Jona 3

Jona se mond drup van die soutwater. Hy is gehawend, en tog nie haweloos nie. Veilig sit hy voet aan wal. Sy kop staan Nineve se kant toe. Die Here het hom uit die waters gered en weer geroep. Nou is hy meer gereed vir Nineve. Al wat hy moet doen is om die Here se boodskap te gaan aflewer.

Nineve is ‘n baie groot stad! Menslik gesproke kan hy nie slaag nie. Van hoek tot kant moet hy deur Nineve stap, drie dagreise lank. As jy 6 ure per dag stap en 18 ure los vir ontspan, rus en slaap, sal jy gemaklik 28km in ‘n dag kan stap. Nineve was drie dagreise groot. 90km in deursnee. Dit is groot en Jona het daardeur gestap en God se boodskap afgelewer. Teen 3km/h vir 6 ure lank het Jona die woord wat hy van die Here ontvang het met Nineve gedeel.

Jona se preektema is: Oordeel, oordeel en nog oordeel. Die hel is los! Oor veertig dae word Nineve verwoes. Dieselfde verwoesting wat vir Sodom en Gomorra in Genesis 19 getref het lê vir Nineve en wag. En dit is tot Jona se vreugde en die Nineviete se ondergang. Binne veertig dae sal Israel van hulle aartsvyand ontslae wees. En Jona sal ‘n nasionale held wees. Op elke straathoek sal die nuus uitbasuin word: manalleen het Jona Nineve deur ‘n preek vernietig.

Jona laat die boodskap oor Nineve los. Jona steek God se boodskap soos dinamiet aan. Drie dae lank. Sy veldtog moet ‘n veldslag word. Nou moet die Here net sy oordeel en vernietiging los laat.

Jona wag gretig op die finale verwoesting. Die spanning is ondraaglik. Die oomblik van vernietiging is voor die deur.

Die uitwerking van Jona se preek is egter verstommend. Die Nineviete neem Jona se preek ernstig op. Jona het waarskynlik gehoop en gebid dat dit nie moet gebeur nie. Die Nineviete verander toe Jona se preektema van oordeel na ‘n boodskap van hoop.

Jona se boodskap is plofstof wat verskuiwing bring. Mense word tot ander insigte geruk. Hulle dink anders oor hulself, oor God en hulle gode. Hulle wend hulle tot God van die hemele wat see en vasteland gemaak het. Net soos die matrose op die skip, eens heidene, eens ongelowiges, raak hierdie Nineviete mense wat nader tot God die almagtige, die God van die hemele wat see en vasteland gemaak het.

Hulle dink, dalk is die Here anders as Jona. Dalk verander hy van plan. Dalk besluit Hy om hulle nie meer te tref met oordeel nie. Dalk kan God berou oor hulle kry.

Tot Jona se ontsteltenis waag die Nineviete dit om in die Here te glo. Die koning en al sy onderdane buig in berou voor God neer. Selfs die diere doen dit ook. Die ommekeer word sigbaar deurdat die Nineviete die verkeerde weg moet verlaat en onreg moet aflê.

En dan, en dan kry God die Nineviete jammer.

Omdat Hy hulle jammer kry maak Hom nie minder God nie. Sy Goddelikheid blyk juis hierin: Hy is bewoë, genadig, en vol liefde. Dit is Sy genade wat die Nineviete tot berou en bekering beweeg. Hy is ‘n God van tweede kanse.

Hy kon net van die staanspoor besluit het om Nineve uit te roei. Sonder enige waarskuwings, sonder enige profete, sonder enige preke. Maar tog stuur Hy vir Jona na Nineve om hulle ‘n kans te gee om dit te oorweeg om weg te draai vanaf hulle afgodsdiens. Hy gee hulle die opsie om weer te probeer om God en mekaar lief te hê, al verdien hulle nie die opsie nie.

Ons is geneig om Jona se taal te praat. Ons het ook Nineviete wat ons graag sal wil verwoes, Nineviete wat ons nie hier om ons wil sien nie. Nineve is ‘n simbool wat ons elkeen self kan invul met ons eie vyande. Sonder Nineve in die samelewing is al ons probleme opgelos. Sonder Nineve is ons toekoms, is ons voortbestaan veilig. En soos Jona sien ons nood en ellende net raak as dit met ons mense gebeur.

Jona se preek behoort egter ons almal tot stilstand te roep. Dit kondig ons almal se oordeel aan. Voor God staan ons elkeen skuldig. Voor God is ons elkeen skuldig van daardie dinge wat ons doen wat nie liefde vir God en liefde vir mekaar meer maak nie. Voor God is ons skuldig. So so skuldig.

Maar hierdie preek gaan nie oor ons nie, dit gaan daaroor om vir ons te wys wie God is. Dit gaan daaroor om vir ons te wys hoe die Here die almagtige tweede kanse aan ons wat teen Hom sondig gee.

Ons God, die God van die hemele wat see en vasteland gemaak het. Almagtige Skepper van hemel en aarde. Ons God is ‘n God wat berou kan toon, wat nie net lewe volgens oorsaak en gevolg nie. Hy het nie alles geskape in ses dae en toe terug gesit en kyk hoe alles verloop nie. Nee, Hy is steeds besig om te skep en te herskep in hierdie skepping waarin ons lewe. Hy kan van plan verander. Hy kan nuwe lewe in jou lewe inblaas. Hy bied vir ons die lewende water aan.

Ons sien dit duidelik hier in die verhaal van Jona en Nineve. Die Here het vir Jona gestuur om oordeel aan te kondig en toe op die uiteinde was daardie boodskap die boodskap wat gemaak het dat die Nineviete die grootste liefde vanaf God ontvang het, ‘n tweede kans op die lewe.

God is genadig! Nie net in Israel nie, maar ook buite Israel. Hiervoor moes Jona, en moet ons, oë oopgaan. God se genade is grensloos. Daarom het sy Seun oor die hindernisse van ‘n krip, ‘n kruis en ‘n graf na ons toe beweeg. Jesus is met ons doodsvonnis kruis toe. Daar het Hy onder die vloed van oordeel vir ons sonde gesterf, sodat ons vry kan wees.

Ons wonder: “Wie weet of die Here ons sal vergewe?” Hy het dit reeds gedoen. “Vader, vergeef hulle…” Daarom kan ons onsself met geloof op Jesus Christus werp. Ons kan met geloof uit ons dieptes opstaan. Met geloof kan ons die toekoms aandurf. En as die dood kom, kan ons met geloof opstaan. Met geloof kan ons leef, nou en vir altyd.

Die Here gee vir ons ‘n tweede kans om te doen wat Hy ons gevra het om te doen. Dit wat Hy van ons vra maak die pad oop na vreugde, vrede, hoop en liefde. Hy gee vir ons nog ‘n kans om daardie pad te kies. Deur genade en met geloof kan ons opstaan en omdraai in die naam van die Here.

Gaan jy vandag kies om jou lewe in te rig volgens die Here se plan vir jou lewe?

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.