Summary, Tweeting God: Tracing popular Christian theologians’ expressions of faith on Twitter.

In die voorafgaande opsomming (abstract) oor hoe JAvdB beoog om die Tweeting God artikel aan te pak is daar ‘n paar woorde wat vir my uitstaan. Dit is tiperend van die digitale navorsing en ek gaan nog baie daarmee te doen kry. Daarom wil ek dit graag nou al aan die lig stel. Terme soos; ‘dynamic’, ‘fluid’, ‘multiple levels of societal understanding’ en ‘new language’ is wat aanvanklik vir my uitstaan en ook ‘n redelike beeld gee van wat verwag kan word.

Osmer se eerste vraag: Wat is aan die gebeur?

Twitter is besig om ‘n nuwe medium van informasie te raak, en selfs die tradisionele vorme van die media te konfronteer deurdat dit vinnig onmiddelike nuus kan oordra. Die bogenoemde stelling word geillustreer deur Sohaib Athar @ReallyVirtual wanneer hy reeds 10ure voordat enige offisiele nuusberigte verskyn het, ‘n tweet die lug laat sien het oor ‘n ongewone helikopter wat bo-oor Abbottabad vlieg. Nog ‘n manier hoe Twitter die konvensionele konfronteer is deur innoverend met ou bronne om te gaan. Hamza Kashgari, soos gedokumenteer deur Cohen en Schmidt van Google in hulle boek The Digital Era, het in gesprek met die profeet Mohammed getree. Hierdie poging tot gesprek het egter ontsteltening uitgelok by die Islamitiese gemeenskap en het hulle ge-eis dat hy tereggestel moet word.

Hierdie bogenoemde wys ons dat Twitter op ‘n vinnige manier (realtime) nuus kan oordra en gesprek toelaat oor kontinente wat sigbaar is vir die wereld. Met uitdrukkings van die self in ‘n bepaalde omgewing  op ‘n bepaalde tydstip, is die individu onmiddelik deel van ‘n internasionale digitale gemeenskap.

Osmer se tweede vraag: Hoekom is dit aan die gebeur?

Hassan wys vir ons in sy boek, The Information Society, dat die kontemporere wereld gevorm word deur drie faktore, die eerste is neoliberale globalisering, die tweede is die informasie tegnologie revolusie, en die derde is ‘n mengsel van die eerste twee se gevolge, wat per implikasie die versnelling en inkrimping van bestaan voorhou. Rushkoff, in sy boek, Present Shock. When Everything Happens Now, noem vir ons dat alle informasie lewendig, onmiddelik, en altyd aan is. Hy se dat dit nie slegs ‘n versnelling van bestaan is nie, maar dat tegnologie ‘n verandering van leefstyl teweeg gebring het. Knott-Craig in sy boek, Mobinomics, MXit and Africa’s Mobile Revolution, gaan voort om te se dat die selfoon en toegang tot sosiale media ‘n belangrike dryfveer vir die mobile wereld geword het. Daarom is Goggin van mening dat die rol van mobile platvorms ‘n belangrike rol speel in die vorm van die menslike bestaan. Goggin is die een wat die eksistensieele vraag aanspreek.

Osmer se derde vraag: Wat moet aan die gebeur wees?

‘n Teologie van die kultuur vertrou op die voorveronderstelling dat kulturele uitdrukkings van die self ‘n realiteit kan transendeer, ‘n realiteit wat bestaan, wat saak maak, en waarin die voorsienigheid aan die werk is. Teologie bied vir ons die taal om hierdie transenderende realiteit te verwoord. Deur gebruik te maak van ‘n hermeneutiese praktiese teologie sal dit moontlik wees om die geleefde spiritualiteite te kan karteer.

Heidi Campbell skryf in haar boek, Digital Religion. Understanding Religious Practice in New Media Worlds, dat wanneer die religieuse praktyk (lees beliggaamde Woord) en die digitale kultuur mekaar ontmoet ontwikkel daar ‘n derde spasie. Hierdie derde spasie is ‘n hibriede en vloeibare konteks met ‘n nuwe logika en ‘n unieke vorm van betekenis gewing. ‘n Digitale religie as konsep bevestig nie net die unieke karakter van hoe digitale tegnologie vorm nie, maar ook dat religieuse praktyke vorm gee aan ‘n nuwe vorm van geleefde digitaliteit.

In die virtuele era word daar ‘n toenemende rol gespeel deur die mobiele kommunikasie, wat aanleiding gee tot die gedagte dat uitdrukkings van geloof al meer dinamies en vloeibaar sal word. ‘n Nuwe en relavante taal van en vir geloof word ook so deur digitalisering gevorm. ‘n Geleefde religie, wat voorgestaan word deur Ruard Ganzevoort, sal dus verander na ‘n geleefde digitale religie, met die aksent van geleefde wat val op die beliggaaming van die gekontekstualiseerde geloof.

Hierdie geleefde digitale religie (lees digitale identiteit) kan gevind word in voorbeelde soos ‘n Twitter verbruiker se @handle, sy biografie inskrywing, die profiel foto, en selfs deur die persone wat hy volg op die sosiale netwerk.

Wat gevind sal word deur die toepassing van die bogenoemde vra vir ‘n re-evaluasie van die menslike kondisie, wat veral sal fokus op die impak van die virtuele mobiele era op die menslike geestestoestand, op individuele vlak, maar ook op gemeenskaplike vlak.

Osmer se vierde vraag: Hoe kan ons reageer?

Die praktiese terrein is van belang vir praktiese teologiese navorsing, daarom is die terrein (Twitter, sosiale media, die internet) die plek waar die heilige gevolg en geleef moet word. Om in hierdie terrein te leef is dit nodig om die populere kultuur van die konteks reg te verstaan sodat die effekte daarvan op die mens dienooreenkomstig gehanteer kan word. Christene moet die populere kultuur ontleed om te weet hoe dit die self, bure, kinders, en die kerk beinvloed. Spesifiek doen kultuur vier dinge volgens Vanhoozer: kultuur kommunikeer, kultuur orienteer, kultuur reproduseer, en kultuur kultuveer. Daarom is dit van kritieke belang om ‘n Christelike geleefde digitale kultuur te vestig en te leef. Die Twitter terrein is van so ‘n aard dat die evolusionere karakter daarvan sal aanhou om dinamiese assosiasies te maak met die sosiale media, wat ‘n uitvloeisel van geloof kan wees.

Gevolgtrekking

Daar le egter ‘n moontlike punt van kritiek in hierdie studie se temporele aard opgesluit. Daar is geen waarborg dat hierdie besonderse groei in die sosiale media, spesifiek op die Twitter platvorm, oor 3jaar steeds merkbaar sal wees nie. Die Twitter-fenomeen is nog in flux, wat beteken dat dit nog slegs dit is, ‘n fenomeen. Twitter as terrein het nog nie stabiliseer nie, daarom is dit nog gewaagd om daaraan ‘n permanente status toe te ken. Ten spyte van die temporele aard van hierdie digitale medium is dit steeds dit, ‘n medium tot uitdrukking van geloof en daarom moet dit ondersoek word. Dit is ook merkbaar dat selfs in die nuutjies van die wereld kom die teologie te voorskyn, hoe mense hulself uitleef op nuwe maniere, in nuwe teologiese taal, vir ‘n nuwe generasie gelowiges. Die uitdrukking van geloof op Twitter bevestig juis die relevansie van geloof in die digitale era.

Leave a Reply

Your email address will not be published.