Handelinge 2: Die allerbeste, die Liefde

Het jy al ooit nagedink oor die boek Handelinge se titel: “Die Handelinge van die Apostels”? Hierdie mans en vroue was swak en onvolmaakte mense net soos ons is; party het selfs soos vis geruik. Tog, die Handelinge boek het al die gebeure van hoe Jesus se volgelinge, deur die krag van die Heilige Gees, die goeie nuus oor Hom versprei het.

 

Wanneer ons die handelinge van die apostels lees dink ons somtyds aan hulle as helde. Ons maak hulle selfs partykeer heiliges, en verhoog hulle ver bo enige iets wat ons ooit sal kan bereik, geniet, of beleef. Dit was egter nie hulle slimgeid, hulle intelektuele vermoens of adminstratiewe genie wat veroorsaak het dat hulle mense suksesvol gelei het na ‘n nuwe wereld van die goeie nuus nie. Dit was slegs deur die krag van die Heilige Gees wat deur hulle gewerk het. Vandag is daardie selfde Heilige Gees gereed om Christus se liefde, genade en krag in elke gelowige te openbaar.

 

Kom ons lees Handelinge 2:1-21

 

Op die dag van die Pinksterfees was almal op een plek bymekaar. Pinksterfees is 50dae na paasfees gevier. Vandaar die naam “pinkster” afgelei van die Grieks se “pentekoste”, die vyftigste dag. Jesus is met die paasfees gekruisig en het volgens Handelinge 40 dae later na die hemel opgevaar. Die Heilige Gees is 50 dae na die kruisiging en 10 dae na sy hemelvaart oor die gelowiges uitgestort.

 

Skielik terwyl die baie mense vir die fees bymekaar was, waarskynlik in die tempel, was daar ‘n geluid soos ‘n geweldige stormwind. In Lukas 21:25 word die selfde woord as stormwind gebruik vir die gebruis van die golwe van die see.

 

Ook op ‘n keer het iemand anders in die Ou Testament ‘n boodskap van God nodig gehad. Daar was ook ‘n baie sterk wind, ‘n aardbewing en toe ‘n vuur. Maar God se boodskap is in ‘n sagte fluistering aan hom oorgedra. Ja, God werk soms in dramatiese maniere, soos hier in Handelinge, en soms praat Hy in ‘n fluisterstem met jou. Wees geduldig, ondersoek die Bybel en luister altyd goed, sodat jy Hom kan hoor.

 

By die geluid van hierdie geweldige stormwind word ‘n sigbare verskynsel gevoeg. Hulle het iets soos vuur gesien.

 

‘n Derde teken is ook gegee om aan te dui dat die Gees werklik gekom het, en dit was dat hulle in ander tale begin praat het, soos die Gees dit aan hulle gegee het. Wat hier onthou moet word is dat die inhoud van wat hier gepraat word, belangriker is as die manier waarop dit gese word. Die toets van wat gese word is of dit werklik getuienis aangaande Christus lewer.

 

Wat ons kan aflei uit die verskillende tale wat hier gepraat word saam met die mense wat van verskillende herkomste hier vir dieselfde fees bymekaar was, is dat die Christendom nie beperk is tot enige ras of groep nie.

 

In vers 11 kan ons ook aflei wat die inhoud was wat gese is; Verras en verbaas het hulle gese “Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.” Die groot dade in hierdie geval, alles wat God in Christus gedoen het, met die uitstorting van die Heilige Gees as hoogtepunt.

 

Vers 12 sluit by vers 7 aan en praat weer van verbasing van die hoorders. Hulle verkeer in onsekerheid en weet nie wat hulle van die verskynsel moet maak nie. Vers 13 is dan die draaipunt in hierdie verhaal. Soos dit maar gewoonlik is, is daar ‘n groepie mense wat nie logies kan verstaan wat hulle sien nie, en probeer dit op ‘n manier verduidelik deur die spot te dryf en te se dat dat mense wat so in tale praat dronk is.

 

Die kollig skuif, weg van die skare spottende mense, na Petrus.

 

Petrus was nie ‘n baie standvastige leier nie, hy het selfs ontken dat hy vir Jesus ken. Christus het hom egter na sy verloening herstel, en hier sien ons ‘n nuwe Petrus.

 

Petrus en sy mede-apostels kom uit die gelowiges na vore en spreek die mense toe. Petrus staan wanneer hy praat, terwyl dit gebruiklik was om te sit wanneer iemand onderrig gegee het. Petrus staan en praat met erns en begin deur die verkeerde opvatting wat sommige in verband met die gebeure gehad het, reg te stel.

 

Verder vertel Petrus wat nou werklik hier voor hulle oe afgespeel het deur die profisie van Joel vir hulle te vertel. Die profisie van Joel kom voor in ‘n tyd na ‘n sprinkaanplaag, waar die profeet ‘n tyd van vrugbaarheid en voorspoed aankondig. Daarna sal die Here sy Gees uitstort oor die hele volk.

 

Dit is belangrik om hier te sien dat almal in aanmerking kom vir die gawe van die Gees, en almal, sonder onderskeid, mag deel wees van hierdie genadegawes. Met Pinkster het die Heilige Gees na die hele wereld gekom, na mans, vroue, seuns, dogters, Jode, nie-Jode. Vir die Jode van die eerste eeu was dit ‘n revolusionere gedagte en in die opsig is die boodskap van die evangelie inderdaad revolusioner. Dat die goeie nuus, nie net vir ‘n uitgesoekte groepie hoog geplaasdes is nie, maar vir almal, elke geslag, en elke ras.

 

In vers 21 word die gevolg van die uitstorting van die Heilige Gees aangedui, dat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, gered sal word.

 

Waarvan wil jy gered word?

 

Wil jy gered word van jou pa wat op jou ma skree en haar slaan? Wil jy gered word van jou man wat dronk by die huis aankom? Wil jy gered word van jou slegte gewoontes? Wil jy gered word van jou depressiewe emosies?

 

Jesus Christus red ons deur die krag van die Heilige Gees. Hy het sy apostels belowe dat sy Vader die Gees aan ons sal gee as Hy nie meer op die aarde saam met hulle is nie. Vandag herdenk ons presies die vervulling van daardie belofte. Die uitstorting van die Heilige Gees.

Met die uitstorting van die Heilige Gees ontvang ons elkeen gawes tot voordeel van almal. Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ‘n woord van wysheid te praat, aan die ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur die een Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander die gawe om te profiteer, en aan nog ‘n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ‘n ander om dit uit te le. Al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil. – 1 Kor 12:7-11.

 

Deur hierdie gawes wat ons ontvang van die Heilige Gees kan ons deur die Heilige Gees die lewens van baie mense red. Deur die Gees kan ons help dat daar nie meer onmin tussen man en vrou is nie, deur die Gees kan ons help dat ons kinders gelukkige lewens leef. Deur die gawes van die Heilige Gees kan ons bydra tot ‘n gesonde samelewing, ‘n samelewing van genesing, ‘n gelukkige samelewing.

 

Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het…Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitle? Le julle toe op die beste genadegawes. – 1 Kor 12:27-31.

 

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste genadegawe is: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

 

In die Naam van Jesus Christus, deur die krag van die Heilige Gees wat sy gawes aan jou skenk, gaan red jou huis, gaan red jou skool, gaan red jou werk, sodat elkeen die Naam van die Here sal aanroep en gered sal word!

 

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *