Spreuke 9: In watter weg wandel jy?

Oor die eeue heen het baie mense al gepraat oor die weg van die lig, en die weg van die donker. Ons hoor dit al vroeg in die filosofie, by Aristoteles waar hy al sy filosofiese gedagtes gemik het om te probeer om die goue middeweg te vind. Ons hoor dit nog heelwat later in verhale soos Lord of the Rings, waar Frodo aanhoudend moet kies om op die regte pad te bly, ten spyte van die versoeking van die maklike weg na die donkerte. Ons sien dit ook in die Harry Potter flieks, waar Harry ook aanhoudend teen die donkerte moet veg. Vandag gaan ons terug. Ver terug. Verby Harry Potter, verby Lord of the Rings, verby Aristoteles, en ons stop by die Spreuke van Salomo.

Spreuke is ‘n versameling van gedigte wat bedoel is om mense te onderrig in die regte lewenshouding en lewenskuns. Spreuke gaan oor die kuns van die lewe, the art of living. Die verf waarmee Spreuke die lewe skilder is helder rooi, spierwit, ligblou, lemmetjiegroen, die verf waarmee die Spreuke geverf word bestaan uit die kennis wat begin met die dien van die Here.

Kom ons lees saam Spreuke 9:1-6 en 9:13-18

Wysheid en dwaasheid word in hierdie gedeelte teenoor mekaar gestel, en direk met mekaar gekontrasteer. Ons moet baie mooi kyk om die verkille raak te sien, want soos die dwaasheid maak, verdraai sy subtiel en mislei ons na die dood.

Als wat skitter, glinster selde heeltyd dieselfde. En in retrospek is dit dit wat naby aan jou is wat jou verander.

Altwee hierdie vroue nooi mense uit om na hulle te kom. Wysheid stuur haar bediendes uit om mense te gaan soek wat wil leer. Dwaasheid sit op haar stoep en roep luidrugtig na die wat daar verbykom.

Hier kom die eerste verskil alreeds na vore. Wysheid is opsoek na mense wat regtig wil leer, sy bly by haar huis wat uit sewe klippilare gebou is en stuur meisies uit om mense te gaan soek wat wil leer. Die getal sewe dui in die Bybel op afgerondheid en volmaaktheid. Hierdie se op ‘n mooi manier dat die wysheid niks kortkom nie – dit is volmaak en afgerond. Dwaasheid roep self, en dit mag ‘n klein verskilletjie wees maar ‘n insiggewende verskilletjie. Dwaasheid se manier van roep is om mense te verlei deur “haarself” aan te bied.

Wysheid bied kennis, waar dwaasheid plesier bied. Wysheid rig haar in die eerste plek tot die verstand, en dwaasheid tot die sintuie. Dit is maklik om die sintuie te streel, maar die vreugde van dwaasheid is kortstondig. In teenstelling daarmee duur die bevrediging van die wysheid vir altyd.

Hierdie feit word verder beklemtoon deur dit wat elkeen vir haar gaste voorsit. Wysheid het spesiaal geslag, en wyn reggesit. Dwaasheid bied gesteelde soet water aan, en verwag dat haar gaste in die geheim moet eet. Nou dink bietjie, wat sal vir jou beter wees, braaivleis en rooiwyn, waar daar gekuier en gelag word, of ‘n gesteelde Redbul en BarOne wat jy alleen in jou motor eet.

En dit hoe wysheid en dwaasheid verskil. Wysheid bied kos wat lank sal hou, wat volhoubaar en hernubaar is. Dwaasheid bied kos wat vir ‘n kort tydjie werk en dan jou op ‘n laagtepunt verlaat, uitgeput.

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.

Spreuke 9:6 vra dat ons op die pad van insig moet kom, sodat ons kan lewe. In die Hebreeus, as jy insig bekom, beteken dit om in pas te wees met God se plan vir die natuur en lewe. Hierdie insig oor hoe die ritme van die natuur werk is sentraal tot die groter prentjie van die Ou Testament, en dit, die natuurlike ritme, word die lewe genoem.

Hoe in pas is jy met die natuurlike ritme van God? Is jou lewe ‘n gejaag na wind? Of geniet jy elke dag rustig op sy beurt as ‘n geskenk van God? Dwaasheid kan maak dat ons dink dit is beter om ‘n Redbull te drink en nog langer minder goeie werk te doen. Wysheid, die natuurlike ritme leer ons iets anders.

Jim Collins skryf in Great by Choice dat die kuns van die lewe dissipline verg;

1. Die dissipline van nie werk nie
Iemand in pas met God se ritme weet dat aan die einde van die dag hulle selfone, tablets en laptops moet neersit en sê: “Wel gedaan.” Die dae van deur die nag werk is verby.

2. Die dissipline van pret
Baie mense word so gedryf dat pret vir hulle moeilik is. Iemand in pas met God se ritme moet die dissipline van lag en lighartigheid bevorder — al moet hulle dit in hulle dagboek skeduleer.

3. Die dissipline van feesvier
Die natuurlike instink van elke mens is om vorentoe te kyk — om vas te stel hoe ver hulle nog moet reis om by die doelpale te kom. Moenie vergeet om ook terug te kyk na dit wat reeds bereik is nie. Deur dit wat reeds bereik is te vier, bou jy verdere momentum.

4. Die dissipline van “tel jou seëninge”
Iemand in pas met God se ritme stop gereeld net om weer te sien hoe geseënd hulle en hulle gesin is. Hulle weet dat die beste manier om die daaglikse druk te verwerk, is om stil te staan en bestek op te neem van dinge wat goed verloop het.

Hierdie vier dissiplines; van nie werk nie, pret, feesvier, en dankbaarheid, is Goddelike dissiplines wat jou sal help om op die pad van die wysheid te bly. Dissiplines wat jou sal help om in pas met God se ritme te bly al klets dwaasheid hoe luidrugtig vanaf haar stoep oor daardie een dokument wat jy net nog so bietjie aan moet werk, of daardie een vergadering wat jy moet bywoon al weet jy Vrydae aande is familie aande.

Ons word uitgenooi om deel te he aan die kennis van die kuns van die lewe. Ja, jongmense, julle ook! Kategese begin vandag. Elke oom en tannie wat vir julle kategese gee verstaan iets van daardie Goddelike weg waarop ons moet loop om die lewe voluit te kan geniet. Hulle wil daardie kennis, daardie wysheid aan julle oordra. Hulle wil dit so graag doen want hulle verstaan wat dit beteken om die pad saam met die Here te loop.

Hulle wil jou help verstaan dat die Woord van God, die Bybel, ‘n boek is wat jy sal wil lees as jy gelukkig wil leef. Wysheid begin met die dien van die Here, en die Here kom na jou in die Bybel. Wat ons van die Here weet lees ons in die Bybel.

Die Bybel is ‘n interessante boek. Die Bybel praat van verantwoordelikheid, van karakter, van selfvertroue, van vertroue, van reputasie, van vriendskap, van groepsdruk, van depressie, van mislukkings, van geduld, van skinder, van partytjies. Die Bybel praat in baie eksplesiete detail oor dating wat vir ons wys hoe mooi ‘n verhouding kan wees indien die verhouding op ‘n Goddelike manier aangepak word.

En nou vra jy, wat nou?

En dit is hier waar ek jou antwoord deur te se dat die keuse joune is. Ek kom wys vanoggend vir jou die wyse en ook die dwase pad. Op die wyse pad sal jy insig versamel, wat niemand ooit van jou sal kan wegneem nie, en wat jou die kuns van ‘n Goddelike lewe sal leer. Op die dwase pad sal jy kort oomblikke van ekstase ervaar en daarna in donker woude rond dwaal.

Pa, Ma, Seun, Dogter, Jongmens, Oumens, Oom, Tannie, Dokter, Professor, Advokaat, Makelaar, Kelner, Onderwyser, Jy, die keuse is joune! Gaan jy die pad van kortstondige dwaasheid volg? Of gaan jy die ewige vreugdevolle Goddelike pad van wysheid stap?

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig van die gelukkige lewe.

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *