Die geheim van lewe is ‘n tergende vraag wat mense deur die eeue heen bly boei het. Hoe kan ek lank, gesond en gelukkig bly leef? Die wat ouer word, wonder soms of daar dalk iewers ‘n ewige jeug te vinde is. Miskien is daar êrens selfs ‘n manier om aan die dood self te ontkom?
In ons dag is daar geen tekort aan antwoorde, rate en resepte vir ‘n gesonde lewe nie. Kry genoeg oefening. Drink baie water. Eet net vrugte. Koop net organiese kos. Probeer hierdie soort kruie. Drink hierdie soort tee. Beoefen joga vir ‘n soepel liggaam. Verminder stres deur meditasie. Dalk sal hierdie salf die plooie uitstel of wegsteek. En dan is daar botteltjies en botteltjies medisyne om reg te dokter waar ‘n kwaal ook al te vinde is.
Niemand sal seker stry daaroor dat water die fontein van lewe is nie. Water, so sou ‘n mens kon sê, is die geheim van die lewe. Sonder water is geen lewe moontlik nie. Ons eie liggame bestaan vir meer as 75% uit water. Sonder water verdor en verdroog alles. Psalm 1 wys ons daarop dat ‘n boom wat by waterstrome geplant is, se blare nie verdroog nie. Dit dra vrugte op die regte tyd.
Water het ook ‘n sleutelfunksie rondom reiniging. Ons was ons self, ons klere, ons skottelgoed, ons duur motors met water. Ons drink liters water om ons eie liggame skoon te hou. Soms probeer ons ons eie skuld afwas. Ander kere was ons ons hande in onskuld. Ons doop ons kinders met water om daarmee te sê dat hulle sonde deur die bloed van Christus afgewas word.
Die funksie van water om dinge skoon te maak, is natuurlik net moontlik as die water self skoon is. Vuil skottelgoedwater kan nie nog vuiler skottelgoed skoon kry nie. ‘n Mens kan nie besoedelde water drink en gesond bly nie. Waar kan ‘n mens water kry wat skoon genoeg is? Deur doodgewoon die kraan oop te draai? Hopelik ja. Maar dit is lank nie meer altyd die geval nie. Water word op talle maniere besoedel.
Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde: Suid-Afrika is ‘n land met ‘n relatiewe skaarste aan water. Die gemiddelde reënval in Suid-Afrika is 470 mm/jaar teenoor die wêreldwye gemiddelde van 860 mm/jaar. Projeksies dui daarop dat Suider-Afrika teen 2025 ‘n absolute skaarste aan water sal ondervind. Samewerking en sekuriteit tussen lande soos Suid-Afrika, Lesotho, en Mosambiek berus in baie gevalle op ooreenkomste oor die gebruik van water.
Die totale gebruik van water in Suid-Afrika kan verdeel word in die volgende kategorieë: Besproeiing (60.6%); munisipale en huishoudelike gebruik (17.8%); industrieë (11.3%); mynbou (3.3%); kragopwekking (4.3%); natuurbewaring (1.0%); ander (1.7%).
Die huishoudelike gebruik van water in Suid-Afrika kan verdeel word in die volgende kategorieë: Tuine (35%); spoeltoilette (29%); badwater (19%); waswater vir skottelgoed en klere (14%); water vir drink en koskook (3%).
Water kan dus bespaar word deur 1) plante wat relatief bestand is teen droogte; 2) dubbelslag spoeltoilette; 3) gereguleerde stortkoppe. Baie Suid-Afrikaners kry skoon water om te drink, om mee te kook en om mee te was, heel gerieflik deur net die kraan oop te draai. Maar miljoene ander moet vroeg opstaan, kilometers ver loop na die naaste waterbron en met swaar houers terugkeer om water in die hande te kry.
Water word op een van twee manier besoedel: chemikalieë en klein lewende organismes wat siektes soos malaria, cholera en bilharzia kan veroorsaak. Chemikalieë lei tot waterbesoedeling as gevolg van insekdoders, swaar metale in industrieë en mynbou, petroleum produkte (oliebesoedeling en lekkasies van opgaartenks), chloor en wasmiddels (veral via papierverwerking en tekstielfabrieke); kunsmisstowwe en riool lei tot ‘n té hoë konsentrasie van sekere chemikalieë in die afvloeiwater.
Tot 12 miljoen kinders sterf elke jaar in die wêreld as gevolg van besoedelde water. Ook in Suid-Afrika is daar 12 miljoen mense wat nie toegang het tot water wat skoon en veilig is om te drink nie. ‘n Mens kan nie meer aanneem dat rivierwater skoon genoeg is om te drink nie.
Sien u die probleem? Vuil water is ‘n simptoom van ‘n siek samelewing. En met vuil water kan ‘n mens nie ‘n siek samelewing reinig nie. So beland ons in ‘n bose kringloop. Daarvoor het ons ‘n meer radikale oplossing nodig.
Miskien kan ‘n mens vir ‘n oomblik bloed oorweeg. Immers, soos die spreekwoord sê, bloed is dikker as water. Die bloed wat in ons are vloei, dra suurstof en lewe tot in die fynste aartjies van ons liggaam. Bloed red lewens, adverteer die bloedoortappingsdiens gereeld.
Maar nou weet ons ook dat ons bloed grootliks ook maar uit water bestaan. En die water is besoedel. My bloed dra dan nie net suurstof nie, maar ook gif tot in elke aartjie van my liggaam. Waterbesoedeling kan alleen maar tot bloedvergiftiging lei.
Waar in ‘n besoedelde wêreld kan ‘n mens dan die fontein van lewende water vind? Die teksgedeelte in 1 Johannes 5 is ook op soek na ‘n antwoord op hierdie vraag. Dit oorweeg al die beskikbare getuienis. Eerstens roep dit water as ‘n getuie. Die water is hier die reinigingswater van die doop. Tweedens roep dit bloed as ‘n getuie. Vreemd genoeg is dit die laaste sterwensbloed van Jesus wat op die grond drup wat hier as getuie van die bron van lewe dien. Derdens roep dit die Gees as getuie. Die Gees staan hier vir waarheid, vir diepere insig, vir die onderskeidingsvermoë wat die regter nodig het.
Die gevolgtrekking waartoe die teksgedeelte kom, is dat al drie hierdie getuienisse met mekaar ooreenstem op één punt. Al drie wys vir ons heen na Christus. Jesus is met water uit die Jordaan gedoop. Jesus se bloed het op Golgota gevloei. Jesus se hele bediening op aarde vind deur die krag van die Gees plaas.
Daarom, volgens die teksgedeelte, is lewe alleen deur die Seun te vinde. Alleen die wat in die Seun glo, het die lewe. Trouens, God gee aan hulle nie net lewe nie, maar inderdaad die ewige lewe.
Maar kan ‘n mens dit regtig glo? Is dít die geheim van lewe? En watter verskil kan dit nou eintlik maak aan my lewe, aan ‘n gesonde lewe hier en nou op aarde, aan ‘n siek wêreld vol besoedelde water? Watter invloed kan die bloed van Jesus van Nasaret op die gehalte van my eie lewensbloed hê?
Die teksgedeelte in 1 Johannes 5 wil ons juis help om dit te glo. As water, bloed en Gees nie genoeg getuienis is nie, dra ons ook die getuienis in ons eie hart (vers 10). Meer nog, dit is die getuienis van God self (vers 9). Dit is dan ook die doel vir die skryf van die brief self: dat ons seker kan wéét dat ons alreeds die geheim van die lewe, die ewige lewe gevind het (vers 13). En die geheim is bekend: dit is Jesus, die Christus.
Vir hulle wat dit nie glo nie, maak dit geen sin nie. Daarom het hulle ook nie die lewe nie (vers 12). Hulle mis dit heeltemal. Hulle is, sê Psalm 1, soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word. Vir hulle verwelk die lewe vinnig. Hulle is soos gras wat in die môre nog groen is, maar as dit afgesny word, is dit in die aand reeds verlep en verdroog (Ps 90:6).
Vir die wat die geheim van die lewe egter van binne uit ken, spreek dit vanself. Vir hulle maak dit die wêreld se verskil. En daarom kan hulle ook aan die wêreld ‘n verskil maak. Hulle is, so sê Psalm 1, soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Hulle blare verdroog nie. Hulle dra op die regte tyd gesonde vrugte vir die wêreld om van te eet. Trouens, volgens die boek Openbaring dra die boom van die lewe twaalf keer per jaar vrugte. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies (22:2). Dit bring genesing vir ‘n siek en besoedelde, vir ‘n dor en verdroogde wêreld.
Soos ‘n boom wat by waterstrome geanker is, só bied die regverdige ‘n teken vir die hele wêreld van waar die fontein van die lewe is. Bied jy ‘n teken sodat die wêreld kan glo? Dan kan hulle kom drink uit die fontein, met die water van die lewe – verniet (Op 21:6).
Amen.