Psalm 23: Die Here is my sekuriteitsmaatskappy ek voel veilig

Psalm 23 nooi jou om ‘n oomblik stil te staan by die hoop wat God gee. Mag Psalm 23 jou aandag ‘n oomblik vashou by al die fasette van God se troos en omgee, versorging en bewaring, redding en troos. Mag dit jou aanmoedig om opnuut te leef vanuit die hoop wat in jou is.

 

Raak bewus van al jou emosies wat in jou na vore kom vanoggend. Ontvang die frustrasie of speelsheid, woede of voortvarendheid, pyn of hoop. Nooi al die emosies in en praat met God daaroor vanoggend.

 

Psalms 23 is ‘n baie gewilde Psalm. Vir baie van ons is dit die Psalm waaraan ons eerste dink as ons Psalms dink, en dalk selfs die eerste verse as ons aan die Bybel dink. Psalm 23 het baie doen met metafore. ‘n Metafoor wys heen na iets meer. En twee beelde wat prominent in hierdie Psalm voorkom is die van herder en van gasheer.

 

Die ervare herder weet waar om die beste weiding in ‘n redelike onherbergsame landstreek te vind. Sy versadigde kudde vlei hulle dan neer in die groen gras van die veld. Kos moet ook aangevul word met water. Die herder bring sy kudde by ‘n plek waar hulle rustig kan drink sonder vrees vir wilde diere of ander gevare. Op hierdie manier word die lewenskrag van die uitgeputte skaap herstel. Selfs al lei die herder die skape op gevaarlike bergpaaie met hulle bedrieglike afgronde is daar geen vrees by die kudde nie. Die herder is immers daar. Sy stok, ‘n verdedigingswapen, en sy staf met die bekende krom punt, bring rustige sekerheid.

 

Hierdie metafoor beeld op ‘n onvergeetlike wyse die Goddelike sorg vir sy kinders uit. Die beelde van groen velde en rustige waters is pragtige beelde. Ons kan amper sê dat dit wil klink asof hierdie skape op ‘n permanente vakansie is saam met hierdie goeie herder. Hy gee hulle krag.

 

Die herder is die een wat genoeg kos gee, die een wat beskerm, die een wat lei, en ook die een wat onthaal. Wanneer hierdie herder onthaal word bekers tot die randjie toe vol gemaak, word daar lekker geëet, word daar gedans en gelag. Hierdie herder se goedheid word vir lank onthou, soos dáárdie Desember vakansie waarvan almal nou nog praat. Toe die hele familie bymekaar was, of toe ons net op ons eie was en rustig na die veld of see kon kyk terwyl die son sak.

 

Psalm 23 laat my aan vakansie dink. Aan ‘n plek waarheen ‘n mens kan gaan om battery te herlaai. ‘n Plek waar gerus kan word weg van die alledaagse geraas.

 

Verbeel jou jy bly in die besige Moederstad, met al haar verkeer en baie liggies wat weerkaats oor die swart swart see. Of verbeel jou jy is selfs net vir ‘n dag daar om inkopies te doen of ‘n belangrike afspraak het om na te kom. Besig. So besig. “Besig” het ‘n status woord geraak. In vandag se tye word woorde soos die van Psalm 23 al dowwer, al stiller. Wie het tyd om op hul groen-waterbeperkte-gras te sit saam met hul kinders? Wie het tyd om hul voete in hul swembad te dip, wat nog te sê van ‘n helder bergstroompie?

 

Ons het ‘n vakansie nodig, ons het tyd nodig, en daarom kom Psalm 23 vanoggend na ons elkeen in ‘n nuwe vorm:

 

1Die Here is my sekuriteitsmaatskappy

ek voel veilig.

2Hy laat my slaap onder my warm duvet.

By Hom is geen waterbeperkings of enige droogtes nie.

3Hy laat groei my gras.

 

Hy keer dat my bande bars.

Hy sorg dat Google Maps akkuraat is

tot die eer van sy Naam.

 

4Selfs al hou Bainskloofpas se draaie nie op nie,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

 

5U laat staan my om ‘n Karoo-plaas braaivleisvuur,

terwyl my vyande moet toekyk.

U ontvang my soos Jan Braai,

ek word oorlaai met rooiwyn, skaaptjoppies en aartappelslaai.

6U goedheid en liefde

sal lank by my bly

en ek sal tuis wees

in my huis, in U huis,

vir altyd.

 

Met vakansie is die Here jou getroue beskermer in die vorm van jou sekuriteitsmaatskappy.

Met vakansie is die Here jou betroubare leidsman in die vorm van jou slimfoon.

Met vakansie is die Here jou liefdevolle gasheer in die vorm jou braaivleisvuur.

 

Wanneer jy op pad is wil jou herder jou laat verstaan dat alles veilig is, jy ingesluit. Jou motor het sy Tracker. Jou versekering sal sorg vir enige skade, of dit nou aan jou motor is en of dit by die huis is, jy sal niks kort kom nie. Wat belangrik is dra jy saam met jou in jou hart en gedagtes. Jou herder sorg selfs dat daar na jou mediese toestand gekyk word sou jy iets oorkom op pad na jou waters van rus.

 

Die Here is jou getroue beskermer. Hy volg jou, Hy verseker jou van genoeg.

 

Wanneer jy op pad is wil jou herder jou ook nie laat verdwaal nie, daarom het Hy voorsien dat iemand slim Google Maps uitgedink het. Hy lei jou op die regte paaie, tot die eer van sy Naam.

 

Die Here is jou betroubare leidsman. Jy kan op sy leiding vertrou om by jou waters van rus uit te kom.

 

En wanneer jy uit die Kaap is, oor Bainskloof, en op pad na die Karoo waar jy om jou braaivleisvuur gaan staan is die Here ook daar. Hy ontvang jou in liefde, in die stille oopte, waar daar genoeg tyd en plek is om asem te kan haal. Nou stop die stad se gejaag eers. Nou raak jy rustig.

 

Luister.

Asem.

Ruik jy die stof, voel jy die klippe, sien jy al die vlamme uit die rook uit opstaan?

 

Ook daar is die Here. Hy is besig om vir jou ‘n tafeldoek in die wind oop te gooi. Die koeldrank en wyn word oopgemaak en op die tafel gepak. Genoeg glase wat blink in die namiddag son. Simba tjippies in hout bakkies. Tarentale wat raas in die verte en die vlamme staan al hoër. Die toeknyprooster word vol skaaptjoppies gepak, darem ‘n worsie ook. Dit raak skemer. Kerse dans in die wind terwyl messe en vurke in borde gesels. Die sterre knipoog. Jy is tuis. Jy het jou herder se kraal gevind. Rus, sy kussing is sag, sy duvet is warm, en more oggend vroeg sal Sy blikbeker met koffie vir jou wag.

 

Jy sal tuis wees, in Sy huis.

Die Here is jou herder,

Hy gee vir jou genoeg.

Hy laat jou rus.

Hy gee jou nuwe krag.

Hy wag vir jou!

So wanneer gaan jy vakansie hou?

Hebreërs 11: Om te glo is…

Hebreërs 11:1 vertel vir ons dat, om te glo, is om seker te wees van die dinge waarop ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

 

Maar wat beteken dit om te glo? Is dit ‘n sekere manier van leef? ‘n Sekere soort gevoel? Is dit iets wat ek moet doen? En wanneer kan ek seker wees dat ek glo?

 

In Hebreërs 11 gee die skrywer vir ons ‘n reeks goeie voorbeelde uit die tyd van die Ou Testamente van wat dit beteken om te glo, of gelowig te wees.

 

  • Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain.
  • Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het.
  • Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kan word nie.
  • Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang.
  • Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ‘n kind te verwek, omdat hy God wat die beloof het, getrou geag het.
  • Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan.
  • Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
  • Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.
  • Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.
  • Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter.
  • Omdat Moses geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was.
  • Omdat Moses geglo het, het hy die Pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.
  • Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.
  • Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.
  • Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met die wat aan God ongehoorsaam was nie.

 

Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

 

By elkeen van hierdie voorbeelde van geloofsgetuies laat die skrywer ons iets sien wat die geloofsgetuie gedoen het. Ons sien vir Noag en sy ark, ons sien vir Abraham en Sara wat sukkel om kinders te kry, ons sien vir Moses wat sy kierie oor die Rooisee uitsteek, ons sien die vir Ragab die prostituut met haar rooi tou, ons sien die Israeliete wat om Jerigo se mure stap.

 

Waarom is sien en dalk meer spesifiek nie-sien-nie op die voorgrond wanneer ons oor geloof praat? En hoe dit verband met mekaar?

 

Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Om te weet dat dit wat belowe is sal gebeur. Die reën sal kom. Die kind sal kom. Die see sal oopgaan. Die mure sal val. Geloof is om oortuig te wees dat die dinge wat belowe is sal gebeur.

 

Die ander vraag is natuurlik, wil jy hê die dinge moet gebeur of wil God hê dat die dinge moet gebeur? En wat sê dit van jou geloof?

 

Geloof en vertroue gaan baie naby saam met mekaar. ‘n Gelowige wat nie kan vertrou dat die Here die beste vir hom of haar wil hê nie sukkel. ‘n Gelowige wat nie kan vertrou dat die Here se beloftes die beste vir hom of haar is nie gaan sukkel. Daarom vra geloof om verby jouself te kyk en om raak te sien wat die Here sien, om raak te sien wat eintlik die beste is.

 

Romeine 10:8-10 sê die volgende: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”

 

Geloof is iets wat nie net in ons koppe aangaan nie, maar ook iets wat in ons monde gaan lê om te vertel van dit wat gebeur het, van dit wat jy gesien het. Geloof is ook iets wat verder afsak na ons harte toe, iets wat ons aanvoel. Wanneer jy, sonder dat jy kan verduidelik, weet jy is op die regte plek in jou lewe, is jy besig om te glo vanuit jou hart.

 

Jakobus 2:14 en 21-22 sê: “’n Mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep…Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want die woord kan julle red. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.”

 

Nou gaan Jakobus ‘n stappie verder en sê dat die geloof wat in ons gedagtes, monde en harte is verder moet gaan na ons hande en voete toe. Dat die wat gelowig is dit moet doen wat hulle glo. Ons kan nie net Sondag na Sondag luister na mooi boodskappies en nie toelaat dat dit ons leefwyse verander nie.

 

As ons nie anders begin leef as gevolg van dit wat ons hoor nie, glo ons nie regtig wat ons hoor nie, glo ons nie regtig wat ons voel nie, glo ons nie regtig wat ons lees nie. As ons nie doen wat die woord sê nie, bedrieg ons onsself. Dan kyk ons oor en oor na onsself in die spieël en elke keer wat ons wegdraai van die spieël vergeet ons dadelik wat ons gesien het.

 

Dan is daar ook die omskrywing wat die Heidelbergse Kategismus (een van ons belydenisskrifte vanuit die Reformasietyd, 1563) van geloof gee:

 

Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

 

As ons nou terugkyk sal ons sien dat geloof vertroue (in my hart), kennis (in my verstand/hoof), woorde (in my mond) en dade (my hande/voete/lewe) is. Wanneer een van hierdie elemente ontbreek, raak ons geloofslewe eensydig en arm.

 

  • wanneer my geloof kennis kortkom – dit wil sê los raak van die Skrif – loop dit gevaar om te begin verdwaal in allerlei onbybelse sieninge.
  • wanneer my geloof vertroue kortkom – dit wil sê los raak van ‘n persoonlike verhouding met God – loop dit gevaar om koud, rigied en liefdeloos te raak.
  • wanneer my geloof woorde kortkom – dit wil sê nooit van gesê of getuig word nie – loop dit gevaar om in myself toegesluit te raak en te sterf.
  • wanneer my geloof dade kortkom – dit wil sê nooit sigbaar en konkreet gedoen word – loop dit gevaar om maklik skynheilig en selfsugtig te raak.

 

Wat sou ek kon doen om in my geloof – in al vier aspekte – te groei?

 

Om jou Bybel gereeld te lees sal jou help om nie te verdwaal nie. Om gereeld tyd saam met die Here te spandeer, deur stiltetyd sal jy nie koud en liefdeloos raak nie. Om te getuig van hoe Hy met en in jou lewe werk sal keer dat jy in jouself toegesluit raak. Deur gereeld te doen wat jy glo sal keer dat jy skynheilig en selfsugtig raak.

 

Sola Fide: Deur geloof alleen kan ons dink oor, vertrou op, praat met en doen saam met God, die Vader, Seun en Heilige Gees.

Johannes 6: Wie hierdie brood eet sal lewe!

Genesis 9:4 beveel: “Julle mag net nie vleis eet met sy lewe in, dit is met sy bloed in nie.”

 

Teen hierdie agtergrond praat Jesus met die Joodse gemeenskap in die sinagoge in Kapernaum oor hulle “eetgewoontes”.

 

Eetgewoontes is ‘n baie persoonlike ding, en tog ook so alledaags. Ons moet tog elke dag eet om ons dinge te kan doen. Eet jy Weetbix of ‘n Smoothie in die oggend? Het jy ‘n kosblik vir pouse of is die snoepie jou kosblik? Is julle as gesin saam vir middagete of maak julle vir mekaar tyd in die aand? Het julle ‘n ronde, vierkantige of reghoekige etenstafel? Of sit julle voor die televisie en eet? Eetgewoontes, iets waaroor ons nie baie dink nie, maar wat tog so belangrik is.

 

Wanneer jy wel bewus raak van jou eetgewoontes is die oomblik as jy oorslaap by ‘n maatjie of by iemand anders aan tafel sit. Hoe werk al hierdie messe en vurke wat nou voor my lê? Watter kant is my kleinbordjie? Skaapkop? Afval? Beet?

 

Hier in Johannes 6 is die Jode die mense aan tafel wat nie lekker verstaan wat jou aangaan nie.

 

Wat eerste belangrik is, is dat ons verstaan dat verhoudings vir Jesus baie belangrik is. Hy fokus hier op sy verhouding met die Joodse gemeenskap en vertel ook vir hulle dat Hy met hulle, maar ook met almal anders in verhouding wil wees. Die vraag waaroor Jesus met hulle praat is of hulle Hom wil aanvaar of verwerp. Gaan hulle dit eet wat vir hulle opgeskep word, of hulle bord kos net so los?

 

In hierdie gedeelte openbaar Jesus wie Hy is. Hy stel homself gelyk aan die brood wat lewe gee. Wie van Hom eet sal nooit sterf nie.

 

Weereens, die mense wat Jesus ken en Hom verstaan, verstaan die taal wat Hy gebruik, dit is nie vreemd vir hulle om te hoor van vleis wat geëet moet word en bloed wat gedrink moet word nie. Vir die wat nie vir Jesus ken nie, is dit uiteraard baie vreemd. Dit is so vreemd dat dit eintlik aanstoot gee vir die Jode. Onthou, hulle hou streng by die wette, en Genesis 9:4 beveel dat hulle nie vleis met sy bloed in mag eet nie, wat nog te sê van drink.

 

In Johannes is die klem op Jesus. Jesus self is die brood wat lewe gee. Ons moet ook onthou dat brood ‘n basiese voedsel in daardie tyd was, soos vandag nog. Daarom is die brood metafoor so kragtig. Jesus was en is feitlik, broodnodig! Jesus is noodsaaklik vir elkeen se lewe, sonder die basiese voedsel kan daar nie gelewe word nie.

 

As jy aan tafel sit is jou sintuie lewendig. Jy sien die kerse brand, die glase wat blink, die crispy velletjie van die hoender of die vetjie van die tjoppie. Jy hoor hoe almal gesels en lag, dalk vertel iemand ‘n goeie storie… En natuurlik eet jy ook as jy aan tafel is, lekker warm huiskos. Jou sintuie is wakker.

 

Net so as ons mooi kyk sal ons oplet dat ‘sien’, ‘hoor, en ‘eet’ belangrike woorde is in Johannes 6.

 

Verse 36-40 gaan oor sien en glo.

Verse 45 gaan oor hoor en leer.

Verse 51 gaan oor eet en lewe.

 

Psalm 34:9 sê “Smaak en sien dat die Here goed is!”

 

As mens na die Griekse vertaling van hierdie gedeelte in Johannes gaan kyk sien mens iets merkwaardig raak. In vers 54 word die woordjie “eet” weer ‘n keer gebruik, maar hierdie keer op ‘n anderste manier. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir eet is iets wat gelyk staan aan raserige eet. Wat ons kan vertaal met “munch” of “crunch”. Dit sê vir ons dat wanneer die brood van die ewige lewe geëet word of die brood van die lewe “gemunch” word, dit iets lekkers is wat aan die gebeur is.

 

 

 

Jesus verseker hierdie Jode dat die maaltyd wat Hy hulle aanbied uiters goed vir hulle sal wees, maar soos iemand wat nie iets nuuts wil proe nie, wil hierdie Jode net nie verstaan nie.

 

Hy herhaal vier keer aan die Jode, in vers 26, 32, 47 en 53: “Dit verseker Ek julle…” Wat vir ons wys dat dit baie belangrik is waaroor Jesus praat!

 

Hy verseker ons: Ons soek Hom, nie omdat ons die wondertekens gesien het nie, maar omdat ons van die brood geëet het en versadig geword het.

 

Hy verseker ons: Dit is nie Moses wat vir ons die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is sy Vader wat vir ons die ware brood uit die hemel gee.

 

Hy verseker ons: Wie in Hom glo, het die ewige lewe.

 

Hy verseker ons: As ons nie Sy liggaam eet en Sy bloed drink nie, het ons nie lewe in ons nie.

 

Hierdie gasheer, verseker ons van baie dinge, maar luister ons na wat Hy sê? Of trek ons ons neus op vir die gevolge van wat dit aan ons gaan doen? Want as ons van hierdie brood gaan eet en bloed gaan drink gaan ons nie meer dieselfde kan wees nie. Dit gaan ons verander. Dit gaan deel raak van ons liggaam. Christus in ons. Is ons gereed om te leef met Christus in ons? Is ons gereed om met Christus in ons om die braaivleisvuur te staan? Is ons gereed om met Christus in ons in Spar se ry te staan? Is ons gereed om met Christus in ons te bestuur?

 

Christus in ons, verander ons!

 

Ek verseker julle: Wie in Hom glo, het die ewige lewe. Hy is die brood wat lewe gee!

 

Wie hierdie brood eet, sal verander word, en sal ewig lewe!

 

Amen.