Dit is donker.
Die wind waai, die water reën neer, en jy sit in die donker. Alleen in die donker.
Hoekom is dit so donker?
“Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor die donker voordat U my red? Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?”
Hier is Habakuk in ‘n diepe gesprek met die Here oor hoekom dinge so sleg gaan al is hy ‘n goeie mens. Hy kla by die Here oor al die onreg, al die slegte dinge wat hy sien. Hy kan nie verstaan dat al hierdie dinge gebeur en die Here niks daaraan doen nie. Die Here is mos ‘n God van liefde wat net die beste vir Sy kinders wil hê. Hoe werk dit nou? Want nou sit Habakuk, en ons ook soms, in die donker, met al die onreg en ellende rondom ons wat net aanhou en aanhou, sonder ophou.
Habakuk worstel met die probleem oor waarom God, as Hy heilig en regverdig is, kan toelaat dat die goddelose in die wêreld die oorhand het. Dit is ‘n probleem wat ons vandag nog in die sig staar. Daarom is vandag se gedeelte vir ons steeds relevant. Habakuk se krisis, is vandag ook ons krisis, is ‘n geloofskrisis. Die vraag is: Is dit regtig die moeite werd om God te dien, as slegte mense, goeie mense, se lewens negatief beinvloed?
Hierdie is ‘n diep vraag waarmee Habakuk worstel. Hy raak selfs opstandig teenoor die Here, hy worstel met die Here. Hy vra waarom die Here onreg toelaat, hoekom doen Hy niks daaraan nie, kan die Here dit nie sien nie, waarom bly Hy stil wanneer slegte mense goeie mense vernietig? Waarom bly Hy stil as ‘n man, afhanklik van suurstof masjiene, in Bloemfontein sterf as gevolg van kragonderbrekings?
Habakuk raak opstandig, dit sien ons duidelik. Maar hy draai nie om en loop weg nie. Hy doen iets besonders, hy sê: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord…” Habakuk kies om steeds te wag op wat die Here vir hom wil sê. Hy gaan staan en maak homself gereed vir God se antwoord. Die profeet is seker dat God hom sal antwoord. Hy sal nie stilbly en die regverdige ignoreer nie. God sal verskyn.
Nou hoe kan Habakuk met sulke sekerheid weet dat die Here aan hom sal verskyn met ‘n antwoord? Hoe kan hy vanuit geloof sê dat die Here hom sal antwoord? Hy kla dan nou juis oor hoekom die Here so stil is. Hoekom die Here sit en niks doen nie. En nou is hy ewe skielik seker dat die Here sal verskyn…?
Habakuk kan nou seker wees dat die Here sal verskyn, want hy het onthou om nie in die nou vas te kyk nie. Hy het onthou hoe God in die verlede so naby aan hom en sy volk was, hoe die Here hulle vantevore gered het. En daarom kan hy nou op sy wagtoring gaan staan en gereed maak vir die stem van die Here. Wanneer ons onthou wat God alreeds in ons lewens gedoen het, kom ons geloof tot stand en leer ons die geheim van in geloof lewe al is dit donker rondom ons. Sodra ons onthou dat Christus sy alles, sy lewe, vir ons aan die kruis gegee het, kan ons met geloof en vertroue die krisistye en die toekoms tegemoet gaan. As ons onthou kan ons met geloof lewe in die nou.
As ons na Habakuk kyk, het hy ‘n baie spesifieke beeld van God gehad… Wie is God vir jou? Is Hy “jou pappa”, is Hy die een wat “jou vriend” is, is Hy die een wat jou sal straf, of het jy nog nie regtig gedink aan wie God vir jou is nie?
Vir Habakuk was God in die beeld van ‘n bevelvoerder met baie krag en mag. Kyk maar na hoe hy Hom beskryf: “Hy kom met die glans van die lig, weerligte blits uit sy hand, sy hand so vol mag. Wanneer Hy staan, skud die aarde; wanneer Hy kyk, bewe die nasies. U het u boog uitgehaal en met ‘n eed die opdrag aan die pyle bevestig.”
God verskyn om sy vyande te verslaan. Voor sy almag kom die skepping in beroering. Niks kan voor die Here bly staan nie. Ons hoor hoe die weerlig blits, hoe die aarde bewe, en ook hoe die waters bruis. Die Here tree aktief toe tot die stryd, hy sit nie net en toekyk oor hoe dinge gebeur nie. God is aktief in die wêreld met sy wapens gereed vir die oorlog. Die verwysing na water kom veral na vore hier. In die Ou Testament staan water gelyk aan chaos, en hier verwys dit ook na die magte van chaos wat dreig om die wêreld te oorweldig. God tree self teen die chaos magte op, dit kan nie staan teen die Here nie.
Die Here se optrede is gemik teen die goddelose. Hy trek as Krygsman op om sy volk te verlos en die goddelose te vernietig. Vroeër het dit gelyk of die goddelose onoorwinlik is. Of die wat sleg doen, maar kan aanhou met sleg doen, sonder enige gevolge. Dit het selfs voorgekom asof God aan die kant van die goddelose is. Nou kan ons egter sien dat God almagtig is, en aan die kant van die regverdiges.
Habakuk 2:4 sê vir ons: “Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.” Verlossing kom van die Here af. Hy sorg vir sy volk.
Die boek of eerder gesprek tussen Habakuk en God eindig op ‘n hoogtepunt. Nee die ligte gaan nie aan nie. Dit is steeds donker rondom Habakuk, hy staan steeds alleen op sy wagtoring en uitkyk. Maar hy kyk anders. Ons kan sê hy het ‘n tipe van ‘n “nagvisie” “nightvision” ontwikkel.
Omdat hy onthou van die magtige verlossingsdade van die Here in die verlede raak hy opgewonde. Hy besef hy moet geduldig gehoorsaam wees totdat God ingryp en die goddeloses vernietig. Ja, dit is steeds donker rondom hom. Sy omstandighede lyk nie goed nie. Maar hy sien met vertroue uit na die verlossing. Met sy “nightvision” sien hy dat God sal verlos, die Here sal oorwin. En ten spyte van die donker rondom hom sal hy jubel en juig. Hy sal dans in die donker, want dit is God wat hom krag gee. Dit is net deur hierdie spesiale “nightvision” wat ons, van wanhoop in hoe dinge nou is, kan beweeg na vertroue in God en ‘n beter wêreld.
Ons kan vandag saam met Habakuk jubel en sing:
Al sou die brandstof duurder raak
en daar geen geld in my beursie wees nie,
al sou die werk meer raak
en die tyd al hoe minder,
al sou dit donker raak
en die kerse nie meer brand nie,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God,
my Redder.
Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos die van ‘n 4×4,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Amen.