Jona 1:1-3

Tema: God stuur ons na Nineve

Vandag wil ek vir julle ‘n storie vertel van iemand wat gedink het hy kan weghardloop van God wat aarde en see gemaak het deur op ‘n bootjie te klim. Van iemand wat vele wonderwerke self beleef het. Van iemand wat ‘n koning en 120 000 mense tot bekering gebring het en daarna gehuil het oor die son wat bietjie te warm op hom skyn. Vandag en vir die volgende drie weke gaan ons saam ontdek wie Jona was, en wat ons van sy storie kan leer.

Kom ons lees saam Jona 1:1-3

Jona, die seun van Amittai, het op ‘n woord van die Here gewag. In daardie droewe dae van ballingskap was die woord van die Here skaars. Hy het gewag en gewag en toe op ‘n dag het die woord van die Here tot hom gekom.

Toe dit gebeur het die Here se woord om egter stomgeslaan. Hy was platgeslaan. Dit was ‘n aanstootlike woord.

“Gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”

Anders as die ander profete in die Ou Testament word Jona geroep deur die Here om nie die woord van die Here nie met sy eie mense te deel nie, maar om dit met ‘n onbekende volk te gaan deel. Op sy reis sou hy geografiese, kulturele en religieuse grense oorsteek.

Vir Jona het dit dieselfde geklink as om reguit in die leeukuil in te stap. Hiervoor het die profeet nie kans gesien nie. Vir hom was daar net een uitweg. Hy moes vlug. Die profeet is haastig. Hals oor kop is hy op pad Tarsis toe. Heeltemal in die teenoorgestelde rigting as Nineve. Met sy enkelkaartjie en bagasie is hy aan boord.

Jona wou net met alle mag van God se opdrag af wegkom. Jona het gedink Tarsis is ver genoeg van die Here se opdrag af. Alles het volgens plan verloop, totdat die storm op die see losgebars het. Die see raas en kreun en die skip wieg in die waters soos ‘n nat stomp op die golwe.

As ons onsself vandag in Jona se skoene sou sit sou hierdie opdrag wees iets in die rigting van om die Here se liefde en genade met ons grootste vyand te gaan deel. Dit sou wees soos om vir die Guptas oor korrupsie te gaan preek, of in die tronk te gaan preek oor moord, verkragting en diefstal, terwyl almal met hulle nommers in jou onmiddellike spasie is. Of, nog nader, om in die munisipale kantore te gaan preek oor wan-administrasie. Of, nog nader, om met jou vriendin wat stories agter jou rug versprei te gaan praat oor liefde.

Dit moes baie moeilik gewees het vir Jona. Dit was so moeilik vir Jona dat hy besluit het om eerder in die heeltemal teenoorgestelde rigting van die opdrag te gaan. Jy kan jouself ook afvra, sou jy om dieselfde tafel wou sit saam met iemand wat jou bitter seer gemaak het en dan met hulle deel dat God vir hulle baie lief is en hulle by Hom wil hê?

Hier in hierdie eerste verse van Jona kom openbaar die Here sy groot en oop hart. Hier kom openbaar Hy dat hy nie net vir sy volk, die Israeliete, lief is nie, maar vir almal. Dat Hy selfs lief is vir die wat nie vir Hom lief is nie, dat Hy lief is vir die wat in opstand teen Hom is.

En Hy stuur vir Jona om dit aan Nineve bekend te gaan maak. Ek kan nogal verstaan hoe Jona moes gedink het… Jona kon tereg gevra het: “Vir wat? Hulle sal tog nie na my luister nie, hulle het reeds hulle eie gode.” Wie sou nou regtig na hom luister? Hy kon selfs gewonder het of hy lewendig sou terugkom huis toe? Hy gaan dan na Nineve wat bekend is as die gewelddadige stad in opstand teen die Here.

Ek dink baie van ons is vandag nog soos Jona. Ons is meer as bereid om die goeie nuus van Jesus aan die mense bekend tot ons te gaan verkondig en te gaan vertel. Ons deel graag die boodskap van Jesus aan mense wat nie mag oor ons het nie, maar is ons bereid om die goeie nuus, die ontwrigtende nuus, te deel met ons base van ander gelowe, met die ou op die straat wat jy weet met ‘n mes rondloop, met jou vriendin wat jy weet besig is met verkeerde dinge. Is ons bereid om die goeie nuus, die goeie lewe, te deel met mense wat ons weet iets van ons kan wegneem.

Jona was bang. Hy het getwyfel in die mens se vermoë om te verander. Hy het God te vermoë om te verander buite rekening gelaat. Hy het gedink alles hang van Hom af. En wanneer ons dink dat alles van ons afhang kan dinge oorweldigend lyk. Wanneer ons dink dat ons alles moet doen wil ons gewoonlik van groot dinge wat ons lewenstyl bedreig af weghardloop.

Jona die seun van Amittai het die krag van die Here buite rekening gelaat al was hy in ‘n intieme verhouding met Hom.

God se Woord kan vir ons almal alledaags word. Ons lees ons bekende goedvoel versies oor en oor. En ons luister met oorgawe na daardie bekende klanke. Ons draai die volume op wanneer dit kom by die goedvoel versies, maar wanneer die nuwe klanke, die anderse klanke, die ontwrigtende klanke na vore kom hou ons dit saggies, so saggies dat ons kan aangaan terwyl die alledaagse klanke van die wêreld harder klink as die fluisterstem van God.

Ons kan tog nie God se genade en liefde op vreemdelinge, op wêreldlinge, op vyande, gaan verspil nie. Daar is soveel goeie rede om die goeie nuus net vir onsself te hou.

Hierdie soort doofwees vir die fluisterstem van God se Woord maak van die kerk ‘n vllugtelingkerk. ‘n Kerk vol Jona’s. ‘n Kerk wat wegvlug vir sy roeping. Ons is tog so kreatief om ontsnappingsroetes te ontdek; om verskonings uit te dink; om Nineve te ontduik.

Wat ons nie besef nie, terwyl ons na die harde musiek, die goedvoel versies, oor en oor luister, is dat ons toekoms op die spel is.

So, Jona, Johanna, gaan jy aanhou wegvlug van die Here se opdrag? Ons toekoms is op die spel!

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.