Galasiërs 6: Die Drie Varkies

Eendag lank lank gelede was daar drie varkies. Die een varkie het in ‘n rondawel met ‘n strooi dak in die Transkei gebly, die ander varkie in ‘n houthuisie langs die see gebly, en die ander varkie in ‘n baksteen huis in Sunridge Park.

Hierdie drie varkies het almal rustig na die oggend Godsdiens op RSG gesit en luister. Die volgende oomblik is daar ‘n baie sterk wind en die varkie wat in die Transkei bly se dak waai van sy rondawel af. Hy kyk bo oor sy rondawel se muur en daar staan die nare wolf met ‘n groot glimlag op sy gesig. Hy spring vinnig in sy Hilux Bakkie en jaag na sy boetie by die see.

Hy kom toe by sy boetie by die see aan. Hy vertel hom van nare wolf wat sy rondawel se dak afgeblaas het en selfs sy goudvis uit die bak opgeeet het. Nie lank nie en daar is ‘n baie sterk wind. Die vensters ruk, die deure raas in hulle skarniere, en daar val die hele houthuisie by die see inmekaar. En raai wie staan buite en glimlag? Wolf. Die twee varkies spring in die Hilux Bakkie en jaag na hulle boetie wat in Sunridge Park bly.

Hulle kom by hulle boetie in Sunridge Park aan, klop aan die deur, maar daar is geen antwoord nie. Hulle klop weer. Weer geen antwoord. Hulle kyk na hulle horlosies en besef hulle boetie sal in die kerk wees. Hulle klim toe in die Hilux Bakkie en gaan kerk toe. Hulle kom die kerk binne en gaan sit saggies op die gallery terwyl dominee Krulstert besig is om uit die Bybel te lees.

Galasiërs het ontstaan in die vroeë 50’s na Christus se kruisiging. Paulus het hoofsaaklik die brief aan die Galasiërs geskryf omdat daar verwarring onder die mense was. Party het gesê daar moet gehoorsaam geleef word volgens die Wet van Moses, ander het gesê dat hulle vry mense is volgens die genade van God en nie meer die Wet hoef te onderhou nie.

Paulus wou die Galasiërs hierin onderrig. Hy wou hulle die onderskeid tussen wet en genade leer, en vanuit daardie onderskeid ook oor die Christelike Vryheid wat hulle kan geniet. Paulus begin deur die Galasiërs in Hoofstuk 5 te waarsku teen die misbruik van hulle Christelike Vryheid om sonde te doen. Hy gaan verder in die tweede gedeelte van Hoofstuk 5 en roep hulle op om te wandel volgens die Heilige Gees.

Vanuit ‘n Geesvervulde lewe behoort hulle nou hulle lewe te daaraan te wei om goed te doen. Hoe om so ‘n Geesvervulde goed doen lewe te leef verduidelik Paulus in Hoofstuk 6 vir ons.

As iemand teen jou oortree, of as jy sien iemand doen iets verkeerd, moet jy wat jou deur die Gees laat lei, so iemand sagmoedig reghelp.

Eweskielik sit die varkie boeties regop, hulle oë word groot, en hulle stertjies krul so bietjie meer.

Jy wat jou deur die Gees laat lei, moet die een wat sonde doen reghelp sodat hy nie weer sonde wil doen nie. Jy moet dit met ‘n sagmoedigheid doen, en jy moet vriendelik daarby wees, terwyl jy die persoon help. Jy moet nie die sondaar vrees of haat nie.

 

En pas op: jy kan self in versoeking kom om sonde te doen, dalk selfs aan die persoon wat teen jou gesondig het. Daarom hanteer almal met sagmoedigheid, vriendelikheid en baie liefde. Jy weet nie waarmee daardie iemand in sy binneste sukkel nie. Dalk het jy binnekort die sagmoedigheid en liefde van ‘n vriend nodig, wat jou kan help om jou laste te dra, as jy iets verkeerd gedoen het.

As vriende moet ons mekaar Geestelik wakker hou sodat ons nie sal ingee tot versoekings nie. En wanneer daar wel geswik word onder versoekings moet ons daar wees vir ons vriende sodat ons hulle Geestelik kan bystaan.

Vers drie mag dalk klink asof Paulus met woorde speel, maar hier praat Paulus eintlik net die waarheid so eenvoudig dat dit wys klink. As ons dink ons is iets, moet ons pasop, want ons is eintlik niks. In ons self is ons niks, al wat ons is, is te danke aan God.

Daarom, as ons begin dink ons is beter as ander maak ons ‘n groot vout. Want, al maatstaf wat ons behoort te hê om onsself te meet is onsself. Ons moet elke dag daarna streef om beter te wees as die vorige dag se self. Ons moet nie onsself wil vergelyk met ander wat verkeerd doen nie.

Om ander as maatstaf vir die lewe te gebruik is om dit te maklik vir jouself te maak. Om ander as maatstaf vir jou lewe te gebruik kan ook maklik veroorsaak dat jy neersien op ander. As jy ‘n eerbare lewe wil lei moet jy jou eie maatstaf tot ‘n meer Geesvervulde lewe wees.

Vers 5 bevestig weereens dat jy alleen gaan staan wanneer jy gaan moet rekenskap gee oor jou optrede. Die skuld van ander kan nie as verskoning gebruik word vir jou skuld nie. Kinders is baie lief daarvoor om te sê: “…,maar Sarel het dit gedoen.” Omdat Sarel dit gedoen het, maak dit nie vir my reg om dit ook te doen nie, dit maak vir jou en Sarel albei verkeerd. Elkeen is verantwoordelik vir sy eie lewe voor die Here.

In vers 7 vertel Paulus vir ons metafories dat ons attent moet wees op dit waarmee ons besig is. Ons moet nie onsself mislei deur slim praatjies nie, ons moet in alles wat ons doen gefokus bly op God. Wat ons saai, sal on sook oes. Ons moet nie die genadegawes wat Hy aan ons gegee het misbruik en mors nie, ons moet nie die Here spot nie.

Hoe ons leef nadat ons die evangelie gehoor het, is bepalend vir ons ewigheid. Met ander woorde, hoe laat jy jou denke vernuwe deur die Woord van God? Gaan jy maar net dieselfde aangaan met jou lewe as jy vanoggend hier uitstap? Of gaan jy al meer en meer begin leef soos wat die Woord van God vir jou sê om te leef? Gaan jy vanuit die krag van die Heilige Gees binne in jou vriendelik wees, sagmoedig wees, nederig wees, hulpvaardig wees, of gaan jy maar aangaan op jou eie padjie en op almal trap om ten alle koste bo uit te kom?

Waar jy gaan uitkom in die lewe, hang af van waar jy gaan lewe. Of in Paulus se taal, wat jy gaan oes, hang af van die grond waarin jy saai. As jy vleeslike genot najaag, sal jy tydelike genot kry. Maar as jy ‘n meer Geesvervulde lewe najaag, sal jy die ewige vreugde bekom.

Paulus vat sy argument vas deur te sê dat as daar ‘n geleentheid is om goed te doen, dan moet ons as Christene, wat daarna streef om al meer Geesvervulde lewens te lei, goed doen. Ons moet altyd daar wees vir ander, gereed om hulle te help as hulle sukkel.

 

 

 

 

Dominee Krulstert sê Amen, die kerkklok lui, en die twee varkies ontmoet hulle boetie by die trappies van die kerk, en saam stap hulle huistoe. Net voordat hulle by die huis kom sien hulle vir wolf. Hy blaas en hy blaas, die bome se blare waai woes, selfs die blomme in die tuin voel hoe wolf blaas. Hulle vries. Kwaad. Hierdie wolf kom soek alweer moeilikheid.

Maar die derde varkie vra vir sy twee varkie boeties: “Onthou julle wat ons nounet in die kerk gehoor het? Onthou julle wat Paulus vir die Galasiërs gesê het?” Galasiërs 6:1 sê: “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp.”

Kom ons gaan help eerder vir wolf reg as om die lewe vir hom moeilik te maak. Kom ons gaan gesels met hom. Kom ons gaan luister na sy storie, dalk het hy seer binne homself. Wat ons is, is te danke daaraan dat ons die Here ken, kom ons vertel vir wolf van Jesus, hy kan ‘n heel nuwe wolf word as hy vir Jesus ken.

Solank die geleentheid daar is om die goeie nuus van Jesus te vertel, moet ons dit doen. Of dit nou vir ‘n wolf is, en of dit vir jou buurman is wat vandag nie hier in die kerk is nie. Dra mekaar se laste en hou aan om die goeie nuus van die opgestane Jesus Christus wat die dood oorwin het te vertel.

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *