Jeremia 31: ‘n Hart wat klop vir ‘n uitgestrekte Hand

Jou neef is ‘n boer in Zimbabwe, die land is aan die ondergang, en jy kry ‘n opdrag van die Here om jou neef se grond oor te koop, iets heel ongepas as jy die omstandighede van Zimbabwe in ag neem. Sou jy die grond koop? Sou jy, wat al die vermoens het kies om eerder Zimbabwe toe te gaan, terwyl jy weet jy baie gemakliker in Australie sal kan leef?

Jeremia het hierdie selfde opdrag gekry van die Here. Jeremia moet grond van sy familie koop in Ananot, sy geboortedorp, maar die land is aan die ondergang. Jeremia doen dit toe, hy koop die stuk grond in die land wat aan die ondergang is. Hierdie daad van Jeremia, die profeet, dra intense simboliese betekenis: op hierdie oomblik lyk alles verlore, maar die Here gaan ‘n nuwe begin maak.

Lees Jeremia 31:31-34.

God verbind Hom aan die mens en maak nuwe moontlikhede oop.

In Jeremia 11 hoor ons dat die ou verbond verongeluk het, daarom is die volk nou weer in ‘n situasie van slawerny, net in ‘n ander plek. Weer word hulle onderdruk. God se volk was nie gehoorsaam aan Hom nie, al was die Here altyd getrou aan hulle. Die Here het nooit op sy besluit om hulle God te wees teruggegaan nie. Hulle het die hand van die Here losgelaat wat hulle na vryheid wou lei…

Wat doen jy in jou lewe om die Here se hand te los? Sy hand is permanent na jou uitgesteek, en tog kies ons meermale om nie daarheen uit te reik nie, en eerder dit wat gemaklik is in ons hande vas te hou. Ons hou ons gewoontes vas, ons hou ons papiernote vas, ons hou styf vas aan hoe dinge is, en soos ons heeltyd vashou begin ons stelselmatig vergeet van die Here se uitgestrekte hand wat ons na nuwe hoogtes kan neem. Die Here se hand wat vryheid vir ons elkeen kan beteken. Die vryheid wat ons juis losmaak van alles wat ons so dag na dag probeer vashou, soveel so dat dit ons nie net begin vashou nie, maar gevangene begin hou.

Hoe bereid is jy om na die Here se stem te luister as dit kom by hoe jy jou dag beplan? Hoe bereid is jy om na die Here se stem te luister as dit kom by hoe jy jou geld moet bestee?

Die volk van God het al meer begin vashou aan dit rondom hulle, en begin vergeet van die Here se hand. Die Here wat hulle van die begin af uit Egipte gelei het, en juis op die pad by die Sinai berg ‘n stel beginsels gegee het om te keer dat hulle van sy Hand vergeet. Maar ongelukkig het hulle vergeet, eers ‘n bietjie en toe al meer en meer, soos ons ook vergeet om ons Christenskap uit te leef.

Dit begin deur onskuldig weg te kyk as iemand anders iets verkeerd doen, en later eindig dit by jyself wat nie meer skuldig voel oor dit wat jy verkeerd doen nie.

Die volk het God se verbond verbreek, hulle het gesondig, en ten spyte daarvan is die Here steeds getrou en se dat Hy ‘n nuwe verbond, ‘n nuwe stel beginsels, aan sy volk gaan gee om hulle lewens rigting te gee.

Wat Israel nodig gehad het, was nie net om ‘n einde aan hulle vreemdelingskap tot God te maak nie, maar ook dat God, juis vanwee hulle vreemdelingskap tot Hom, hulle sondes vergewe.

In vers 33 se die Here: “Ek sal my Woord op julle harte skryf en dit in julle gedagtes vasle. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.”

God skryf met sy eie vinger op ons elkeen se hart dat ons ‘n nuwe mens saam met Hom is, dat ons volgens ‘n ander stel reels as die wereld behoort te leef. Maar, besef ons werklik dat God ons harte nuut gemaak het.

[sit hand op hart en laat almal dit saam doen]

Elke keer wat jou hart klop is dit God wat jou herinner dat jou nuwe verhouding ‘n innerlike verhouding met Hom is, jou verhouding met God hoef nie ‘n uiterlike nakoming van ‘n stel reels te wees nie. As jy agterkom dat jou hand besig is om uit die Here se hand te gly, onthou om net weer jou hand op jou bors te sit. Jy sal agterkom dat daardie warm klop binne jou bors, is die Here se stem, persoonlik, soos Hy met jou praat.

Die Here is naby aan jou, jy hoef hom nie in ‘n brandende bos, of bo op ‘n berg te gaan soek nie, nee, Hy is in jou hart. Hy skryf homself in ons harte in, Hy maak homself deel van ons gedagtes.

Hierdie innerlike verandering, vernuwing, wat God in ons elkeen kom vestig se iets diep van God se karakter. Dat God ons vergewe vir dit wat ons verkeerd gedoen het, dat hy ons harte skoon was van al die kere wat ons aspris sy hand laat los het. Hy kom maak ons nuut om saam met Hom te lewe.

Die ervaring van vergifnis is ook die hoeksteen van hierdie nuwe verbond, wat wraak op elke vlak uitsluit. In die lig van hierdie liefde wat God openbaar deur ons te vergewe, deur ons nuut te maak, moet ons as Christene leer om vorentoe te beweeg om die ander of die vreemdeling in ons lewens in te sluit. Dit vra ‘n strategie van samewerking om God se vredesryk reeds hier op aarde te vestig.

Omdat God ons sonder enige voorwaardes, sonder enige asse, vergewe, word ons die opdrag gegee om dieselfde te doen. Nee, ons kan nie God wees nie. Ons sondig daagliks, maar juis daarom, juis omdat God ons daagliks vergewe, daagliks skoonmaak, en ons die heeltyd bewus van Hom kan wees in ons harte, word ons gevra om ook daardie karakter van God aan ander te openbaar.

Deur God se karakter aan ander te openbaar, leer ken die ander of die vreemdeling God. Die God van liefde, die God wat vergewe maak nie saak wat nie, die God wat nie vra dat jy Hom gaan soek in ‘n stel reels nie, die God wat jou kom soek in jou hart.

Daarom dink ek, omdat Jeremia so ietsie van God se karakter geweet het, kon Hy met sekerheid daardie grond gaan koop, al het hy geweet in menslike oe is dit ‘n baie dom besluit. En juis omdat Jeremia met ‘n Goddelike hart geleef het, kon hy na die situasie kyk met Goddelike oe, en sy vertroue heelhartig in die Here se belofte vir hom en sy nageslag plaas.

So die uitdaging hierdie week is om te kyk met watter oe jy kyk, om te gaan voel hoe jou hart klop, en om te besef dat omdat jou hart nuut klop jy met nuwe oe kan kyk en met ‘n nuwe Godgegewe gesindheid kan optree, sodat almal Homs al dien, klein en groot.

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.