Oubos

Oubos die mense praat oor jou
Oubos die mense is bang vir jou
Oubos die mense bewonder jou
Oubos, ken die mense vir jou?

Jy is hoogs eksklusief
met plek vir slegs veertig uitgesoekte families
jy huisves die staatspresident bloedlyn

helderblou strande
klowe met hoë rotswande
in strakke teenstelling met jou helikopterlandingstasie

Oubos speelplek van die rykes
vir mense wat mense ken
of dalk net vir doodgewone mense
wat in die see wil swem

– Francois van Dijk

BA (braai assistent)

so ‘n plaasmeisie met die stedelike look
langs die braaivleisvuur kla sy glasnie
van die reuk van rook in haar broek

bruin gebrande tjoppie het sy geëet met haar hand
mondhoeke afgevee
met die kersservet se rand

nagereg
skottelgoed
voorgereg

stedelike plaasmeisie
jy was my geskenk sodat ek met jou kon deel
al my emosie

– Francois van Dijk

ongetiteld

rotse sny voete bloed
bloed drup kolletjie klein
verskil groot
ongemak skiet na bo
voet kop
hakkerige bewegings na vore
hierdie rotse is nie vir my beskore.

– Francois van Dijk