Here God, U wat ons ware Ouer is, ons Vader en ons Moeder, ons bid:
Vir hulle wat vanjaar geboorte geskenk het aan hul eerste kind – ons vier dit saam met hulle.
Vir hulle wat vanjaar ‘n kind verloor het – ons rou saam met hulle.
Vir hulle wat in die loopgrawe met klein kindertjies is, met vlekke op hul klere en sakkies onder hul oë – ons waardeer hulle.
Vir hulle wat verliese beleef het deur miskrame, mislukte aannemings of kinders wat weggeloop het – ons treur saam met hulle.
Vir hulle wat die moeilike pad loop van infertiliteit, deur al die toetse, prosedures, moeilike besluite, hoop en teleurstelling – ons loop saam met hulle. Vergewe ons as ons dwase opmerkings maak wat hulle pad nog moeiliker maak as wat dit reeds is.
Vir hulle wat pleegouers, mentor-ouers, ouma’s op kinderdiens is, ons het hulle broodnodig.
Vir hulle wat hul kinders omvou met liefde en sorg – ons sê dankie vir hulle.
Vir hulle wat teleurstelling, hartseer en verwerping van hul kinders beleef – ons dra hulle aan U op.
Vir hulle wat vanjaar hulle moeder verloor het – ons rou saam met hulle.
Vir hulle wat mishandel is deur hul moeder – ons bid vir herstel en genesing.
Vir hulle wat reeds deur al die toetse van ouerskap is en wie se kinders nou uit die huis is – ons is dankbaar vir hulle en slaan ons arms om hulle.
Vir hulle wat deur die trauma van ‘n aborsie is – ons bid dat U hulle weer sal heel maak.
Vir hulle wat enkel is en graag ‘n ouer sou wou wees – mag daar onverwagse vreugdes in hulle lewe na vore kom.
Vir hulle wat stiefouers is – help hulle om daardie komplekse verhoudings na die beste van hul vermoë te hanteer.
Vir hulle wie se droom van kleinkinders nooit bewaarheid is nie, of wie se kleinkinders oorsee bly – sal U hulle troos.
Vir hulle wat hul kinders laat plaas vir aanneming – ons eer hulle selfloosheid en onthou dat hulle daardie kind in hulle hart vashou.
En vir hulle wat swanger is met nuwe lewe – ons staan in afwagting saam met hulle.
Hierdie Moedersdag bid ons vir hulle almal. Ons onthou hulle almal en ons eer hulle. Ons deel in hulle vreugdes en hulle pyn.
Here God, U wat ons ware Ouer is, ons Vader en ons Moeder, wees by ons almal.
Amen
* Geneem vanaf DinkJeug.com