Jeremia 31: ‘n Hart wat klop vir ‘n uitgestrekte Hand

Jou neef is ‘n boer in Zimbabwe, die land is aan die ondergang, en jy kry ‘n opdrag van die Here om jou neef se grond oor te koop, iets heel ongepas as jy die omstandighede van Zimbabwe in ag neem. Sou jy die grond koop? Sou jy, wat al die vermoens het kies om eerder Zimbabwe toe te gaan, terwyl jy weet jy baie gemakliker in Australie sal kan leef?

Jeremia het hierdie selfde opdrag gekry van die Here. Jeremia moet grond van sy familie koop in Ananot, sy geboortedorp, maar die land is aan die ondergang. Jeremia doen dit toe, hy koop die stuk grond in die land wat aan die ondergang is. Hierdie daad van Jeremia, die profeet, dra intense simboliese betekenis: op hierdie oomblik lyk alles verlore, maar die Here gaan ‘n nuwe begin maak.

Lees Jeremia 31:31-34.

God verbind Hom aan die mens en maak nuwe moontlikhede oop.

In Jeremia 11 hoor ons dat die ou verbond verongeluk het, daarom is die volk nou weer in ‘n situasie van slawerny, net in ‘n ander plek. Weer word hulle onderdruk. God se volk was nie gehoorsaam aan Hom nie, al was die Here altyd getrou aan hulle. Die Here het nooit op sy besluit om hulle God te wees teruggegaan nie. Hulle het die hand van die Here losgelaat wat hulle na vryheid wou lei…

Wat doen jy in jou lewe om die Here se hand te los? Sy hand is permanent na jou uitgesteek, en tog kies ons meermale om nie daarheen uit te reik nie, en eerder dit wat gemaklik is in ons hande vas te hou. Ons hou ons gewoontes vas, ons hou ons papiernote vas, ons hou styf vas aan hoe dinge is, en soos ons heeltyd vashou begin ons stelselmatig vergeet van die Here se uitgestrekte hand wat ons na nuwe hoogtes kan neem. Die Here se hand wat vryheid vir ons elkeen kan beteken. Die vryheid wat ons juis losmaak van alles wat ons so dag na dag probeer vashou, soveel so dat dit ons nie net begin vashou nie, maar gevangene begin hou.

Hoe bereid is jy om na die Here se stem te luister as dit kom by hoe jy jou dag beplan? Hoe bereid is jy om na die Here se stem te luister as dit kom by hoe jy jou geld moet bestee?

Die volk van God het al meer begin vashou aan dit rondom hulle, en begin vergeet van die Here se hand. Die Here wat hulle van die begin af uit Egipte gelei het, en juis op die pad by die Sinai berg ‘n stel beginsels gegee het om te keer dat hulle van sy Hand vergeet. Maar ongelukkig het hulle vergeet, eers ‘n bietjie en toe al meer en meer, soos ons ook vergeet om ons Christenskap uit te leef.

Dit begin deur onskuldig weg te kyk as iemand anders iets verkeerd doen, en later eindig dit by jyself wat nie meer skuldig voel oor dit wat jy verkeerd doen nie.

Die volk het God se verbond verbreek, hulle het gesondig, en ten spyte daarvan is die Here steeds getrou en se dat Hy ‘n nuwe verbond, ‘n nuwe stel beginsels, aan sy volk gaan gee om hulle lewens rigting te gee.

Wat Israel nodig gehad het, was nie net om ‘n einde aan hulle vreemdelingskap tot God te maak nie, maar ook dat God, juis vanwee hulle vreemdelingskap tot Hom, hulle sondes vergewe.

In vers 33 se die Here: “Ek sal my Woord op julle harte skryf en dit in julle gedagtes vasle. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.”

God skryf met sy eie vinger op ons elkeen se hart dat ons ‘n nuwe mens saam met Hom is, dat ons volgens ‘n ander stel reels as die wereld behoort te leef. Maar, besef ons werklik dat God ons harte nuut gemaak het.

[sit hand op hart en laat almal dit saam doen]

Elke keer wat jou hart klop is dit God wat jou herinner dat jou nuwe verhouding ‘n innerlike verhouding met Hom is, jou verhouding met God hoef nie ‘n uiterlike nakoming van ‘n stel reels te wees nie. As jy agterkom dat jou hand besig is om uit die Here se hand te gly, onthou om net weer jou hand op jou bors te sit. Jy sal agterkom dat daardie warm klop binne jou bors, is die Here se stem, persoonlik, soos Hy met jou praat.

Die Here is naby aan jou, jy hoef hom nie in ‘n brandende bos, of bo op ‘n berg te gaan soek nie, nee, Hy is in jou hart. Hy skryf homself in ons harte in, Hy maak homself deel van ons gedagtes.

Hierdie innerlike verandering, vernuwing, wat God in ons elkeen kom vestig se iets diep van God se karakter. Dat God ons vergewe vir dit wat ons verkeerd gedoen het, dat hy ons harte skoon was van al die kere wat ons aspris sy hand laat los het. Hy kom maak ons nuut om saam met Hom te lewe.

Die ervaring van vergifnis is ook die hoeksteen van hierdie nuwe verbond, wat wraak op elke vlak uitsluit. In die lig van hierdie liefde wat God openbaar deur ons te vergewe, deur ons nuut te maak, moet ons as Christene leer om vorentoe te beweeg om die ander of die vreemdeling in ons lewens in te sluit. Dit vra ‘n strategie van samewerking om God se vredesryk reeds hier op aarde te vestig.

Omdat God ons sonder enige voorwaardes, sonder enige asse, vergewe, word ons die opdrag gegee om dieselfde te doen. Nee, ons kan nie God wees nie. Ons sondig daagliks, maar juis daarom, juis omdat God ons daagliks vergewe, daagliks skoonmaak, en ons die heeltyd bewus van Hom kan wees in ons harte, word ons gevra om ook daardie karakter van God aan ander te openbaar.

Deur God se karakter aan ander te openbaar, leer ken die ander of die vreemdeling God. Die God van liefde, die God wat vergewe maak nie saak wat nie, die God wat nie vra dat jy Hom gaan soek in ‘n stel reels nie, die God wat jou kom soek in jou hart.

Daarom dink ek, omdat Jeremia so ietsie van God se karakter geweet het, kon Hy met sekerheid daardie grond gaan koop, al het hy geweet in menslike oe is dit ‘n baie dom besluit. En juis omdat Jeremia met ‘n Goddelike hart geleef het, kon hy na die situasie kyk met Goddelike oe, en sy vertroue heelhartig in die Here se belofte vir hom en sy nageslag plaas.

So die uitdaging hierdie week is om te kyk met watter oe jy kyk, om te gaan voel hoe jou hart klop, en om te besef dat omdat jou hart nuut klop jy met nuwe oe kan kyk en met ‘n nuwe Godgegewe gesindheid kan optree, sodat almal Homs al dien, klein en groot.

Amen.

dit…

Ek het ‘n tydjie gelede in ‘n ry gestaan en wag, voor my in die ry was ‘n ma met ‘n kind in haar skouers saam met ‘n pa. Ek het afgely die kind is die van die pa en die ma. Ek het nie gevra nie.

Wat my opgeval het was die manier hoe die ma vir die kind gekyk het terwyl die pa vir ‘n wyle die kind vasgehou het. Sy het anders as die pa na die kind gekyk. Nie dat die pa nie liefdevol na die kind gekyk het nie, maar dit was asof die ma se kyk dieper was. Dalk het ek dit ingelees, maar dit is steeds met my.

Ek wonder nou al lank hoe moet ‘n vrou voel wanneer sy geboorte skenk aan ‘n baba, en die baba word haar kind en sy die kind se ma. Hoe moet dit voel? Ietsie, waar daar voorheen niks was nie, word deur twee mikroskopiese selletjies begin en dan groei dit soos ‘n plantjie. Het jy al ooit gedink hoe dit moet voel om ‘n plantjie in jou maag te laat groei, vir nege maande? En dan na daardie nege maande in ‘n beskermde en redelik beheersde omgewing, nou word jy forseer om daardie plantjie uit te plant in sy eie grond.

Daar moet iets gebeur die oomblik wat daardie naelstring geknip word. Hoekom hou party kulture daardie naelstring? Hoekom eet party mense dit selfs? Geboorte skenk is ‘n wonder. Deur en deur! Jy maak ‘n ander mens, ‘n mens met potensiaal.

Potensiaal wat na enige kant toe kan gaan. Ek dink ook ‘n deel van geboorte skenk is om beheer oor te gee. Om vrede te maak dat jy hierdie nuwe mens, ja, wat jy geskep het, nie kan beheer nie. Jy kan informeer, inlig, onderrig, maar nie beheer nie.

Ek wonder oor daardie spanning tussen ma en kind, daardie spanning tussen liefde en beheer. Liefde floreer in vryheid. Liefde is nie bang vir die onbekende nie. Liefde gee kans. Liefde gee geleentheid.

Ek wonder steeds wat sien ‘n ma as sy na haar kind kyk, diep in sy of haar oe staar en net kyk. Wat sien sy? Dink sy aan wat kan wees? Dink sy aan wat is? Dink sy aan wat was? En terwyl sy dink, dink ek, terwyl sy na daardie eie weerkaatsing van haar oe in haar kind kyk, is daar ‘n liefde wat nie gekeer kan word nie. ‘n Diepteliefde wat enige berg sal uitklim, vir haar kind.

Ek kan nie anders as om te wonder oor my eie ma nie. Oor hoe sy na my gekyk het nie, en steeds na my kyk. Al sit ons honderde kilometers uit mekaar is die band daar. En ook my pa. Hy kyk op ‘n anderse manier. Hy kyk meer vanuit ‘n trots dink ek. Meer van ‘n kyk, dit is wat ek gemaak het, kyk dit is deel van my, kyk daar is my bloedlyn, kyk dit is ons.

Ek dink geboorte is deel van die primitiewe menswees in die moderne samelewig van vandag. Dit is daardie deel van die mens wat nie ontken kan word nie. Al wil ons vandag al meer individualisties leef, op ons eie kragte staatmaak, herhinner die daad van geboorte ons dat ons nie sonder ander kan nie. Dat ons sal dood gaan as ons nie liefde vir mekaar kan wys nie.

Dat ons stil stil sal sterf as ons nie op somersaande in mekaar se oe kan staar nie. In die wintermaande mekaar nie kan vashou nie. In die lente nie saam kan dans nie. En herfs hand aan hand kan stilstaan en kan opkyk terwyl ‘n blaar van bo na onder tuimel en gereed maak vir rus.

Geboorte is ‘n wonder deur en deur wat my nog vir lank gaan fassineer.

Hoe om versoeking te oorwin.

Hoe om versoeking te oorwin

Wat is versoeking?

Versoeking is om te oorweeg om iets te doen wat oneer aan die Here sal bring. Versoeking kan slegs in ons gedagtes ontstaan. Dit is waar alles begin.

Wanneer word versoeking sonde?
• Wanneer die gedagte oorgaan tot die daad.
• Wanneer ons verkeerde gedagtes vertroetel.
• “’n Mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as diebegeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort.” – Jakobus 1:14-15.
• Ons kan nie verhoed dat bose gedagtes in ons denke ontstaan nie. Ons kan wel verhoed dat hulle daar bly.
• Hoe sal on sweet wanneer die versoeking oorgeslaan het na sonde? Die Heilige Gees sal dit onder ons aandag bring en dit as sonde uitwys.

Waarom ervaar ons versoekings?
• Eerstens, ons sondige natuur lok ons weg van God, dit is die vloek waarmee ons gebore is.
• “…wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil.” – Galasiers 5:17.
• Tweedens, die wereld lyk altyd aantreklik, die wereld verwys na die waardes wat in die lewens van ongelowiges regeer. Wat die media ons nie vertel nie, is die hartseer, die emosionele pyn en die leegheid wat ‘n wereldse leefstyl meebring.
• Derderns, probeer die satan voortdurend om die gelowige te pootjie.
• “…die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” – 1 Petrus 5:8-9.
Die begeertes van die sondige natuur.
• In Galasiers 5:19-21 vind ons ‘n lys van al die dade van die sondige natuur.
• Die sensuele sondes: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap, ens.
• Die emosionele sondes: haat, naywer, woede, rusies, afguns, uitspattigheid, ens.
• Die geestelike sondes: afgodsdiens en towery.

Die waardes van hierdie wereld.
• Hoogmoed: “Alles wat tipies is van die menslike begeerte, die begeerte vir alles wat die oog sien, en die valse roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorprong in die wereld.” – 1 Joh 2:16
• Materialisme: “…die wat ryk wil word, val in versoeking…want geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad.” – 1 Tim 6:9-10. Let weld at dit nie se dat geld die probleem is nie – dit is geldgierigheid, dit wil se, die liefde vir geld.
• Selfgerigtheid: Ons word vertel dat ons altyd eerste na onsself moet kyk. My behoeftes moet voorkeur kry bo die van ander. As Jesus die versoeking van selfgerigtheid uitgevoer het sou Hy steeds koning van die wereld gewees het, satan het Hom immers al die mag aangebied. Maar Hy sou nie die mag van die satan gebreek het nie.

Die versoeking om God se Woord te ignoreer
• Soms is die versoeking nie om God se Woord te verontagsaam nie, maar om dit te betwyfel.
• Soms word ons versoek om God se Woord te verontagsaam deur staat te maak op wat mense se eerder as wat God se.

Wat is God se rol in versoeking?
• Die Bybel stel dit onomwonde dat God ons nie versoek om te sondig nie. – Jakobus 1:13
• Hy laat egter wel toe dat die satan beproewinge oor ons bring. Maar God stel perke.
• “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” – 1 Korintiers 10:13
• Die Here gee ons die krag om te oorwin. Hebreers 2:18 se: “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy die help wat versoek word.”
• Die argument dat “die duiwel my dit laat doen het” geld nie vir ‘n gelowige nie.
Waarom laat God toe dat ons versoek word?
• Dit is duidelik vanuit die Skrif dat God toelaat dat sy kinders beproef word om sodoende ons geloof te versterk. Niks kan groei sonder een of ander vorm van weerstand nie, of ons nou praat van ons spiere of die wortels van die plante in ons tuine.
• Jesus het nie verhoed dat die satan die dissipels beproef nie, Hy het eerder gese Hy sal vir hulle bid dat hulle geloof hulle nie begewe nie. – Lukas 22:32.
• Hy laat ook toe dat ons versoek word omdat dit Hom eer bring wanneer ons die versoeking oorwin. – 1 Petrus 1:6-7.

Wat moet ons doen om versoeking te oorwin?
• Erken die skadelike gevolge van sonde: die eerste stap in om te erken dat God se gebooie nooit bedoel is om genot van ons te weerhou nie. Hy het ons die gebooie gegee om ons te beskerm. So lank as wat ons sonde sien as iets aangenaams wat ons ontse word, sal ons nooit versoeking oor die lang termyn kan oorwin nie.
• Waak en bid: Hoe meer ek die Bybel deel van my denke maak, hoe meer gee dit my die wapens om versoeking te oorwin. Psalm 119:9 som dit mooi op: “Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u Woord.” Jesus het ook sy dissipels geleer om te bid dat hulle nie in versoeking sal kom nie, maar verlos word van die bose. – Matteus 6:13.
• Vlug vir die begeertes van die sondige natuur: 2 Timoteus 2:22 se dat ons moet vlug vir enige iets wat jeugdige drange aanwakker. 1 Tessalonisense 5:22 se dat ons moet wegbly van alles wat sleg is.
• Weerstaan die duiwel se voorstelle: Jakobus 4:7 belowe ons dat as ons die duiwel teestaan hy van ons sal wegvlug. Die beste manier om enige slegte gedagtes te laat weggaan is om na die Woord van God te gaan. Elke voorstel wat die satan in Jesusse gedagtes geplant het, is beantwoord met “daar staan geskrywe…”