Handelinge 18: Saam met wie leef jy?

Paulus het Atene verlaat en na Korinte gegaan. Korinte was ‘n besige en belangrike handelstad met ‘n gemengde bevolking. Vandag sal ons Korinte in ons konteks as ‘n Durban, Kaapstad of selfs ‘n Port Elizabeth kan beskryf. Korinte was ‘n hawestad bekend vir sy sedelike verval.

 

Die tempel van Afrodite was in Korinte op ‘n koppie gewees. Afrodite was die godin van oorlog en liefde. By hierdie tempel was daar op ‘n stadium in die geskiedenis meer as ‘n duisend tempel prostitute. Dit het mans en vrouens ingesluit. Jy kon dus jou sakkie geld vat en na die godin van oorlog en liefde se tempel gaan en daar vir jou ‘n prostituut gaan uitkies.

 

Hierdie heidense godsdienstige gebruike het ‘n nadelige uitwerking op die moral van die stad gehad. Die stad wat nou hoofstad van die provinsie was, bo Rome. Die hoofstad se naam is in so ‘n mate verbind met immoraliteit dat daar ‘n gesegde ontstaan het “om te kontiseer” wat beteken het; om deel te neem aan onsedelike praktyke.

 

Afgesien van hierdie onsedelikhede was die stad Korinte ook bekend vir twee jaarlikse spele, die Ismiese spele asook die Olimpiese spele.

 

Korinte was nie sommer net nog ‘n klein dorpie met klein groepies mense nie, nee Korinte was die hoofstad van die provinsie. Korinte was belangriker geag as Rome wat die sentrum van wetenskap en kunste is. Korinte die hawestad, die handelstad was waar alles gebeur het. En Paulus, die klein mannetjie met die doring in sy vlees was oppad na Korinte.

 

Lees Handelinge 18:1-11.

 

Paulus kom in Korinte aan, alleen. Waarskynlik het hy per skip of boot in Korinte aangekom. Toe hy voet aan wal sit het hy dadelik sy mense gaan opsoek, mense wie hy iets mee in gemeen gehad het. Hy gaan na Akwila en Priscilla. ‘n Egpaar van Joodse afkoms wat waarskynlik voordat hulle vir Paulus ontmoet het al Christene geword het. Soos Paulus was hulle ook tentmakers. Hulle is net ‘n bietjie langer as Paulus al in Korinte waar hulle vanaf Rome kom omdat keiser Claudius hulle daar verban het vanwee hulle geloofsoortuigings.

 

Ons tema vir vanaand is: Saam met wie leef jy?

 

Saam met wie jy leef kan jou lewe baie beinvloed. Jy kan ook die saam met wie jy leef se lewens beinvloed.

 

Paulus kom in Korinte aan en hy gaan bly by Akwilla en Priscilla. Ons weet nou al dat hierdie egpaar gevlug het vanuit Rome, dat hulle Christene van Joodse afkom is, en ook dat hulle Italianers is.

 

Hulle is tentmakers nes Paulus en bied vir hom nie net verblyf aan nie, maar gee hom ook geleentheid om deel te neem aan hulle besigheid. Akwilla en Priscilla kon baie maklik vir Paulus die koue skouer gegee het, want onthou hulle is in die besige handelstad Korinte. Daar word tente vir die weermag gemaak. En hier help hulle vir Paulus, hulle gee hom nie net ‘n dak oor sy kop nie, maar gee ook in effek ‘n deel van hulle winste aan hom. Paulus is ook ‘n tentmaker en so word Akwilla en Priscilla se winste minder sodat Paulus kan aanbly in Korinte.

 

Terwyl Paulus deur die week tente gemaak het vir ‘n inkomste het hy op Sondae in die tempel die Jode van Jesus Christus gaan vertel. Soveel so dat dit later veroorsaak het dat hy uit die tempel gegooi word. Nie lank nie, en hy vind die huis van Titius Justus. Justus se huis was reg langs nie sinagoge. Ons lees ook dat Justus en sy hele gesin tot die geloof in die Here gekom het. Ons lees ook dat baie ander mense in Korinte wat die boodskap gehoor het, gelowig geword het en gedoop is.

 

Hierdie het alles gebeur terwyl Paulus by Akwilla en Priscilla gebly het. Tydens daardie tyd was daar ook gedurig mense wat vir Paulus aangeval het, waarskynlik fisies, en verseker emosioneel en geestelik. Ons lees in vers 9 dat Paulus bang was en dat hy dit oorweeg het om moed op te gooi en eerder stil te bly oor al die onreg wat hy in Korinte gesien het.

 

Wanneer laas was jy bang oor dit wat jy vir ander vertel? Wanneer laas was jy bang daar gebeur iets drasties met jou omdat jy met iemand praat oor jou geloof?

 

Hier is Paulus, ‘n man van wie ons vandag baie kan se bekend aan ons as ‘n bang man. Iemand wat, al was dit net vir ‘n tydjie, sy lewe gevrees het oor die woorde wat oor sy lippe gaan.

 

Die Here het na Paulus gekom in sy droom en vir hom gese: “Moenie bang wees nie, hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.”

 

In ‘n stad wat bekend gestaan het vir sy onsedelikheid, in ‘n stad wat se naam sinoniem was aan ‘n gesegde vir ‘n onsedelike lewe vind Paulus ‘n egpaar wat mekaar koester, wat mekaar liefhet. Hulle nooi vir Paulus in en help hom om die evangelie te verkondig.

 

Hierdie egpaar, Akwilla en Priscilla het nie ‘n ander werk begin doen die oomblik toe Paulus daar aankom nie, hulle het nie minder by sekere van hul vriende begin kuier toe Paulus daar aankom nie, hulle het bloot aangegaan met hul lewens en geluister na wat Paulus hulle vertel het en dit al meer en meer in hul lewens begin toepas.

 

In hierdie immorele, onsedelike stad vind Paulus ‘n man en ‘n vrou wat by mekaar bly deur dik en dun. ‘n Man en ‘n vrou wat gasvry is teenoor die een wat kortkom. ‘n Man en ‘n vrou wat waarskynlik net so swaar soos Paulus gekry het vanwee die gas wie hulle huisves. Hulle besigheid het waarskynlik ook daaronder gely.

 

Hierdie egpaar se gasvryheid was besonders. Hulle gasvryheid was die werking van die Heilige Gees. Deur hulle gasvryheid kon Paulus hom toespits op die verkondiging van die evangelie.

 

Hulle gasvryheid raak as’t ware die deur van die evangelie. Hulle gasvryheid raak as’t ware die deur na verlossing. Ek glo met my hele hart dat die Christelike huis vandag steeds een van die kragtigste instrumente van die Heilige Gees is vir die verspreiding van die evangelie.

 

Ons lees nie dat Akwilla en Priscilla kinders gehad het nie, maar verbeel jou hulle het. Hoe dink jy sou hulle optree voor hulle kinders? Wat dink jy sou hulle hulle kinders leer? Sou dit vir Akwilla en Priscilla maar reg wees as hulle kinders laat aand sit en tv kyk? Sou dit vir Priscilla reg gewees het as Akwilla eers wattertyd die nag van die werk af terugkom? Sou dit vir Akwilla reg gewees het as Priscilla heeldag net wil le en slaap?

 

Die evangelie in Korinte vind sy oorsprong in die huis van Akwilla en Priscilla. ‘n Eenheid wat sterk gestaan het vir dit waarin hulle glo en ook die mense rondom hulle so beinvloed het. Hulle was bereid om hul finansiele status op die spel te plaas vir hulle geloof. Hulle was selfs bereid om hul lewens op die spel te plaas vir hulle geloof.

 

Is jy bereid om vanaand na die Heilige stem van die Heilige Gees te luister wat jou vermaan om jou huis in orde te kry? Is jy bereid om drastiese veranderinge aan te bring omdat jy sien hoe jou kinders teenoor jou optree? Is jy bereid om jou vrou omverskoning te vra? Is jy bereid om jou man te vergewe? As jy bereid is om na die stem van die Heilige Gees vanaand te luister dan belowe die Here jou dat Hy jou dat jy nie hoef bang te wees nie, dat jy moet aanhou met wat die Heilige Gees vir jou se, want Hy is by jou. Niemand sal jou of jou gesin aanval of kwaad aandoen nie, want jy en jou huisgesin behoort aan die Here.

 

Saam met wie leef jy?

 

Deur die Heilige Gees behoort jy saam met jou man, saam met jou vrou, saam met jou kinders, te leef. Saam met die Heilige Gees te leef sodat jou huis die deur na die evangelie, die deur na verlossing, en die deur na genesing, vir almal sal wees.

1 Johannes 5: Die geheim van die lewe…

Die geheim van lewe is ‘n tergende vraag wat mense deur die eeue heen bly boei het. Hoe kan ek lank, gesond en gelukkig bly leef? Die wat ouer word, wonder soms of daar dalk iewers ‘n ewige jeug te vinde is. Miskien is daar êrens selfs ‘n manier om aan die dood self te ontkom?

 

In ons dag is daar geen tekort aan antwoorde, rate en resepte vir ‘n gesonde lewe nie. Kry genoeg oefening. Drink baie water. Eet net vrugte. Koop net organiese kos. Probeer hierdie soort kruie. Drink hierdie soort tee. Beoefen joga vir ‘n soepel liggaam. Verminder stres deur meditasie. Dalk sal hierdie salf die plooie uitstel of wegsteek. En dan is daar botteltjies en botteltjies medisyne om reg te dokter waar ‘n kwaal ook al te vinde is.

 

Niemand sal seker stry daaroor dat water die fontein van lewe is nie. Water, so sou ‘n mens kon sê, is die geheim van die lewe. Sonder water is geen lewe moontlik nie. Ons eie liggame bestaan vir meer as 75% uit water. Sonder water verdor en verdroog alles. Psalm 1 wys ons daarop dat ‘n boom wat by waterstrome geplant is, se blare nie verdroog nie. Dit dra vrugte op die regte tyd.

 

Water het ook ‘n sleutelfunksie rondom reiniging. Ons was ons self, ons klere, ons skottelgoed, ons duur motors met water. Ons drink liters water om ons eie liggame skoon te hou. Soms probeer ons ons eie skuld afwas. Ander kere was ons ons hande in onskuld. Ons doop ons kinders met water om daarmee te sê dat hulle sonde deur die bloed van Christus afgewas word.

 

Die funksie van water om dinge skoon te maak, is natuurlik net moontlik as die water self skoon is. Vuil skottelgoedwater kan nie nog vuiler skottelgoed skoon kry nie. ‘n Mens kan nie besoedelde water drink en gesond bly nie. Waar kan ‘n mens water kry wat skoon genoeg is? Deur doodgewoon die kraan oop te draai? Hopelik ja. Maar dit is lank nie meer altyd die geval nie. Water word op talle maniere besoedel.

 

 

 

Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde: Suid-Afrika is ‘n land met ‘n relatiewe skaarste aan water. Die gemiddelde reënval in Suid-Afrika is 470 mm/jaar teenoor die wêreldwye gemiddelde van 860 mm/jaar. Projeksies dui daarop dat Suider-Afrika teen 2025 ‘n absolute skaarste aan water sal ondervind. Samewerking en sekuriteit tussen lande soos Suid-Afrika, Lesotho, en Mosambiek berus in baie gevalle op ooreenkomste oor die gebruik van water.

 

Die totale gebruik van water in Suid-Afrika kan verdeel word in die volgende kategorieë: Besproeiing (60.6%); munisipale en huishoudelike gebruik (17.8%); industrieë (11.3%); mynbou (3.3%); kragopwekking (4.3%); natuurbewaring (1.0%); ander (1.7%).

 

Die huishoudelike gebruik van water in Suid-Afrika kan verdeel word in die volgende kategorieë: Tuine (35%); spoeltoilette (29%); badwater (19%); waswater vir skottelgoed en klere (14%); water vir drink en koskook (3%).

 

Water kan dus bespaar word deur 1) plante wat relatief bestand is teen droogte; 2) dubbelslag spoeltoilette; 3) gereguleerde stortkoppe. Baie Suid-Afrikaners kry skoon water om te drink, om mee te kook en om mee te was, heel gerieflik deur net die kraan oop te draai. Maar miljoene ander moet vroeg opstaan, kilometers ver loop na die naaste waterbron en met swaar houers terugkeer om water in die hande te kry.

 

Water word op een van twee manier besoedel: chemikalieë en klein lewende organismes wat siektes soos malaria, cholera en bilharzia kan veroorsaak. Chemikalieë lei tot waterbesoedeling as gevolg van insekdoders, swaar metale in industrieë en mynbou, petroleum produkte (oliebesoedeling en lekkasies van opgaartenks), chloor en wasmiddels (veral via papierverwerking en tekstielfabrieke); kunsmisstowwe en riool lei tot ‘n té hoë konsentrasie van sekere chemikalieë in die afvloeiwater.

 

 

Tot 12 miljoen kinders sterf elke jaar in die wêreld as gevolg van besoedelde water. Ook in Suid-Afrika is daar 12 miljoen mense wat nie toegang het tot water wat skoon en veilig is om te drink nie. ‘n Mens kan nie meer aanneem dat rivierwater skoon genoeg is om te drink nie.

 

Sien u die probleem? Vuil water is ‘n simptoom van ‘n siek samelewing. En met vuil water kan ‘n mens nie ‘n siek samelewing reinig nie. So beland ons in ‘n bose kringloop. Daarvoor het ons ‘n meer radikale oplossing nodig.

 

Miskien kan ‘n mens vir ‘n oomblik bloed oorweeg. Immers, soos die spreekwoord sê, bloed is dikker as water. Die bloed wat in ons are vloei, dra suurstof en lewe tot in die fynste aartjies van ons liggaam. Bloed red lewens, adverteer die bloedoortappingsdiens gereeld.

 

Maar nou weet ons ook dat ons bloed grootliks ook maar uit water bestaan. En die water is besoedel. My bloed dra dan nie net suurstof nie, maar ook gif tot in elke aartjie van my liggaam. Waterbesoedeling kan alleen maar tot bloedvergiftiging lei.

 

Waar in ‘n besoedelde wêreld kan ‘n mens dan die fontein van lewende water vind? Die teksgedeelte in 1 Johannes 5 is ook op soek na ‘n antwoord op hierdie vraag. Dit oorweeg al die beskikbare getuienis. Eerstens roep dit water as ‘n getuie. Die water is hier die reinigingswater van die doop. Tweedens roep dit bloed as ‘n getuie. Vreemd genoeg is dit die laaste sterwensbloed van Jesus wat op die grond drup wat hier as getuie van die bron van lewe dien. Derdens roep dit die Gees as getuie. Die Gees staan hier vir waarheid, vir diepere insig, vir die onderskeidingsvermoë wat die regter nodig het.

 

Die gevolgtrekking waartoe die teksgedeelte kom, is dat al drie hierdie getuienisse met mekaar ooreenstem op één punt. Al drie wys vir ons heen na Christus. Jesus is met water uit die Jordaan gedoop. Jesus se bloed het op Golgota gevloei. Jesus se hele bediening op aarde vind deur die krag van die Gees plaas.

Daarom, volgens die teksgedeelte, is lewe alleen deur die Seun te vinde. Alleen die wat in die Seun glo, het die lewe. Trouens, God gee aan hulle nie net lewe nie, maar inderdaad die ewige lewe.

 

Maar kan ‘n mens dit regtig glo? Is dít die geheim van lewe? En watter verskil kan dit nou eintlik maak aan my lewe, aan ‘n gesonde lewe hier en nou op aarde, aan ‘n siek wêreld vol besoedelde water? Watter invloed kan die bloed van Jesus van Nasaret op die gehalte van my eie lewensbloed hê?

 

Die teksgedeelte in 1 Johannes 5 wil ons juis help om dit te glo. As water, bloed en Gees nie genoeg getuienis is nie, dra ons ook die getuienis in ons eie hart (vers 10). Meer nog, dit is die getuienis van God self (vers 9). Dit is dan ook die doel vir die skryf van die brief self: dat ons seker kan wéét dat ons alreeds die geheim van die lewe, die ewige lewe gevind het (vers 13). En die geheim is bekend: dit is Jesus, die Christus.

 

Vir hulle wat dit nie glo nie, maak dit geen sin nie. Daarom het hulle ook nie die lewe nie (vers 12). Hulle mis dit heeltemal. Hulle is, sê Psalm 1, soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word. Vir hulle verwelk die lewe vinnig. Hulle is soos gras wat in die môre nog groen is, maar as dit afgesny word, is dit in die aand reeds verlep en verdroog (Ps 90:6).

 

Vir die wat die geheim van die lewe egter van binne uit ken, spreek dit vanself. Vir hulle maak dit die wêreld se verskil. En daarom kan hulle ook aan die wêreld ‘n verskil maak. Hulle is, so sê Psalm 1, soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Hulle blare verdroog nie. Hulle dra op die regte tyd gesonde vrugte vir die wêreld om van te eet. Trouens, volgens die boek Openbaring dra die boom van die lewe twaalf keer per jaar vrugte. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies (22:2). Dit bring genesing vir ‘n siek en besoedelde, vir ‘n dor en verdroogde wêreld.

 

 

Soos ‘n boom wat by waterstrome geanker is, só bied die regverdige ‘n teken vir die hele wêreld van waar die fontein van die lewe is. Bied jy ‘n teken sodat die wêreld kan glo? Dan kan hulle kom drink uit die fontein, met die water van die lewe – verniet (Op 21:6).

 

Amen.

 

Lukas 24: Hemelvaart

Vanoggend was ek by Framesby besig om die graad 8 kinders te leer oor hoe om hulle geloof met ander te kan deel, oor hoe om die goeie nuus van Jesus wat vir ons aan die kruis gesterf het met ander te deel. Ons het vir mekaar stories vertel, en so deur stories te vertel het ons agtergekom dat deur stories ons eie te maak ons dit met geloofwaardigheid kan oordra en so ander kan oortuig deur eintlik net ons eie verhale te vertel.

 

Nou hoekom vertel ek dit vir julle? Vir twee redes.

 

Die eerste dat toe ek uit die saal stap en met ‘n juffrou gesels vertel sy my dat Mnr Stroebel hulle aangemoedig het om vanoggend met die kinders te gesels oor Hemelvaart. Dit het sy toe gedoen en is met grootoog kinders gegroet. Sy vertel dat hulle nie geweet het wat Hemelvaart is nie. Sy vra hulle toe of hulle weet wat Pinkster is, weer grootoog kinders, ook weet hulle nie wat Pinkster is nie.

 

Die tweede rede hoekom ek vanoggend se gebeure by Framesby met julle deel is dat julle moet besef dat julle as ouers en grootouers hierdie Bybelverhale met julle kinders moet deel. Julle is bekommerd oor ‘n Christengemeenskap wat krimp, julle is bekommerd oor ‘n land wat nie meer waarde heg aan die Bybelse etiek nie, daarom is dit soveel te meer julle as ouers en grootouers se primere verantwoordelikheid om julle kinders van die Bybelse verhale te vertel sodat hierdie land kan opstaan, sodat die een na die ander gemeenskap kan opstaan en sterk staan in geloof in Jesus Christus.

 

Kom ons lees saam oor die gebeure rondom die hemelvaart van Jesus Christus. En luister mooi, want jy moet dit gaan oorvertel aan die jongmense naby aan jou.

 

Lees Lukas 24:36-53.

 

Jerusalem en die tempel word in die Lukas evangelie as twee negatiewe ruimtes gesien, waar Jesus verwerp word. Die dissipels is die mense wat weer hierdie ruimtes besit en as’t ware herwin vir die verspreiding van die evangelie. Dink maar hoe Christus uit sekere gebiede van die samelewing gedryf is. Hoe dit deesdae kontra kultuur is om op ‘n Sondag kerk toe te gaan, waar Sondae vir baie mense eintlik die dag vir gras sny of laat slaap is.

 

In die Lukas evangelie word die dissipels kenmerklik terug gestuur na die tempel om te wag vir die vervulling van die belofte van God. Hoekom moes hulle terug gaan na die tempel? Wat was daar? Of wat was juis nie daar nie? Kom julle nog kerk toe om te wag op die belofte van God? Om regtig met ‘n oop gemoed hier te kom sit en luister na die stem van God? Of het julle julle idees van hoe God behoort op te tree en enige iets daarbuite is nie van God nie? Kom julle dan regtig terug na die tempel om te wag op die belofte van God? Kom julle dan regtig terug na die tempel om ‘n getuie te wees met ‘n getuienis?

 

Ook moet daar onthou word waaroor daar getuig wil word? Wat het gebeur dat die dissipels terug gekom het na die tempel en daar gewag het? Waar was die dissipels in die eerste plek?

 

Jesus Christus, seun van God het in die eerste plek vir ons elkeen aan die kruis gesterf, en so ons verlos, ons gered, van die sonde se vashou. Hy het ook uit die dood opgestaan, Hy het die dood oorwin. Soveel so dat Hy fisies aan mense verskyn het en ‘n laaste paar woorde met mense gedeel het. Hy het aan die vroue by die graf verskyn, so ook het Hy saam met die Emmausgangers geeet. In die gedeelte wat ons nou gelees het het Hy aan die dissipels verskyn om ‘n laaste paar dinge met hulle te deel. Hy het hulle verstand geopen om die Skrif te verstaan.

 

Nou dat ons weet dat ons getuies moet wees, in die tempel, in die gemeente, by die werk, langs die rugbyveld, in die Spar, hoe gaan ons dit doen?

 

Jesus het aan sy dissipels verskyn en hulle verstand verlig om die Skrif te verstaan. Hy het seker gemaak dat sy dissipels weet waaroor alles gaan wat neergeskryf is. Hy het seker gemaak dat sy dissipels die nodige opleiding gehad het om die geskikte getuie te wees.

 

Nou is my vraag, het jy vanaand ‘n Bybel op jou skoot, het jy vanaand ‘n Bybel op jou selfoon? Indien nie, kom na my en ek sal jou ‘n Bybel gee. Indien wel, lees jou Bybel, Jesus het self in vers 44 vir sy dissipels vertel dat die hele Bybel oor Hom geskryf is. Die wet van Moses, die profete, die Psalms, alles gaan oor Jesus, ons verlosser. Lees jou Bybel sodat jou verstand ook verlig mag word. En met die nodige kennis sal jy ‘n goeie getuie kan wees, waarookal jy gaan.

 

‘n Goeie betroubare getuie moet kan instaan vir die waarheid. ‘n Goeie getuie moet nie staatmaak op skinderstories of getuienis fabriseer nie.

 

Ek vat julle terug na die Oscar Pistorius hofsaak. Die forensiese inspekteur het presies geweet waarvan hy praat toe hy daardie krieketkolf teen die deur slaan. Hy het al die wetenskap daar agter gaan bestudeer en kon met sekerheid ‘n goeie getuie wees.

 

‘n Goeie getuie se integriteit moet bo verdenking wees, ook moet so ‘n getuienis nugter en by volle verstand gelewer word. ‘n Getuie moet hom of haar ook nie laat mislei of laat intimideer nie.

 

Met kennis, integriteit, en dapperheid moet ‘n getuie van Christus getuig!

 

Jesus glo ek is met ‘n geruste hart die hemel in nadat Hy sy dissipels geseen het. Hy het geweet hulle sal met kennis, integriteit en dapperheid optree.

 

Die dissipels is terug na hulle tempel toe en het daar hulle getuienis gaan lewer.

Nou is my vraag, gaan jy vanaand, wanneer jy nou in jou kar klim en by die huis aankom ‘n dapper getuie oor die hemelvaart gebeure tot jou kinders wees? Gaan jy more by die werk vir jou kollegas vertel van wat dit vat en hoe dit voel om ‘n dapper getuie van Jesus Christus te wees?

 

Die dissipels het die Jesus Christus aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe terug gegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.