Habakuk 3: Sing jy saam met Habakuk?

Dit is donker.

Die wind waai, die water reën neer, en jy sit in die donker. Alleen in die donker.
Hoekom is dit so donker?

“Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor die donker voordat U my red? Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?”

Hier is Habakuk in ‘n diepe gesprek met die Here oor hoekom dinge so sleg gaan al is hy ‘n goeie mens. Hy kla by die Here oor al die onreg, al die slegte dinge wat hy sien. Hy kan nie verstaan dat al hierdie dinge gebeur en die Here niks daaraan doen nie. Die Here is mos ‘n God van liefde wat net die beste vir Sy kinders wil hê. Hoe werk dit nou? Want nou sit Habakuk, en ons ook soms, in die donker, met al die onreg en ellende rondom ons wat net aanhou en aanhou, sonder ophou.

Habakuk worstel met die probleem oor waarom God, as Hy heilig en regverdig is, kan toelaat dat die goddelose in die wêreld die oorhand het. Dit is ‘n probleem wat ons vandag nog in die sig staar. Daarom is vandag se gedeelte vir ons steeds relevant. Habakuk se krisis, is vandag ook ons krisis, is ‘n geloofskrisis. Die vraag is: Is dit regtig die moeite werd om God te dien, as slegte mense, goeie mense, se lewens negatief beinvloed?
Hierdie is ‘n diep vraag waarmee Habakuk worstel. Hy raak selfs opstandig teenoor die Here, hy worstel met die Here. Hy vra waarom die Here onreg toelaat, hoekom doen Hy niks daaraan nie, kan die Here dit nie sien nie, waarom bly Hy stil wanneer slegte mense goeie mense vernietig? Waarom bly Hy stil as ‘n man, afhanklik van suurstof masjiene, in Bloemfontein sterf as gevolg van kragonderbrekings?

Habakuk raak opstandig, dit sien ons duidelik. Maar hy draai nie om en loop weg nie. Hy doen iets besonders, hy sê: “Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord…” Habakuk kies om steeds te wag op wat die Here vir hom wil sê. Hy gaan staan en maak homself gereed vir God se antwoord. Die profeet is seker dat God hom sal antwoord. Hy sal nie stilbly en die regverdige ignoreer nie. God sal verskyn.

Nou hoe kan Habakuk met sulke sekerheid weet dat die Here aan hom sal verskyn met ‘n antwoord? Hoe kan hy vanuit geloof sê dat die Here hom sal antwoord? Hy kla dan nou juis oor hoekom die Here so stil is. Hoekom die Here sit en niks doen nie. En nou is hy ewe skielik seker dat die Here sal verskyn…?

Habakuk kan nou seker wees dat die Here sal verskyn, want hy het onthou om nie in die nou vas te kyk nie. Hy het onthou hoe God in die verlede so naby aan hom en sy volk was, hoe die Here hulle vantevore gered het. En daarom kan hy nou op sy wagtoring gaan staan en gereed maak vir die stem van die Here. Wanneer ons onthou wat God alreeds in ons lewens gedoen het, kom ons geloof tot stand en leer ons die geheim van in geloof lewe al is dit donker rondom ons. Sodra ons onthou dat Christus sy alles, sy lewe, vir ons aan die kruis gegee het, kan ons met geloof en vertroue die krisistye en die toekoms tegemoet gaan. As ons onthou kan ons met geloof lewe in die nou.

As ons na Habakuk kyk, het hy ‘n baie spesifieke beeld van God gehad… Wie is God vir jou? Is Hy “jou pappa”, is Hy die een wat “jou vriend” is, is Hy die een wat jou sal straf, of het jy nog nie regtig gedink aan wie God vir jou is nie?

Vir Habakuk was God in die beeld van ‘n bevelvoerder met baie krag en mag. Kyk maar na hoe hy Hom beskryf: “Hy kom met die glans van die lig, weerligte blits uit sy hand, sy hand so vol mag. Wanneer Hy staan, skud die aarde; wanneer Hy kyk, bewe die nasies. U het u boog uitgehaal en met ‘n eed die opdrag aan die pyle bevestig.”
God verskyn om sy vyande te verslaan. Voor sy almag kom die skepping in beroering. Niks kan voor die Here bly staan nie. Ons hoor hoe die weerlig blits, hoe die aarde bewe, en ook hoe die waters bruis. Die Here tree aktief toe tot die stryd, hy sit nie net en toekyk oor hoe dinge gebeur nie. God is aktief in die wêreld met sy wapens gereed vir die oorlog. Die verwysing na water kom veral na vore hier. In die Ou Testament staan water gelyk aan chaos, en hier verwys dit ook na die magte van chaos wat dreig om die wêreld te oorweldig. God tree self teen die chaos magte op, dit kan nie staan teen die Here nie.

Die Here se optrede is gemik teen die goddelose. Hy trek as Krygsman op om sy volk te verlos en die goddelose te vernietig. Vroeër het dit gelyk of die goddelose onoorwinlik is. Of die wat sleg doen, maar kan aanhou met sleg doen, sonder enige gevolge. Dit het selfs voorgekom asof God aan die kant van die goddelose is. Nou kan ons egter sien dat God almagtig is, en aan die kant van die regverdiges.

Habakuk 2:4 sê vir ons: “Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.” Verlossing kom van die Here af. Hy sorg vir sy volk.

Die boek of eerder gesprek tussen Habakuk en God eindig op ‘n hoogtepunt. Nee die ligte gaan nie aan nie. Dit is steeds donker rondom Habakuk, hy staan steeds alleen op sy wagtoring en uitkyk. Maar hy kyk anders. Ons kan sê hy het ‘n tipe van ‘n “nagvisie” “nightvision” ontwikkel.

Omdat hy onthou van die magtige verlossingsdade van die Here in die verlede raak hy opgewonde. Hy besef hy moet geduldig gehoorsaam wees totdat God ingryp en die goddeloses vernietig. Ja, dit is steeds donker rondom hom. Sy omstandighede lyk nie goed nie. Maar hy sien met vertroue uit na die verlossing. Met sy “nightvision” sien hy dat God sal verlos, die Here sal oorwin. En ten spyte van die donker rondom hom sal hy jubel en juig. Hy sal dans in die donker, want dit is God wat hom krag gee. Dit is net deur hierdie spesiale “nightvision” wat ons, van wanhoop in hoe dinge nou is, kan beweeg na vertroue in God en ‘n beter wêreld.

Ons kan vandag saam met Habakuk jubel en sing:
Al sou die brandstof duurder raak
en daar geen geld in my beursie wees nie,
al sou die werk meer raak
en die tyd al hoe minder,
al sou dit donker raak
en die kerse nie meer brand nie,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God,
my Redder.
Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos die van ‘n 4×4,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Amen.

Spreuke 9: In watter weg wandel jy?

Oor die eeue heen het baie mense al gepraat oor die weg van die lig, en die weg van die donker. Ons hoor dit al vroeg in die filosofie, by Aristoteles waar hy al sy filosofiese gedagtes gemik het om te probeer om die goue middeweg te vind. Ons hoor dit nog heelwat later in verhale soos Lord of the Rings, waar Frodo aanhoudend moet kies om op die regte pad te bly, ten spyte van die versoeking van die maklike weg na die donkerte. Ons sien dit ook in die Harry Potter flieks, waar Harry ook aanhoudend teen die donkerte moet veg. Vandag gaan ons terug. Ver terug. Verby Harry Potter, verby Lord of the Rings, verby Aristoteles, en ons stop by die Spreuke van Salomo.

Spreuke is ‘n versameling van gedigte wat bedoel is om mense te onderrig in die regte lewenshouding en lewenskuns. Spreuke gaan oor die kuns van die lewe, the art of living. Die verf waarmee Spreuke die lewe skilder is helder rooi, spierwit, ligblou, lemmetjiegroen, die verf waarmee die Spreuke geverf word bestaan uit die kennis wat begin met die dien van die Here.

Kom ons lees saam Spreuke 9:1-6 en 9:13-18

Wysheid en dwaasheid word in hierdie gedeelte teenoor mekaar gestel, en direk met mekaar gekontrasteer. Ons moet baie mooi kyk om die verkille raak te sien, want soos die dwaasheid maak, verdraai sy subtiel en mislei ons na die dood.

Als wat skitter, glinster selde heeltyd dieselfde. En in retrospek is dit dit wat naby aan jou is wat jou verander.

Altwee hierdie vroue nooi mense uit om na hulle te kom. Wysheid stuur haar bediendes uit om mense te gaan soek wat wil leer. Dwaasheid sit op haar stoep en roep luidrugtig na die wat daar verbykom.

Hier kom die eerste verskil alreeds na vore. Wysheid is opsoek na mense wat regtig wil leer, sy bly by haar huis wat uit sewe klippilare gebou is en stuur meisies uit om mense te gaan soek wat wil leer. Die getal sewe dui in die Bybel op afgerondheid en volmaaktheid. Hierdie se op ‘n mooi manier dat die wysheid niks kortkom nie – dit is volmaak en afgerond. Dwaasheid roep self, en dit mag ‘n klein verskilletjie wees maar ‘n insiggewende verskilletjie. Dwaasheid se manier van roep is om mense te verlei deur “haarself” aan te bied.

Wysheid bied kennis, waar dwaasheid plesier bied. Wysheid rig haar in die eerste plek tot die verstand, en dwaasheid tot die sintuie. Dit is maklik om die sintuie te streel, maar die vreugde van dwaasheid is kortstondig. In teenstelling daarmee duur die bevrediging van die wysheid vir altyd.

Hierdie feit word verder beklemtoon deur dit wat elkeen vir haar gaste voorsit. Wysheid het spesiaal geslag, en wyn reggesit. Dwaasheid bied gesteelde soet water aan, en verwag dat haar gaste in die geheim moet eet. Nou dink bietjie, wat sal vir jou beter wees, braaivleis en rooiwyn, waar daar gekuier en gelag word, of ‘n gesteelde Redbul en BarOne wat jy alleen in jou motor eet.

En dit hoe wysheid en dwaasheid verskil. Wysheid bied kos wat lank sal hou, wat volhoubaar en hernubaar is. Dwaasheid bied kos wat vir ‘n kort tydjie werk en dan jou op ‘n laagtepunt verlaat, uitgeput.

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.

Spreuke 9:6 vra dat ons op die pad van insig moet kom, sodat ons kan lewe. In die Hebreeus, as jy insig bekom, beteken dit om in pas te wees met God se plan vir die natuur en lewe. Hierdie insig oor hoe die ritme van die natuur werk is sentraal tot die groter prentjie van die Ou Testament, en dit, die natuurlike ritme, word die lewe genoem.

Hoe in pas is jy met die natuurlike ritme van God? Is jou lewe ‘n gejaag na wind? Of geniet jy elke dag rustig op sy beurt as ‘n geskenk van God? Dwaasheid kan maak dat ons dink dit is beter om ‘n Redbull te drink en nog langer minder goeie werk te doen. Wysheid, die natuurlike ritme leer ons iets anders.

Jim Collins skryf in Great by Choice dat die kuns van die lewe dissipline verg;

1. Die dissipline van nie werk nie
Iemand in pas met God se ritme weet dat aan die einde van die dag hulle selfone, tablets en laptops moet neersit en sê: “Wel gedaan.” Die dae van deur die nag werk is verby.

2. Die dissipline van pret
Baie mense word so gedryf dat pret vir hulle moeilik is. Iemand in pas met God se ritme moet die dissipline van lag en lighartigheid bevorder — al moet hulle dit in hulle dagboek skeduleer.

3. Die dissipline van feesvier
Die natuurlike instink van elke mens is om vorentoe te kyk — om vas te stel hoe ver hulle nog moet reis om by die doelpale te kom. Moenie vergeet om ook terug te kyk na dit wat reeds bereik is nie. Deur dit wat reeds bereik is te vier, bou jy verdere momentum.

4. Die dissipline van “tel jou seëninge”
Iemand in pas met God se ritme stop gereeld net om weer te sien hoe geseënd hulle en hulle gesin is. Hulle weet dat die beste manier om die daaglikse druk te verwerk, is om stil te staan en bestek op te neem van dinge wat goed verloop het.

Hierdie vier dissiplines; van nie werk nie, pret, feesvier, en dankbaarheid, is Goddelike dissiplines wat jou sal help om op die pad van die wysheid te bly. Dissiplines wat jou sal help om in pas met God se ritme te bly al klets dwaasheid hoe luidrugtig vanaf haar stoep oor daardie een dokument wat jy net nog so bietjie aan moet werk, of daardie een vergadering wat jy moet bywoon al weet jy Vrydae aande is familie aande.

Ons word uitgenooi om deel te he aan die kennis van die kuns van die lewe. Ja, jongmense, julle ook! Kategese begin vandag. Elke oom en tannie wat vir julle kategese gee verstaan iets van daardie Goddelike weg waarop ons moet loop om die lewe voluit te kan geniet. Hulle wil daardie kennis, daardie wysheid aan julle oordra. Hulle wil dit so graag doen want hulle verstaan wat dit beteken om die pad saam met die Here te loop.

Hulle wil jou help verstaan dat die Woord van God, die Bybel, ‘n boek is wat jy sal wil lees as jy gelukkig wil leef. Wysheid begin met die dien van die Here, en die Here kom na jou in die Bybel. Wat ons van die Here weet lees ons in die Bybel.

Die Bybel is ‘n interessante boek. Die Bybel praat van verantwoordelikheid, van karakter, van selfvertroue, van vertroue, van reputasie, van vriendskap, van groepsdruk, van depressie, van mislukkings, van geduld, van skinder, van partytjies. Die Bybel praat in baie eksplesiete detail oor dating wat vir ons wys hoe mooi ‘n verhouding kan wees indien die verhouding op ‘n Goddelike manier aangepak word.

En nou vra jy, wat nou?

En dit is hier waar ek jou antwoord deur te se dat die keuse joune is. Ek kom wys vanoggend vir jou die wyse en ook die dwase pad. Op die wyse pad sal jy insig versamel, wat niemand ooit van jou sal kan wegneem nie, en wat jou die kuns van ‘n Goddelike lewe sal leer. Op die dwase pad sal jy kort oomblikke van ekstase ervaar en daarna in donker woude rond dwaal.

Pa, Ma, Seun, Dogter, Jongmens, Oumens, Oom, Tannie, Dokter, Professor, Advokaat, Makelaar, Kelner, Onderwyser, Jy, die keuse is joune! Gaan jy die pad van kortstondige dwaasheid volg? Of gaan jy die ewige vreugdevolle Goddelike pad van wysheid stap?

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig van die gelukkige lewe.

Amen.

konsentriese sirkels

remoer, gedruis, gesuis
opsoek na
lag
onskuldig, sag

oggendreen
vir donker holtes
versigtig
weggesteek

drup drup
vloei binne
stil stil
maak vol

konsentriese sirkels
omsirkel
kring uit
van binne na buite…

– Francois van Dijk.