Eksodus 20:8-17

Ons gaan vandag bietjie gesels oor iets wat aan die uitsterf is… Vandag se onderwerp is iets wat besonderse waarde tot jou lewe kan toevoeg, tog gebruik min mense dit. Kom ons kyk of julle kan raai…

Ek is deurskynend, maar ek kan kleur aan jou lewe gee. Ek kan jou energievlakke verhoog en jou minder laat stres. Ek kan jou laat lag en ook vir jou tyd gee om te huil. Tussen 7 is ek 1. Daar is 52 van ons. Wie is ek? Die Sabbat.

Dit is jammer dat die Sabbat dag iets geraak het wat die lewe beperk, wat die eintlike punt daarvan mis, dat dit moet lewe gee, dat dit moet herstel en genesing bied.

Om die Sabbat te onderhou is om te sê: “Ek is anders”. Om die Sabbat te onderhou is om jou identiteit te verklaar, deur te sê dat jy dinge anders as die normale doen. Die Sabbat is ook nie net iets wat jy sê nie, maar veral iets wat jy doen.

Ons kan nie net praat van die goeie nuus nie, ons moet die goeie lewe leef.

Israel was pas verlos uit die kloue van die Egiptiese Farao en het gesoek na nuwe leiding wat hulle toe vind in Moses. In Eksodus 24:7 verklaar hulle aan Moses: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees.”

Wanneer ons na leiding soek, is ons bereid om te sê: “Here ons sal alles doen wat U ons beveel en vra, en gehoorsaam aan U wees.”?

Terwyl daar ook ander opdragte van God aan die Israeliete was het die tien gebooie uitgestaan. Die volk het ingestem om God lief te hê en ook hulle naaste.

Die uitdrukking van die tien gebooie deur God aan die Israeliete begin met ‘n verwysing na die Farao en van Egipte. “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het.” – Eksodus 20:2.

Alle partye by die berg, God, Moses, en Israel, kon goed onthou hoe die wêreld van die Farao gelyk het: (Dalk is jou baas soos die Farao? Dalk is jy jou eie baas soos die Farao?)
• Hulle kon onthou dat die Farao van homself as god gedink het, ‘n absolute outoriteit wie nie kon siek word nie, en al wat hy gesoek het was nog.
• Hulle kon onthou dat Egipte se ekonomie soos ‘n piramide gewerk het, die werkers het die rykdom produseer, en alles het na die boonste punt van die piramiede beweeg waar die Farao gesit het.
• Hulle kon die Farao onthou, dat al was hy gesien as almagtig, was hy eindeloos bekommerd en angstig wat almal wat onder hom gewerk het rusteloos en angstig laat voel het.
• Hulle kon die Farao onthou, dat hy die Nyl beheer het, en steeds angstige nagmerries gekry het oor die moontlikheid van droogte en te min kos.
• Hulle kon onthou hoe daardie angstige nagmerries van droogte, gelei het tot wrede beleide wat gemaak het dat die Farao alle geld, beeste, grond en uiteindelik mense gevat het.
• Hulle onthou hoe so ‘n beleid uiteindelik mense tot slawe gemaak het.
• Hulle kon onthou, hoe die Farao se angstige nagmerries gemaak het dat hulle al harder en harder as slawe van ‘n al ryker en ryker Farao moes werk.
• Dit alles het hulle onthou toe God self aankondig dat hy die God is wat hulle uit Egipte bevry het, uit die land van slawerny.

As jy ‘n slaaf is, is jy angstig of jy die kwota bakstene vir die dag gaan maak. As jy die Farao is, is jy angstig of jy die monopolie op die voedselproduksie sal behou.

Hoe besonders is dit nie dat die meeste lugtyd op die berg afgestaan word aan die opdrag van die Sabbat.

Daar was geen Sabbat in Egipte nie, geen werk het gestop nie. Geen werk het gestop vir die Farao wat dag en nag gewerk het om bo op die piramiede te bly nie. Geen werk het vir die slawe gestop nie, hulle moes selfs strooi bymekaarmaak in hulle af tyd. Niemand het in Egipte opgehou met werk nie, maar hulle was almal só produktief.

Deur die Sabbat word die Israeliete uitgenooi na ‘n lewe wat nie gaan oor fanatiese produktiwiteit nie, wat almal anders reduseer tot ‘n bedreiging of kompetisie. Wanneer daar met werk gestop word is daar dadelik ‘n afname in angstigheid, en met ‘n afname in angstigheid is daar weer energie om na die mense om ons te kyk. Die vreemde opdrag van God is om angstige produktiwiteit te los vir toegewyde naaste liefde.

Toegewyde naaste liefde produseer nie baie nie, maar dit skep ‘n omgewing van veiligheid, respek en waardigheid, wat weer menslikheid terug in die lewe sit.

Dalk vra iemand vir ‘n rede hoekom daar met werk gestop moet word, want dit gaan teen die kern beginsels van die ekonomiese rotresies.

Eksodus 20:11 sê: “Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.”

God het gerus. God het dit geniet om met werk te stop.

Hierdie laat ons terug dink aan die skeppingsorde. Hoe die Here geskep het, alles op sy plek, alles op sy tyd, en ook genoeg tyd vir alles. En dit was goed. Dit is goed dat orde chaos wen. Dit is goed dat die wêreld georden is om vrugbaar te wees. Dit is baie goed dat die skepping die lewe-gewende energie van die Skepper dra. Dit is baie goed.

Psalm 104:27-28 sê: “Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd. U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.”

Psalm 145:15-16 sê: “Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.”

Ons wêreld kan ‘n plek sonder angs vir die lewe wees omdat die Skepper sonder angs is. God is nie ‘n werkolis nie. God is nie ‘n Farao nie. God hou nie aan om die skedules al stywer aan te draai nie. Die teenoorgestelde gebeur, God rus, selfversekerd, tevrede.

Moses sê vir die Israeliete om te rus soos wat God gerus het. En terwyl julle rus, maak ook seker dat jou naaste rus.

Die wat leef in ‘n sisteem van angstige kompetisie:
• sal nie hul ouers eer nie en ook nie hul onproduktiewe familie nie.
• sal betrokke raak by moordende geweld, want ander is vir hulle ‘n bedreiging.
• sal die seksuele as ‘n kommoditeit sien om te gebruik.
• sal van ander vat as dit iets is wat hulle wil hê.
• sal groot praatjies maak as dit tot hulle voordeel is.
• sal alles doen om meer bymekaar te maak.

Moses het al die gebooie gelees. Julle wat die Sabbat hou het nie nodig om:
• om jou vader en moeder oneer aan te doen nie.
• om dood te maak nie.
• om egbreek te pleeg nie.
• om te steel nie.
• om valse getuies af te lê nie.
• om te begeer nie.

God nooi die by die berg uit na ‘n nuwe lewe van geliefde vryheid waarin die Sabbat die hoeksteen van gelowige vryheid is. So ‘n gebruik om te stop met werk is ‘n handeling van weerstand. Om die Sabbat te onderhou is om weerstand te bied teen die populêre kultuur wat wil kompeteer vir produktiwiteit.

Deur aan die weerstand deel te neem sal ons nie gedefinieer raak deur hoe besig ons is nie, of deur hoe baie ons bymekaarmaak nie, of deur die begeerte na meer nie, in beide ons persoonlike en ekonomiese verhoudings. Want lewe gaan nie oor kommoditeit nie. Lewe gaan nie oor dit wat jy het nie.

Daarom as jy moeg is, naby uitbranding, en oorweeg of jou werk nog die moeite werd is, vra jouself: wanneer laas het ek ‘n hele dag lank nie gewerk nie, wanneer laas het ek ‘n hele dag lank nie na my epos gekyk nie, wanneer laas het ek ‘n hele dag lank met my gesin spandeer, wanneer laas het ek ‘n hele dag lank met God gepraat oor die koers van my lewe.

Matteus 6:25-33

Aan die einde van ses dae het God alles gedoen wat nodig was vir die skepping. Aan die einde van ses dae het jy ook alles gedoen wat nodig was vir jou werk. Dit was goed. Dit was baie goed. Nou, gaan rus…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *