In die tyd van Jesus terwyl Hy rondgereis het van die een dorpie na die ander was daar ‘n groep geleerdes wat baie oor Jesus gepraat het, maar min met Hom gepraat het. Hulle het voorgegee dat hulle baie van die wet weet, en ook hoe dit tot uitvoering behoort te kom. Hulle het ‘n lewe gelei van streng nakom van die wet.
Die vierde gebod sê immers: “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as ‘n gereelde rusdag geheilig.”
Die sewende of die Sabbat dag is dus geskep as ‘n rustyd, ‘n tyd van herstel van kragte, ‘n tyd om asem te skep. Die sabbatdag is vir die mens gemaak om te herstel en ook om weer in lyn met die Here se wil te kom, sodat die mens Hom verheerlik in wat hulle doen.
Meer as die sewende dag wat die sabbatdag was, was daar ook die sabbatsjaar. Elke sewende jaar is die lande gelaat om te herstel. Die grond moet rus. Die bome, die wingerde, die lande is gelos om te groei, sonder dat daar gesnoei word, sodat dit kan rus. Ook is die bome, wingerde, lande oopgestel vir die gemeenskap om te pluk of te oes soos hulle wil, sonder enige koste. Herstel nie net van die grond nie, maar ook aan ‘n groter gemeenskap. So vloei die gedagte van die sabbatdag uit in die sabbatsjaar. ‘n Tyd van rus, ‘n tyd van herstel vir grond en mens.
Dit kulmineer uiteindelik in die jubeljaar. 7 x 7 = 49, en met die 50ste jaar was ‘n jubeljaar aangekondig. Met die jubeljaar was alle slawe vrygestel, skuld afgelas, en grond aan die oorspronklike familie terug gegee. Weer kom die gedagte van herstel sterk na vore, van die individu as slaaf, maar ook herstel van die familie in gemeenskap.
So ‘n ingesteldheid van rus, herstel en asemskep verheerlik God. Wanneer ons rus maak ons tyd om in gesprek met die Here te tree oor waarheen ons op pad is, saam met Hom. Wanneer ons herstel, herstel ons die skeppingsritmes soos Hy dit bedoel het. Wanneer ons asem skep, maak ons ook ruimte vir ander om asem te skep.
Die Sabbatdag soos die geleerdes dit gesien het was ‘n dag van stilsit en bid, en niks anders nie. Wanneer die man met die gebreklike regterhand die tempel binnekom is die geleerdes se oë op Jesus gerig. Wat gaan hy maak?
Toe sê Jesus vir hulle: “Nou vra Ek julle: Mag ‘n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?” Met hierdie vraag verwerp Jesus die oorsaak gevolg gedagtes van die geleerdes, en bring die eintlike kwessie na die oppervlak. Vir Jesus bestaan daar nie niks doen nie. Daar is net twee moontlikhede: goed doen of kwaad doen. As die dag van die Here geheilig moet word, is die enigste weg: om goed te doen. Daarmee was Jesus besig, maar sy teenstanders wat voorgegee het dat hull op die sabbatdag niks doen nie, was in werklikheid besig om kwaad te doen, en teen Jesus planne te maak.
Die spanning kan met ‘n mespunt gesny word, eks seker ons kon ‘n speld in die sinagoge hoor val terwyl Jesus die fariseërs aangekyk het. Een vir een kyk Hy na die fariseërs. Markus 3 vertel dat Hy hulle rondom Hom kwaad aangekyk het en was diep bedroef oor hulle verhardheid. Jesus het hulle kwaad aangekyk. Hulle gee voor om niks te doen nie, terwyl hulle eintlik besig is om kwaad te doen, terwyl hulle nie besig is om herstel te bring nie, terwyl hulle nie ruimte vir asem-haal skep nie.
Nadat Jesus rondom Hom na die geleerdes gekyk het, kyk Hy met al sy fokus na die persoon wat nou in die middel van die vertrek staan. Hy sê vir die man met die gebreklike regterhand om sy hand uit te steek.
Terwyl al die geleerdes toekyk, met ‘n vyandigheid in hulle gemoed, vra Jesus vir die man om sy gebrek bloot te lê. Dink net hoe moeilik moes dit vir die man gewees het om sy gebrek so vir almal te wys.
Jesus vra nie net vir die man met die gebreklike hand om sy gebrek te wys nie, maar ook so vir ons elkeen. Ons elkeen het ‘n gebrek. ‘n Doring in ons vlees. Iets wat ons pla. Iets wat keer. Vir hierdie man was dit sy regterhand, waarskynlik die hand waarmee hy meeste van sy alledaagse take moes verrig. Hy was ‘n ystersmid van beroep wat beteken het dat die gebrek met sy hand hom waarskynlik sy werk gekos het. Vir ons is dit dalk kanker, ‘n moeilike familielid, ‘n besluit wat ons moet neem, ‘n gebrek aan deernis, ‘n gebrek aan vriende, ‘n gebrek aan tyd. Jesus vra ons om daardie gebrek publiek te maak sodat Hy herstel kan bring, sodat Hy kan genees.
Hy wil vir ons in die middel van sake plaas, terwyl die spanning hoog is, om ons gebreke bloot te lê. Hande uit die sakke, kaalvoet, voor Hom. Hy wil hê dat almal die plooie op jou hande sien, die sny oor jou pols, jou ongeknipte naels, Hy wil hê dat jy jouself met al jou gebreke aan Hom gee, sodat Hy jou kan herstel. Hy wil goed wees vir jou.
Wanneer ons oor herstel en gebrek praat is dit ook noodsaaklik om oor respek te praat, veral op die Sabbat. Die Here leer ons dat daar ‘n sekere orde aan die lewe is; leef, en indien gebrek, herstel. Daarvoor bou Hy ook tyd in die ritme van die lewe vir ons in.
Het jy al gewonder hoe iemand moet voel wanneer jy hulle ontneem van hersteltyd, wanneer jy nie kans gee om nuut te begin nie? Hoe laat jy iemand voel wanneer jy hulle in die rede val, hoe laat jy iemand voel wanneer hulle jou vra om hulp, hoe laat jy iemand voel wanneer jy meerderwaardig, soos die geleerdes, na hulle kyk of met hulle praat?
Die Here het ons almal geseën met spesiale talente en gawes, ons elkeen kan baie doen, maar ons elkeen kan nie alles doen nie. Ek kan goeie stories vertel, maar ek moet liewers nie aan ‘n motor se enjin probeer werk nie. Dit is my gebrek. Ek is gebrekkig as dit by motors kom, ek is gebreklik as dit by motors kom. Dit maak egter nie van my ‘n minderwaardige mens nie. Ek is steeds as mens baie werd. Die Here het my op ‘n sekere manier geskape sodat ek op ‘n sekere manier waarde kan toevoeg tot die samelewing.
Ek is geskep deur God almagtig met waarde, inherente waarde. Ek is nie waardevol omdat julle so sê nie, ek is waardevol omdat God my gemaak het. Daarom, ongeag kan ek waarde toevoeg tot die samelewing.
Die man glo en gehoorsaam, en sy hand word onmiddellik heeltemal gesond. Daarmee het Jesus nie die heiliging van die sabbatdag verwerp nie, maar betekenis daaraan gegee wat in ooreenstemming met die bedoeling van God is. Dit moet aangewend word tot verheerliking van God. Daarom, ook op die sabbatdag moet die grootste gebod in aksie oorgaan, om liefde tot God en liefde tot ons naaste te wys. Wanneer ons vanuit liefde optree, omdat die Here ons lief het, en ons Hom lief het, kan ons nie anders as om met respek teenoor ons naaste op te tree nie.
Die teenpool is ook waar. Wanneer ons sonder respek optree, tree ons ook sonder liefde op. Die geleerdes het nie respek getoon vir die man met die gebreklike hand nie, daarom het hulle op hom neergekyk toe hy die sinagoge binnekom. Hulle het nie met liefdesoë na hom gekyk nie. Die geleerdes het ook nie met respek teenoor Jesus opgetree nie. Hulle het stilgebly en afgekyk terwyl Jesus hulle kwaad aankyk, hulle het toegelaat dat die sinagoge in ‘n liefdelose ruimte verander. Hulle het nie heling gebring nie. Wanneer daar sonder respek opgetree word, word daar sonder liefde opgetree, en wanneer daar sonder liefde opgetree word, word daar kwaad gedoen.
Hy het die man genees, en sy hand was gesond. Maar hulle, die geleerdes, het rasend van woede geword en onder mekaar geredeneer oor wat hulle Jesus sou aandoen… Vreemd hoe die wat menswaardigheid herstel aangegluur word deur die wat tradisie in plek wil hou…
Wat sien ons as ons met ons tradisionele gedagtes na hierdie situasie kyk?
Sien ons die sabbatdag as ‘n dag van kerk en huis, niks anders, slegs as iemand se lewe in gevaar is kan ons winkels toe gaan. Sien ons probleme as ‘n persoonlike ding wat persoonlik op ons eie hanteer moet word, niemand hoef te weet wat in my lewe aangaan nie. Sien ons hoe ons die perfekte beeld voorhou, ons is mos darm beter as dit.
Wat as ons met ons harte die situasie benader?
Sal ons die sabbatdag sien as ‘n dag van heling en herstel, ‘n dag van soveel as moontlik goed doen om op so ‘n manier eer aan God te bring? Sal ons sien dat dit goed is om ons probleme publiek te maak, sodat ons as gemeenskap saam daaraan kan werk, saam daaraan kan dra, saam daarvoor kan bid? Ook sodat ons bewus kan wees daarvan dat almal ‘n behoefte het aan noodverligting, dat almal ‘n behoefte het om oor hul seer te praat. Sal ons begin om menswaardig op te tree?
Om menswaardig op te tree vra dat ons ons meerderwaardigheid prysgee. Wanneer ons begin om mekaar werklik raak te sien, sal ons nie kyk met ons oë nie, ons sal nie luister met ons ore nie, ons sal selfs nie eers voel met ons hande nie. Ons sal begin om werklik eensgesind te leef wanneer ons almal mekaar se gebrek en seer met ‘n diepe emosie aanskou, ons sal begin om menswaardig te leef die oomblik wanneer ons ander se seer ons eie maak, dan en slegs dan sal ons verstaan wat dit beteken om met respek teenoor ‘n ander op te tree. Wanneer ons insien dat die ander se situasie net so maklik ons eie situasie kon gewees het! Al wat dit verhoed is die genade van God. Laat ons die kaarte gebruik wat Hy aan ons uitgedeel het, nie om op ander neer te kyk nie, maar eerder om die grond gelyk te maak.
Jesus het dit gebruik wat in Sy mag was om die grond gelyk te maak tussen die man met die gebreklike hand en die geleerdes. Die Woord leer vir ons dat dieselfde krag wat die Here gebruik het om Christus uit die dood op te wek in ons is, so kom ons gebruik dit wat in ons is om die grond gelyk te maak. Gelyk te maak vir ‘n dag van herstel, gelyk te maak vir ‘n dag van publieke broosheid, gelyk te maak vir ‘n dag van menswaardigheid.
Amen.