Matteus 27: Jesus word verhoor

Van Jesus se geboorte het sy lyding reeds begin. Die drama het ‘n nuwe spanningslyn bereik met die was  van sy dissipels se voete, waar Hy die sosiale posisie van ‘n kneg inneem en sy dissipels se voete was. Vanaand beweeg ons verder aan en staan stil, soos ‘n ooggetuie in die gehoor, en kyk hoe Jesus verhoor word deur Pontius Pilatus.

Hierdie verhoor geskied in die omgewing van 75 nC, agtergrondkennis se vir ons dat die gemeente al hoe meer begin verval in materialism, sekularisme, onderlinge liefdeloosheid, geestelike laksheid, wetteloosheid en afvalligheid. Hierdie is die leefwereld waarin Jesus Christus verhoor word.

In hierdie hofsaak weet Matteus se lesers by voorbaat dat die aangeklaagde Jesus geheel en al onskuldig is. Pilatus die regter het maar ‘n minuut of twee nodig om tot dieselfde besef te kom. Jesus se verhoor eindig amper net so gou soos wat dit begin het.

Wat opvallend is, is dat nadat Jesus verhoor was, word die skare, ons, verhoor. Toe Jesus erken het dat Hy koning is, het Hy immers ook per implikasie gese dat Hy die finale regter is. Al het nie Pilatus of die Jode hierdie aanspraak van Jesus hardop, of bewustelik aanvaar nie, begin hulle onmiddelik spartel met die vraag oor hulle eie skuld.

Die eerste groot paradoks in hierdie verhoor is dat die enigste persoon wat deur die howe as moordenaar skuldig bevind is, en gevonnis is, ook die enigste persoon is wat werklik vrygespreek word en as ‘n vry mens wegstap. Barabbas is ‘n vry man.

Die tweede paradoks in die verhoor is dat Pilatus homself vryspreek al weet hy dat hy skuldig is aan Jesus se veroordeling, en dat die Jode skuld aanvaar al weet hulle dat hulle onskuldig is.

Die bordjies word die heeltyd omgedraai in hierdie verhoor. Die skuldige stap vry, en die onskuldige neem self die skuld aan.

Wat ons moet besef is dat as Jesus nie in ons plek veroordeel en tereggestel is nie, was dit klaar met ons almal. En wanneer ons na hierdie ingewikkelde verhoor kyk, lank genoeg kyk, na hoe mense se rolle verander, kom jy voor ‘n ongemaklikheid met jouself te staan.

As ons mooi kyk na Pilatus en wat hy gedoen het, sal ons daarmee begin rekening hou dat ons self al, waarskynlik in ons vroomste oomblikke, lynreg teen God se wil gehandel het. Voordat ons, soos Pilatus, gou ons hande in onskuld was, moet ons eers die gesig van ons eie skuld toelaat om ernstig na ons terug te kyk. En ons moet nie daarvan vergeet die oomblik as ons wegdraai nie.

As ons na hierdie verhoor luister, en onsself op die randte van hierdie gebeure sien staan en kyk na Pilatus se optrede moet ons onthou vir wie Matteus skryf. Spesifiek vir die Christene van die tyd wat afvallig geraak het, die Christene wat goed weet van genade, maar wat vergeet het van die deel van dat hulle moet vrugte dra wat by hulle bekering pas.

Die skrywer wil waarskynlik he dat die verhaal van Jesus se verhoor moet lei tot selfondersoek by ons, ons moet onsself afvrae waar ons onsself skaar. By Barabbas, die een wat skuldig veroordeel is. By die skare wat skree “kruisig Hom” en onskuldig die skuld dra. By Pilatus wat skuldig, homself probeer onskuldig verklaar. Waar staan jy? As jy jou skuld toelaat om terug na jou te kyk, wie kyk terug vir jou?

Pilatus was die Roomse Prefek van Juda. Hy het diens aanvaar in die jaar 26 nC en sy pos vir tien jaar beklee. Min het hy geweet dat dit die beslissende paar jaar in die geskiedenis van die mensdom sou wees en dat hy in die sentrum sou wees van die gebeure wat die geskiedenis radikaal sou verander.

Behalwe vir Maria, is Pilatus die enigste ander mens wie se naam in die Geloofsbelydenis genoem word. Sondag na Sondag word Pilatus onthou, dwarsdeur die wereld, as die een onder wie Jesus gely het.

As ons elke Sondag met die opse van die Geloofsbelydenis opnuut van die splinter in Pilatus se oog bewus word sonder om ‘n slag in sy skoene te staan, sal ons nooit die diepte kan peil van ons eie menslike ellende en skuld oor die keuses wat ons weet ons verkeerd gemaak het nie.

Sondag na Sondag bely ons dat Jesus gekruisig is onder Pontius Pilatus, maar saamgetrek in die naam is almal wat aandadig was aan sy kruisiging. Die Joodse volk, ja, met hulle leiers, godsdienstig en kultureel; die skare mense; die openbare mening; die heidene en hulle leiers; die Romeinse beskawing, ryk, met kennis, kultuur, regsisteem en ‘n soeke na die waarheid; ja, al die mense; ons. Ons, tot vandag toe, ons almal. Omdat ons die duisternis liewer gehad het as die Lig is ons saam aandadig aan Jesus se kruisiging.

Deur die eeue het mense baie gewonder oor waarom Pontius Pilatus by name genoem word in die Christelike geloofsbelydenisse. Daar is waarskynlik verskillende redes daarvoor. Maar dit bly ‘n wesenlike deel daarvan. Hy staan daar namens ons. In ons plek. Pilatus verteenwoordig ons almal in die belydenis van die kerk, in die verhaal van Jesus wat sit aan die regterhand van die Vader. Pilatus se naam staan daar as ‘n ewige herinnering aan ons aandeel in die storie van Jesus. Dat dit ons skuld is dat Hy geskuisig is.

Dit is merkwaardig! Pontius Pilatus is die verteenwoordiger van die Roemeinse Ryk en beskawing, menslik gesproke ‘n hoogtepunt van menslike ontwikkeling en trots. Hy is ‘n regter van die Roemeinse regsisteem, wat ons tot vandag nog waardeer en eerbiedig. Hy vra uitdruklik na die waarheid, soos die denkers en geleerdes van sy tyd gedoen het. Hy worstel om skuld en onskuld uit te vind, om reg te laat geskied.

Pontius Pilatus staan as ewige herinnering aan ons mislukking, of eerder, ons aandadigheid aan die kruisiging van Jesus. Sy naam bly behoue in die belydenis van die kerk as ‘n stuk kritiek op ons, ‘n stuk ontmaskering, ‘n stuk ontbloting, van wie ons waarlik is en wat ons waarlik bedink en doen, selfs in ons beste oomblikke.

Mag ons nooit nalaat om die eintlike eis van die wet, wat barmhartigheid is, na te laat nie, terwyl ons met allerlei streng reels en regulasies mense weer en weer verhoor en veroordeel  nie.

In die geval van Jesus, het die volk saam met die skrifgeleerdes juis probeer om God se eer te beskerm deur vas te hou aan reels en regulasies en in die proses het hulle God se naam soveel meer skade aan gedoen omdat hulle eerder aan reels en regulasies vasgehou het in plaas van om barmhartigheid te toon.

Mag jy besef juis omdat jy reeds gered is deur die onregverdige lyding en dood van Jesus Christus, jy bewus moet wees van jou roeping om met liefde en barmhartigheid teen alle vorme van onreg te veg.

So as jy diep in hierdie spieel kyk, of vanaand terwyl jy jou tande borsel, wie kyk terug vir jou? ‘n Onskuldige skuldige Pilatus wat streng die reels nakom? Of iemand wat bereid is om, al skree die skare hoe hard, met liefde en barmhartigheid op te tree?

Leave a Reply

Your email address will not be published.