Is jy wat jy tweet?

Ten spyte van die toenemende gebruik van Twitter, is daar min navorsing oor die verband tussen Twitter en persoonlikheid van die gebruiker. Druk verbruikers hulle persoonlikheid op sosiale media uit? Kan daar akkurate persoonlikheidsoordele gevel word op grond van die persoon se Twitter profiel? Twitter as mikroblog kan as ‘n goeie medium dien om die verband tussen mikroblog en persoonlikheid te sien. Deur die mikroblog, in die geval Twitter, te bestudeer sal ons sien hoe persoonlikheid uitgedruk word in geskrewe vorm. Die doel van die studie is dus om die verhouding tussen persoonlikheid en Twitter te peil. 

Ja, die verhouding kan gepeil word, baie abstrak en soms wuspelturig, maar met die behulp van tegnologie wat woorde analiseer is dit tog moontlik. Daar kan veral verskille in geslag, ouderdom, en lokaliteit ontleed word deur te kyk na woorde eie tot die bepaalde groep mense. So ook kan daar deur ‘n analise van positiewe en negatiewe, asook persoonlike en onpersoonlike woorde gesien word of die persoon meer geneig is om ‘n ekstro of introvert te wees.

So daar is tog ‘n merkbare eie karakter van elke persoon se mikroblog te siene op die Twitter webwerf. Maar wat sal nou met daardie inligting gedoen word? Vir bemarkingsdoeleindes is daar vele opsies, maar wat my betref wonder ek oor die geloofsaspek van die bevindinge. Hoe kan hierdie navorsing in verhouding staan met die kerk? Hoe kan die kerk dit gebruik? Moet die kerk al meer kompartemente skep in die samelewing of moet die samelewing juis bymekaar gebring word in die kerk, met al sy verskillende fassette?

Wat Jeugbediening betref is die vraag weer op die tafel oor intergenerasionele bediening… Moet kinderkerk buite die kerk geskied in die saal of moet dit in die hoof erediens geskied? En as dit in die hoof erediens geskied, hoe akkommodeer jy van jonk tot oud in een erediens?

Van wat ek op ‘n onwetenskaplike manier kan aflei deur blote observasie van die sosiale media, van facebook en twitter, is dat hierdie vorme van sosiale media juis besig is om die mure van die samelewing af te breek. Sosiale media skep juis die ruimte dat almal by almal kan leer, veral in die geval van twitter.

As God dit is wat in die Skrif van Hom geopenbaar is, is Hy net dit?

As die kerk is wat sy verkondig, is sy net dit?

As jy is wat jy tweet, is jy net dit?

Psalm 119

Wanneer laas het jy Psalm 119 gelees?

Ek het dit vir ‘n hele tyd vermy omdat ek onder die indruk was dat dit te lank is om in een sit deur te lees. Ek was verkeerd. Dit lees soos ‘n brander wat oor en oor spoel, dieselfde water wat dieselfde boodskap wil bring. Rig jou lewe in volgens die voorskrifte wat die Here vir jou gee, wandel in Sy woord, en jy sal ‘n gelukkige lewe geniet.

Hierdie boodskap is egter nie so maklik soos wat dit voorkom nie. Oor en oor herhaal die digter dat dit soms moeilik is om by die Woord te hou terwyl sy vyande besig is om hom te verlei en te mislei om ander paaie te volg. Weer en weer bely die digter dan dat hy nie anders kan as om in die Woord van die Here skuiling te vind nie. Deur die Woord te bestudeer vind hy vrede, vreugde, en rus van sy vyande, deur sy lewe in lyn met die wet te plaas is hy veilig, want hy weet dat die Woord van die Here altyd sal vas staan.

Hierdie standvastigheid waarvan Psalm 119 getuig is pragtig omdat ons weer en weer sien dat die Skrif nie net sommer nog ‘n storie is nie, maar ‘n boek, ‘n heilige boek, wat deur jare en jare bly staan het. Dit het nie verdwyn tussen die magdom bestsellers en die digitale stroom nie, nee, dit is steeds die prominente Skrif wat dit nog al die jare was.

Hierdie gedeelte het my vanoggend geraak omdat ek altyd opgesien het na die groot en ontsaglike lang Psalm 119, maar toe is dit nie so lang storie nie. Eintlik ‘n baie mooi herhaling van dieselfde boodskap oor en oor. Leef in verhouding met God, dit kry jy reg deur aan Sy bepalinge getrou te wees, en jy ken Sy bepalinge deur die Woord te bestudeer. Doen dit en jy sal in harmonie met God se skeppingsdoel vir jou lewe leef.

in die vallei van die akasias

in die vallei van die akasias
is 'n man tussen die oorlogslyne

die uitdager, die teenstander
met brons helm
die skaapwagter, die herder
met gebraaide koring

die teenstander daag die heilige
die herder beskerm sy volk

klein en sonder baard
word hy gespot en na gespoeg
deur arrogante woorde
vanaf die teenstander

in die vallei van die akasias
is 'n man tussen die oorlogsone
'n klippie swaai
'n reus val

- Francois van Dijk.