ongetiteld

jy’s elke aand langs my
jy’s die lig
ek kyk in jou oë
en glimlag
sonder jou kan ek nie
jy is my bedlampie.

– Francois van Dijk

skerp

steeds deur die krake val stukkies diamant
dit skommel in my binneste rond
en sny my ingewande aan elke kant
nader al nader aan my hart

die diamantjies wil nie uit nie
dit bly steeds
onwillekeurig
dit wil nie uit nie

vleishart word kliphard, kliphart
sag van buite, hard van binne

beheers deur vrees

– Francois van Dijk

die brief

nimmereindigende liefde
baan die weg vir baie briewe

ditjies en datjies
inkopielysies met prysies
water en lig, rekening, verplig

vele woorde saam vorm een
sin, paragraaf, brief

afgesluit; ek het jou lief

– Francois van Dijk