internasionale gebed (eintlik is dit ‘n pleonasme…)

Gister was ek bevoorreg om saam met vier verskillende kerk genootskappe te kan vergader oor hoe ons met mekaar kan hande vat en saam verder die pad stap. Van 14h die middag tot 19h die aand het ons gesels oor mekaar se stories van kerkwees in elkeen se spesifieke konteks, hetsy Zambie (RCZ), NGKA, VGKSA, en NGK. Dit was ‘n wonderlike ervaring om te sien hoe elkeen verskillende uitdagings in die sig staar en tog met hoop gewortel in Christus die toekoms aanskou.

Wat besonders was is dat ons agtergekom het dat ten spyte van ons almal te taal, kulturele, en klomp ander verskille is ons een in Christus. Wat dit nog meer spesiaal gemaak het is dat ons almal dieselfde ontstaan geskiedenis deel, wat daartoe lei dat ons almal in ons diverse kontekste dieselfde gereformeerde tradisie deel.

Of jy nou in Lesotho, Bloemfontein, Ficksburg, of selfs Zambie is, sal jy steeds die gereformeerde tradisie daar aantref. Dit was baie mooi om te besef.

Ons het die geleentheid afgesluit deur almal saam te bid. Nou dit was besonders, en om dit hier te tik is ‘n total understatement van wat daar gebeur het. Elkeen het saam ‘n verteenwoordiger van ‘n ander denominasie gebid. Hoe ons mekaar se hande gevat het, letterlik oor grense, mekaar se hande gevoel het met die wete dat die persoon my broer is. Hy is my broer in Christus. Ons was oorweldig deur die prag van die geleentheid. Die Heilige Gees was werklik tasbaar in die vertrek. Met waterige oe het ons na mekaar gekyk en wou net nie mekaar se hande los nie. Oor kerkgrense, en landsgrense, die Here is magtiger as enige grens en sal dit altyd oorkom, want grense is nie gemaak vir die evangelie nie. Die evangelie vat hande. Die evangelie deel liefde vir almal uit.

Ek as jongmens in die kerk van die Here sal nooit die dag vergeet nie, en dit vir altyd saam met my dra in alles wat ek doen!

Alle eer aan God!

realiteit se riglyne

Die ding van enige werklikheid is dat iemand altyd verandering aanvoel, iemand het eenmaal gese dat verandering die enigste konstante in die lewe is… Wat realiteit ‘n moeilike konsep maak, veral as daar in terme van geloof gepraat word, is dat realiteit verskillend vir elke individu is, veral in geloofsterme. Die wetenskap vra egter na ‘n realiteit waar alles wat ontdek word dieselfde sal wees onafhanklik van persoonlike interpretasies.

Enige realiteitsaansprake moet geinterpreteer word, wat dit vir die wetenskap ingewikkeld maak omdat interpretasies van dieselfde gebeure kan verskil van persoon tot persoon. Wetenskap, volgens Lyotard se argument in Condition of Postmodernity, word ondersteun deur performatiwiteit. Sonder die moontlikheid om verdure wetenskaplike werk te genereer sal wetenskap uitsterf. Woolley gaan verder deur te se dat wetenskap se eindoel mag is; wetenskaplikes, tegnikuste, en instrumente word nie ingespan om waarheid te vind nie, maar eerder om mag in stand te hou.

‘n Verfrissende anderse gedagte is dat Woolley noem dat die wetenskap slegs dit in sy kanon toelaat wat hy kan verwerp. Daarom word allerhande alternatiewe maniere van behandeling in die mediese wereld nie as medies geag nie, omdat dit nie op grond van wetenskaplike beginsels verwerp kan word nie. Die wetenskap kan met ander woorde nie buite die wetenskap dink nie. Die wetenskaplike realiteit is beperk tot ‘n uniforme sisteem.

Wat realiteit verder betref is dat dit altyd getoets wil word. Die intrumente waarmee realiteit getoets word is egter nie altyd so akkuraat of doeltreffend nie, soos uitgewys in die Copenhagen interpretasie. Die Copenhagen interpretasie het juis uitgewys dat daar twee sisteme parallel tot mekaar moet bestaan om dieselfde sisteem te kan evalueer. Die een vir klassieke fisika, en die ander vir quantum fisika, hoe vreemd dit ookal mag wees. Hierdie Copenhagen interpretasie het die bekende Schrodinger in 1935 deur ‘n eksperiment verduidelik van die kat in die boks saam met soveel bestraling wat hom of kan doodmaak of nie, die persoon sal egter nie weet of die kat dood is of nie totdat hy die boks oopmaak en kyk na die kat nie. Deur die eksperiment op ‘n baie ingewikkelder vlak as wat ek nou hier verduidelik het Schrodinger bewys dat realiteit slegs bestaan indien dit geobserveer kan word, as dit nie gesien kan word nie, is daar altyd legio realiteit tegelyke tyd aan die bestaan, of nie. Totdat daar gekyk word nie ‘n realiteit is dit nie realiteit nie, en ook ‘n realiteit, ‘n ware dualisme in die sin. Quantum fisikuste noem hierdie duale verskynsel ‘n superposisie van albei stasis.  Heisenberg het geskryf dat die oorgang van die moontlike na die werklike gebeur gedurende die daad van observasie.

Klassieke staaltjies kan in hierdie geval opgeroep word, soos die van die boom wat val in die woud, en as niemand dit hoor nie het dit geval of nie. Die antwoord sal egter beide wees, want totdat iemand dit kan hoor sal beide opsies ‘n moontlikheid wees.

Hierdie gedagte van die werklikheid wat slegs is terwyl dit geobserveer word buig vandag steeds wetenskaplikes se koppe omdat dit geen univorme sisteem voorstel nie, en inderdaad bewys dat verskillende waarnemingssisteme gebruik moet word dieselfde realiteit te kwantifiseer.

 

Die teoloog Ronald Knox het ‘n gediggie geskryf;

 

There once was a man who said ‘God

Must think it exceedingly odd

If he finds that this tree

Continues to be

When there’s no one about in the Quad.’

 

….waarop ‘n anonieme persoon reageer:

 

Dear Sir, Your astonishment’s odd:

‘I am always about in the Quad.

And that’s why the tree

Will continue to be,

Since observed by Yours faithfully, God.’

 

En hier is waar ons as teoloe moet aanspraak maak op realiteit, dat alles is, die sienlike en onsienlike, want God is orals te alle tye, Hy is alwetend, alomteenwoordig, en almagtig, daarom bestaan alles.

Daarom kan Twitter nie as ligsinnig afgemaak word nie, want ook daar is God. Hoe Hy daar figurer weet ek nog nie mooi nie, maar ek vermoed dat Hy daar is, saam met sy kinders. Twitter is ‘n nuwe terrein, dit kan seker vergelyk word met ‘n land wat gekoloniseer word. Die taal is nog ietwat vreemd, dit is immer slegs 140 karakters van aard, hoe die mense reageer is vreemd, hoe hulle lewe is vreemd, maar tog moet daar ‘n poging aangewend word om tot hierdie mense deur te dring en die evangelie aan hulle te bring, want hulle bestaan daar net soveel indien nie meer nie, as ek wat hier voor my rekenaar sit en die lig op my vel sien val.

Daarom kan en mag ons nie se dat Twitter onbelangrik is nie, want dit is realiteit. Twitter is net ‘n wereld wat nog nie deur die kerk ten volle verstaan word nie omdat dit buite die wetenskap van die kerk le.

So hoekom omarm die kerk nie bietjie dit wat nie tot sy kanon konformeer nie?

Het ons vloeibare besluite in ‘n digitale era nodig?

As daar gekyk word na JAvdBerg se navorsing oor besluitneming in die digitale era sal gesien word dat die mens al meer digitaal (en mobiel) begin leef, tot ‘n so mate dat daar gepraat word van die digitalisering van die self. Die digitale wereld se wese is vinnig en daarom word daar van die digitale self vereis om vinnige besluite te kan neem. Hierdie besluite wat uit die aard van die saak vele kante het moet vinnig onder druk geneem word en ook toegepas word anders val die persoon uit die nuwe (digitale) wereld wat geskep is. Daarom vra Van den Berg tot hoe ‘n mate beinvloed die persoon se geloofslewe sy besluitnemingsproses in hierdie digitale snelweg?

Van den Berg noem dat besluite vloeibaar geword het, om in pas met die digitale tydsgees te wees. Of hierdie ‘n goeie of slegte ding is, is natuurlik onder bespreking en sal nog lank wees. Daar is positiewe gevolge, maar ook so is daar negatiewes.

Daarom is my vraag, of ons vloeibare besluite nodig het in hierdie digitale era? Veral waar die kerk een van die wagte van die samelewing behoort te wees saam met die pers en die gereg onder andere. Het ons nie dalk eerder besluite nodig wat nie vloeibaar is nie?

As daar na populere media gekyk word keur mense al hoe meer terug na aardse modes, stadige maniere van kos maak, om gebruik te maak van herwinbare bronne, om self hulle kos te groei met hulle hande in die grond. Is hierdie nie dalk tendense wat vir ons se dat mense na standvastigheid soek, veral te midde van hierdie spoedige samelewing nie?

God is standvastig. Sy besluite staan virewig. Hy is die een onveranderlike in ‘n veranderende wereld. Moet wat die kerk verkondig nie God weerspieel nie? Daarom met my respons op ‘n vloeibare besluite sal ek vra of besluite moet vloeibaar wees, of moet die vertolking van standvastige besluite eerder vloeibaar wees?