1 Konings 17: God sorg

Ons lees hier van die merkwaardige verhaal van Elia. Elia, profeet van die Here in die tyd van koning Agab, van Isebel. Elia moes Agab waarsku en die straf van God aankondig. Onder leiding van Agab het die volk hul toevlug tot die Baãlprofete geneem. As straf vir Israel se wantroue in God moes Elia die droogte aankondig. Dit is duidelik in 1 Konings 18 dat Agab Elia hieroor vervolg het. Agab het al so ver van die Here afgedwaal, dat hy nie meer die stem van God kon hoor nie. Elia se waarskuwing was vir Agab `n vernedering, daarom vervolg hy Elia. Om Elia te beskerm en te versorg, stuur die Here toe vir Elia eers na die Kritspruit en toe na Sidon, `n heidense plek waar hy deur `n arm weduwee versorg word. In hierdie gedeelte is daar drie waarhede wat vir ons vandag uitstaan.

  1. God sorg vir hulle wat Hom gehoorsaam.

Die feit dat ons nie veel meer van Elia weet as dat hy `n Tisbiet was nie, wil vir ons wys dat hierdie gedeelte nie eintlik oor Elia gaan nie, maar oor God wat hom versorg het. Elia se lewe het nie om homself gedraai nie, maar oor God gegaan. Dit het sy naam ook gewys. Sy naam beteken “Die Here is God”. Hy was `n gestuurde van die Here.

As Elia swaar kry, bejammer hy nie homself nie, maar stap die pad wat God hom aanwys, want dit is waaroor sy lewe gaan! In die proses bly God getrou en wys duidelik vir Elia dat Hy vir hom sorg. As Elia se eie mense hom vervolg omdat hy aan God getrou wil bly, help die Here hom. Hy stuur hom na ‘n vreemde land sodat mense wat die Here nie eens ken nie, deur die Here gebruik word.

Dit wil voorkom asof Elia `n jaar by die Kritspruit gebly het, elke dag van die water gedrink het en dat die kraaie elke dag vir hom kos gebring het. Die water moes seker mettertyd begin opdroog het en Elia “`n mens soos ons”, volgens Jakobus, moes seker ook benoud geword het toe die water al hoe minder raak. Elia het seker na sy omstandighede gekyk en gewonder of die Here regtig gaan sorg. Hy het seker vir homself gevra: Moet ek nog steeds vertrou? Moet ek nie self gaan water soek nie?

Ons is van nature op oorlewing ingestel. Indien jy sien dat jou situasie al  hoe slegter raak, is dit noodwendig dat jy self oplossings begin soek. Sodra ons sien die Here gee nie gou genoeg `n oplossing vir ons krisis of nood nie, begin ons ongeduld wys en wonder ons of ons nog kan vertrou. Is daar regtig `n God? Al dié vrae kom binne jou op wanneer jy `n krisis beleef en geen uitkoms sien nie!

Tog gee God weer vir Elia `n nuwe opdrag: “Gaan na Sarepta toe…” Dat dit volgens die oorspronklike teks `n onmiddellike opdrag was om na Sarepta te gaan, dui op die dringendheid van die situasie. Toe hy by Sarepta opdaag, het hy ook nie gesoek na die weduwee van wie God gepraat het nie. Sy is op sy pad neergesit. Hy kon haar nie miskyk nie. Daar was sy by die ingang van die stad! God het gesorg!

Maar die skrywer wys ons ook die ander kant van die nood. Die weduwee wat vir Elia sorg, was die armste van die armes… Die feit dat God juis die armste van die armes gebruik om vir sy kinders te sorg, wys hoeveel ons van God afhanklik moet wees. As `n man sterf, het sy broer vir die weduwee en kind gesorg. Indien daar nie `n broer was nie, was sy op haar eie. Dan moes sy van donasies leef. So `n vrou was die een wat Elia by die poort van die stad ontvang het. God gebruik gebroke mense om vir ons te sorg. Hy stuur mense oor ons pad wat al die swaar van die lewe gesien het. Net om ons bewus te maak dat ons van Hom die hulp kry en nie van mense wat Hy gebruik nie. Hy is die een wat sorg!

‘n Mens staan soms verstom oor die manier waarop God sy beloftes aan ons nakom, hoe God ons gehoorsaamheid toets en ons versorg. Ons sien dit nie altyd raak nie, maar God sorg! Soms kan ons omstandighede ons vasdruk en soos Elia bly ons maar almal mense. Soos Elia bang geword het toe die water van die spruit min geword het, word ons soms bang as ons rondom ons kyk en sien die water word min. Ons begin wonder of die Here sy belofte aan ons sal hou. Dan, skielik op `n dag, stuur Hy jou na die weduwee by Sarepta en jy weet die Here sorg. Jy kry sorg uit `n oord van waar jy dit nooit verwag het nie. Maar Hy sorg.

God sorg vir hulle wat Hom gehoorsaam!

  1. Deur God se sorg vir ons stuur Hy ons om vir die wêreld te sorg.

Binne die verhaal is `n groot stuk ironie opgesluit. God sorg vir sy gehoorsame kneg, maar gebruik die sorg van sy kneg om ook vir ander wat swaar kry, te sorg. Deur die sorg van sy kinders brei God die sorg ook uit na ander, vir die res van die wêreld. Van die vrou se kant af het sy ook begin dink dit is die einde. Sy het ook al moed opgegee. Dan gebeur `n wonderwerk: God stuur Elia na haar vir hulp. Sy wat nie eers haarself kan help nie.

 

God sorg nie net vir ons en laat ons selfsugtig agter nie. As ons ons oë oopmaak, sal ons raaksien dat Hy deur die versorging van sy kinders ook seën vir ander mense gee. Ons moet vir mekaar sorg! God het aan Elia voorsien, maar terselfdertyd moes Elia aan die vrou wat hom gehelp het, voorsien. God sorg nie vir ons in isolasie nie. Hy sorg vir ons sodat ons versorgers kan word. God se sorg mag ons nie selfsugtig maak nie. Dit moet ons juis na ander dring.

Soms stuur die Here iemand in nood oor jou pad om te versorg. Die ironie is dat terwyl jy besig is om iemand anders te versorg, ontdek jy dat dit juis jy is wat versorg word. Daar is `n stuk genesing daarin om ander te versorg. Hoe meer jy omgee, hoe meer besef jy dit help jou om nader aan die Here te kom. Hoe meer jy vir ander omgee, hoe meer word jy innerlik genees. Dit is amper soos die titel van Henry Nouwen se bekende boek The Wounded Healer. God gebruik gebroke mense om ander gebrokenes te help. Hy gebruik nie volmaakte mense nie. Hoe meer jy dus na ander in nood uitreik, hoe meer sal jyself genees word van die seer van die lewe!

Dit is ons roeping as gelowiges om mekaar te versorg. Om beskikbaar te wees dat die Here ons as gebroke mense kan gebruik om die wêreld se seer weg te neem. Moet dus nie wag dat jy heeltemal herstel voor jy vir ander iets beteken nie. Jou roeping is juis in jou onvolmaaktheid geleë.

Deur God se sorg vir ons stuur Hy ons om vir die wêreld te sorg.

  1. Ons bewustheid van God se sorg dwing ons tot afhanklikheid.

Nadat Elia besef het die Here sorg op verskillende maniere vir hom, het hy sy afhanklikheid aan God besef. Dit het sy geloof versterk en sy lewe verander!

Gene Getz vertel die verhaal van die jong man met die naam Kefa Sempangi. Hy en sy gesin het `n noue ontkoming in die oorloggeteisterde Uganda gehad, waar hulle wonderbaarlik die dood vrygespring het. Hy het toe in die VSA gaan woon en teologie studeer.

Hy vertel: “Nadat hy in sy tweede semester gewoond geraak het aan die lewenstyl in die VSA, in teenstelling met sy lewenstyl in die oorloggeteisterde Uganda, het sy lewensuitkyk dramaties verander. In Uganda het hulle die Bybel gelees om hoop te kry vir die lewe. Hulle het die Bybel gelees om God se beloftes te hoor, om sy gebooie te hoor en dit te gehoorsaam. Daar was nie tyd vir debatte oor geloofsverskille nie. Die lewe was te kort en te onseker. Hulle het van God se beloftes en die hoop daarin geleef! Hulle was afhanklik van God se sorg! Noudat hy in Amerika woon, waar hulle vry is van baie bekommernisse oor hulle lewe, het hy minder afhanklik begin word van die hoop wat God bied! Hy het die Bybel as `n blote studieboek begin sien, nie meer `n boek van hoop nie. Hy het besef hy is besig om ure lank tekste te analiseer en oor verskillende dinge te argumenteer en te spekuleer. Dit was baie stimulerend, maar het hom nie geleer om afhanklik van die Here te leef nie, eerder klinies. Hy het nie meer in volle afhanklikheid van God geleef nie, maar sy eie insigte het belangriker geword. Toe het hy besef hoe belangrik dit vir gelowiges is om altyd te leef in hulle afhanklikheid van God. As jy leef omdat jy van God afhanklik is en weet dat dit Hy is wat vir jou sorg, leef jy nader aan Hom, gaan die lewe meer oor hoop en dat Jesus jou lewe moet verander.”

Miskien kan ons iets by die man leer. Ons sal dit in ons eie lewe opmerk. Sodra dit goed gaan en ons omstandighede wonderlik is, leef ons nie altyd in afhanklikheid  van die Here nie. Sien ons nie sy versorging vir ons raak nie. Miskien moet ons meer bewus word dat ons van die Here se sorg afhanklik is. Dan sal ons weer die belangrike, lewensnoodsaaklike geestelike waarhede as belangrik beskou. Miskien moet ons die Here weer toelaat om vir ons te sorg, in plaas van om so in beheer van ons lewe te wil wees!

Ons bewustheid van God se sorg dwing ons tot afhanklikheid.

God sorg vir hulle wat Hom gehoorsaam! Deur God se sorg vir ons stuur Hy ons om vir die wêreld te sorg. Ons bewustheid van God se sorg dwing ons tot afhanklikheid van God.

Die Here se belofte vir ons is duidelik: Hy is dié God wat sorg!

Amen.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.