyand uit te oorlê.”

 

Dit werk in die geloof ook so. Paulus sê dat dit nie slim is om betrokke te raak by die versoekings en dit dan te probeer oorwin. Nee, vlug en word eers weer sterk om teenstand te kan bied. In vers 20 sê hy dit weer, anders: “Vermy die dinge, anders kan jy sterf.”

 

Veg: Die tweede ding wat Paulus vir Timoteus sê, is om te veg. Die nuwe Afrikaanse Vertaling het die Grieks in vers 12 vertaal met: “In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal.” Mens kan die vers ook vertaal met: “Jy moet met al jou krag veg in die goeie stryd van die geloof.”

 

Paulus sê dus vir Timoteus om te veg. In vers 12b sê Paulus vir Timoteus: “Daartoe het God jou geroep.”  Dit is dus nie sommer `n mak ding dié nie. Dit is nie een of ander mensgemaakte idee nie. Nee, dit is God wat jou daartoe geroep het, om te veg. Die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer het gesê wat Paulus jare gelede al gesê het: “Wanneer God jou roep, dan roep Hy jou om te kom sterf.”

 

Oorlogvoering het `n wetenskap geword. Daar is `n magdom dinge wat jy moet onthou en aan dink tydens `n oorlog. Daar is minstens drie aspekte van oorlogvoering wat belangrik is: (a)  leer jou vyand ken; (b)  beraam jou planne en oefen dit en  (c) ken jou eie wapens goed.

 

Wie is ons vyand? 1 Petrus 5:8 sê: “Julle vyand, die duiwel, loop rond soos `n brullende leeu op soek na iemand om te verslind.” Dit is skrikwekkend hoe baie soldate gedurende oorlogvoering sneuwel as gevolg van die sogenaamde “friendly fire”. Dit beteken dat die mense hulle eie mense per ongeluk doodskiet.

 

Die tragedie is dat dieselfde verskynsel ook in die kerk voorkom. Paulus sê in Galasiërs 5:15: “Julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.” Ons is net baie gesofistikeerd – ons gebruik “Bible bullets” en dan skiet ons mekaar morsdood. Ek het `n beter versie as jy en so “skiet” ons mekaar.

 

Timoteus veg.  Daar is ongelukkig iets soos “friendly fire”. Baklei tot die einde toe want dit is `n lewensfeit: Elke paradys het ’n slang.

 

Jy moet oefen en planne beraam. Wat ook al die strategie, jy moet oefen. Hier het die Here vir ons wonderlike beloftes gegee. In 2 Samuel 22:35 sê God vir Israel dat Hy hulle persoonlik sal afrig en help: “Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span.” Openbaring 12:11 sê: “Die kinders van die Here het nie hulle lewens so liefgehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.”

 

Jy moet jou wapens baie goed ken. Die derde ding van `n soldaat is dat hy sy eie wapens ken. Die kerk, kinders van God: het twee wapens. Die Woord van die Here en gebed. Dit klink darem lekker “boring”; Bybel lees en bid.

 

In die fliek “Karate Kid” vra Daniel dat Mister Miagi om vir hom karate moet leer. Dan sê Miagi hy moet die heining verf, op en af. Nadat hy daarmee klaar was, moes hy drie ou kar wrakke politoer – heen en weer.  Dit het hom letterlike dae geneem en hy het moedeloos geraak. Wat help dit? Dit leer hom niks van karate nie. Waarop Mister Miagi so `n hou na hom mik en hy dit met die vryfbeweging afkeer. Toe Miagi na hom skop, keer hy dit met die ander vryfbeweging af. Daniel het toe geleer dat as jy `n goeie vegter wil wees jy somtyds die “boring” goed oor en oor moet doen, want juis daarin lê jou krag en oorwinning.

 

Is dit nie dalk die rede hoekom die kerk dag na dag aangekla word dat ons nie `n verskil kan maak in die wêreld nie? Bybel lees en bid het vir ons net eenvoudig te vervelig geraak. Ons soek ligte, musiek en net die beste sprekers. Maar juis daarin lê ons krag.

 

So baie hoor ek mense sê: “Ons moet leef soos die Bybel vra.” Natuurlik, maar daar is mense wat bomme plant en sê hulle leef volgens Bybelse riglyne. Wat beteken dit as jy sê jy leef volgens die Bybelse riglyne? Ek het `n skitterende opmerking gelees.  Die persoon skryf: “It is safe to say that a Biblical view is one that makes you love Jesus, one that makes you soft on people, but hard on sin in your own life.”

 

Is dit waar van ons as gemeente? Kan ek dit van myself en van my mense sê? Hulle is lief vir Jesus. Hulle is sag met mense en hulle is hard met die sonde in hulle eie lewens?

 

Volg: Paulus sê vlug en veg. Die laaste ding wat hy sê, is om te volg. Dit is eintlik ook heel logies. Geen soldaat veg sonder `n doel nie. Daar is iets of iemand waarvoor hy of sy veg. As `n soldaat nie weet vir wie, of vir wat hy of sy veg nie, is hulle bloot misdadigers.

Vers 15-16 sê: “Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag!”

 

Dit is skrikwekkend wat Tony Compolo vertel. Hy was by geleentheid in die Weste om te preek. Hy het daar prentjies van Jesus gesien en gevra: “Hoe lyk die Westerse Jesus?” Lang blonde hare en blou oë, `n tipiese Westerse mens. Hy is toe China toe om daar te gaan preek en was uiters verras. Hy het gevra: “En hoe lyk die Chinese se voorstelling van Jesus? Kan jy jouself `n “Chinese Jesus” voorstel? Hy maak dan die opmerking: “Dit gebeur so maklik dat ons Jesus definieer en ons definisie van Hom begin aanbied vir die waarheid.”

 

Ons aanbid nie die definisie wat ons van Jesus gemaak het nie, maar die Jesus van wie die Bybel getuig.  Wie is dit? Die een wat vra: “Kom neem jou kruis op en volg my.” Die een wat sê: “As jy jou lewe vir jouself wil hou, sal jy dit verloor.”

 

Donald Wildmon skryf: “I want no part of the Christian message which does not call me to involvement, requires of me no sacrifice, takes from me no comfort, and requires of me less than the best I have to give. The duty of a Christian is to be faithful, not popular or successful.”

 

Paulus sê vir Timoteus dat ons dié God moet volg. Is ons bereid om hierdie God te volg wat ons so liefgehad het dat Hy sy Seun gestuur het om in ons plek swaar te dra sodat ons sonder las kan rondloop. Is ons werklik bereid om ons lewe aan Hom toe te wy?

 

As ek hierdie stryd waartoe God ons roep reg verstaan, dan is dit so dat dit nie altyd net lekker gaan wees nie, en dat dit ook nie sonder lewensverlies gaan wees nie. Maar daar kom `n tyd van vreugde. Vers 14 sê dat God weer kom. Ons gaan die oorwinnaarskroon ontvang om ewig by God te wees. In Jesaja 54:17 kry ons die belofte: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg.”

 

Paulus sê vir die jong Timoteus: “Dit is die moeite werd – vlug vanaf alle begeertes wat tot die sonde lei, veg die sonde met alles in jou en volg My met jou hele lewe, die Koning van die Konings. Ek kom as oorwinnaar op die wit perd. Weet die oorwinning is reeds bekend – ons gaan saam wees”. Kom ons vlug weg van die sonde, kom ons veg die goeie stryd van die geloof en kom ons volg die Koning van die Konings.

 

Amen.

1 Timoteus: Die Here se genade is genoeg

In die konteks van die Ou Testament roep die Here na Moses uit en openbaar Homself as: “…die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” (Eks. 34:6) In ruil daarvoor verwag die Here van Israel gehoorsaamheid en trou aan Hom. In die Nuwe Testament word Paulus se verstaan van verlossing deur genade oor geloof in Jesus Christus die kombinasie van beide Ou en Nuwe Testamentiese evangelie. Die kerk het daarom deur die eeue al baie oor die onderwerp van genade gesels.

 

Wat Paulus in 1 Timoteus oor genade en verlossing geskryf het is egter geen akademiese onderwerp nie. Inteendeel, dit is die manier hoe die Here ‘n mens se lewe ingrypend verander het.

 

Paulus was ‘n Jood van Tarsus in Silisië, ‘n burger van ‘n belangrike stad (Hand. 21:39), maar het in Jerusalem grootgeword. As leerling van Gamaliël is hy volgens die streng opvatting van die wet van die voorvaders opgevoed (Hand. 22:3). Hy het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. In die Joodse leer het hy bo baie van sy volksgenote uitgestyg, want hy was ‘n fanatiese yweraar vir die oorgelewerde leer van die voorvaders (Gal. 1:13-14).

 

Intussen het Paulus soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevangene te neem en na Jerusalem toe te bring (Hand. 9:1). Op hierdie reis na Damaskus het hy toe die Here in ‘n vision gehoor en gesien, wat sy lewe heeltemal verander het, en hom in ‘n apostel verander het. Uit die oogpunt van 1 Timoteus kan ons vandag sê dat hierdie vision waarin die Here aan Paulus verskyn het, ‘n daad van genade was.

 

Die Paulus voor die genade-ervaring was iemand wat gelaster het, iemand wat vervolg het, hy was ‘n man van geweld (1 Tim. 1:13). Hy was selfs iemand wat gehelp het, en saamgestem het, met die steniging van Stephanus (Hand. 7:57-8:1). Die Paulus na die genade-ervaring is iemand wat bekend staan as geweldloos, en wat selfs slim praatjies verwerp het, en eerder op Christus vertrou het vir sy bediening. Die genade-ervaring het duidelik van Paulus iemand heeltemal anders gemaak, hy het dit nie uit sy eie gedoen nie…

 

Vir die skrywer van 1 Timoteus is persoonlike ervaring belangriker as dogma en teologie, veral wanneer dit kom by genade en verlossing. Dit is die kern wat die voorbeeld van Paulus se bekeringsverhaal wil oordra. Ook vroeër in 1 Tim. 1:4 kom die gedagte na voor wanneer Paulus sê: “Hulle (die mense wat vals leringe versprei) moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee.”

 

Sulke “eindelose geslagsregisters” kan moontlik ‘n verwysing wees na Matteus 1 en Lukas 3, wie se geslagregisters van Jesus verskil.

 

In hierdie eerste gedeelte van verse 12-14 bedank Paulus die Here vir wat Hy vir hom gedoen het. Dit is duidelik dat die Here baie vir Paulus gedoen het. Hy het hom wat eers almal sleg gesê het, vervolg het, en selfs deelgeneem het aan die steniging van Stephanus, gered.

 

Daarom gaan vandag al minder en minder oor wat ons is, oor wie ons is, en al meer en meer oor wie Jesus Christus is…

 

Paulus het gedink hy is op die regte pad, op die pad na Damaskus om nog ‘n paar Christene bymekaar te maak om in die tronk te gooi, mans en vrouens. Hoe baie dink ons nie ons is op die regte pad nie? Hoe baie van ons dink nie nou, op hierdie oomblik ons is op die regte pad nie? Terwyl ons sonde ons dalk blind maak vir wat regtig om ons aan die gang is… Terwyl ons besig is om die pad te stap, blind. Na Paulus se ontmoeting met die Here op die pad was hy vir drie dae blind… Ek wonder hoekom… Het sy genade-ervaring met die Here dalk gemaak dat hy bewus geraak het van sy eintlike blindheid?

 

Sy blindheid vir vryheid, sy blindheid vir vreugde, sy blindheid vir lewe. Daarom moes Paulus  op die grond val met sy ontmoeting met die Lig, die Lig wat alle donkerte uit sy lewe uitdoof, die Lig wat hom uit gevangenis bevry, die Lig wat hom van afkyk frons na opkyk lag neem, die Lig wat hom al minder op die dood en al meer op die lewe laat fokus.

 

Die genade van God het nie net Paulus se lewe een maal verander nie, maar het voortgewerk om sy lewe vol en vrugbaar te maak. Sy nuwe lewe in Christus Jesus het nou ryklik gedeel in die krag van Christus, die geloof en die liefde. Daarom kon hy ten volle uit die genade van Christus lewe.

 

Wat in Paulus se lewe gebeur het, bevestig die waarheid van die woord dat Christus in die wêreld gekom het om sondaars te red. Om dit te beklemtoon skryf Paulus: “Luister hierna, want niemand kan hieroor stry nie…” of “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word…” Hierdie formule kom vyf maal in die Nuwe Testament voor en nêrens anders nie, elke keer gekoppel aan die genade van God.

 

Jesus het aan Saggeüs in Lukas 19:10 gesê: “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was…” Die waarheid van hierdie woorde word bevestig deur wat met Paulus gebeur het. Hy is gered, terwyl hy eintlik die straf van God verdien het.

 

Juis omdat hy die lewe nie kon verdien nie, dank hy sy lewe aan die verdraagsaamheid, die genade, van God deur Jesus Christus. Hy het nie moed verloor met selfs nie slegste onder die slegtes nie. Kragtige woorde! Hoe gou verloor ons nie moed met ander mense nie, hoe gou verloor ons nie moed met selfs ons vriende nie? Die Here het nooit moed met Paulus verloor nie. Verdraagsaam, lankmoedig, vol liefde was die Here met Paulus, inderdaad ook daarin ‘n voorbeeld vir ons.

 

Op grond van hierdie verdraagsaamheid het Paulus ook ‘n hoë waarde toegeken aan die verdraagsaamheid by elkeen wat geroepe is om die evangelie te bedien. Dit beteken nie net dat ons dominees verdraagsaam, lankmoedig en vol liefde met almal moet wees nie. Nie net ons dominees is geroepe om die evangelie te bedien nie.

 

Mat. 28:19 gee aan ons almal die opdrag om die evangelie te verkondig. Daarom moet ons almal met mekaar lankmoedig wees, ons almal moet met mekaar uithou, ons almal moet geduldig met mekaar wees. En nie sodat ons iets uit die verhouding kan kry nie, maar ter wille van God, ter wille van die goeie nuus. Omdat die Here geduldig met ons elkeen is, verwag Hy van ons om ook so geduldig met mekaar te wees.

 

Niemand moet dink hy of sy het al teveel sonde gedoen om gered te word nie, want die genade is groter as die sonde. Die Here wat vir Paulus gered het, kan ook vir jou red.

 

In hierdie laaste vers 17 rig Paulus ‘n loflied aan die Here. Die getuienis van die persoonlike ondervinding van die genade van God loop uit op ‘n gebed waarin die lof van God gesing word.

 

In sy skrywe aan Timoteus sê Paulus vir die Here dankie vir wat Hy in sy lewe gedoen het, Paulus verduidelik die Here se doel met sy verlossing, en dan rig hy ‘n loflied tot die Here om weereens sy dank uit te spreek. Die punt wat Paulus in hierdie gedeelte wil maak is dat sy eie verlossing en daarmee saam elke mens se verlossing, nie verdien kan word nie, maar die gevolg is van God se genade.

 

Die Here se genade is genoeg vir Paulus se verlossing en daarom ook vir Timoteus se bediening in daardie moeilike konteks. Daarom is die Here se genade ook vir ons genoeg, in ons moeilike omgewings.

 

Paulus sluit af met “Amen”. In die sinagoge, en ook in die vroeë Christelike gemeentes, het almal teenwoordig saam die “Amen” uitgespreek, en daarmee saamgestem met die uitspraak van lof. Lof vir die lankmoedige genade van die Here Jesus Christus, ons verlosser.

 

Amen.

Lukas 6: Hoe laat jy iemand anders voel?

In die tyd van Jesus terwyl Hy rondgereis het van die een dorpie na die ander was daar ‘n groep geleerdes wat baie oor Jesus gepraat het, maar min met Hom gepraat het. Hulle het voorgegee dat hulle baie van die wet weet, en ook hoe dit tot uitvoering behoort te kom. Hulle het ‘n lewe gelei van streng nakom van die wet.

 

Die vierde gebod sê immers: “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as ‘n gereelde rusdag geheilig.”

 

Die sewende of die Sabbat dag is dus geskep as ‘n rustyd, ‘n tyd van herstel van kragte, ‘n tyd om asem te skep. Die sabbatdag is vir die mens gemaak om te herstel en ook om weer in lyn met die Here se wil te kom, sodat die mens Hom verheerlik in wat hulle doen.

 

Meer as die sewende dag wat die sabbatdag was, was daar ook die sabbatsjaar. Elke sewende jaar is die lande gelaat om te herstel. Die grond moet rus. Die bome, die wingerde, die lande is gelos om te groei, sonder dat daar gesnoei word, sodat dit kan rus. Ook is die bome, wingerde, lande oopgestel vir die gemeenskap om te pluk of te oes soos hulle wil, sonder enige koste. Herstel nie net van die grond nie, maar ook aan ‘n groter gemeenskap. So vloei die gedagte van die sabbatdag uit in die sabbatsjaar. ‘n Tyd van rus, ‘n tyd van herstel vir grond en mens.

 

Dit kulmineer uiteindelik in die jubeljaar. 7 x 7 = 49, en met die 50ste jaar was ‘n jubeljaar aangekondig. Met die jubeljaar was alle slawe vrygestel, skuld afgelas, en grond aan die oorspronklike familie terug gegee. Weer kom die gedagte van herstel sterk na vore, van die individu as slaaf, maar ook herstel van die familie in gemeenskap.

 

 

 

So ‘n ingesteldheid van rus, herstel en asemskep verheerlik God. Wanneer ons rus maak ons tyd om in gesprek met die Here te tree oor waarheen ons op pad is, saam met Hom. Wanneer ons herstel, herstel ons die skeppingsritmes soos Hy dit bedoel het. Wanneer ons asem skep, maak ons ook ruimte vir ander om asem te skep.

 

Die Sabbatdag soos die geleerdes dit gesien het was ‘n dag van stilsit en bid, en niks anders nie. Wanneer die man met die gebreklike regterhand die tempel binnekom is die geleerdes se oë op Jesus gerig. Wat gaan hy maak?

 

Toe sê Jesus vir hulle: “Nou vra Ek julle: Mag ‘n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?” Met hierdie vraag verwerp Jesus die oorsaak gevolg gedagtes van die geleerdes, en bring die eintlike kwessie na die oppervlak. Vir Jesus bestaan daar nie niks doen nie. Daar is net twee moontlikhede: goed doen of kwaad doen. As die dag van die Here geheilig moet word, is die enigste weg: om goed te doen. Daarmee was Jesus besig, maar sy teenstanders wat voorgegee het dat hull op die sabbatdag niks doen nie, was in werklikheid besig om kwaad te doen, en teen Jesus planne te maak.

 

Die spanning kan met ‘n mespunt gesny word, eks seker ons kon ‘n speld in die sinagoge hoor val terwyl Jesus die fariseërs aangekyk het. Een vir een kyk Hy na die fariseërs. Markus 3 vertel dat Hy hulle rondom Hom kwaad aangekyk het en was diep bedroef oor hulle verhardheid. Jesus het hulle kwaad aangekyk. Hulle gee voor om niks te doen nie, terwyl hulle eintlik besig is om kwaad te doen, terwyl hulle nie besig is om herstel te bring nie, terwyl hulle nie ruimte vir asem-haal skep nie.

 

Nadat Jesus rondom Hom na die geleerdes gekyk het, kyk Hy met al sy fokus na die persoon wat nou in die middel van die vertrek staan. Hy sê vir die man met die gebreklike regterhand om sy hand uit te steek.

 

Terwyl al die geleerdes toekyk, met ‘n vyandigheid in hulle gemoed, vra Jesus vir die man om sy gebrek bloot te lê. Dink net hoe moeilik moes dit vir die man gewees het om sy gebrek so vir almal te wys.

 

Jesus vra nie net vir die man met die gebreklike hand om sy gebrek te wys nie, maar ook so vir ons elkeen. Ons elkeen het ‘n gebrek. ‘n Doring in ons vlees. Iets wat ons pla. Iets wat keer. Vir hierdie man was dit sy regterhand, waarskynlik die hand waarmee hy meeste van sy alledaagse take moes verrig. Hy was ‘n ystersmid van beroep wat beteken het dat die gebrek met sy hand hom waarskynlik sy werk gekos het. Vir ons is dit dalk kanker, ‘n moeilike familielid, ‘n besluit wat ons moet neem, ‘n gebrek aan deernis, ‘n gebrek aan vriende, ‘n gebrek aan tyd. Jesus vra ons om daardie gebrek publiek te maak sodat Hy herstel kan bring, sodat Hy kan genees.

 

Hy wil vir ons in die middel van sake plaas, terwyl die spanning hoog is, om ons gebreke bloot te lê. Hande uit die sakke, kaalvoet, voor Hom. Hy wil hê dat almal die plooie op jou hande sien, die sny oor jou pols, jou ongeknipte naels, Hy wil hê dat jy jouself met al jou gebreke aan Hom gee, sodat Hy jou kan herstel. Hy wil goed wees vir jou.

 

Wanneer ons oor herstel en gebrek praat is dit ook noodsaaklik om oor respek te praat, veral op die Sabbat. Die Here leer ons dat daar ‘n sekere orde aan die lewe is; leef, en indien gebrek, herstel. Daarvoor bou Hy ook tyd in die ritme van die lewe vir ons in.

 

Het jy al gewonder hoe iemand moet voel wanneer jy hulle ontneem van hersteltyd, wanneer jy nie kans gee om nuut te begin nie? Hoe laat jy iemand voel wanneer jy hulle in die rede val, hoe laat jy iemand voel wanneer hulle jou vra om hulp, hoe laat jy iemand voel wanneer jy meerderwaardig, soos die geleerdes, na hulle kyk of met hulle praat?

 

Die Here het ons almal geseën met spesiale talente en gawes, ons elkeen kan baie doen, maar ons elkeen kan nie alles doen nie. Ek kan goeie stories vertel, maar ek moet liewers nie aan ‘n motor se enjin probeer werk nie. Dit is my gebrek. Ek is gebrekkig as dit by motors kom, ek is gebreklik as dit by motors kom. Dit maak egter nie van my ‘n minderwaardige mens nie. Ek is steeds as mens baie werd. Die Here het my op ‘n sekere manier geskape sodat ek op ‘n sekere manier waarde kan toevoeg tot die samelewing.

 

Ek is geskep deur God almagtig met waarde, inherente waarde. Ek is nie waardevol omdat julle so sê nie, ek is waardevol omdat God my gemaak het. Daarom, ongeag kan ek waarde toevoeg tot die samelewing.

 

Die man glo en gehoorsaam, en sy hand word onmiddellik heeltemal gesond. Daarmee het Jesus nie die heiliging van die sabbatdag verwerp nie, maar betekenis daaraan gegee wat in ooreenstemming met die bedoeling van God is. Dit moet aangewend word tot verheerliking van God. Daarom, ook op die sabbatdag moet die grootste gebod in aksie oorgaan, om liefde tot God en liefde tot ons naaste te wys. Wanneer ons vanuit liefde optree, omdat die Here ons lief het, en ons Hom lief het, kan ons nie anders as om met respek teenoor ons naaste op te tree nie.

 

Die teenpool is ook waar. Wanneer ons sonder respek optree, tree ons ook sonder liefde op. Die geleerdes het nie respek getoon vir die man met die gebreklike hand nie, daarom het hulle op hom neergekyk toe hy die sinagoge binnekom. Hulle het nie met liefdesoë na hom gekyk nie. Die geleerdes het ook nie met respek teenoor Jesus opgetree nie. Hulle het stilgebly en afgekyk terwyl Jesus hulle kwaad aankyk, hulle het toegelaat dat die sinagoge in ‘n liefdelose ruimte verander. Hulle het nie heling gebring nie. Wanneer daar sonder respek opgetree word, word daar sonder liefde opgetree, en wanneer daar sonder liefde opgetree word, word daar kwaad gedoen.

 

Hy het die man genees, en sy hand was gesond. Maar hulle, die geleerdes, het rasend van woede geword en onder mekaar geredeneer oor wat hulle Jesus sou aandoen… Vreemd hoe die wat menswaardigheid herstel aangegluur word deur die wat tradisie in plek wil hou…

 

Wat sien ons as ons met ons tradisionele gedagtes na hierdie situasie kyk?

 

Sien ons die sabbatdag as ‘n dag van kerk en huis, niks anders, slegs as iemand se lewe in gevaar is kan ons winkels toe gaan. Sien ons probleme as ‘n persoonlike ding wat persoonlik op ons eie hanteer moet word, niemand hoef te weet wat in my lewe aangaan nie. Sien ons hoe ons die perfekte beeld voorhou, ons is mos darm beter as dit.

 

Wat as ons met ons harte die situasie benader?

 

Sal ons die sabbatdag sien as ‘n dag van heling en herstel, ‘n dag van soveel as moontlik goed doen om op so ‘n manier eer aan God te bring? Sal ons sien dat dit goed is om ons probleme publiek te maak, sodat ons as gemeenskap saam daaraan kan werk, saam daaraan kan dra, saam daarvoor kan bid? Ook sodat ons bewus kan wees daarvan dat almal ‘n behoefte het aan noodverligting, dat almal ‘n behoefte het om oor hul seer te praat. Sal ons begin om menswaardig op te tree?

 

Om menswaardig op te tree vra dat ons ons meerderwaardigheid prysgee. Wanneer ons begin om mekaar werklik raak te sien, sal ons nie kyk met ons oë nie, ons sal nie luister met ons ore nie, ons sal selfs nie eers voel met ons hande nie. Ons sal begin om werklik eensgesind te leef wanneer ons almal mekaar se gebrek en seer met ‘n diepe emosie aanskou, ons sal begin om menswaardig te leef die oomblik wanneer ons ander se seer ons eie maak, dan en slegs dan sal ons verstaan wat dit beteken om met respek teenoor ‘n ander op te tree. Wanneer ons insien dat die ander se situasie net so maklik ons eie situasie kon gewees het! Al wat dit verhoed is die genade van God. Laat ons die kaarte gebruik wat Hy aan ons uitgedeel het, nie om op ander neer te kyk nie, maar eerder om die grond gelyk te maak.

 

Jesus het dit gebruik wat in Sy mag was om die grond gelyk te maak tussen die man met die gebreklike hand en die geleerdes. Die Woord leer vir ons dat dieselfde krag wat die Here gebruik het om Christus uit die dood op te wek in ons is, so kom ons gebruik dit wat in ons is om die grond gelyk te maak. Gelyk te maak vir ‘n dag van herstel, gelyk te maak vir ‘n dag van publieke broosheid, gelyk te maak vir ‘n dag van menswaardigheid.

 

Amen.