1 Johannes 5: Valse Gerugte Versprei

Johannes skryf hierdie brief omdat daar mense in die omtrek was wat valse gerugte versprei het. Mense wat nie die volle waarheid ken nie, of nie die waarheid wil glo nie. Die Johannes brief in die breë gaan daaroor om die gemeenskap te oortuig dat Jesus Christus wel Seun van God was, dat Hy self ten volle God was en ook ten volle mense was. Daarmee saam maak Johannes ook erns met die feit dat geloof in Christus kardinaal is vir die lewe en ook so vir ’n lewe van liefde.

Christus se identiteit was bevraagteken. ’n Groep mense binne die gemeenskap het begin twyfel oor wie hierdie Jesus man nou regtig is. Dink bietjie daaroor hoe jy sal voel as jy vir jou vriende vertel van die wonderlike persoon wat jy ontmoet het en hulle glo jou nie. Hulle glo jou nie dat jy die persoon ontmoet het wat jy beskryf nie. Jou vriende begin jou woorde te bevraagteken, hulle vrae jou allerhande vragies oor wie hierdie persoon nou regtig is sodat hulle self kan gaan Facebook wie hierdie persoon regtig is, eerder as om jou op jou woord te vat.

Johannes se mense het net so Christus se bestaan bevraagteken. Hulle het gewonder of Hy net ’n mens was, of dat Hy soos ’n spook op aarde was, dat Hy eintlik net ’n geestelike wese was. Ander mense het weer gesê dat Hy eers God geword het toe Hy gedoop is en toe Hy sterf aan die kruis nie meer God was nie.

In hierdie kort gedeelte word uitdruklik gepraat van God die Vader, Jesus die Seun van God en van die Gees.

Ook wat party Sondae heeltemal verby sommige van ons gaan is ons belydenisskrifte… Deesdae, om iemand se aandag te kry is om die woord “Belhar” te sê, daaroor het almal ’n opinie.

’n Ander belangrike belydenis skrif wat uitdruklik oor Jesus se identiteit praat is die Apostoliese Geloofsbelydenis, wat ons so pas opgesê het. Die geloofsbelydenis bestaan uit twaalf artikels, van die twaalf artikels is presies die helfte, ses artikels gewy aan wie Jesus is. Dit wil vir ons sê dat wie Jesus is nogal belangrik is. Ons moet weet wie Hy is.

 

 

 

Ons glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is

en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader

van waar hy sal kom om te oordeel, die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ons glo in Jesus wat ons Here is, wat mens geword het, wat gekruisig is, wat opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel. Jesus wat die dood oorwin het. Jesus wat ten volle mens was en ten volle God was.

Wanneer ons as kerk vanuit ons belydenisse sê dat Jesus as Christus, “Verlosser”, die dood oorwin het, die wêreld oorwin het, beteken dit dat ons as die kerk moet wys hoe en waar dit gebeur, omdat ons glo en bely van hoe en waar dit reeds gebeur het.

Dit wat ons glo, oorwin die wêreld. Om te glo, is ’n manier van bestaan, of nog beter, ’n manier van lewe!

Nou is die vraag, kan ons geloof die wêreld oorwin? Kan jou geloof die wêreld wen?

So as jou vriende jou nie wil glo oor die persoon wat jy ontmoet het nie, dan sal dit waarskynlik slim wees om vir jou vriende te wys watter invloed die persoon op jou lewe het. Jy kan nie aangaan om dieselfde te lewe as jy iemand nuuts ontmoet het nie, die persoon verander hoe jy na die lewe kyk.

Niemand, nie een van ons, wie sê dat ons in Jesus Christus glo kan aangaan om in die sonde te lewe nie. Wie in Jesus glo is dood vir die sonde. Wie Jesus ontmoet het, kan nie steeds aangaan soos hy aangegaan het nie. Anders gaan mense nie jou glo oor wie hierdie Jesus persoon is nie. Omdat jou geloof jou ’n nuwe persoon laat ontmoet het, moet jy vanuit jou geloof die wêreld anders hanteer. Moet jy vanuit geloof anders leef in die wêreld. Moet jy vanuit geloof die wêreld verander.

Nou hoe doen jy dit?

Hoe lewe jy anders? Jy het vir Jesus ontmoet en jy wil nou hê jou vriende moet jou glo oor hierdie Jesus persoon wat jou lewe heeltemal verander het, wat jou lewe nuut gemaak het. Hoe moet jy lewe?

’n Besondere kenmerk van die nuwe lewe, is die onlosmaakbare koppeling van liefde en gehoorsaamheid. Wie Jesus lief het, onderhou Sy gebooie en ook sonder liefde in ’n verhouding is die geringste versoek ’n irritasie of las.

Die nuwe lewe word gekenmerk deur ’n lewe van liefde. Nie deur liefde vir jouself en al die gemaklike dinge by jou huis nie.

Nee, liefde, soos God se gebooie ons leer, liefde vir God en liefde vir ons naaste. Liefde is juis iets wat na buite gerig is, liefde is nie iets wat binne kan bly nie. As jy lief het, wil jy dit deel, liefde kan nie stilbly nie, liefde kan nie stilsit nie. Liefde het oop arms. Liefde het oop hande. Liefde het oop monde. Liefde het oop ore. Liefde het oop oë. As jy werklik hierdie Jesus persoon ontmoet het, is dit jou opdrag om Sy liefde te deel. Jy mag dit nie vir jouself hou nie, as jy werklik lief het, sal jy dit nie vir jouself kan hou nie.

Omdat ons Jesus ken, omdat ons Jesus ontmoet het, is dit ons opdrag om Hom aan ander mense te gaan bekend maak, sodat hulle ook kan glo dat Jesus bestaan. Sodat hulle ook kan deel in die wonderlike liefde wat Hy met ons elkeen kom deel het. Sodat, deur die getuienis van ons wat Jesus ontmoet het, ons die wêreld kan oorwin, omdat Christus reeds die dood oorwin het.

Die vraag, kan jou geloof die wêreld wen?

Die antwoord, met jou lewe in, deur en van liefde, kan jy saam met Jesus die wêreld wen!

die wat wag

Grys is die kleur.
Koud is die melamienvloere.
Te sterk skoonmaakmiddels se
reuk vul die flikkerende gange.

In ‘n eenkant kamertjie, gemerk,
Siekeboeg,

daar sit sy,
soos die mure vaal,
oopmond,
met glaserige oë,

vir die dominee
vir die dokter
vir die verpleegster
vir die familie wat haar wil vergeet

en wag.

– Francois van Dijk.

Matteus 27: Jesus word verhoor

Van Jesus se geboorte het sy lyding reeds begin. Die drama het ‘n nuwe spanningslyn bereik met die was  van sy dissipels se voete, waar Hy die sosiale posisie van ‘n kneg inneem en sy dissipels se voete was. Vanaand beweeg ons verder aan en staan stil, soos ‘n ooggetuie in die gehoor, en kyk hoe Jesus verhoor word deur Pontius Pilatus.

Hierdie verhoor geskied in die omgewing van 75 nC, agtergrondkennis se vir ons dat die gemeente al hoe meer begin verval in materialism, sekularisme, onderlinge liefdeloosheid, geestelike laksheid, wetteloosheid en afvalligheid. Hierdie is die leefwereld waarin Jesus Christus verhoor word.

In hierdie hofsaak weet Matteus se lesers by voorbaat dat die aangeklaagde Jesus geheel en al onskuldig is. Pilatus die regter het maar ‘n minuut of twee nodig om tot dieselfde besef te kom. Jesus se verhoor eindig amper net so gou soos wat dit begin het.

Wat opvallend is, is dat nadat Jesus verhoor was, word die skare, ons, verhoor. Toe Jesus erken het dat Hy koning is, het Hy immers ook per implikasie gese dat Hy die finale regter is. Al het nie Pilatus of die Jode hierdie aanspraak van Jesus hardop, of bewustelik aanvaar nie, begin hulle onmiddelik spartel met die vraag oor hulle eie skuld.

Die eerste groot paradoks in hierdie verhoor is dat die enigste persoon wat deur die howe as moordenaar skuldig bevind is, en gevonnis is, ook die enigste persoon is wat werklik vrygespreek word en as ‘n vry mens wegstap. Barabbas is ‘n vry man.

Die tweede paradoks in die verhoor is dat Pilatus homself vryspreek al weet hy dat hy skuldig is aan Jesus se veroordeling, en dat die Jode skuld aanvaar al weet hulle dat hulle onskuldig is.

Die bordjies word die heeltyd omgedraai in hierdie verhoor. Die skuldige stap vry, en die onskuldige neem self die skuld aan.

Wat ons moet besef is dat as Jesus nie in ons plek veroordeel en tereggestel is nie, was dit klaar met ons almal. En wanneer ons na hierdie ingewikkelde verhoor kyk, lank genoeg kyk, na hoe mense se rolle verander, kom jy voor ‘n ongemaklikheid met jouself te staan.

As ons mooi kyk na Pilatus en wat hy gedoen het, sal ons daarmee begin rekening hou dat ons self al, waarskynlik in ons vroomste oomblikke, lynreg teen God se wil gehandel het. Voordat ons, soos Pilatus, gou ons hande in onskuld was, moet ons eers die gesig van ons eie skuld toelaat om ernstig na ons terug te kyk. En ons moet nie daarvan vergeet die oomblik as ons wegdraai nie.

As ons na hierdie verhoor luister, en onsself op die randte van hierdie gebeure sien staan en kyk na Pilatus se optrede moet ons onthou vir wie Matteus skryf. Spesifiek vir die Christene van die tyd wat afvallig geraak het, die Christene wat goed weet van genade, maar wat vergeet het van die deel van dat hulle moet vrugte dra wat by hulle bekering pas.

Die skrywer wil waarskynlik he dat die verhaal van Jesus se verhoor moet lei tot selfondersoek by ons, ons moet onsself afvrae waar ons onsself skaar. By Barabbas, die een wat skuldig veroordeel is. By die skare wat skree “kruisig Hom” en onskuldig die skuld dra. By Pilatus wat skuldig, homself probeer onskuldig verklaar. Waar staan jy? As jy jou skuld toelaat om terug na jou te kyk, wie kyk terug vir jou?

Pilatus was die Roomse Prefek van Juda. Hy het diens aanvaar in die jaar 26 nC en sy pos vir tien jaar beklee. Min het hy geweet dat dit die beslissende paar jaar in die geskiedenis van die mensdom sou wees en dat hy in die sentrum sou wees van die gebeure wat die geskiedenis radikaal sou verander.

Behalwe vir Maria, is Pilatus die enigste ander mens wie se naam in die Geloofsbelydenis genoem word. Sondag na Sondag word Pilatus onthou, dwarsdeur die wereld, as die een onder wie Jesus gely het.

As ons elke Sondag met die opse van die Geloofsbelydenis opnuut van die splinter in Pilatus se oog bewus word sonder om ‘n slag in sy skoene te staan, sal ons nooit die diepte kan peil van ons eie menslike ellende en skuld oor die keuses wat ons weet ons verkeerd gemaak het nie.

Sondag na Sondag bely ons dat Jesus gekruisig is onder Pontius Pilatus, maar saamgetrek in die naam is almal wat aandadig was aan sy kruisiging. Die Joodse volk, ja, met hulle leiers, godsdienstig en kultureel; die skare mense; die openbare mening; die heidene en hulle leiers; die Romeinse beskawing, ryk, met kennis, kultuur, regsisteem en ‘n soeke na die waarheid; ja, al die mense; ons. Ons, tot vandag toe, ons almal. Omdat ons die duisternis liewer gehad het as die Lig is ons saam aandadig aan Jesus se kruisiging.

Deur die eeue het mense baie gewonder oor waarom Pontius Pilatus by name genoem word in die Christelike geloofsbelydenisse. Daar is waarskynlik verskillende redes daarvoor. Maar dit bly ‘n wesenlike deel daarvan. Hy staan daar namens ons. In ons plek. Pilatus verteenwoordig ons almal in die belydenis van die kerk, in die verhaal van Jesus wat sit aan die regterhand van die Vader. Pilatus se naam staan daar as ‘n ewige herinnering aan ons aandeel in die storie van Jesus. Dat dit ons skuld is dat Hy geskuisig is.

Dit is merkwaardig! Pontius Pilatus is die verteenwoordiger van die Roemeinse Ryk en beskawing, menslik gesproke ‘n hoogtepunt van menslike ontwikkeling en trots. Hy is ‘n regter van die Roemeinse regsisteem, wat ons tot vandag nog waardeer en eerbiedig. Hy vra uitdruklik na die waarheid, soos die denkers en geleerdes van sy tyd gedoen het. Hy worstel om skuld en onskuld uit te vind, om reg te laat geskied.

Pontius Pilatus staan as ewige herinnering aan ons mislukking, of eerder, ons aandadigheid aan die kruisiging van Jesus. Sy naam bly behoue in die belydenis van die kerk as ‘n stuk kritiek op ons, ‘n stuk ontmaskering, ‘n stuk ontbloting, van wie ons waarlik is en wat ons waarlik bedink en doen, selfs in ons beste oomblikke.

Mag ons nooit nalaat om die eintlike eis van die wet, wat barmhartigheid is, na te laat nie, terwyl ons met allerlei streng reels en regulasies mense weer en weer verhoor en veroordeel  nie.

In die geval van Jesus, het die volk saam met die skrifgeleerdes juis probeer om God se eer te beskerm deur vas te hou aan reels en regulasies en in die proses het hulle God se naam soveel meer skade aan gedoen omdat hulle eerder aan reels en regulasies vasgehou het in plaas van om barmhartigheid te toon.

Mag jy besef juis omdat jy reeds gered is deur die onregverdige lyding en dood van Jesus Christus, jy bewus moet wees van jou roeping om met liefde en barmhartigheid teen alle vorme van onreg te veg.

So as jy diep in hierdie spieel kyk, of vanaand terwyl jy jou tande borsel, wie kyk terug vir jou? ‘n Onskuldige skuldige Pilatus wat streng die reels nakom? Of iemand wat bereid is om, al skree die skare hoe hard, met liefde en barmhartigheid op te tree?