Handelinge 18: Saam met wie leef jy?

Paulus het Atene verlaat en na Korinte gegaan. Korinte was ‘n besige en belangrike handelstad met ‘n gemengde bevolking. Vandag sal ons Korinte in ons konteks as ‘n Durban, Kaapstad of selfs ‘n Port Elizabeth kan beskryf. Korinte was ‘n hawestad bekend vir sy sedelike verval.

 

Die tempel van Afrodite was in Korinte op ‘n koppie gewees. Afrodite was die godin van oorlog en liefde. By hierdie tempel was daar op ‘n stadium in die geskiedenis meer as ‘n duisend tempel prostitute. Dit het mans en vrouens ingesluit. Jy kon dus jou sakkie geld vat en na die godin van oorlog en liefde se tempel gaan en daar vir jou ‘n prostituut gaan uitkies.

 

Hierdie heidense godsdienstige gebruike het ‘n nadelige uitwerking op die moral van die stad gehad. Die stad wat nou hoofstad van die provinsie was, bo Rome. Die hoofstad se naam is in so ‘n mate verbind met immoraliteit dat daar ‘n gesegde ontstaan het “om te kontiseer” wat beteken het; om deel te neem aan onsedelike praktyke.

 

Afgesien van hierdie onsedelikhede was die stad Korinte ook bekend vir twee jaarlikse spele, die Ismiese spele asook die Olimpiese spele.

 

Korinte was nie sommer net nog ‘n klein dorpie met klein groepies mense nie, nee Korinte was die hoofstad van die provinsie. Korinte was belangriker geag as Rome wat die sentrum van wetenskap en kunste is. Korinte die hawestad, die handelstad was waar alles gebeur het. En Paulus, die klein mannetjie met die doring in sy vlees was oppad na Korinte.

 

Lees Handelinge 18:1-11.

 

Paulus kom in Korinte aan, alleen. Waarskynlik het hy per skip of boot in Korinte aangekom. Toe hy voet aan wal sit het hy dadelik sy mense gaan opsoek, mense wie hy iets mee in gemeen gehad het. Hy gaan na Akwila en Priscilla. ‘n Egpaar van Joodse afkoms wat waarskynlik voordat hulle vir Paulus ontmoet het al Christene geword het. Soos Paulus was hulle ook tentmakers. Hulle is net ‘n bietjie langer as Paulus al in Korinte waar hulle vanaf Rome kom omdat keiser Claudius hulle daar verban het vanwee hulle geloofsoortuigings.

 

Ons tema vir vanaand is: Saam met wie leef jy?

 

Saam met wie jy leef kan jou lewe baie beinvloed. Jy kan ook die saam met wie jy leef se lewens beinvloed.

 

Paulus kom in Korinte aan en hy gaan bly by Akwilla en Priscilla. Ons weet nou al dat hierdie egpaar gevlug het vanuit Rome, dat hulle Christene van Joodse afkom is, en ook dat hulle Italianers is.

 

Hulle is tentmakers nes Paulus en bied vir hom nie net verblyf aan nie, maar gee hom ook geleentheid om deel te neem aan hulle besigheid. Akwilla en Priscilla kon baie maklik vir Paulus die koue skouer gegee het, want onthou hulle is in die besige handelstad Korinte. Daar word tente vir die weermag gemaak. En hier help hulle vir Paulus, hulle gee hom nie net ‘n dak oor sy kop nie, maar gee ook in effek ‘n deel van hulle winste aan hom. Paulus is ook ‘n tentmaker en so word Akwilla en Priscilla se winste minder sodat Paulus kan aanbly in Korinte.

 

Terwyl Paulus deur die week tente gemaak het vir ‘n inkomste het hy op Sondae in die tempel die Jode van Jesus Christus gaan vertel. Soveel so dat dit later veroorsaak het dat hy uit die tempel gegooi word. Nie lank nie, en hy vind die huis van Titius Justus. Justus se huis was reg langs nie sinagoge. Ons lees ook dat Justus en sy hele gesin tot die geloof in die Here gekom het. Ons lees ook dat baie ander mense in Korinte wat die boodskap gehoor het, gelowig geword het en gedoop is.

 

Hierdie het alles gebeur terwyl Paulus by Akwilla en Priscilla gebly het. Tydens daardie tyd was daar ook gedurig mense wat vir Paulus aangeval het, waarskynlik fisies, en verseker emosioneel en geestelik. Ons lees in vers 9 dat Paulus bang was en dat hy dit oorweeg het om moed op te gooi en eerder stil te bly oor al die onreg wat hy in Korinte gesien het.

 

Wanneer laas was jy bang oor dit wat jy vir ander vertel? Wanneer laas was jy bang daar gebeur iets drasties met jou omdat jy met iemand praat oor jou geloof?

 

Hier is Paulus, ‘n man van wie ons vandag baie kan se bekend aan ons as ‘n bang man. Iemand wat, al was dit net vir ‘n tydjie, sy lewe gevrees het oor die woorde wat oor sy lippe gaan.

 

Die Here het na Paulus gekom in sy droom en vir hom gese: “Moenie bang wees nie, hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.”

 

In ‘n stad wat bekend gestaan het vir sy onsedelikheid, in ‘n stad wat se naam sinoniem was aan ‘n gesegde vir ‘n onsedelike lewe vind Paulus ‘n egpaar wat mekaar koester, wat mekaar liefhet. Hulle nooi vir Paulus in en help hom om die evangelie te verkondig.

 

Hierdie egpaar, Akwilla en Priscilla het nie ‘n ander werk begin doen die oomblik toe Paulus daar aankom nie, hulle het nie minder by sekere van hul vriende begin kuier toe Paulus daar aankom nie, hulle het bloot aangegaan met hul lewens en geluister na wat Paulus hulle vertel het en dit al meer en meer in hul lewens begin toepas.

 

In hierdie immorele, onsedelike stad vind Paulus ‘n man en ‘n vrou wat by mekaar bly deur dik en dun. ‘n Man en ‘n vrou wat gasvry is teenoor die een wat kortkom. ‘n Man en ‘n vrou wat waarskynlik net so swaar soos Paulus gekry het vanwee die gas wie hulle huisves. Hulle besigheid het waarskynlik ook daaronder gely.

 

Hierdie egpaar se gasvryheid was besonders. Hulle gasvryheid was die werking van die Heilige Gees. Deur hulle gasvryheid kon Paulus hom toespits op die verkondiging van die evangelie.

 

Hulle gasvryheid raak as’t ware die deur van die evangelie. Hulle gasvryheid raak as’t ware die deur na verlossing. Ek glo met my hele hart dat die Christelike huis vandag steeds een van die kragtigste instrumente van die Heilige Gees is vir die verspreiding van die evangelie.

 

Ons lees nie dat Akwilla en Priscilla kinders gehad het nie, maar verbeel jou hulle het. Hoe dink jy sou hulle optree voor hulle kinders? Wat dink jy sou hulle hulle kinders leer? Sou dit vir Akwilla en Priscilla maar reg wees as hulle kinders laat aand sit en tv kyk? Sou dit vir Priscilla reg gewees het as Akwilla eers wattertyd die nag van die werk af terugkom? Sou dit vir Akwilla reg gewees het as Priscilla heeldag net wil le en slaap?

 

Die evangelie in Korinte vind sy oorsprong in die huis van Akwilla en Priscilla. ‘n Eenheid wat sterk gestaan het vir dit waarin hulle glo en ook die mense rondom hulle so beinvloed het. Hulle was bereid om hul finansiele status op die spel te plaas vir hulle geloof. Hulle was selfs bereid om hul lewens op die spel te plaas vir hulle geloof.

 

Is jy bereid om vanaand na die Heilige stem van die Heilige Gees te luister wat jou vermaan om jou huis in orde te kry? Is jy bereid om drastiese veranderinge aan te bring omdat jy sien hoe jou kinders teenoor jou optree? Is jy bereid om jou vrou omverskoning te vra? Is jy bereid om jou man te vergewe? As jy bereid is om na die stem van die Heilige Gees vanaand te luister dan belowe die Here jou dat Hy jou dat jy nie hoef bang te wees nie, dat jy moet aanhou met wat die Heilige Gees vir jou se, want Hy is by jou. Niemand sal jou of jou gesin aanval of kwaad aandoen nie, want jy en jou huisgesin behoort aan die Here.

 

Saam met wie leef jy?

 

Deur die Heilige Gees behoort jy saam met jou man, saam met jou vrou, saam met jou kinders, te leef. Saam met die Heilige Gees te leef sodat jou huis die deur na die evangelie, die deur na verlossing, en die deur na genesing, vir almal sal wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *