Jona 1:4-16

In hierdie gedeelte van Jona is die storm op die see gegooi! Die wind waai en die water spat. Dit is tog ‘n baie interessante gedeelte binne die groter verhaal van Jona. Die struktuur van hierdie gedeelte is die eerste ding wat jou opval as jy nader na die teks gaan kyk.

A. Vertelling en vrees motief (4-5a)
B. Gebede van die seelui (5a)
C. Vertelling (5b, 6a)
D. Woorde van die kaptein (6b)
E. Woorde van die seelui (7a)
F. Vertelling (7b)
G. Woorde van die seelui (8)
Belydenis en vrees motief (9)
g. Woorde van die seelui (10a, b)
f. Vertelling (10c)
e. Woorde van die seelui (11)
d. Woorde van Jona (12)
c. Vertelling (13)
b. Gebed van die seelui (14)
a. Vertelling en vrees motief (15, 16a)

Alles in vandag se verhaal draai rondom hierdie struktuur wat in alle ironie Jona se belydenis in sy vrees wil uitlig.

Die Here stuur soms omstandighede om ons te laat weet: Hy laat ons nie los nie. In omstandighede waar dit voel asof ons wil vergaan, bemoei Hy Hom met ons. Jona was besig om so ver as moontlik van die Here af weg te vlug en tog roep die Here steeds na Sy profeet uit.

Die Here gooi ‘n geweldige stormwind op die see. So hard moes God na Jona roep. Met Elia op die berg Horeb was die Here juis nie in die stormwind nie, maar in ‘n fluisterstem. Maar met Jona is dit anders, want hy bly net stil. Vandat hy die woord van God ontvang het, het hy niks anders gedoen as om te vlug nie.

Omdat Jona nie met die Here wil praat nie, moet die Here op ‘n ander manier met hom kontak maak. Hy moet Jona op die oop see en op die golwe ontmoet. En om dit te bereik gooi Hy die stormwind op die see.

Tog is dit nie die profeet wat eerste die storm as ‘n stem van God ervaar nie, nee, die matrose, die heidene, hulle ervaar eerste die storm as die stem van God. Jona lê en slaap terwyl die storm losbars op die see.

Daar is niks skokkender as ‘n wakker wêreld en ‘n slapende kerk nie. Is dit nie dalk die nood van die wêreld nie? Dat gelowiges in die krisis vas aan die slaap is?

Hier in hierdie verhaal is die matrose bang en wakker, terwyl Jona rustig en aan die slaap is. Jona lê en slaap om te ontsnap van sy ongemak. Hy probeer vlug van alles rondom hom deur homself besig te hou met sy drome.

Iemand het eenmaal gesê dat jou ongemak lig skyn op jou opdrag. Jona het van sy ongemak probeer vlug deur te slaap. Jona het van sy opdrag probeer vlug deur te slaap. Dink bietjie daaroor: dit waaroor jy ongemaklik is moet jy waarskynlik aanspreek. Is jy ongemaklik oor die taalgebruik van jou vriende? Is jy ongemaklik met jou punte op skool? Is jy ongemaklik oor sekere aspekte van jou lewe? Jou ongemak wys vir jou waaraan jy iets moet doen!

Ons droom dikwels lekker aan ons eie drome, ons bou lugkastele terwyl die wêreld vergaan. Ons ontvlug die werklikheid waar die wind kreun en die see spoeg. Ons emigreer. Ons trek weg. Ons verander vriendekringe. Ons vlug. As ons soos Jona gaan wegvlug van ons ongemak, wie gaan die probleme aanspreek in die wêreld as ons die voorbeeld stel van los dinge net soos dit is en beweeg aan? As ons nie die voorbeeld stel van ‘n kerk wat bereid is om deur die moeilike omstandighede en moeilike tye saam te sukkel nie. Is nie dalk aan die slaap nie? Is ons nie dalk dan net soos Jona nie?

Die oomblik toe Jona wakker gemaak word deur die kaptein het hy presies geweet wat aan die gang is. Hy het geweet dat hy die oorsaak van hierdie storm is.

Weereens moes die wêreldse kaptein die gelowige profeet wakker maak! In plaas daarvan dat die profeet die matrose aanspoor om tot die God van die hemel en aarde te bid, moet die kaptein Jona oproep tot gebed. Die ongelowige moet die gelowige wakker maak om te… bid!

Hulle maak vir Jona wakker en vind uit dat dit as gevolg van hom is dat hierdie ramp hulle tref. Toe vra hulle vir hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref? Wat werk jy? Uit watter land en van watter volk is jy?

En Jona het hulle geantwoord: “Ek is ‘n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” Jona gryp terug na sy Sondagskool rympies. En tog al onthou hy dit goed is dit net rympies, want as hy geglo het wat hy bely het sou hy nie op die skip gewees het nie.

Ons bely baie Sondae saam: “Ek glo in God die Vader, die almagtige skepper van hemel en aarde…” Glo jy dit wat jy bely? Of is dit maar net nog iets wat jy agter die dominee aansê omdat almal dit doen en jy nie eintlik weet hoekom nie…?

Hoekom bely ons God as skepper van hemel en aarde? Hoekom het Jona bely dat God skepper van die see en vasteland is? Dit is ‘n verklaring wat ons maak, ons bely daardeur dat God lief is vir die hele wêreld, nie net sekeres daarin of daarop nie. Dit is daarmee saam ‘n oproep om die aarde, met alles daarin en alles daarop te respekteer, omdat God dit gemaak het.

Jona het hom nie gesteur aan die inhoud van sy belydenis nie. Hy is besig om weg van God te vlug, op die see, terwyl hy bely dat God die see geskape het. Hy probeer wegvlug van die opdrag om liefde te gaan betoon aan die gewelddadige Nineve terwyl hy weet dat God ook vir Nineve lief het.

Die storms om ons is soms so erg dat ons nie anders kan as om wakker te skrik nie. Slapende Jona word deur die kaptein wakker gemaak. Watter storms het jou al wakker gemaak? As jy so in jou siel in kyk, sien jy dalk hoe wolke begin saampak?

As die storm woed, en ons is op die punt om te vergaan, is die vraag baie keer:
“Waarheen nou?”

Ons kan so vasgevang raak in ons storms dat ons nie meer voor ons kan uitsien nie en net heeltyd probeer om elke bietjie water uit ons bootjie te gooi terwyl dit aanhou reën. Die spreekwoord lui nie verniet om te “jump ship” nie…

Soms wil ons net opgee, wil ons ook maar soos Jona as laaste uitweg oorboord spring in die diep waters in…

Moenie! Moenie spring nie! Hou vas aan jou belydenis, hou vas aan God se beloftes. Hy sal jou nooit alleen laat nie, ja, soms sal Hy harder praat sodat jy kan hoor. Maar dit doen Hy om Sy teenwoordigheid aan jou te openbaar. Laat God die storms in jou siel stilmaak. Laat Hom toe om jou lewe in die regte rigting te stuur. Gee oor aan Hom!

Jesus het gekom om in ons plek in die see gegooi te word. Ons hoef nie al daardie soutwater te sluk nie, Jesus het dit reeds vir ons gedoen en ook die stormwaters oorwin. Jesus self gebruik die storie van Jona om te profeteer oor sy eie dood waar hy drie dae en drie nagte binne-in die aarde sal wees.

In Matteus 12:40 staan daar: “Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.”

Omdat ons ‘n God van genade en tweede kanse dien kan ons veilig voet aan wal sit, al gaan ons deur stormwaters.
Omdat ons ‘n God van genade en tweede kanse dien kan ons God se reddende boodskap verkondig omdat ons dit self ervaar.
Omdat ons ‘n God van genade en tweede kanse dien kan ons in mooiweer en donderweer profete van genade en tweede kanse wees.

Amen.

Jona 1:1-3

Tema: God stuur ons na Nineve

Vandag wil ek vir julle ‘n storie vertel van iemand wat gedink het hy kan weghardloop van God wat aarde en see gemaak het deur op ‘n bootjie te klim. Van iemand wat vele wonderwerke self beleef het. Van iemand wat ‘n koning en 120 000 mense tot bekering gebring het en daarna gehuil het oor die son wat bietjie te warm op hom skyn. Vandag en vir die volgende drie weke gaan ons saam ontdek wie Jona was, en wat ons van sy storie kan leer.

Kom ons lees saam Jona 1:1-3

Jona, die seun van Amittai, het op ‘n woord van die Here gewag. In daardie droewe dae van ballingskap was die woord van die Here skaars. Hy het gewag en gewag en toe op ‘n dag het die woord van die Here tot hom gekom.

Toe dit gebeur het die Here se woord om egter stomgeslaan. Hy was platgeslaan. Dit was ‘n aanstootlike woord.

“Gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”

Anders as die ander profete in die Ou Testament word Jona geroep deur die Here om nie die woord van die Here nie met sy eie mense te deel nie, maar om dit met ‘n onbekende volk te gaan deel. Op sy reis sou hy geografiese, kulturele en religieuse grense oorsteek.

Vir Jona het dit dieselfde geklink as om reguit in die leeukuil in te stap. Hiervoor het die profeet nie kans gesien nie. Vir hom was daar net een uitweg. Hy moes vlug. Die profeet is haastig. Hals oor kop is hy op pad Tarsis toe. Heeltemal in die teenoorgestelde rigting as Nineve. Met sy enkelkaartjie en bagasie is hy aan boord.

Jona wou net met alle mag van God se opdrag af wegkom. Jona het gedink Tarsis is ver genoeg van die Here se opdrag af. Alles het volgens plan verloop, totdat die storm op die see losgebars het. Die see raas en kreun en die skip wieg in die waters soos ‘n nat stomp op die golwe.

As ons onsself vandag in Jona se skoene sou sit sou hierdie opdrag wees iets in die rigting van om die Here se liefde en genade met ons grootste vyand te gaan deel. Dit sou wees soos om vir die Guptas oor korrupsie te gaan preek, of in die tronk te gaan preek oor moord, verkragting en diefstal, terwyl almal met hulle nommers in jou onmiddellike spasie is. Of, nog nader, om in die munisipale kantore te gaan preek oor wan-administrasie. Of, nog nader, om met jou vriendin wat stories agter jou rug versprei te gaan praat oor liefde.

Dit moes baie moeilik gewees het vir Jona. Dit was so moeilik vir Jona dat hy besluit het om eerder in die heeltemal teenoorgestelde rigting van die opdrag te gaan. Jy kan jouself ook afvra, sou jy om dieselfde tafel wou sit saam met iemand wat jou bitter seer gemaak het en dan met hulle deel dat God vir hulle baie lief is en hulle by Hom wil hê?

Hier in hierdie eerste verse van Jona kom openbaar die Here sy groot en oop hart. Hier kom openbaar Hy dat hy nie net vir sy volk, die Israeliete, lief is nie, maar vir almal. Dat Hy selfs lief is vir die wat nie vir Hom lief is nie, dat Hy lief is vir die wat in opstand teen Hom is.

En Hy stuur vir Jona om dit aan Nineve bekend te gaan maak. Ek kan nogal verstaan hoe Jona moes gedink het… Jona kon tereg gevra het: “Vir wat? Hulle sal tog nie na my luister nie, hulle het reeds hulle eie gode.” Wie sou nou regtig na hom luister? Hy kon selfs gewonder het of hy lewendig sou terugkom huis toe? Hy gaan dan na Nineve wat bekend is as die gewelddadige stad in opstand teen die Here.

Ek dink baie van ons is vandag nog soos Jona. Ons is meer as bereid om die goeie nuus van Jesus aan die mense bekend tot ons te gaan verkondig en te gaan vertel. Ons deel graag die boodskap van Jesus aan mense wat nie mag oor ons het nie, maar is ons bereid om die goeie nuus, die ontwrigtende nuus, te deel met ons base van ander gelowe, met die ou op die straat wat jy weet met ‘n mes rondloop, met jou vriendin wat jy weet besig is met verkeerde dinge. Is ons bereid om die goeie nuus, die goeie lewe, te deel met mense wat ons weet iets van ons kan wegneem.

Jona was bang. Hy het getwyfel in die mens se vermoë om te verander. Hy het God te vermoë om te verander buite rekening gelaat. Hy het gedink alles hang van Hom af. En wanneer ons dink dat alles van ons afhang kan dinge oorweldigend lyk. Wanneer ons dink dat ons alles moet doen wil ons gewoonlik van groot dinge wat ons lewenstyl bedreig af weghardloop.

Jona die seun van Amittai het die krag van die Here buite rekening gelaat al was hy in ‘n intieme verhouding met Hom.

God se Woord kan vir ons almal alledaags word. Ons lees ons bekende goedvoel versies oor en oor. En ons luister met oorgawe na daardie bekende klanke. Ons draai die volume op wanneer dit kom by die goedvoel versies, maar wanneer die nuwe klanke, die anderse klanke, die ontwrigtende klanke na vore kom hou ons dit saggies, so saggies dat ons kan aangaan terwyl die alledaagse klanke van die wêreld harder klink as die fluisterstem van God.

Ons kan tog nie God se genade en liefde op vreemdelinge, op wêreldlinge, op vyande, gaan verspil nie. Daar is soveel goeie rede om die goeie nuus net vir onsself te hou.

Hierdie soort doofwees vir die fluisterstem van God se Woord maak van die kerk ‘n vllugtelingkerk. ‘n Kerk vol Jona’s. ‘n Kerk wat wegvlug vir sy roeping. Ons is tog so kreatief om ontsnappingsroetes te ontdek; om verskonings uit te dink; om Nineve te ontduik.

Wat ons nie besef nie, terwyl ons na die harde musiek, die goedvoel versies, oor en oor luister, is dat ons toekoms op die spel is.

So, Jona, Johanna, gaan jy aanhou wegvlug van die Here se opdrag? Ons toekoms is op die spel!

Amen.

Markus 13:31-33

Terwyl Jesus op aarde was, het Hy met ‘n verskeidenheid mense oor geloof gepraat. Jesus het in die alledaagse dinge van die lewe ‘n aanknopingspunt gevind of ‘n waarheid met ‘n alledaagse item (soos sout, visvang of skape) en in vanoggend se geval mosterdsaad en suurdeeg en dit vergelyk met die lewe. Deur ‘n gelykenis te vertel of ‘n metafoor te gebruik het Jesus ruimte geskep dat die wat na Hom geluister het self oor die betekenis van die gelykenis of metafoor kon nadink en so by die gesprek ingetrek word.

Die gelykenis van die mosterdsaadjie en die suurdeeg is ‘n voorbeeld van hoe Jesus twee dinge wat vir die mense baie bekend was, gebruik het om vir hulle iets meer van God se koninkryk te vertel.

Albei hierdie vergelykings was verrassend, want die koninkryk werk anders as wat die mense verwag het. Die mense van Jesus se tyd het gedink die koninkryk van God sal met magsvertoon aanbreek. Die mosterdsaadjie is egter klein en nederig en groei mettertyd. Mense het gedink die koninkryk sal met ‘n groot skouspel aanbreek, maar die suurdeeg se invloed is onsigbaar hoewel kragtig.

Dit is hier ook duidelik dat Jesus ‘n skerp sin vir humor gehad het. Hy spot hier waarskynlik met Esegiël wat die koninkryk van God vergelyk het met ‘n magtige sederhout boom. Daar staan in Esegiël 17:23 “Ek plant hom hoog op die bergland van Israel waar hy takke sal maak en saad sal skiet. Hy sal ‘n pragtige seder word, en in hom sal al die voëls woon; al wat vlerke het, sal in die skaduwee van sy takke nes maak.”

En hier kom vergelyk Jesus die koninkryk van die hemel met ‘n klein bossie-agtige mosterd plantjie. Glad nie wat hulle verwag het nie. Maar die mosterd bossie byt vas, hy word nie uitgeroei nie. Dit is soos onkruid onder plaveisel, eendag is eendag dan kraak die plaveisel en die plantjie steek sy kop uit.

Die Here se manier is stil, klein, stadig en nederig, tog aanhoudend sonder opgee. Die Here gee nie op nie.

As ons na die suurdeeg kyk mag dit dalk party dae lyk asof daar niks aangaan nie, maar stadig maar seker begin die hele spul deeg vol borreltjies te raak wat wys dat daar dinge aan die gang is wat ons nie altyd raaksien nie.

Die koninkryk van God is ‘n realiteit! Die vraag is waarna kyk ons? Soek ons magtige seders of soek ons die klein mosterd bossies wat nie laat los nie? Soek ons kits winkelbrood of gaan ons geduldig wag vir die stadige goed deursuurde regte egte varsgebakte tuisgemaakte brood?

Die skare soek gewoonlik vir tekens van mag en glorie en sien dan nie raak dat dit wat reeds binne-in hulle elkeen is nie, dat die eintlike mag en glorie nie van hierdie wêreld is nie.

Jesus roep ons elkeen om soos die koring te sterf aan onsself, sodat ons fyngemaal kan word, met water gemeng kan word en stadig kan gis sodat ons later heerlike brode kan wees. Maar as ons nie in onsself gaan sterf nie, gaan daar geen brood wees nie.

Oorweeg dit om hierdie week ‘n tydjie opsy te sit om na te dink oor elkeen van hierdie wonderlike beelde. Dink dan daarom om dalk jou eie gelykenis te skryf. Hoe jy dalk die sin sal voltooi: “Die koninkryk van die hemel is soos…”