1 Timoteus: Die Here se genade is genoeg

In die konteks van die Ou Testament roep die Here na Moses uit en openbaar Homself as: “…die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” (Eks. 34:6) In ruil daarvoor verwag die Here van Israel gehoorsaamheid en trou aan Hom. In die Nuwe Testament word Paulus se verstaan van verlossing deur genade oor geloof in Jesus Christus die kombinasie van beide Ou en Nuwe Testamentiese evangelie. Die kerk het daarom deur die eeue al baie oor die onderwerp van genade gesels.

 

Wat Paulus in 1 Timoteus oor genade en verlossing geskryf het is egter geen akademiese onderwerp nie. Inteendeel, dit is die manier hoe die Here ‘n mens se lewe ingrypend verander het.

 

Paulus was ‘n Jood van Tarsus in Silisië, ‘n burger van ‘n belangrike stad (Hand. 21:39), maar het in Jerusalem grootgeword. As leerling van Gamaliël is hy volgens die streng opvatting van die wet van die voorvaders opgevoed (Hand. 22:3). Hy het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. In die Joodse leer het hy bo baie van sy volksgenote uitgestyg, want hy was ‘n fanatiese yweraar vir die oorgelewerde leer van die voorvaders (Gal. 1:13-14).

 

Intussen het Paulus soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevangene te neem en na Jerusalem toe te bring (Hand. 9:1). Op hierdie reis na Damaskus het hy toe die Here in ‘n vision gehoor en gesien, wat sy lewe heeltemal verander het, en hom in ‘n apostel verander het. Uit die oogpunt van 1 Timoteus kan ons vandag sê dat hierdie vision waarin die Here aan Paulus verskyn het, ‘n daad van genade was.

 

Die Paulus voor die genade-ervaring was iemand wat gelaster het, iemand wat vervolg het, hy was ‘n man van geweld (1 Tim. 1:13). Hy was selfs iemand wat gehelp het, en saamgestem het, met die steniging van Stephanus (Hand. 7:57-8:1). Die Paulus na die genade-ervaring is iemand wat bekend staan as geweldloos, en wat selfs slim praatjies verwerp het, en eerder op Christus vertrou het vir sy bediening. Die genade-ervaring het duidelik van Paulus iemand heeltemal anders gemaak, hy het dit nie uit sy eie gedoen nie…

 

Vir die skrywer van 1 Timoteus is persoonlike ervaring belangriker as dogma en teologie, veral wanneer dit kom by genade en verlossing. Dit is die kern wat die voorbeeld van Paulus se bekeringsverhaal wil oordra. Ook vroeër in 1 Tim. 1:4 kom die gedagte na voor wanneer Paulus sê: “Hulle (die mense wat vals leringe versprei) moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee.”

 

Sulke “eindelose geslagsregisters” kan moontlik ‘n verwysing wees na Matteus 1 en Lukas 3, wie se geslagregisters van Jesus verskil.

 

In hierdie eerste gedeelte van verse 12-14 bedank Paulus die Here vir wat Hy vir hom gedoen het. Dit is duidelik dat die Here baie vir Paulus gedoen het. Hy het hom wat eers almal sleg gesê het, vervolg het, en selfs deelgeneem het aan die steniging van Stephanus, gered.

 

Daarom gaan vandag al minder en minder oor wat ons is, oor wie ons is, en al meer en meer oor wie Jesus Christus is…

 

Paulus het gedink hy is op die regte pad, op die pad na Damaskus om nog ‘n paar Christene bymekaar te maak om in die tronk te gooi, mans en vrouens. Hoe baie dink ons nie ons is op die regte pad nie? Hoe baie van ons dink nie nou, op hierdie oomblik ons is op die regte pad nie? Terwyl ons sonde ons dalk blind maak vir wat regtig om ons aan die gang is… Terwyl ons besig is om die pad te stap, blind. Na Paulus se ontmoeting met die Here op die pad was hy vir drie dae blind… Ek wonder hoekom… Het sy genade-ervaring met die Here dalk gemaak dat hy bewus geraak het van sy eintlike blindheid?

 

Sy blindheid vir vryheid, sy blindheid vir vreugde, sy blindheid vir lewe. Daarom moes Paulus  op die grond val met sy ontmoeting met die Lig, die Lig wat alle donkerte uit sy lewe uitdoof, die Lig wat hom uit gevangenis bevry, die Lig wat hom van afkyk frons na opkyk lag neem, die Lig wat hom al minder op die dood en al meer op die lewe laat fokus.

 

Die genade van God het nie net Paulus se lewe een maal verander nie, maar het voortgewerk om sy lewe vol en vrugbaar te maak. Sy nuwe lewe in Christus Jesus het nou ryklik gedeel in die krag van Christus, die geloof en die liefde. Daarom kon hy ten volle uit die genade van Christus lewe.

 

Wat in Paulus se lewe gebeur het, bevestig die waarheid van die woord dat Christus in die wêreld gekom het om sondaars te red. Om dit te beklemtoon skryf Paulus: “Luister hierna, want niemand kan hieroor stry nie…” of “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word…” Hierdie formule kom vyf maal in die Nuwe Testament voor en nêrens anders nie, elke keer gekoppel aan die genade van God.

 

Jesus het aan Saggeüs in Lukas 19:10 gesê: “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was…” Die waarheid van hierdie woorde word bevestig deur wat met Paulus gebeur het. Hy is gered, terwyl hy eintlik die straf van God verdien het.

 

Juis omdat hy die lewe nie kon verdien nie, dank hy sy lewe aan die verdraagsaamheid, die genade, van God deur Jesus Christus. Hy het nie moed verloor met selfs nie slegste onder die slegtes nie. Kragtige woorde! Hoe gou verloor ons nie moed met ander mense nie, hoe gou verloor ons nie moed met selfs ons vriende nie? Die Here het nooit moed met Paulus verloor nie. Verdraagsaam, lankmoedig, vol liefde was die Here met Paulus, inderdaad ook daarin ‘n voorbeeld vir ons.

 

Op grond van hierdie verdraagsaamheid het Paulus ook ‘n hoë waarde toegeken aan die verdraagsaamheid by elkeen wat geroepe is om die evangelie te bedien. Dit beteken nie net dat ons dominees verdraagsaam, lankmoedig en vol liefde met almal moet wees nie. Nie net ons dominees is geroepe om die evangelie te bedien nie.

 

Mat. 28:19 gee aan ons almal die opdrag om die evangelie te verkondig. Daarom moet ons almal met mekaar lankmoedig wees, ons almal moet met mekaar uithou, ons almal moet geduldig met mekaar wees. En nie sodat ons iets uit die verhouding kan kry nie, maar ter wille van God, ter wille van die goeie nuus. Omdat die Here geduldig met ons elkeen is, verwag Hy van ons om ook so geduldig met mekaar te wees.

 

Niemand moet dink hy of sy het al teveel sonde gedoen om gered te word nie, want die genade is groter as die sonde. Die Here wat vir Paulus gered het, kan ook vir jou red.

 

In hierdie laaste vers 17 rig Paulus ‘n loflied aan die Here. Die getuienis van die persoonlike ondervinding van die genade van God loop uit op ‘n gebed waarin die lof van God gesing word.

 

In sy skrywe aan Timoteus sê Paulus vir die Here dankie vir wat Hy in sy lewe gedoen het, Paulus verduidelik die Here se doel met sy verlossing, en dan rig hy ‘n loflied tot die Here om weereens sy dank uit te spreek. Die punt wat Paulus in hierdie gedeelte wil maak is dat sy eie verlossing en daarmee saam elke mens se verlossing, nie verdien kan word nie, maar die gevolg is van God se genade.

 

Die Here se genade is genoeg vir Paulus se verlossing en daarom ook vir Timoteus se bediening in daardie moeilike konteks. Daarom is die Here se genade ook vir ons genoeg, in ons moeilike omgewings.

 

Paulus sluit af met “Amen”. In die sinagoge, en ook in die vroeë Christelike gemeentes, het almal teenwoordig saam die “Amen” uitgespreek, en daarmee saamgestem met die uitspraak van lof. Lof vir die lankmoedige genade van die Here Jesus Christus, ons verlosser.

 

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *