Lukas 24: Hemelvaart

Vanoggend was ek by Framesby besig om die graad 8 kinders te leer oor hoe om hulle geloof met ander te kan deel, oor hoe om die goeie nuus van Jesus wat vir ons aan die kruis gesterf het met ander te deel. Ons het vir mekaar stories vertel, en so deur stories te vertel het ons agtergekom dat deur stories ons eie te maak ons dit met geloofwaardigheid kan oordra en so ander kan oortuig deur eintlik net ons eie verhale te vertel.

 

Nou hoekom vertel ek dit vir julle? Vir twee redes.

 

Die eerste dat toe ek uit die saal stap en met ‘n juffrou gesels vertel sy my dat Mnr Stroebel hulle aangemoedig het om vanoggend met die kinders te gesels oor Hemelvaart. Dit het sy toe gedoen en is met grootoog kinders gegroet. Sy vertel dat hulle nie geweet het wat Hemelvaart is nie. Sy vra hulle toe of hulle weet wat Pinkster is, weer grootoog kinders, ook weet hulle nie wat Pinkster is nie.

 

Die tweede rede hoekom ek vanoggend se gebeure by Framesby met julle deel is dat julle moet besef dat julle as ouers en grootouers hierdie Bybelverhale met julle kinders moet deel. Julle is bekommerd oor ‘n Christengemeenskap wat krimp, julle is bekommerd oor ‘n land wat nie meer waarde heg aan die Bybelse etiek nie, daarom is dit soveel te meer julle as ouers en grootouers se primere verantwoordelikheid om julle kinders van die Bybelse verhale te vertel sodat hierdie land kan opstaan, sodat die een na die ander gemeenskap kan opstaan en sterk staan in geloof in Jesus Christus.

 

Kom ons lees saam oor die gebeure rondom die hemelvaart van Jesus Christus. En luister mooi, want jy moet dit gaan oorvertel aan die jongmense naby aan jou.

 

Lees Lukas 24:36-53.

 

Jerusalem en die tempel word in die Lukas evangelie as twee negatiewe ruimtes gesien, waar Jesus verwerp word. Die dissipels is die mense wat weer hierdie ruimtes besit en as’t ware herwin vir die verspreiding van die evangelie. Dink maar hoe Christus uit sekere gebiede van die samelewing gedryf is. Hoe dit deesdae kontra kultuur is om op ‘n Sondag kerk toe te gaan, waar Sondae vir baie mense eintlik die dag vir gras sny of laat slaap is.

 

In die Lukas evangelie word die dissipels kenmerklik terug gestuur na die tempel om te wag vir die vervulling van die belofte van God. Hoekom moes hulle terug gaan na die tempel? Wat was daar? Of wat was juis nie daar nie? Kom julle nog kerk toe om te wag op die belofte van God? Om regtig met ‘n oop gemoed hier te kom sit en luister na die stem van God? Of het julle julle idees van hoe God behoort op te tree en enige iets daarbuite is nie van God nie? Kom julle dan regtig terug na die tempel om te wag op die belofte van God? Kom julle dan regtig terug na die tempel om ‘n getuie te wees met ‘n getuienis?

 

Ook moet daar onthou word waaroor daar getuig wil word? Wat het gebeur dat die dissipels terug gekom het na die tempel en daar gewag het? Waar was die dissipels in die eerste plek?

 

Jesus Christus, seun van God het in die eerste plek vir ons elkeen aan die kruis gesterf, en so ons verlos, ons gered, van die sonde se vashou. Hy het ook uit die dood opgestaan, Hy het die dood oorwin. Soveel so dat Hy fisies aan mense verskyn het en ‘n laaste paar woorde met mense gedeel het. Hy het aan die vroue by die graf verskyn, so ook het Hy saam met die Emmausgangers geeet. In die gedeelte wat ons nou gelees het het Hy aan die dissipels verskyn om ‘n laaste paar dinge met hulle te deel. Hy het hulle verstand geopen om die Skrif te verstaan.

 

Nou dat ons weet dat ons getuies moet wees, in die tempel, in die gemeente, by die werk, langs die rugbyveld, in die Spar, hoe gaan ons dit doen?

 

Jesus het aan sy dissipels verskyn en hulle verstand verlig om die Skrif te verstaan. Hy het seker gemaak dat sy dissipels weet waaroor alles gaan wat neergeskryf is. Hy het seker gemaak dat sy dissipels die nodige opleiding gehad het om die geskikte getuie te wees.

 

Nou is my vraag, het jy vanaand ‘n Bybel op jou skoot, het jy vanaand ‘n Bybel op jou selfoon? Indien nie, kom na my en ek sal jou ‘n Bybel gee. Indien wel, lees jou Bybel, Jesus het self in vers 44 vir sy dissipels vertel dat die hele Bybel oor Hom geskryf is. Die wet van Moses, die profete, die Psalms, alles gaan oor Jesus, ons verlosser. Lees jou Bybel sodat jou verstand ook verlig mag word. En met die nodige kennis sal jy ‘n goeie getuie kan wees, waarookal jy gaan.

 

‘n Goeie betroubare getuie moet kan instaan vir die waarheid. ‘n Goeie getuie moet nie staatmaak op skinderstories of getuienis fabriseer nie.

 

Ek vat julle terug na die Oscar Pistorius hofsaak. Die forensiese inspekteur het presies geweet waarvan hy praat toe hy daardie krieketkolf teen die deur slaan. Hy het al die wetenskap daar agter gaan bestudeer en kon met sekerheid ‘n goeie getuie wees.

 

‘n Goeie getuie se integriteit moet bo verdenking wees, ook moet so ‘n getuienis nugter en by volle verstand gelewer word. ‘n Getuie moet hom of haar ook nie laat mislei of laat intimideer nie.

 

Met kennis, integriteit, en dapperheid moet ‘n getuie van Christus getuig!

 

Jesus glo ek is met ‘n geruste hart die hemel in nadat Hy sy dissipels geseen het. Hy het geweet hulle sal met kennis, integriteit en dapperheid optree.

 

Die dissipels is terug na hulle tempel toe en het daar hulle getuienis gaan lewer.

Nou is my vraag, gaan jy vanaand, wanneer jy nou in jou kar klim en by die huis aankom ‘n dapper getuie oor die hemelvaart gebeure tot jou kinders wees? Gaan jy more by die werk vir jou kollegas vertel van wat dit vat en hoe dit voel om ‘n dapper getuie van Jesus Christus te wees?

 

Die dissipels het die Jesus Christus aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe terug gegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *