Matteus 24: Om meer en meer soos Jesus te lewe

Om aandag te gee aan die hier en nou is een van die hoof temas van die Advent tyd. Met die volgende paar vrae wil ek graag ons gedagtes prikkel om bewus te raak van waar ons met wat besig was, is en sal wees. Kies een van die volgende vyf vrae om oor te dink:

 

–           Hoe sal jy liefde gee en neem in verhouding met die mense naaste aan jou?

–           Hoe sal jou interaksies met mense aanleiding gee tot heilige oomblikke?

–           Hoe sal jy leer van die mense wat die minste soos jy is?

–           Hoe sal jy jou sintuie aanwakker om die goeie en die vrede raak te sien waarmee die Here besig is?

–           Hoe kan jy wakker word in jouself, jou liggaam, siel en gees?

 

Hoe sal so ‘n bewussyn van die mense die naaste aan jou, die interaksies met vreemdelinge, die mense die minste soos jy, God, en jouself, bepaal hoe jy jou tyd spandeer?

 

Luister, kyk, dink oor hoe jy jou tyd spandeer.

 

Daar word vir ons vertel dat met Noag se sondvloed het die mense geëet, gedrink en getrou en soos normaal aangegaan met hul lewens. Dat daar spesifiek vertel word van dat hulle getrou is om te wys dat die mense verwag het dat die toekoms vanselfsprekend daar sal wees.

 

Terwyl ons besig sal wees met ons alledaagse dinge, eet, drink, trou sal die Here se koms (parousia) skielik gebeur. Van die 24 keer wat die Griekse term parousia in die Nuwe Testament voorkom, kom dit viermaal in die Matteusevangelie voor (24:3, 27, 37, 39) al vier keer in Matteus 24. Dit kom nie in enige van die ander evangelies voor nie. Parousia is ‘n antieke Griekse woord wat as “teenwoordigheid”, “aankoms” of “amptelike besoek” vertaal kan word.

 

Die teenwoordigheid van die Here vind op alle terreine van ons lewens plaas. In al die voorbeelde wat Matteus gebruik is mense besig met alledaagse dinge.

Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy besig is om in die ry by Spar te staan. Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy besig is om voor die TV te lê. Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy besig is om om te wonder hoeveel en van wat jy moet plant vir volgende jaar. Verbeel jou helder engele verskyn terwyl jy op jou selfoon scroll, double tap en like.

 

Dink jy die Here sal van dit hou waarmee jy besig is? Dink jy, jy sal graag met dit wil besig wees terwyl die Here aan jou verskyn?

 

Om waaksaam te wees beteken om met afwagting te lewe. Hier is Matteus word van waaksaamheid te midde van die alledaagse lewe gepraat. Die gelykenis van die dief in die nag wil vir ons sê dat ons wat onsself Christus se volgelinge noem in ‘n konstante status van afwagting moet leef. As ‘n huiseienaar gereed is en wag, sal hy nie onkant gevang word deur die dief wat inbreek nie.

 

Wat my laat wonder oor hierdie gedeelte is twee dinge:

–           Hoe wag ‘n mens?

–           Hoekom moet ons in afwagting lewe?

 

En soos ek wonder, dink ek dat hierdie twee vrae se antwoorde naby aan mekaar is.

 

Matteus help ons om verder in die toekoms in te kyk as waaraan ons gewoond is. Hy help ons om die teenwoordige Here in ons midde – waar ons leef en werk, waar ons eet, drink en trou – raak te sien. Hy help ons om in die hier en nou met hoop vir die toekoms te lewe. Matteus help ons droom, maar hy help ons nie om in ons slaap te droom nie, Matteus maak van ons dagdromers.

 

Matteus help met fokus, op die hier en nou. Ons lewe in ‘n tyd van slim horlosies en ons tel tyd in nanosekondes. Wanneer kinders gebore word, dink ons al aan hulle naskoolse opleiding, beroepe en troues. Wanneer ons begin werk, begin ons spaar en voorbereidings tref vir ons aftrede. Ons tyd het vloeibaar geword. Ons kan baie maklik die huidige, die onmiddellike, die teenswoordige, die hier en nou, mis. Ons moet leer om in die hede en oop vir die oomblik te leef. Híér waar Jesus nóú teenwoordig ís.

 

Die geleerde Karl Barth sê ons moet leer om tussen die tye te leef, wat dalk ‘n antwoord in die rigting is van ‘hoe wag ‘n mens’. Terwyl ons wag moet ons terug kyk en onthou van hoe die Here ons in die verlede gered en gehelp het, oor geslagte heen, van Noag en Job, na die aardbewing, deur die leë damme, tot vandag toe.

 

Terwyl ons wag moet ons vorentoe kyk met die verwagting van die Here wat teenwoordig is. Dit is ‘n massiewe gedagte om in gedagte te hou. Dit verander alles wat ‘n mens doen. Om te dink dat die Here, nou, hier, teenwoordig is. Hy is hier! Immanuel, God met ons! Sal ons doen wat ons doen as ons leef met so ‘n bewussyn? Sal ons vroeg oggend al in Checkers Hyper of Game se rye gaan staan om daardie uitgesoekte televisie op uitverkoping te koop? Of sal ons eerder vroeg oggend help om die haweloses kos te gee?

 

Dit is presies waartoe Adventstyd ons uitnooi: om terug te kyk oor die jaar wat verby is, en ook verder in die verlede in. Om te kyk na wat ons gedoen het. Het ons werklik ‘n verskil in die gemeenskap gemaak, of het ons net aan ons eie koninkryk gebou? Advent tyd roep ons ook om vorentoe te kyk en God vandag, more en in die nuwe jaar te sien. Om met hoop te kyk na die wat naby aan ons is, om met hoop te kyk na die wat nie soos ons is nie, en om met hoop na onsself te kyk. God was nog al die jare by ons, Hy is by ons, en Hy belowe dat Hy by ons sal wees.

 

Elke dag en geleentheid moet aangegryp word. Daarom moet ons onsself voortdurend afvra of ons leef soos wat Christus dit wil hê? Vertrou ons Hóm alleen? Fokus ons op God en sy koninkryk, of het ons weereens met ons eie koninkryk behep geraak?

 

Sien, die hoekom gaan die hoe vraag voor. Ons moet in afwagting van God se teenwoordigheid leef want dit bring hoop. Dit maak dat ons ‘n swart en wit foto kan inkleur. Dit maak dat ons die gordyne kan ooptrek en die son sien opkom. Dit maak dat ons die sin van die lewe in mekaar eerder as in dinge vind.

 

En hoe vind ons die inkleurpotlode, die son en mekaar? Deur in die alledaagse in afwagting te leef om die Here raak te sien in die klein dingetjies. Hy het sy Gees gestuur om ons te begelei deur die lewe, dit vra egter van ons om in ‘n Goddelike bewussyn van die oomblik te leef.

 

Hoekom moet ons wag?

Hoe moet ons wag?

 

Terwyl ons tussen die tye leef, vertrou en hoop ons dat dit wat God reeds in ons begin het en sal voortsit, ons sal transformeer om meer en meer soos Jesus te lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *