So hier lees ons van ‘n groep mense, kom ons noem hulle die dissipels, wat saam met hul leier, Jesus, laat die middag in ‘n bootjie klim om na die ander kant van die Galilea see se wal te gaan.
Jesus het in Markus 1 ‘n besetene se onrein gees uit hom gedryf, Hy het Petrus se skoonmoeder van koors genees, toe dit aand word het klomp mense by Jesus se huis opgedaag, daar het hy hulle genees van verskeie siektes en bose geeste uit die mense gedryf, Jesus gaan toe op reis dwarsdeur Galilea en preek en dryf bose geeste uit. Daar kom toe ‘n melaatse man na Hom toe en vra Hom om hom te genees as dit Sy wil is. Jesus raak die man aan, en sê vir hom: “Ek wil. Word gesond!” Die man se melaatsheid het onmiddelik verdwyn en hy het gesond geword.
Jesus sonder himself toe af om met sy Vader te praat. ‘n Paar dae later in Kapernaum word dit bekend dat Jesus by die huis is. Baie mense storm toe na Hom toe. ‘n Groep vriende bring hulle vriend na Jesus deur sy dak. Hy sien die verlamde se geloof en sê vir hom: “Vriend, jou sondes word vergewe!”
Bietjie later in Markus 3 is Jesus weer in die sinagoge en genees ‘n man se gebreklike hand.
Met al hierdie wonderwerke (onrein geeste, koors, verskeie siektes, melaatsheid, verlamdheid en gebreklikheid) as agtergrond, in die dissipels se gedagtes ingegrafeer klim hulle nou in die skuit saam met Jesus.
Dit is laat die middag en nou vra Jesus dat hulle na die oorkant van die see van Galilea moet gaan. Hierdie see is bekend vir vining veranderende weersomstandighede omdat dit onder die seevlak gelê het, dit was met ander woorde ‘n see onder die see. Ook was die berge rondom hierdie see onder die see so dat die winde wat daar gewaai het ‘n tiepe warrelwind op die see gemaak het. Nou vra Jesus vir sy dissipels dat hulle laat die middag op die see moet uitgaan in ‘n kleine bootjie.
Ek is seker die dissipels was so bietjie onseker oor die moontlikheid van die onsigbare gevaar wat enige oomblik kan gebeur. Die dissipels was vissermanne, hulle ken die see goed. Ons moet ook onthou dat Jesus hier praat met die 12 manne wat elke dag saam met Hom geleef het. Hulle het ‘n hegte band gehad, en om nou vir hulle leier te sê nee ons dink Jy weet nie so mooi nie, was nie deel van hulle gedagtes nie, al het hulle dit dalk gedink.
Soos hulle in die skuit klim, verlaat hulle die een na die ander die bekende, die vaste grond, en klim in hierdie dobberende bootjie op die groot see. Hulle gaan weg van die bekende na die onbekende. Wat interessant is hier, is dit wat juis mense van mekaar skei maak dat mense by mekaar kan uitkom. Die see, dit wat so gevaarlik kan wees raak dit wat mense by mekaar uitbring, dit wat dit moontlik maak dat Jesus by nuwe mense kan uitkom.
Dit is hier waar die paradoks van die evangelie weer na vore kom. Dit wat maak dat jy wegbly van mense kan jou juis by mense uitbring. Het jy baie geld? Meng jy nie met daardie tiepe mense nie? Jou geld kan juis maak dat daardie tiepe mense beter mense raak. Dink jy jy is nie ‘n sterk genoeg Christen om voor mense te praat nie? Omdat jy bewus is van jou swakheid maak jou juis perfek om voor mense te praat, want dit sal hulle wys dat hulle ook hulle stories kan vertel.
Dit wat jou skei van mense gee jy die mag om jou van mense te skei, Jesus gebruik juis dit wat skeiding prober veroorsaak om skeiding te oorkom.
Hulle het die mense daar agtergelaat en die waters ingevaar. Die fokus skuif noun a die dissipels saam met Jesus in die bootjie. Ons lees hier dat Jesus in die skuit sit. Kan dit wees dat Hy dalk moeg was? En ook wie van die dissipels was almal by Hom? Was al twaalf dissipels saam in die bootjie en Jesus daarby?
Skielik het daar toe ‘n storm losgebars. Ek het reeds genoem dat die see van Galilea ‘n gevaarlike area was juis omdat die weersomstandighede so vinnig kan verander. So verbeel jou jy gaan met jou kayak uit op die see vir ‘n rustige roei en net as jy diep genoeg uit is, agter die golwe, breek daar ‘n woeste storm uit. Dit reën, die wind waai, dit gaan woes.
Dikwels breek storms in ons eie lewens uit. Heeltemal onverwags en skielik vind jy jouself in ‘n noodsituasie, en jou bootjie begin vinnig vol water te loop. Jy dink dalk jy is veilig in jou beroep en voor jy jou oë uitvee kom jy agter jou maatskappy is besig met vergaderings waar jy nie genooi is nie.
Soos die Psalmdigter gesê het: “Uit my vertwyfeling roep ek na U, waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis. U het golf na golf oor my laat slaan.” – Psalm 42:7-8
Terwyl hierdie storm woed, en al sterker begin winde begin waai lê Jesus rustig en slaap. Die dissipels maak toe vir Jesus wakker. Die manier hoe hulle vir Hom wakker maak sê ook baie, hulle is sommer baie haastig en konfronteer vir Jesus: “Gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Die dissipels is in gewone Afrikaans, ongeskik. Hulle praat sonder enige respek of agting met Jesus. Hoe jy praat in jou tye van krises, in jou stormtye sê baie van wie jy is. Jou manier van praat of dinge doen kan maklik wys hoe gefrustreerd en desperaat jy eintlik is.
Jesus staan toe op, Hy bestraf die wind en see: “Hou op! Bedaar!”
Hierdie woorde wat Jesus gebruik laat ons dink aan die woorde wat mense gebruik wanneer hulle demone of geeste uit dryf. Hou op! Bedaar! Daarom is hierdie woorde hier so gepas, want die see was gesien as die huis van demoniese monsters.
En so vinnig soos die storm opgekom het, so vinnig is dit stil. Tjoepstil. Nie ‘n golfie in sig nie, nie ‘n haartjie wat waai nie. Niks. Stilte. ‘n Heilige stilte daal onmiddelik neer tussen hulle neer. En vanuit daardie heilige stilte praat Jesus.
“Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”
Ek glo hierdie woorde is vanoggend baie spesifiek vir ons hier in Kraggakamma bedoel! Waarom is ons bang? Het ons dan nie geloof nie? Geloof gaan oor iets meer as ‘n intellektuele vertroue in God, geloof behels ook ‘n dappere moed om God te volg in jou aksies. Geloof vra dat jy alles wat jy het en is in God se hande plaas. Geloof vra dat jy jou vrou, jou man, jou kinders in God se hande plaas. Geloof vra dat jy jou kerel, jou meisie, jou eksamens in God se hande plaas. Geloof vra dat jy jou hele lewe in totaliteit vir die Here gee, Hy sal jou beskerm.
Die blote feit dat Jesus hierdie vrae vra wys die belaglikheid van hierdie situasie uit. “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Terwyl Jesus tasbaar by hulle is het hulle bang geraak. Terwyl God Almagtig teenwoordig is raak hierdie dissipels bang.
Dit wys vir ons twee dinge. Een, dat selfs die dissipels bang geraak het, die mense wat die geestelike leiers was bang geraak het. Hoeveel te meer gaan ons nie ook bang raak nie. Twee, dit wys vir ons dat die dissipels bang geraak het omdat hulle al meer op die storm begin fokus het, en al minder op Jesus wat rustig gelê en slaap het. As Jesus rustig slaap, hoeveel te meer kan ons nie ook rustig slaap nie.
In ons krisistye moet ons gefokus bly op God. Wanneer ons agterkom dat daar geslote vergaderings plaasvind moet ons aanhou fokus op vir Wie ons regtig werk. Alles wat ons doen, behoort ons nie vir hierdie of daardie maatskappy te doen nie, maar alles tot die verheerliking van God se Naam. Ons moet aanhou fokus op God in tye waar ons bootjies vinnig vol water stroom. God sal ons beskerm, Hy belowe dit vir ons.
Weer sê die Psalmdigter:
“U is met mag omgewe, U laat deur u krag die berge vas bly staan; U laat die gedruis van die see, die geraas van die golwe, die rumoer van die nasies bedaar…” – Psalm 65:7-8.
“Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering ‘n heilige ontsag. Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom. Here, almagtige God, wie is soos U? U krag is groot, Here, u trou is oral!” – Psalm 89:8-9.
“Party het met skepe die see bevaar en hulle bestaan op die groot waters gemaak. Hulle het die werk van die Here ervaar, sy wonderdade op die diep waters. Op sy bevel het ‘n stormwind opgesteek en die golwe opgejaag. Die skepe het hemelhoog gestyg en na die dieptes afgeduik. Die bemanning was radeloos van angs en het soos dronk mense gesteier en gewaggel; al hulle seemanskuns het niks gehelp nie. Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit die ellende gelei. Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar.” – Psalm 107:23-29.
Jesus het die storm stilgemaak. Hy vra die dissipels twee vrae wat baie naby aan hulle is. Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie? Wat netsowel kon gewees het; Waarom is julle bang? Het julle dan van my vergeet?
Die dissipels reageer deur verbaas na mekaar te draai en mekaar te vra wie hierdie man kan wees dat selfs die wind en see na Hom luister. Hier sien ons weer dat die mense wat die naaste aan Jesus geleef het so vinnig vergeet het wie Hy regtig is. Wat ‘n kort tydjie gelede nog mense genees het en bose geeste uitgedryf het. Vinnig vergeet die dissipels saam met wie hulle op reis is.
Het julle vergeet van wie Jesus regtig is? Het julle vergeet van wat Jesus als kan doen? Waarom is julle so bang? Het julle dan nie geloof nie?
Amen.