Markus 4: Het julle vergeet?

So hier lees ons van ‘n groep mense, kom ons noem hulle die dissipels, wat saam met hul leier, Jesus, laat die middag in ‘n bootjie klim om na die ander kant van die Galilea see se wal te gaan.

Jesus het in Markus 1 ‘n besetene se onrein gees uit hom gedryf, Hy het Petrus se skoonmoeder van koors genees, toe dit aand word het klomp mense by Jesus se huis opgedaag, daar het hy hulle genees van verskeie siektes en bose geeste uit die mense gedryf, Jesus gaan toe op reis dwarsdeur Galilea en preek en dryf bose geeste uit. Daar kom toe ‘n melaatse man na Hom toe en vra Hom om hom te genees as dit Sy wil is. Jesus raak die man aan, en sê vir hom: “Ek wil. Word gesond!” Die man se melaatsheid het onmiddelik verdwyn en hy het gesond geword.

Jesus sonder himself toe af om met sy Vader te praat. ‘n Paar dae later in Kapernaum word dit bekend dat Jesus by die huis is. Baie mense storm toe na Hom toe. ‘n Groep vriende bring hulle vriend na Jesus deur sy dak. Hy sien die verlamde se geloof en sê vir hom: “Vriend, jou sondes word vergewe!”

Bietjie later in Markus 3 is Jesus weer in die sinagoge en genees ‘n man se gebreklike hand.

Met al hierdie wonderwerke (onrein geeste, koors, verskeie siektes, melaatsheid, verlamdheid en gebreklikheid) as agtergrond, in die dissipels se gedagtes ingegrafeer klim hulle nou in die skuit saam met Jesus.

Dit is laat die middag en nou vra Jesus dat hulle na die oorkant van die see van Galilea moet gaan. Hierdie see is bekend vir vining veranderende weersomstandighede omdat dit onder die seevlak gelê het, dit was met ander woorde ‘n see onder die see. Ook was die berge rondom hierdie see onder die see so dat die winde wat daar gewaai het ‘n tiepe warrelwind op die see gemaak het. Nou vra Jesus vir sy dissipels dat hulle laat die middag op die see moet uitgaan in ‘n kleine bootjie.

Ek is seker die dissipels was so bietjie onseker oor die moontlikheid van die onsigbare gevaar wat enige oomblik kan gebeur. Die dissipels was vissermanne, hulle ken die see goed. Ons moet ook onthou dat Jesus hier praat met die 12 manne wat elke dag saam met Hom geleef het. Hulle het ‘n hegte band gehad, en om nou vir hulle leier te sê nee ons dink Jy weet nie so mooi nie, was nie deel van hulle gedagtes nie, al het hulle dit dalk gedink.

Soos hulle in die skuit klim, verlaat hulle die een na die ander die bekende, die vaste grond, en klim in hierdie dobberende bootjie op die groot see. Hulle gaan weg van die bekende na die onbekende. Wat interessant is hier, is dit wat juis mense van mekaar skei maak dat mense by mekaar kan uitkom. Die see, dit wat so gevaarlik kan wees raak dit wat mense by mekaar uitbring, dit wat dit moontlik maak dat Jesus by nuwe mense kan uitkom.

Dit is hier waar die paradoks van die evangelie weer na vore kom. Dit wat maak dat jy wegbly van mense kan jou juis by mense uitbring. Het jy baie geld? Meng jy nie met daardie tiepe mense nie? Jou geld kan juis maak dat daardie tiepe mense beter mense raak. Dink jy jy is nie ‘n sterk genoeg Christen om voor mense te praat nie? Omdat jy bewus is van jou swakheid maak jou juis perfek om voor mense te praat, want dit sal hulle wys dat hulle ook hulle stories kan vertel.

Dit wat jou skei van mense gee jy die mag om jou van mense te skei, Jesus gebruik juis dit wat skeiding prober veroorsaak om skeiding te oorkom.

Hulle het die mense daar agtergelaat en die waters ingevaar. Die fokus skuif noun a die dissipels saam met Jesus in die bootjie. Ons lees hier dat Jesus in die skuit sit. Kan dit wees dat Hy dalk moeg was? En ook wie van die dissipels was almal by Hom? Was al twaalf dissipels saam in die bootjie en Jesus daarby?

Skielik het daar toe ‘n storm losgebars. Ek het reeds genoem dat die see van Galilea ‘n gevaarlike area was juis omdat die weersomstandighede so vinnig kan verander. So verbeel jou jy gaan met jou kayak uit op die see vir ‘n rustige roei en net as jy diep genoeg uit is, agter die golwe, breek daar ‘n woeste storm uit. Dit reën, die wind waai, dit gaan woes.

Dikwels breek storms in ons eie lewens uit. Heeltemal onverwags en skielik vind jy jouself in ‘n noodsituasie, en jou bootjie begin vinnig vol water te loop. Jy dink dalk jy is veilig in jou beroep en voor jy jou oë uitvee kom jy agter jou maatskappy is besig met vergaderings waar jy nie genooi is nie.

Soos die Psalmdigter gesê het: “Uit my vertwyfeling roep ek na U, waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis. U het golf na golf oor my laat slaan.” – Psalm 42:7-8

Terwyl hierdie storm woed, en al sterker begin winde begin waai lê Jesus rustig en slaap. Die dissipels maak toe vir Jesus wakker. Die manier hoe hulle vir Hom wakker maak sê ook baie, hulle is sommer baie haastig en konfronteer vir Jesus: “Gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Die dissipels is in gewone Afrikaans, ongeskik. Hulle praat sonder enige respek of agting met Jesus. Hoe jy praat in jou tye van krises, in jou stormtye sê baie van wie jy is. Jou manier van praat of dinge doen kan maklik wys hoe gefrustreerd en desperaat jy eintlik is.

Jesus staan toe op, Hy bestraf die wind en see: “Hou op! Bedaar!”

Hierdie woorde wat Jesus gebruik laat ons dink aan die woorde wat mense gebruik wanneer hulle demone of geeste uit dryf. Hou op! Bedaar! Daarom is hierdie woorde hier so gepas, want die see was gesien as die huis van demoniese monsters.

En so vinnig soos die storm opgekom het, so vinnig is dit stil. Tjoepstil. Nie ‘n golfie in sig nie, nie ‘n haartjie wat waai nie. Niks. Stilte. ‘n Heilige stilte daal onmiddelik neer tussen hulle neer. En vanuit daardie heilige stilte praat Jesus.

“Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”

Ek glo hierdie woorde is vanoggend baie spesifiek vir ons hier in Kraggakamma bedoel! Waarom is ons bang? Het ons dan nie geloof nie? Geloof gaan oor iets meer as ‘n intellektuele vertroue in God, geloof behels ook ‘n dappere moed om God te volg in jou aksies. Geloof vra dat jy alles wat jy het en is in God se hande plaas. Geloof vra dat jy jou vrou, jou man, jou kinders in God se hande plaas. Geloof vra dat jy jou kerel, jou meisie, jou eksamens in God se hande plaas. Geloof vra dat jy jou hele lewe in totaliteit vir die Here gee, Hy sal jou beskerm.

Die blote feit dat Jesus hierdie vrae vra wys die belaglikheid van hierdie situasie uit. “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Terwyl Jesus tasbaar by hulle is het hulle bang geraak. Terwyl God Almagtig teenwoordig is raak hierdie dissipels bang.

Dit wys vir ons twee dinge. Een, dat selfs die dissipels bang geraak het, die mense wat die geestelike leiers was bang geraak het. Hoeveel te meer gaan ons nie ook bang raak nie. Twee, dit wys vir ons dat die dissipels bang geraak het omdat hulle al meer op die storm begin fokus het, en al minder op Jesus wat rustig gelê en slaap het. As Jesus rustig slaap, hoeveel te meer kan ons nie ook rustig slaap nie.

In ons krisistye moet ons gefokus bly op God. Wanneer ons agterkom dat daar geslote vergaderings plaasvind moet ons aanhou fokus op vir Wie ons regtig werk. Alles wat ons doen, behoort ons nie vir hierdie of daardie maatskappy te doen nie, maar alles tot die verheerliking van God se Naam. Ons moet aanhou fokus op God in tye waar ons bootjies vinnig vol water stroom. God sal ons beskerm, Hy belowe dit vir ons.

Weer sê die Psalmdigter:

“U is met mag omgewe, U laat deur u krag die berge vas bly staan; U laat die gedruis van die see, die geraas van die golwe, die rumoer van die nasies bedaar…” – Psalm 65:7-8.

“Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering ‘n heilige ontsag. Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom. Here, almagtige God, wie is soos U? U krag is groot, Here, u trou is oral!” – Psalm 89:8-9.

“Party het met skepe die see bevaar en hulle bestaan op die groot waters gemaak. Hulle het die werk van die Here ervaar, sy wonderdade op die diep waters. Op sy bevel het ‘n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag. Die skepe het hemelhoog gestyg en na die dieptes afgeduik. Die bemanning was radeloos van angs en het soos dronk mense gesteier en gewaggel; al hulle seemanskuns het niks gehelp nie. Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit die ellende gelei. Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar.” – Psalm 107:23-29.

Jesus het die storm stilgemaak. Hy vra die dissipels twee vrae wat baie naby aan hulle is. Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie? Wat netsowel kon gewees het; Waarom is julle bang? Het julle dan van my vergeet?

Die dissipels reageer deur verbaas na mekaar te draai en mekaar te vra wie hierdie man kan wees dat selfs die wind en see na Hom luister. Hier sien ons weer dat die mense wat die naaste aan Jesus geleef het so vinnig vergeet het wie Hy regtig is. Wat ‘n kort tydjie gelede nog mense genees het en bose geeste uitgedryf het. Vinnig vergeet die dissipels saam met wie hulle op reis is.

Het julle vergeet van wie Jesus regtig is? Het julle vergeet van wat Jesus als kan doen? Waarom is julle so bang? Het julle dan nie geloof nie?

Amen.

Handelinge 2: Die allerbeste, die Liefde

Het jy al ooit nagedink oor die boek Handelinge se titel: “Die Handelinge van die Apostels”? Hierdie mans en vroue was swak en onvolmaakte mense net soos ons is; party het selfs soos vis geruik. Tog, die Handelinge boek het al die gebeure van hoe Jesus se volgelinge, deur die krag van die Heilige Gees, die goeie nuus oor Hom versprei het.

 

Wanneer ons die handelinge van die apostels lees dink ons somtyds aan hulle as helde. Ons maak hulle selfs partykeer heiliges, en verhoog hulle ver bo enige iets wat ons ooit sal kan bereik, geniet, of beleef. Dit was egter nie hulle slimgeid, hulle intelektuele vermoens of adminstratiewe genie wat veroorsaak het dat hulle mense suksesvol gelei het na ‘n nuwe wereld van die goeie nuus nie. Dit was slegs deur die krag van die Heilige Gees wat deur hulle gewerk het. Vandag is daardie selfde Heilige Gees gereed om Christus se liefde, genade en krag in elke gelowige te openbaar.

 

Kom ons lees Handelinge 2:1-21

 

Op die dag van die Pinksterfees was almal op een plek bymekaar. Pinksterfees is 50dae na paasfees gevier. Vandaar die naam “pinkster” afgelei van die Grieks se “pentekoste”, die vyftigste dag. Jesus is met die paasfees gekruisig en het volgens Handelinge 40 dae later na die hemel opgevaar. Die Heilige Gees is 50 dae na die kruisiging en 10 dae na sy hemelvaart oor die gelowiges uitgestort.

 

Skielik terwyl die baie mense vir die fees bymekaar was, waarskynlik in die tempel, was daar ‘n geluid soos ‘n geweldige stormwind. In Lukas 21:25 word die selfde woord as stormwind gebruik vir die gebruis van die golwe van die see.

 

Ook op ‘n keer het iemand anders in die Ou Testament ‘n boodskap van God nodig gehad. Daar was ook ‘n baie sterk wind, ‘n aardbewing en toe ‘n vuur. Maar God se boodskap is in ‘n sagte fluistering aan hom oorgedra. Ja, God werk soms in dramatiese maniere, soos hier in Handelinge, en soms praat Hy in ‘n fluisterstem met jou. Wees geduldig, ondersoek die Bybel en luister altyd goed, sodat jy Hom kan hoor.

 

By die geluid van hierdie geweldige stormwind word ‘n sigbare verskynsel gevoeg. Hulle het iets soos vuur gesien.

 

‘n Derde teken is ook gegee om aan te dui dat die Gees werklik gekom het, en dit was dat hulle in ander tale begin praat het, soos die Gees dit aan hulle gegee het. Wat hier onthou moet word is dat die inhoud van wat hier gepraat word, belangriker is as die manier waarop dit gese word. Die toets van wat gese word is of dit werklik getuienis aangaande Christus lewer.

 

Wat ons kan aflei uit die verskillende tale wat hier gepraat word saam met die mense wat van verskillende herkomste hier vir dieselfde fees bymekaar was, is dat die Christendom nie beperk is tot enige ras of groep nie.

 

In vers 11 kan ons ook aflei wat die inhoud was wat gese is; Verras en verbaas het hulle gese “Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.” Die groot dade in hierdie geval, alles wat God in Christus gedoen het, met die uitstorting van die Heilige Gees as hoogtepunt.

 

Vers 12 sluit by vers 7 aan en praat weer van verbasing van die hoorders. Hulle verkeer in onsekerheid en weet nie wat hulle van die verskynsel moet maak nie. Vers 13 is dan die draaipunt in hierdie verhaal. Soos dit maar gewoonlik is, is daar ‘n groepie mense wat nie logies kan verstaan wat hulle sien nie, en probeer dit op ‘n manier verduidelik deur die spot te dryf en te se dat dat mense wat so in tale praat dronk is.

 

Die kollig skuif, weg van die skare spottende mense, na Petrus.

 

Petrus was nie ‘n baie standvastige leier nie, hy het selfs ontken dat hy vir Jesus ken. Christus het hom egter na sy verloening herstel, en hier sien ons ‘n nuwe Petrus.

 

Petrus en sy mede-apostels kom uit die gelowiges na vore en spreek die mense toe. Petrus staan wanneer hy praat, terwyl dit gebruiklik was om te sit wanneer iemand onderrig gegee het. Petrus staan en praat met erns en begin deur die verkeerde opvatting wat sommige in verband met die gebeure gehad het, reg te stel.

 

Verder vertel Petrus wat nou werklik hier voor hulle oe afgespeel het deur die profisie van Joel vir hulle te vertel. Die profisie van Joel kom voor in ‘n tyd na ‘n sprinkaanplaag, waar die profeet ‘n tyd van vrugbaarheid en voorspoed aankondig. Daarna sal die Here sy Gees uitstort oor die hele volk.

 

Dit is belangrik om hier te sien dat almal in aanmerking kom vir die gawe van die Gees, en almal, sonder onderskeid, mag deel wees van hierdie genadegawes. Met Pinkster het die Heilige Gees na die hele wereld gekom, na mans, vroue, seuns, dogters, Jode, nie-Jode. Vir die Jode van die eerste eeu was dit ‘n revolusionere gedagte en in die opsig is die boodskap van die evangelie inderdaad revolusioner. Dat die goeie nuus, nie net vir ‘n uitgesoekte groepie hoog geplaasdes is nie, maar vir almal, elke geslag, en elke ras.

 

In vers 21 word die gevolg van die uitstorting van die Heilige Gees aangedui, dat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, gered sal word.

 

Waarvan wil jy gered word?

 

Wil jy gered word van jou pa wat op jou ma skree en haar slaan? Wil jy gered word van jou man wat dronk by die huis aankom? Wil jy gered word van jou slegte gewoontes? Wil jy gered word van jou depressiewe emosies?

 

Jesus Christus red ons deur die krag van die Heilige Gees. Hy het sy apostels belowe dat sy Vader die Gees aan ons sal gee as Hy nie meer op die aarde saam met hulle is nie. Vandag herdenk ons presies die vervulling van daardie belofte. Die uitstorting van die Heilige Gees.

Met die uitstorting van die Heilige Gees ontvang ons elkeen gawes tot voordeel van almal. Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ‘n woord van wysheid te praat, aan die ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur die een Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander die gawe om te profiteer, en aan nog ‘n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ‘n ander om dit uit te le. Al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil. – 1 Kor 12:7-11.

 

Deur hierdie gawes wat ons ontvang van die Heilige Gees kan ons deur die Heilige Gees die lewens van baie mense red. Deur die Gees kan ons help dat daar nie meer onmin tussen man en vrou is nie, deur die Gees kan ons help dat ons kinders gelukkige lewens leef. Deur die gawes van die Heilige Gees kan ons bydra tot ‘n gesonde samelewing, ‘n samelewing van genesing, ‘n gelukkige samelewing.

 

Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het…Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitle? Le julle toe op die beste genadegawes. – 1 Kor 12:27-31.

 

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste genadegawe is: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

 

In die Naam van Jesus Christus, deur die krag van die Heilige Gees wat sy gawes aan jou skenk, gaan red jou huis, gaan red jou skool, gaan red jou werk, sodat elkeen die Naam van die Here sal aanroep en gered sal word!

 

Amen.

Handelinge 1: Om te wag op God se belofte

Die Handelinge is deur dieselfde Lukas geskryf as die Lukas van die evangelie. In die evangelie is die onderwerp alles wat Jesus begin doen en leer het tot by sy hemelvaart, terwyl dit hier in Handelinge gaan om die voortsetting van sy werk op aarde deur die Heilige Gees, wat Hy in en deur die apostels en ons, sy liggaam, werk.

 

Die evangelie het Jesus as voorbeeld vir ons voorgehou. Ons het verlede Donderdag Sy hemelvaart gevier in Lukas 24. Daar het ons gelees dat Hy sy dissipels vir nog 40dae onderrig het voordat Hy opgevaar het na die hemel. Nou is hulle geskool in sy Woord, en hulle wag op die krag van die Heilige Gees…

 

Lees Handelinge 1:1-8

 

Wat vir Johannes Calvyn uitgestaan het rondom die hemelvaart van Christus is dat Hy nie net weg gegaan het nie, maar moeite gedoen het om eers die wie Hy uitgekies het te versorg. Voordat Jesus in die hemel opgeneem is het Hy deur die Heilige Gees aan die wie Hy gekies het bevele gegee. Hy het hulle nie net verlaat en op hul eie laat aangaan sonder enige leiding nie. Deur die Gees het Hy hulle bemagtig.

 

Hy het ook iets vir sy dissipels geleer wat ek dink baie van ons vandag kan aanleer… Geduld. Hy het vir sy dissipels gevra, nee, beveel om in Jerusalem te wag. Gemaklik op ‘n keer toe hulle saam aan tafel was, het Hy hulle beveel “…bly wag op die gawe wat die Vader belowe het…”

 

In vers 6 vra die dissipels vir Jesus of dit nou die tyd is wat Hy weer die koninkryk van Israel gaan oprig. Die dissipels het hier waarskynlik nog nie die insig gehad dat Jesus ‘n baie groter visie gehad het nie, en dat Sy koninkryk baie groter as net Israel strek. Hoe baie kyk ons ongededuldig in ons eie koninkryke vas sonder om die groter koninkryk van God raak te sien?

 

Jesus antwoord hulle ook op hulle vraag deur hulle te vertel dat dit nie in hulle mag is om te weet wanneer die koninkryk in sy volle gestalte sal verskyn nie. Daardie mag behoort aan die Vader, Hy sal bepaal wanneer wat gebeur. Die Vader het die tye in sy mag, of onder sy beheer, geplaas. Die Vader alleen stel die toekomstige tye vas en die tyd waarop hulle in vervulling gaan. Die Here sal aan ons antwoorde gee presies op die regte tyd, Hy weet wanneer is die regte tyd.

 

Die apostels moes wag vir die regte tyd, wanneer daardie tyd sou wees mag hulle nie geweet het nie, hulle moes egter sorg dat hulle reg sou wees wanneer daardie tyd kom.

 

Hulle mag wel geweet het dat hulle krag van die Heilige Gees sou ontvang, en dat hulle dan getuies van Jesus Christus moes wees. Hulle mag geweet het wat hulle taak vir die toekoms was, maar wanneer hulle daardie taak moes uitvoer, daarvoor sou hulle moes wag.

 

Deur die krag van die Heilige Gees sou hulle dinge doen waarvoor hulle vroer nie kans gesien het nie. Hulle sou getuies van Jesus wees! As jy die krag van die Heilige Gees gehad het, wat sou jy doen waarvoor jy nie nou kans sien nie? Alles wat die apostels sou doen en se sou saamgevat kon word as “getuies van Jesus Christus”. Is alles wat jy doen ‘n getuienis van Jesus Christus?

 

Die inhoud van die apostels se getuienis sou nie hulle eie ervarings wees nie, maar alles wat Jesus gese en gedoen het en wat met Hom gebeur het. In vers 8 is die gedeelte “en julle sal my getuies wees” sowel ‘n profetiese uitspraak as ‘n bevel. Dit is ook Lukas se formulering van ‘n sendingopdrag. Die apostels sou dus die krag ontvang om Sy getuies te wees. In en deur die krag van die Heilige Gees sou hulle in diens van die Koninkryk staan.

 

Die oomblik wanneer die apostels die Heilige Gees ontvang, kom die einde van die aarde aan die orde. Die wereld is nou die arbeidsveld waarin die koninkryk van God opgerig word en nie langer alleen die Joodse volk soos vroeer nie.

 

In vers 8 word ook vertel oor hoe daar getuig moet word. Om naby te begin en al verder te gaan getuig soos wat die geleenthede oopgaan om te getuig.

 

So die eenvoudige vraag van die apostels in vers 6 word deur Jesus self in drie dele beantwoord.

 

Eerstens, vra hulle vir die Here of dit nou die tyd is. Wil julle weet wanneer die geskikte tyd is? Wag op die Here! Wag in die stilte op sy stem. Moet niks waag doen sonder dat julle ‘n duidelike opdrag van die Here deur sy Gees ontvang het nie. As julle iets vanuit julself probeer doen gaan dit nie werk nie. ‘n Plan sal slegs suksesvol wees wanneer die Here daardie plan aan jou openbaar en jou die opdrag gee om dit uit te voer, wanneer Hy se jy dit moet uitvoer.

 

Oor wanneer daar vir die Here gewerk moet word moet ons wag, wag en luister na Sy stem.

 

Tweedens, hulle vra Hom of dit nou die tyd is wanner Hy die koninkryk gaan vestig. Hulle wil weet wanneer Hy gaan werk. Hy antwoord hulle weer persoonlik deur dit aan hulle duidelik te maak dat Hy hulle sal bemagtig deur die Gees om self die koninkryk te vestig. Hulle gaan dit doen deur die werking van die Heilige Gees. Ons word beveel om die koninkryk te vestig deur die gawes wat die Here aan ons gee deur die Heilige Gees.

 

Dit is dus ons verantwoordelikheid laat die koninkryk kom. Ons sal krag ontvang wanneer die Gees oor ons kom. Ons sal Sy getuies wees. Ons sal ook nie ons eie verhale vertel nie, maar ons sal soos sy apostels getuig van wat Hy gese en gedoen het. Hy is die perfekte voorbeeld om oor te getuig.

 

Derdens, hulle vra wanneer Hy die koninkryk vir Israel gaan oprig. Hy antwoord hulle dat die koninkryk anders as wat hulle gedink het, vir baie meer as net Israel bedoel is. Dit is feitlik vir almal bedoel. Hy illustreer hierdie feit aan hulle, deur hulle te wys dat hulle moet begin getuig in Jerusalem, dan na Judea, dan Samaria en aanhou tot die uithoeke van die wereld. Met ander woorde die apostels moes getuig deur hulle gawes van die Gees aan die hele wereld van die getuienis van Jesus Christus.

 

Ons getuienis moet dus nie net gebeur sodat ons eie koninkryk gevestig word nie. Ons getuienis moet juis gebeur sodat almal in die hele wereld deel kan wees van dieselfde koninkryk, sodat my koninkryk jou koninkryk kan wees, en sodat ons koninkryk die ewige koninkryk van God kan wees.

 

So met vandag se teks waar die apostels moes wag op die belofte van God word drie dinge duidelik.

 

Ons moet luister na die tyd van die Gees, ons moet bereidwillig wees om self die werk van die Gees te doen en ons moet ons opdrag van die Gees nie beperk tot ons eie gemaksones nie.

 

Die Here Jesus Christus belowe ons elkeen: “Ons sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom, en ons sal deur daardie krag getuies wees tot in die uithoeke van die wereld.”

 

Moenie haastig weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader jou belowe!

 

Amen.