Summary, Theoretical signposts for tracing spirituality within the fluid decision-making of a mobile virtual reality

Inleiding: Virtuele realiteit en die deugde van realiteit

In die woorde van Sean Parker van The Social Network: “Ons het in die platteland gewoon, ons het in die stad gewoon, nou sal ons in die internet woon.” Hierdie woorde merk die skuif wat besig is om plaas te vind reg oor die wereld van fisies na digitaal. ‘n Ander skuif wat ook besig is om plaas te vind is op grond van besluitneming. Om besluite te neem in die digitale era gekenmerk deur sy vloeibaarheid het besluite al meer vlugtig gemaak as gevolg van die vinnig veranderende wereld waar kommunikasie tegnologie koning kraai.

Beweging na praktyk: Virtuele realiteit (en daarna?)

Tans vind die mens homself in ‘n wereld gekarakteriseer deur ‘n nuwe sosiale struktuur van die informasie era, wat gevolglik ‘n globale virtuele kultuur na vore gebring het, wat tyd en ruimte transendeer. Meer en meer mense is nou in staat om mekaar reg oor die wereld te ontmoet. Hierdie vloeibare wereld vorm die dramatiese verhoog vir die soeke na verbeterde besluitnemings moontlikhede. Sweet noem dat Maslow se hierargie van behoeftes verander moet word na asemhaal, voedsel, water, en selfone. Hierdie nuwe hierargie van behoeftes dui pertinent op die mobiele globale gemeenskap wat na vore tree.

Beweging na teorie: Deugde van realiteit

Praktiese teologie het belange in die praktiese aard van die teologie, en ook in ‘n sin is alle toelogie prakties. Hierdie teologie of eendersyds beliggaamde spiritualiteit word dan sigbaar in besluitnemings strategiee. Die vraag is presies dit, tot hoe ‘n mate, indien wel, beinvloed die geloofsaspek van die mobiele lewe die besluitnemingsproses.

Tegnologie konfronteer nie alleen die toenemende beperkinge van die menslike brein en liggaam nie, maar verander ook die strukture van die lewe en samelewing vanuit ‘n ekologiese oogpunt gesien.

Die biografiese kant van die sosiale media sal al hoe meer prominent na vore tree soos die status van ‘n persoon al meer ‘n lewensverhaal begin vertel. Hierdie status updates sal ‘n argievering van die lewe van die persoon word, en sodoende sal ‘n eie handelsmerk geskep word met ‘n positiewe of negatiewe beeld vir die wereld van die sosiale media. Die fokus skuif al meer na die individu in die digitale ruimte, die individu word verheerlik vanuit ‘n pseudo-gemeenskaplike terrein.

Met hierdie skuiwe wat besig is om plaas te vind kan daar gepraat word van ‘n digitalisering van die self. Dit kan nie ontken word dat nuwe tegnologië nie die self beinvloed nie. Dit beinvloed die diepste wese van die self, dit vorm denkwyses van die self, die ander, en die wereld.

Summary, Tweeting God: Tracing popular Christian theologians’ expressions of faith on Twitter.

In die voorafgaande opsomming (abstract) oor hoe JAvdB beoog om die Tweeting God artikel aan te pak is daar ‘n paar woorde wat vir my uitstaan. Dit is tiperend van die digitale navorsing en ek gaan nog baie daarmee te doen kry. Daarom wil ek dit graag nou al aan die lig stel. Terme soos; ‘dynamic’, ‘fluid’, ‘multiple levels of societal understanding’ en ‘new language’ is wat aanvanklik vir my uitstaan en ook ‘n redelike beeld gee van wat verwag kan word.

Osmer se eerste vraag: Wat is aan die gebeur?

Twitter is besig om ‘n nuwe medium van informasie te raak, en selfs die tradisionele vorme van die media te konfronteer deurdat dit vinnig onmiddelike nuus kan oordra. Die bogenoemde stelling word geillustreer deur Sohaib Athar @ReallyVirtual wanneer hy reeds 10ure voordat enige offisiele nuusberigte verskyn het, ‘n tweet die lug laat sien het oor ‘n ongewone helikopter wat bo-oor Abbottabad vlieg. Nog ‘n manier hoe Twitter die konvensionele konfronteer is deur innoverend met ou bronne om te gaan. Hamza Kashgari, soos gedokumenteer deur Cohen en Schmidt van Google in hulle boek The Digital Era, het in gesprek met die profeet Mohammed getree. Hierdie poging tot gesprek het egter ontsteltening uitgelok by die Islamitiese gemeenskap en het hulle ge-eis dat hy tereggestel moet word.

Hierdie bogenoemde wys ons dat Twitter op ‘n vinnige manier (realtime) nuus kan oordra en gesprek toelaat oor kontinente wat sigbaar is vir die wereld. Met uitdrukkings van die self in ‘n bepaalde omgewing  op ‘n bepaalde tydstip, is die individu onmiddelik deel van ‘n internasionale digitale gemeenskap.

Osmer se tweede vraag: Hoekom is dit aan die gebeur?

Hassan wys vir ons in sy boek, The Information Society, dat die kontemporere wereld gevorm word deur drie faktore, die eerste is neoliberale globalisering, die tweede is die informasie tegnologie revolusie, en die derde is ‘n mengsel van die eerste twee se gevolge, wat per implikasie die versnelling en inkrimping van bestaan voorhou. Rushkoff, in sy boek, Present Shock. When Everything Happens Now, noem vir ons dat alle informasie lewendig, onmiddelik, en altyd aan is. Hy se dat dit nie slegs ‘n versnelling van bestaan is nie, maar dat tegnologie ‘n verandering van leefstyl teweeg gebring het. Knott-Craig in sy boek, Mobinomics, MXit and Africa’s Mobile Revolution, gaan voort om te se dat die selfoon en toegang tot sosiale media ‘n belangrike dryfveer vir die mobile wereld geword het. Daarom is Goggin van mening dat die rol van mobile platvorms ‘n belangrike rol speel in die vorm van die menslike bestaan. Goggin is die een wat die eksistensieele vraag aanspreek.

Osmer se derde vraag: Wat moet aan die gebeur wees?

‘n Teologie van die kultuur vertrou op die voorveronderstelling dat kulturele uitdrukkings van die self ‘n realiteit kan transendeer, ‘n realiteit wat bestaan, wat saak maak, en waarin die voorsienigheid aan die werk is. Teologie bied vir ons die taal om hierdie transenderende realiteit te verwoord. Deur gebruik te maak van ‘n hermeneutiese praktiese teologie sal dit moontlik wees om die geleefde spiritualiteite te kan karteer.

Heidi Campbell skryf in haar boek, Digital Religion. Understanding Religious Practice in New Media Worlds, dat wanneer die religieuse praktyk (lees beliggaamde Woord) en die digitale kultuur mekaar ontmoet ontwikkel daar ‘n derde spasie. Hierdie derde spasie is ‘n hibriede en vloeibare konteks met ‘n nuwe logika en ‘n unieke vorm van betekenis gewing. ‘n Digitale religie as konsep bevestig nie net die unieke karakter van hoe digitale tegnologie vorm nie, maar ook dat religieuse praktyke vorm gee aan ‘n nuwe vorm van geleefde digitaliteit.

In die virtuele era word daar ‘n toenemende rol gespeel deur die mobiele kommunikasie, wat aanleiding gee tot die gedagte dat uitdrukkings van geloof al meer dinamies en vloeibaar sal word. ‘n Nuwe en relavante taal van en vir geloof word ook so deur digitalisering gevorm. ‘n Geleefde religie, wat voorgestaan word deur Ruard Ganzevoort, sal dus verander na ‘n geleefde digitale religie, met die aksent van geleefde wat val op die beliggaaming van die gekontekstualiseerde geloof.

Hierdie geleefde digitale religie (lees digitale identiteit) kan gevind word in voorbeelde soos ‘n Twitter verbruiker se @handle, sy biografie inskrywing, die profiel foto, en selfs deur die persone wat hy volg op die sosiale netwerk.

Wat gevind sal word deur die toepassing van die bogenoemde vra vir ‘n re-evaluasie van die menslike kondisie, wat veral sal fokus op die impak van die virtuele mobiele era op die menslike geestestoestand, op individuele vlak, maar ook op gemeenskaplike vlak.

Osmer se vierde vraag: Hoe kan ons reageer?

Die praktiese terrein is van belang vir praktiese teologiese navorsing, daarom is die terrein (Twitter, sosiale media, die internet) die plek waar die heilige gevolg en geleef moet word. Om in hierdie terrein te leef is dit nodig om die populere kultuur van die konteks reg te verstaan sodat die effekte daarvan op die mens dienooreenkomstig gehanteer kan word. Christene moet die populere kultuur ontleed om te weet hoe dit die self, bure, kinders, en die kerk beinvloed. Spesifiek doen kultuur vier dinge volgens Vanhoozer: kultuur kommunikeer, kultuur orienteer, kultuur reproduseer, en kultuur kultuveer. Daarom is dit van kritieke belang om ‘n Christelike geleefde digitale kultuur te vestig en te leef. Die Twitter terrein is van so ‘n aard dat die evolusionere karakter daarvan sal aanhou om dinamiese assosiasies te maak met die sosiale media, wat ‘n uitvloeisel van geloof kan wees.

Gevolgtrekking

Daar le egter ‘n moontlike punt van kritiek in hierdie studie se temporele aard opgesluit. Daar is geen waarborg dat hierdie besonderse groei in die sosiale media, spesifiek op die Twitter platvorm, oor 3jaar steeds merkbaar sal wees nie. Die Twitter-fenomeen is nog in flux, wat beteken dat dit nog slegs dit is, ‘n fenomeen. Twitter as terrein het nog nie stabiliseer nie, daarom is dit nog gewaagd om daaraan ‘n permanente status toe te ken. Ten spyte van die temporele aard van hierdie digitale medium is dit steeds dit, ‘n medium tot uitdrukking van geloof en daarom moet dit ondersoek word. Dit is ook merkbaar dat selfs in die nuutjies van die wereld kom die teologie te voorskyn, hoe mense hulself uitleef op nuwe maniere, in nuwe teologiese taal, vir ‘n nuwe generasie gelowiges. Die uitdrukking van geloof op Twitter bevestig juis die relevansie van geloof in die digitale era.

Lukas 11: Here, leer ons bid

Ons teks vir vandag handel oor Jesus wat sy dissipels leer bid.

Vers 1-4: Lukas plaas Jesus se onderrig oor gebed as ‘n reaksie op ‘n versoek van ‘n dissipel wat Hom sien bid. Dalk was die dissipel diep onder die indruk van Jesus se gebedslewe en sy eie gebrek daaraan. Jesus se reaksie op sy versoek is ‘n resepgebed wat hulle altyd kan gebruik as hulle bid. Dit beteken natuurlik nie dat die Ons Vader-gebed die enigste woorde is wat ‘n dissipel hoef te bid nie. Dit is ‘n model- en voorbeeldgebed, in die skool van gebed. Gebed is deel van die omgang met God. Dit is deel van ‘n verhouding.

Dit is uniek dat Jesus sy dissipels leer om God “Vader” (Abba) te noem. Joodse gebede het ook na God as Vader verwys, maar nooit so persoonlik soos hier nie. Jesus leer sy dissipels dat hulle deur Hom in ‘n persoonlike verhouding met God staan. Daarom mag hulle Hom “Vader” noem. Dit moes ‘n geweldige ondervinding en uitdaging vir die dissipels gewees het om tot so ‘n intieme verhouding met God te beweeg. Nou is God nie meer net die God van Abraham, Isak en Jakob nie, maar “my God”. En nie net is Hy nou “my” God nie, maar ook “Vader”. Dit was die verrassende nuwe ding wat Jesus vir sy dissipels wou leer. So het Hy hulle ingelyf in dieselfde persoonlike en hegte verhouding wat Hy met die Vader het. Jesus sê vir hulle: “Nie net Ek mag vir God Vader sê nie, maar julle ook.” Hulle word in dieselfde verhouding van liefde opgeneem wat daar tussen die Vader en die Seun is. Om God “Vader” te noem, bevestig hulle kindskap. Dissipels van Jesus staan in ‘n Vader/kind-verhouding tot God!

Hierdie verhouding gee die dissipel toegang tot God. Daarom mag hulle van Hom dinge vra/smeek. Dikwels word die woord “vra” as sinoniem vir gebed in die Bybel gebruik. Dit is hierdie vra-karakter wat Jesus beklemtoon. “Deur nederig te vra kom die ware mens voor God te staan: sonder maskers, sonder enige pretensies, met leë hande” – soos ‘n afhanklike kind!. Die dissipel van Jesus kry as kind van die verbond die vryheid om in ‘n direkte en persoonlike verhouding tot God te staan. Dit is ‘n vryheid waarin die dissipel beide mag vra en moet vra. Hierdie gebed skakel die dissipel as kind van die Vader aktief by die saak van God in. Hy wil nie hê ons moet stomme objekte van sy genade wees nie, maar medewerkers. Bid is dus nie net ‘n wonderlike voorreg vir die dissipel nie, maar ook ‘n opdrag.

Die gebed wat Jesus hulle leer, het twee stelle versoeke. Die eerste stel vra dat God sy koningskap sal waarmaak (2b). Die tweede stel is versoeke vir die persoonlike behoeftes van die dissipels (3-4).

Die eerste stel versoeke: Vir die kind van die Vader kom die Vader eerste. Die gebed om die heiliging van God se Naam en die koms van sy koninkryk is versoeke wat langs mekaar loop. Albei vra dat die koningskap van God sigbaar sal word. Die gebed vir die koms van die koninkryk is die versoek waarom alles draai.

“Waar om brood gebid en vir brood gedank word, daar kom die koninkryk. Waar God mense hul oortredinge vergewe en mense mekaar s’n, daar kom die koninkryk. Waar versoeking weerstaan en mense van die Bose verlos word, daar kom die koninkryk.”

Die dissipel is as kind volledig en met oorgawe toegewy aan die Naam en eer van die Vader. Die gebed is nie net ‘n versoek dat die Vader sal sorg dat sy Naam geheilig word en sy koninkryk kom nie, maar druk ook die persoonlike verbintenis van die kind uit. Deur hierdie gebed te bid, verbind die dissipel haar/hom daartoe om self die Vader se Naam te heilig en sy koninkryk te help vestig. Gebed kan nooit as ‘n stilstaande ding gesien word nie. Daarvoor lê net te veel klem op die sosiale implikasies van dissipelskap. Dit help ons om te onthou dat ons daartoe opgeroep word om die nood van mense ons nood te maak.

Die tweede stel versoeke: Met hierdie stel versoeke leer Jesus juis die dissipels dat hulle lewens op ‘n spesiale manier die plek is waarin die koninkryk van God sigbaar word. Deur hierdie versoeke uit te spreek erken die dissipel dat hy/sy verstaan dat die persoonlike lewe die plek is waar God se koninkryk in die eerste plek moet kom.

Met die eerste versoek (3) bely die dissipels hul afhanklikheid van God en rus hulle in sy sorg. Jesus leer ons om elke dag se kos te vra “wat ons vir daardie dag nodig het”. Die klem lê op daaglikse afhanklikheid. Die versoek het Israel se versorging in die woestyn as agtergrond en verwys spesifiek na die daaglikse optel van die manna (Eks. 16:18). Elke dag vertrou ek die Here. Daar waar die dissipel in algehele afhanklikheid van die Vader lewe en elke dag deur die Vader versorg word, word die koninkryk sigbaar. Die koninkryk van God word ook daar sigbaar waar stukkende verhoudinge heel word. Met die tweede versoek (4) leer Jesus ons om uit die Vader se genade te leef in ons verhoudinge. Die dissipel van Jesus weet dat sonde alle verhoudings stukkend breek. In hierdie versoek leer Jesus ons wat ons met ons sonde moet maak. Daar is net een manier waarop sonde uit die weg geruim kan word – deur belydenis en vergifnis! In hierdie bede leer Jesus ons om albei te doen. Met hierdie woorde erken die dissipel in die eerste plek die werklikheid van sonde en die noodsaaklikheid dat dit hanteer moet word – sodat God se koninkryk kan kom in herstelde verhoudinge. Maar die bede erken ook dat vergifnis die enigste manier is waarop dit gedoen kan word. Bely en vergifnis gaan altyd saam. Wie vergifnis vra, bely. En wie bely, vra vergifnis.

Die tweede deel van hierdie versoek is nie net ‘n verklaring van gewilligheid om self te vergewe nie, maar ‘n onvoorwaardelike verbintenis daartoe om elkeen te vergewe wat teenoor die dissipel oortree. Die bede sê nie: “Ek onderneem om dit te doen nie”, maar: “Ek doen dit in elk geval!” En teenoor almal. Vergifnis is nie ‘n opsie tussen opsies nie. Dit is die enigste opsie. Want dit is die enigste weg waarlangs die Vader sonde hanteer. Die dissipel vergewe ook nie selektief net sommige oortreders nie, maar “elkeen”. Dit is tog immers wat genade is.

Die derde versoek in die tweede stel versoeke leer ons om te erken dat dissipelskap ‘n stryd is. Daarmee bely die dissipels dat daar voortdurend versoekings tot sonde is en dat ons dit nie op ons eie kan weerstaan nie. Dit is ‘n gebed om God die Vader se beskerming en krag. En só beklemtoon hierdie laaste versoek die feit dat hierdie hele gebed die gebed van ‘n kind is. ‘n Kind wat in totale afhanklikheid van die Vader leef en volledig gerig is op die koms van sy koninkryk. Maar ook ‘n kind wat self met hart en siel en verstand verbind is tot gehoorsaamheid aan die Vader.

Dit is verder opvallend dat Jesus sy dissipels leer om in die meervoud (“ons”) te bid. ‘n Dissipel volg nooit vir Jesus alleen nie, maar altyd saam met ander dissipels. Daarom bid hy/sy ook nooit alleen nie. Christelike gebed is ‘n gemeenskaplike saak.

Vers 5-8: Na die resepgebed volg ‘n gelykenis waarmee Jesus sy dissipels aanmoedig om tot hul Vader te bid en dit met volharding te doen. Dié gelykenis word met die resepgebed verbind deur die woord “brood”. Die vraer in die gelykenis is in ‘n penarie. Hy het ‘n laatnag besoek van ‘n vriend gekry wat op reis is. Oosterse gasvryheid het van hom verwag om vir sy vriend kos te gee, maar hy het niks in die huis om vir hom voor te sit nie. Hy het net een opsie. Gaan vra vir ‘n ander vriend brood. Die klem in die gelykenis val op die lastigheid van die versoek aan die vriend en dat hy ten spyte daarvan tog aan die versoek toegee. Die middel van die nag was die ongemaklikste tyd om iemand in ‘n Palestynse huishouding te pla. Vers 7 gee iets van die ontwrigting deur wat die versoek om brood die vriend aandoen. Die versoek ontstel die vriend. Om daaraan te voldoen beteken vir hom en sy hele huishouding ‘n klomp beslommernis. Hulle is almal al vas aan die slaap. Dit is donker in die huis, want die olielampie wat deur die nag brand, is maar flou. Almal in die huis lê langs mekaar in die een vertrek en die deur is met ‘n dwarsbalk stewig toegemaak. Nou word van hom verwag om in die omstandighede op te staan en brood te gee. Dit gaan almal in die huis wakker maak en hul rus onderbreek. Ten spyte hiervan, sê Jesus, sal hy tog opstaan en alles gee aan die een wat vra. En die rede wat Jesus aangee waarom hy aan die versoek sal voldoen, is die feit dat die een wat die brood kom vra “nie skaam is om aan te hou vra nie”. Dit is die feit dat die vraer die moed by mekaar kon skraap om sy vriend lastig te val en vrymoedig genoeg was om te klop totdat sy vriend die deur oopmaak, wat maak dat die vriend sy versoek (smeking) beantwoord. Die vrymoedigheid van die vraer lei daartoe dat sy vriend aan sy versoek voldoen. En so word hy uit sy penarie gehelp.

Die dissipel kan as kind van die Vader met vrymoedigheid bid. Want as ‘n vriend in die middel van die nag ten spyte van al die ongerief sal opstaan om ‘n ander vriend uit sy penarie te help net omdat hy vrymoedig is om te kom vra, hoeveel te meer sal God die Vader dit nie doen nie! God hoor die roep van hulle wat in nood is en help hulle. Dit is verseker.

Vers 9-10 bestaan uit drie van dieselfde woorde vir bid (vra, soek en klop). Elkeen van hulle word opgevolg met ‘n absolute versekering (“sal”) dat die versoek deur God beantwoord sal word. Hiermee moedig Jesus die dissipels verder aan om met vrymoedigheid te bid. Die kind van die Vader moet geen huiwering hê om tot Hom te bid nie. En as daar iemand is wat uit ondervinding hieroor kan praat, dan is dit Jesus self.

Alhoewel vers 11-13 ook handel oor die manier waarop God gebed beantwoord, lê die klem hier eerder op die goedheid van die gawes wat Hy gee en nie op die sekerheid van wanneer dit verhoor sal word nie. Die vrae wat Jesus in 11 en 12 vra, lok die reaksie uit: “Onmoontlik!”

Weereens kontrasteer Jesus, God die Vader, met menslike karakters. Aardse vaders wat sondaars (“sleg”) is, gee goeie dinge aan hulle kinders. Hoeveel te meer sal God – die volmaakte Vader – dit nie doen nie. Matteus praat in sy weergawe van hierdie gesprek oor “goeie gawes” (7:11), terwyl Lukas hier spesifiek na die gawe van die Heilige Gees verwys. Is die Heilige Gees dan nie die beste goeie gawe nie?

“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie meer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: `Abba!’” (Rom. 8:15), En: “Die Gees staan ons in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom. 8:26).

Alles wat Jesus sy dissipels in hierdie gedeelte oor gebed geleer het, is slegs moontlik in en deur die Heilige Gees. Dit is hierdie goeie gawe wat God vir elkeen gee wat daarom vra.

Verseker!

Amen.