Jona 1:4-16

In hierdie gedeelte van Jona is die storm op die see gegooi! Die wind waai en die water spat. Dit is tog ‘n baie interessante gedeelte binne die groter verhaal van Jona. Die struktuur van hierdie gedeelte is die eerste ding wat jou opval as jy nader na die teks gaan kyk.

A. Vertelling en vrees motief (4-5a)
B. Gebede van die seelui (5a)
C. Vertelling (5b, 6a)
D. Woorde van die kaptein (6b)
E. Woorde van die seelui (7a)
F. Vertelling (7b)
G. Woorde van die seelui (8)
Belydenis en vrees motief (9)
g. Woorde van die seelui (10a, b)
f. Vertelling (10c)
e. Woorde van die seelui (11)
d. Woorde van Jona (12)
c. Vertelling (13)
b. Gebed van die seelui (14)
a. Vertelling en vrees motief (15, 16a)

Alles in vandag se verhaal draai rondom hierdie struktuur wat in alle ironie Jona se belydenis in sy vrees wil uitlig.

Die Here stuur soms omstandighede om ons te laat weet: Hy laat ons nie los nie. In omstandighede waar dit voel asof ons wil vergaan, bemoei Hy Hom met ons. Jona was besig om so ver as moontlik van die Here af weg te vlug en tog roep die Here steeds na Sy profeet uit.

Die Here gooi ‘n geweldige stormwind op die see. So hard moes God na Jona roep. Met Elia op die berg Horeb was die Here juis nie in die stormwind nie, maar in ‘n fluisterstem. Maar met Jona is dit anders, want hy bly net stil. Vandat hy die woord van God ontvang het, het hy niks anders gedoen as om te vlug nie.

Omdat Jona nie met die Here wil praat nie, moet die Here op ‘n ander manier met hom kontak maak. Hy moet Jona op die oop see en op die golwe ontmoet. En om dit te bereik gooi Hy die stormwind op die see.

Tog is dit nie die profeet wat eerste die storm as ‘n stem van God ervaar nie, nee, die matrose, die heidene, hulle ervaar eerste die storm as die stem van God. Jona lê en slaap terwyl die storm losbars op die see.

Daar is niks skokkender as ‘n wakker wêreld en ‘n slapende kerk nie. Is dit nie dalk die nood van die wêreld nie? Dat gelowiges in die krisis vas aan die slaap is?

Hier in hierdie verhaal is die matrose bang en wakker, terwyl Jona rustig en aan die slaap is. Jona lê en slaap om te ontsnap van sy ongemak. Hy probeer vlug van alles rondom hom deur homself besig te hou met sy drome.

Iemand het eenmaal gesê dat jou ongemak lig skyn op jou opdrag. Jona het van sy ongemak probeer vlug deur te slaap. Jona het van sy opdrag probeer vlug deur te slaap. Dink bietjie daaroor: dit waaroor jy ongemaklik is moet jy waarskynlik aanspreek. Is jy ongemaklik oor die taalgebruik van jou vriende? Is jy ongemaklik met jou punte op skool? Is jy ongemaklik oor sekere aspekte van jou lewe? Jou ongemak wys vir jou waaraan jy iets moet doen!

Ons droom dikwels lekker aan ons eie drome, ons bou lugkastele terwyl die wêreld vergaan. Ons ontvlug die werklikheid waar die wind kreun en die see spoeg. Ons emigreer. Ons trek weg. Ons verander vriendekringe. Ons vlug. As ons soos Jona gaan wegvlug van ons ongemak, wie gaan die probleme aanspreek in die wêreld as ons die voorbeeld stel van los dinge net soos dit is en beweeg aan? As ons nie die voorbeeld stel van ‘n kerk wat bereid is om deur die moeilike omstandighede en moeilike tye saam te sukkel nie. Is nie dalk aan die slaap nie? Is ons nie dalk dan net soos Jona nie?

Die oomblik toe Jona wakker gemaak word deur die kaptein het hy presies geweet wat aan die gang is. Hy het geweet dat hy die oorsaak van hierdie storm is.

Weereens moes die wêreldse kaptein die gelowige profeet wakker maak! In plaas daarvan dat die profeet die matrose aanspoor om tot die God van die hemel en aarde te bid, moet die kaptein Jona oproep tot gebed. Die ongelowige moet die gelowige wakker maak om te… bid!

Hulle maak vir Jona wakker en vind uit dat dit as gevolg van hom is dat hierdie ramp hulle tref. Toe vra hulle vir hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref? Wat werk jy? Uit watter land en van watter volk is jy?

En Jona het hulle geantwoord: “Ek is ‘n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” Jona gryp terug na sy Sondagskool rympies. En tog al onthou hy dit goed is dit net rympies, want as hy geglo het wat hy bely het sou hy nie op die skip gewees het nie.

Ons bely baie Sondae saam: “Ek glo in God die Vader, die almagtige skepper van hemel en aarde…” Glo jy dit wat jy bely? Of is dit maar net nog iets wat jy agter die dominee aansê omdat almal dit doen en jy nie eintlik weet hoekom nie…?

Hoekom bely ons God as skepper van hemel en aarde? Hoekom het Jona bely dat God skepper van die see en vasteland is? Dit is ‘n verklaring wat ons maak, ons bely daardeur dat God lief is vir die hele wêreld, nie net sekeres daarin of daarop nie. Dit is daarmee saam ‘n oproep om die aarde, met alles daarin en alles daarop te respekteer, omdat God dit gemaak het.

Jona het hom nie gesteur aan die inhoud van sy belydenis nie. Hy is besig om weg van God te vlug, op die see, terwyl hy bely dat God die see geskape het. Hy probeer wegvlug van die opdrag om liefde te gaan betoon aan die gewelddadige Nineve terwyl hy weet dat God ook vir Nineve lief het.

Die storms om ons is soms so erg dat ons nie anders kan as om wakker te skrik nie. Slapende Jona word deur die kaptein wakker gemaak. Watter storms het jou al wakker gemaak? As jy so in jou siel in kyk, sien jy dalk hoe wolke begin saampak?

As die storm woed, en ons is op die punt om te vergaan, is die vraag baie keer:
“Waarheen nou?”

Ons kan so vasgevang raak in ons storms dat ons nie meer voor ons kan uitsien nie en net heeltyd probeer om elke bietjie water uit ons bootjie te gooi terwyl dit aanhou reën. Die spreekwoord lui nie verniet om te “jump ship” nie…

Soms wil ons net opgee, wil ons ook maar soos Jona as laaste uitweg oorboord spring in die diep waters in…

Moenie! Moenie spring nie! Hou vas aan jou belydenis, hou vas aan God se beloftes. Hy sal jou nooit alleen laat nie, ja, soms sal Hy harder praat sodat jy kan hoor. Maar dit doen Hy om Sy teenwoordigheid aan jou te openbaar. Laat God die storms in jou siel stilmaak. Laat Hom toe om jou lewe in die regte rigting te stuur. Gee oor aan Hom!

Jesus het gekom om in ons plek in die see gegooi te word. Ons hoef nie al daardie soutwater te sluk nie, Jesus het dit reeds vir ons gedoen en ook die stormwaters oorwin. Jesus self gebruik die storie van Jona om te profeteer oor sy eie dood waar hy drie dae en drie nagte binne-in die aarde sal wees.

In Matteus 12:40 staan daar: “Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.”

Omdat ons ‘n God van genade en tweede kanse dien kan ons veilig voet aan wal sit, al gaan ons deur stormwaters.
Omdat ons ‘n God van genade en tweede kanse dien kan ons God se reddende boodskap verkondig omdat ons dit self ervaar.
Omdat ons ‘n God van genade en tweede kanse dien kan ons in mooiweer en donderweer profete van genade en tweede kanse wees.

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.