Matteus 1: Familie Foto’s

Die oumense was lief om die foto’s van hulle voorgeslagte in sulke bruin ovaalvormige rame in die sitkamer te hang. Kleiner foto’s van die familie is sorgvuldig in albums bewaar en dit was baie interessant om saam met Oupa of Ouma deur die albums te blaai.

Met groot trots is Jan wat later minister geword het dan aan jou uitgewys toe hy nog ‘n seuntjie was. En hierdie seun het dokter geword en daardie een ‘n bekende in die sakewêreld.

Maar Krisjan, die perdedief, se foto was nie daar nie en ook nie tant Johanna (wat later “Johanna”) geword het en wat almal aan die praat gehad het met haar losse sedes in haar jeugjare nie. En Pieter, wat soek geraak het in die groot stad Johannesburg, se foto is ook soek… Daardie foto’s is stil-stil uit die albums uitgehaal.

Kom kyk saam met my na die familiefoto’s van Jesus. Kyk maar: nie een van die foto’s is doelbewus uitgehaal nie, ten spyte van die mense wat skande oor die familie gebring het. En daar is ‘n hele paar.

Lees Matteus 1.

Geslagsregisters is nie die interessantste leesstof in die Bybel nie… totdat jy begin agterkom wat ook hierdie gedeeltes vir jou wil se, totdat die mense in die geslagsregisters begin lewe kry en met jou begin praat…

Waarom begin Jesus se geboorteverhaal in Matt 1 met ‘n geslagsregister? Matteus skryf aan Joodse leiers, en hy wil vir die Jode wys dat Jesus inderdaad ‘n Jood is. Dat Hy uit die geslag van Dawid kom, en dat Hy die lank beloofde Messias is.

Die Jode was agterdogtig oor Jesus se afkoms: Is Hy dan nie die timmerman se seun nie (Matt 13)? Ken ons dan nie sy pa en ma, sy broers en susters nie? Hy behoort mos nie tot die gesienes onder ons nie.

In Johannes 8 se hulle vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie…” met die sinspeling: “Soos jy nie!” Want Maria het Jesus mos verwag voordat sy getroud was. Hulle sou dit nooit vergeet nie.

En op ‘n ander plek in dieselfde Johannes 8 se hulle: “Ons het mos gesê jy is ‘n Samaritaan” – met ander woorde: “Jy het gemengde bloed in jou are.”

Vir al hierdie mense, en ook vir ons, vertel Matteus presies waar Jesus van Nasaret vandaan kom. En dis allesbehalwe ‘n helde register wat hy opstel. Trouens, ‘n mens kan aande om skinder oor hierdie familie.

Abraham, die vader van die gelowiges, was ‘n man met baie goeie hoedanighede, maar hy het ook op ‘n keer vir die koning van die Egiptenare gesê sy vrou is sy suster. Sara het in haar jong dae, toe sy al getroud was, ‘n verhouding met die koning van Egipte gehad. (Gen 12:19)

Hulle kleinkind, Jakob, was ‘n bedrieër. Selfs sy naam beteken bedrieër – totdat God dit verander het. (Gen 32:28)

Jakob se 4de oudste seun, Juda, het ‘n skande met Tamar oorgekom wat, as dit vandag gebeur het, weke lank die Sondagkoerant sou gehaal het. Dit staan alles te lese in Gen 38.

Nog se ‘n entjie verder in die register verneem ons van Ragab ‘n Kanaäniet – die vrou wat selfs in die Nuwe-Testamentiese tyd nog altyd bekend staan as “Ragab, die prostituut.” (Heb 11:31) Dit was sy wat die Israelitiese verspieders by Jerigo gehelp het en so haar eie lewe gered het.

‘n Volgende persoon op die lys se lewe het in bepaalde opsigte nie juis baie anders gelyk nie. Toe Rut, die Moabitiese vrou, nog ‘n diensmeisie was en by Boas op die lande gewerk het, het sy gewag tot hy een nag sy fees vrolikheid afslaap en toe by hom onder die kombers gaan inkruip…

Haar agterkleinkind was koning Dawid (Matt 1:6) ‘n “Goeie man”. Maar tog iemand wat owerspel met een van sy soldate se vrouens gepleeg het, en toe die vrou swanger word, haar man laat vermoor het!

En so kan ons aangaan. Wat ‘n ontstellende lys name. En daar is al die foto’s in die familie-album. Nie een is uitgeskeer nie.

 

Wat wil hierdie geslagsregister vir ons se? ‘n Hele paar dinge:

  • Dat Jesus Christus die lank beloofde Messias was, die Verlosser, nie net van die Jode nie, maar van die ganse mensdom, en dat Hy uit die geslag van Dawid gekom het soos dit in die Ou-Testament voorspel is: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. (Jes. 11:1) Die Jode vir wie Matteus geskryf het, moes nie daarom twyfel dat Hy uit die geslag van Dawid gekom het nie.
  • Dat Jesus nie net Joodse bloed in sy are gehad het nie, maar dat hy inderdaad van gemengde afkoms was. Dit is die rede waarom die name van die twee heidense vroue in die geslagsregister voorkom: Ragab was ‘n Kanaäniet, en Rut ‘n Moabiet. Twee van Christus se oumas het dus uit die heidendom gekom. Wat wil dit nou weer vir ons se? Dat Jesus verteenwoordiger van die ganse mensdom was en nie net van die Jode nie. In sy bloedlyn is ook die, wat uit die heidendom stam, verteenwoordig. Wanneer Christus uit Maria gebore word, dan word Hy nie net uit die Jodendom gebore nie, maar uit die mensdom!
  • Hy het Hom volkome geïdentifiseer met sondaars. Daarom word Hy genoem: “Immanuel. God met ons.” Hierdie register wil vir ons se: Jesus is gebore uit hierdie sondige geslag. Alhoewel Hy geen sonde gedoen het nie, vloei die bloed van ‘n sondige mensdom in sy are. En juis omdat Hy Hom so volkome met die sondaar geïdentifiseer het, moes Hy ook die prys van die sonde aan die kruis betaal.

Die geslagsregister in Matteus 1 se vir ons: Hy het familie geword van slegte mense. Hy wou familie wees van slegte mense – van leuenaars, bedrieërs, prostitute, en moordenaars! Sondaars! Familie van mense soos Paul die jaloerse, Karen die skindertong, skelmpieter…

Die geslagsregister se: God het familie geword van my en jou! Hy wil Hom vereenselwig met ons, sondaars!

Hoe om God se wil vir jou lewe te bepaal

Die probleem vir die meeste van ons is dat ons nie altyd seker is wat God se wil vir ons lewens is nie. “As die Here maar net aan my sou verskyn en vir my se wat ek moet doen,” is die hartkreet van menige gelowige.

Wanbegrippe rakende die wil van God

• Sommige mense is bang dat God se wil vir hulle iets is wat hulle nie wil doen nie. Sulke verse is totaal ongegrond, en absoluut teenstrydig met die karakter van ons liefdevolle hemelse Vader.
• Sommige tree op asof God se wil verlore is. As gevolg daarvan ontwikkel ons allerhande ‘tegnieke’ om God se wil te vind.
o Een benadering is om ‘n vlies uit te sit. – Rigters 6.
• Jesus het in Johannes 20:29 vir Tomas gese: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is die wat nie gesien het nie en tog glo.”
o Sommige mense trek lootjies. – Jona 1:7.
o Sommige mense soek die wil van die Here deur lukraak ‘n teksvers te soek.

Die kenmerke van God se wil

• Daar is twee fasette van God se wil in die Skrif.
o Eerstens is daar sy wil van voorneme
• “Die Here die Almagtige het ‘n eed afgele: ‘Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees, wat Ek besluit het, sal gebeur.’” – Jesaja 14:24.
o Tweedens is daar sy wil van verlange
• Daar is dinge wat Hy graag wil he moet gebeur, maar dit gebeur nie altyd nie. God het ons ‘n vrye keuse gegee, om te besluit of ons ‘n opdrag wil gehoorsaam of nie.

God se geopenbaarde wil vir alle mense

• Bekering
• Heiligmaking
• Opofferende diens
• Onderwerping aan gesag
• Danksegging

God se spesifieke wil vir ons as individue

• Hier is die vraag: Wie is in beheer van ons lewens as ons God se geopenbaarde wil as leefwyse gehoorsaam? Dit kan slegs die Heilige Gees wees; en wanneer die Heilige Gees in beheer is, ervaar ons dat alles wat ons begeer goed is.
• Volgende vraag: Hoe behoort ons te bid? Na gelang van ons begeertes of na gelang van God se wil? Die antwoord is, ja. Beide is geldige riglyne vir gebed. “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil he, en julle sal dit kry.” – Johannes 15:7.

God se beloftes aangaande leiding

• Die eerste riglyn vin dons in Kolossense 3:15 waar vir ons gese word dat die vrede van Christus in ons lewens die deurslag moet gee.
• Nog ‘n riglyn aangaande God se wil is dat ons die eerste stap moet neem.
• Nog ‘n manier waarop God sy kinders lei, is om deure oop of toe te maak.
• Let egter daarop dat as daar ‘n konflik ontstaan tussen geleentheid en gemoedsrus, gemoedsrus altyd voorkeur moet kry.
• Vanselfsprekend kry God se Woord voorkeur bo enigiets anders wanneer dit by leiding kom.

Die implikasies vir ‘n gelowige se lewe

• Ons moet God se geskrewe Woord gehoorsaam. God se wil vir ons sal nooit met die Skrif teenstrydig wees nie.
• As jy wel in gehoorsaamheid aan God se geopenbaarde wil wandel, gaan dan voort met wat jy wil doen as dit vir jou reg lyk.

‘n Waarskuwing moet egter bygevoeg word. Moenie deure oop forseer nie. Moenie jou wil op die Here afdwing nie, want die kanse is goed dat Hy jou jou sin sal gee, maar jy sal nie vervuld wees nie. As ons lank genoeg aanhou, sal die Here ons uiteindelik gee wat ons wil he – tot ons eie nadeel.