Galasiërs 6: Die Drie Varkies

Eendag lank lank gelede was daar drie varkies. Die een varkie het in ‘n rondawel met ‘n strooi dak in die Transkei gebly, die ander varkie in ‘n houthuisie langs die see gebly, en die ander varkie in ‘n baksteen huis in Sunridge Park.

Hierdie drie varkies het almal rustig na die oggend Godsdiens op RSG gesit en luister. Die volgende oomblik is daar ‘n baie sterk wind en die varkie wat in die Transkei bly se dak waai van sy rondawel af. Hy kyk bo oor sy rondawel se muur en daar staan die nare wolf met ‘n groot glimlag op sy gesig. Hy spring vinnig in sy Hilux Bakkie en jaag na sy boetie by die see.

Hy kom toe by sy boetie by die see aan. Hy vertel hom van nare wolf wat sy rondawel se dak afgeblaas het en selfs sy goudvis uit die bak opgeeet het. Nie lank nie en daar is ‘n baie sterk wind. Die vensters ruk, die deure raas in hulle skarniere, en daar val die hele houthuisie by die see inmekaar. En raai wie staan buite en glimlag? Wolf. Die twee varkies spring in die Hilux Bakkie en jaag na hulle boetie wat in Sunridge Park bly.

Hulle kom by hulle boetie in Sunridge Park aan, klop aan die deur, maar daar is geen antwoord nie. Hulle klop weer. Weer geen antwoord. Hulle kyk na hulle horlosies en besef hulle boetie sal in die kerk wees. Hulle klim toe in die Hilux Bakkie en gaan kerk toe. Hulle kom die kerk binne en gaan sit saggies op die gallery terwyl dominee Krulstert besig is om uit die Bybel te lees.

Galasiërs het ontstaan in die vroeë 50’s na Christus se kruisiging. Paulus het hoofsaaklik die brief aan die Galasiërs geskryf omdat daar verwarring onder die mense was. Party het gesê daar moet gehoorsaam geleef word volgens die Wet van Moses, ander het gesê dat hulle vry mense is volgens die genade van God en nie meer die Wet hoef te onderhou nie.

Paulus wou die Galasiërs hierin onderrig. Hy wou hulle die onderskeid tussen wet en genade leer, en vanuit daardie onderskeid ook oor die Christelike Vryheid wat hulle kan geniet. Paulus begin deur die Galasiërs in Hoofstuk 5 te waarsku teen die misbruik van hulle Christelike Vryheid om sonde te doen. Hy gaan verder in die tweede gedeelte van Hoofstuk 5 en roep hulle op om te wandel volgens die Heilige Gees.

Vanuit ‘n Geesvervulde lewe behoort hulle nou hulle lewe te daaraan te wei om goed te doen. Hoe om so ‘n Geesvervulde goed doen lewe te leef verduidelik Paulus in Hoofstuk 6 vir ons.

As iemand teen jou oortree, of as jy sien iemand doen iets verkeerd, moet jy wat jou deur die Gees laat lei, so iemand sagmoedig reghelp.

Eweskielik sit die varkie boeties regop, hulle oë word groot, en hulle stertjies krul so bietjie meer.

Jy wat jou deur die Gees laat lei, moet die een wat sonde doen reghelp sodat hy nie weer sonde wil doen nie. Jy moet dit met ‘n sagmoedigheid doen, en jy moet vriendelik daarby wees, terwyl jy die persoon help. Jy moet nie die sondaar vrees of haat nie.

 

En pas op: jy kan self in versoeking kom om sonde te doen, dalk selfs aan die persoon wat teen jou gesondig het. Daarom hanteer almal met sagmoedigheid, vriendelikheid en baie liefde. Jy weet nie waarmee daardie iemand in sy binneste sukkel nie. Dalk het jy binnekort die sagmoedigheid en liefde van ‘n vriend nodig, wat jou kan help om jou laste te dra, as jy iets verkeerd gedoen het.

As vriende moet ons mekaar Geestelik wakker hou sodat ons nie sal ingee tot versoekings nie. En wanneer daar wel geswik word onder versoekings moet ons daar wees vir ons vriende sodat ons hulle Geestelik kan bystaan.

Vers drie mag dalk klink asof Paulus met woorde speel, maar hier praat Paulus eintlik net die waarheid so eenvoudig dat dit wys klink. As ons dink ons is iets, moet ons pasop, want ons is eintlik niks. In ons self is ons niks, al wat ons is, is te danke aan God.

Daarom, as ons begin dink ons is beter as ander maak ons ‘n groot vout. Want, al maatstaf wat ons behoort te hê om onsself te meet is onsself. Ons moet elke dag daarna streef om beter te wees as die vorige dag se self. Ons moet nie onsself wil vergelyk met ander wat verkeerd doen nie.

Om ander as maatstaf vir die lewe te gebruik is om dit te maklik vir jouself te maak. Om ander as maatstaf vir jou lewe te gebruik kan ook maklik veroorsaak dat jy neersien op ander. As jy ‘n eerbare lewe wil lei moet jy jou eie maatstaf tot ‘n meer Geesvervulde lewe wees.

Vers 5 bevestig weereens dat jy alleen gaan staan wanneer jy gaan moet rekenskap gee oor jou optrede. Die skuld van ander kan nie as verskoning gebruik word vir jou skuld nie. Kinders is baie lief daarvoor om te sê: “…,maar Sarel het dit gedoen.” Omdat Sarel dit gedoen het, maak dit nie vir my reg om dit ook te doen nie, dit maak vir jou en Sarel albei verkeerd. Elkeen is verantwoordelik vir sy eie lewe voor die Here.

In vers 7 vertel Paulus vir ons metafories dat ons attent moet wees op dit waarmee ons besig is. Ons moet nie onsself mislei deur slim praatjies nie, ons moet in alles wat ons doen gefokus bly op God. Wat ons saai, sal on sook oes. Ons moet nie die genadegawes wat Hy aan ons gegee het misbruik en mors nie, ons moet nie die Here spot nie.

Hoe ons leef nadat ons die evangelie gehoor het, is bepalend vir ons ewigheid. Met ander woorde, hoe laat jy jou denke vernuwe deur die Woord van God? Gaan jy maar net dieselfde aangaan met jou lewe as jy vanoggend hier uitstap? Of gaan jy al meer en meer begin leef soos wat die Woord van God vir jou sê om te leef? Gaan jy vanuit die krag van die Heilige Gees binne in jou vriendelik wees, sagmoedig wees, nederig wees, hulpvaardig wees, of gaan jy maar aangaan op jou eie padjie en op almal trap om ten alle koste bo uit te kom?

Waar jy gaan uitkom in die lewe, hang af van waar jy gaan lewe. Of in Paulus se taal, wat jy gaan oes, hang af van die grond waarin jy saai. As jy vleeslike genot najaag, sal jy tydelike genot kry. Maar as jy ‘n meer Geesvervulde lewe najaag, sal jy die ewige vreugde bekom.

Paulus vat sy argument vas deur te sê dat as daar ‘n geleentheid is om goed te doen, dan moet ons as Christene, wat daarna streef om al meer Geesvervulde lewens te lei, goed doen. Ons moet altyd daar wees vir ander, gereed om hulle te help as hulle sukkel.

 

 

 

 

Dominee Krulstert sê Amen, die kerkklok lui, en die twee varkies ontmoet hulle boetie by die trappies van die kerk, en saam stap hulle huistoe. Net voordat hulle by die huis kom sien hulle vir wolf. Hy blaas en hy blaas, die bome se blare waai woes, selfs die blomme in die tuin voel hoe wolf blaas. Hulle vries. Kwaad. Hierdie wolf kom soek alweer moeilikheid.

Maar die derde varkie vra vir sy twee varkie boeties: “Onthou julle wat ons nounet in die kerk gehoor het? Onthou julle wat Paulus vir die Galasiërs gesê het?” Galasiërs 6:1 sê: “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp.”

Kom ons gaan help eerder vir wolf reg as om die lewe vir hom moeilik te maak. Kom ons gaan gesels met hom. Kom ons gaan luister na sy storie, dalk het hy seer binne homself. Wat ons is, is te danke daaraan dat ons die Here ken, kom ons vertel vir wolf van Jesus, hy kan ‘n heel nuwe wolf word as hy vir Jesus ken.

Solank die geleentheid daar is om die goeie nuus van Jesus te vertel, moet ons dit doen. Of dit nou vir ‘n wolf is, en of dit vir jou buurman is wat vandag nie hier in die kerk is nie. Dra mekaar se laste en hou aan om die goeie nuus van die opgestane Jesus Christus wat die dood oorwin het te vertel.

Amen.

1 Konings 17: God sorg

Ons lees hier van die merkwaardige verhaal van Elia. Elia, profeet van die Here in die tyd van koning Agab, van Isebel. Elia moes Agab waarsku en die straf van God aankondig. Onder leiding van Agab het die volk hul toevlug tot die Baãlprofete geneem. As straf vir Israel se wantroue in God moes Elia die droogte aankondig. Dit is duidelik in 1 Konings 18 dat Agab Elia hieroor vervolg het. Agab het al so ver van die Here afgedwaal, dat hy nie meer die stem van God kon hoor nie. Elia se waarskuwing was vir Agab `n vernedering, daarom vervolg hy Elia. Om Elia te beskerm en te versorg, stuur die Here toe vir Elia eers na die Kritspruit en toe na Sidon, `n heidense plek waar hy deur `n arm weduwee versorg word. In hierdie gedeelte is daar drie waarhede wat vir ons vandag uitstaan.

  1. God sorg vir hulle wat Hom gehoorsaam.

Die feit dat ons nie veel meer van Elia weet as dat hy `n Tisbiet was nie, wil vir ons wys dat hierdie gedeelte nie eintlik oor Elia gaan nie, maar oor God wat hom versorg het. Elia se lewe het nie om homself gedraai nie, maar oor God gegaan. Dit het sy naam ook gewys. Sy naam beteken “Die Here is God”. Hy was `n gestuurde van die Here.

As Elia swaar kry, bejammer hy nie homself nie, maar stap die pad wat God hom aanwys, want dit is waaroor sy lewe gaan! In die proses bly God getrou en wys duidelik vir Elia dat Hy vir hom sorg. As Elia se eie mense hom vervolg omdat hy aan God getrou wil bly, help die Here hom. Hy stuur hom na ‘n vreemde land sodat mense wat die Here nie eens ken nie, deur die Here gebruik word.

Dit wil voorkom asof Elia `n jaar by die Kritspruit gebly het, elke dag van die water gedrink het en dat die kraaie elke dag vir hom kos gebring het. Die water moes seker mettertyd begin opdroog het en Elia “`n mens soos ons”, volgens Jakobus, moes seker ook benoud geword het toe die water al hoe minder raak. Elia het seker na sy omstandighede gekyk en gewonder of die Here regtig gaan sorg. Hy het seker vir homself gevra: Moet ek nog steeds vertrou? Moet ek nie self gaan water soek nie?

Ons is van nature op oorlewing ingestel. Indien jy sien dat jou situasie al  hoe slegter raak, is dit noodwendig dat jy self oplossings begin soek. Sodra ons sien die Here gee nie gou genoeg `n oplossing vir ons krisis of nood nie, begin ons ongeduld wys en wonder ons of ons nog kan vertrou. Is daar regtig `n God? Al dié vrae kom binne jou op wanneer jy `n krisis beleef en geen uitkoms sien nie!

Tog gee God weer vir Elia `n nuwe opdrag: “Gaan na Sarepta toe…” Dat dit volgens die oorspronklike teks `n onmiddellike opdrag was om na Sarepta te gaan, dui op die dringendheid van die situasie. Toe hy by Sarepta opdaag, het hy ook nie gesoek na die weduwee van wie God gepraat het nie. Sy is op sy pad neergesit. Hy kon haar nie miskyk nie. Daar was sy by die ingang van die stad! God het gesorg!

Maar die skrywer wys ons ook die ander kant van die nood. Die weduwee wat vir Elia sorg, was die armste van die armes… Die feit dat God juis die armste van die armes gebruik om vir sy kinders te sorg, wys hoeveel ons van God afhanklik moet wees. As `n man sterf, het sy broer vir die weduwee en kind gesorg. Indien daar nie `n broer was nie, was sy op haar eie. Dan moes sy van donasies leef. So `n vrou was die een wat Elia by die poort van die stad ontvang het. God gebruik gebroke mense om vir ons te sorg. Hy stuur mense oor ons pad wat al die swaar van die lewe gesien het. Net om ons bewus te maak dat ons van Hom die hulp kry en nie van mense wat Hy gebruik nie. Hy is die een wat sorg!

‘n Mens staan soms verstom oor die manier waarop God sy beloftes aan ons nakom, hoe God ons gehoorsaamheid toets en ons versorg. Ons sien dit nie altyd raak nie, maar God sorg! Soms kan ons omstandighede ons vasdruk en soos Elia bly ons maar almal mense. Soos Elia bang geword het toe die water van die spruit min geword het, word ons soms bang as ons rondom ons kyk en sien die water word min. Ons begin wonder of die Here sy belofte aan ons sal hou. Dan, skielik op `n dag, stuur Hy jou na die weduwee by Sarepta en jy weet die Here sorg. Jy kry sorg uit `n oord van waar jy dit nooit verwag het nie. Maar Hy sorg.

God sorg vir hulle wat Hom gehoorsaam!

  1. Deur God se sorg vir ons stuur Hy ons om vir die wêreld te sorg.

Binne die verhaal is `n groot stuk ironie opgesluit. God sorg vir sy gehoorsame kneg, maar gebruik die sorg van sy kneg om ook vir ander wat swaar kry, te sorg. Deur die sorg van sy kinders brei God die sorg ook uit na ander, vir die res van die wêreld. Van die vrou se kant af het sy ook begin dink dit is die einde. Sy het ook al moed opgegee. Dan gebeur `n wonderwerk: God stuur Elia na haar vir hulp. Sy wat nie eers haarself kan help nie.

 

God sorg nie net vir ons en laat ons selfsugtig agter nie. As ons ons oë oopmaak, sal ons raaksien dat Hy deur die versorging van sy kinders ook seën vir ander mense gee. Ons moet vir mekaar sorg! God het aan Elia voorsien, maar terselfdertyd moes Elia aan die vrou wat hom gehelp het, voorsien. God sorg nie vir ons in isolasie nie. Hy sorg vir ons sodat ons versorgers kan word. God se sorg mag ons nie selfsugtig maak nie. Dit moet ons juis na ander dring.

Soms stuur die Here iemand in nood oor jou pad om te versorg. Die ironie is dat terwyl jy besig is om iemand anders te versorg, ontdek jy dat dit juis jy is wat versorg word. Daar is `n stuk genesing daarin om ander te versorg. Hoe meer jy omgee, hoe meer besef jy dit help jou om nader aan die Here te kom. Hoe meer jy vir ander omgee, hoe meer word jy innerlik genees. Dit is amper soos die titel van Henry Nouwen se bekende boek The Wounded Healer. God gebruik gebroke mense om ander gebrokenes te help. Hy gebruik nie volmaakte mense nie. Hoe meer jy dus na ander in nood uitreik, hoe meer sal jyself genees word van die seer van die lewe!

Dit is ons roeping as gelowiges om mekaar te versorg. Om beskikbaar te wees dat die Here ons as gebroke mense kan gebruik om die wêreld se seer weg te neem. Moet dus nie wag dat jy heeltemal herstel voor jy vir ander iets beteken nie. Jou roeping is juis in jou onvolmaaktheid geleë.

Deur God se sorg vir ons stuur Hy ons om vir die wêreld te sorg.

  1. Ons bewustheid van God se sorg dwing ons tot afhanklikheid.

Nadat Elia besef het die Here sorg op verskillende maniere vir hom, het hy sy afhanklikheid aan God besef. Dit het sy geloof versterk en sy lewe verander!

Gene Getz vertel die verhaal van die jong man met die naam Kefa Sempangi. Hy en sy gesin het `n noue ontkoming in die oorloggeteisterde Uganda gehad, waar hulle wonderbaarlik die dood vrygespring het. Hy het toe in die VSA gaan woon en teologie studeer.

Hy vertel: “Nadat hy in sy tweede semester gewoond geraak het aan die lewenstyl in die VSA, in teenstelling met sy lewenstyl in die oorloggeteisterde Uganda, het sy lewensuitkyk dramaties verander. In Uganda het hulle die Bybel gelees om hoop te kry vir die lewe. Hulle het die Bybel gelees om God se beloftes te hoor, om sy gebooie te hoor en dit te gehoorsaam. Daar was nie tyd vir debatte oor geloofsverskille nie. Die lewe was te kort en te onseker. Hulle het van God se beloftes en die hoop daarin geleef! Hulle was afhanklik van God se sorg! Noudat hy in Amerika woon, waar hulle vry is van baie bekommernisse oor hulle lewe, het hy minder afhanklik begin word van die hoop wat God bied! Hy het die Bybel as `n blote studieboek begin sien, nie meer `n boek van hoop nie. Hy het besef hy is besig om ure lank tekste te analiseer en oor verskillende dinge te argumenteer en te spekuleer. Dit was baie stimulerend, maar het hom nie geleer om afhanklik van die Here te leef nie, eerder klinies. Hy het nie meer in volle afhanklikheid van God geleef nie, maar sy eie insigte het belangriker geword. Toe het hy besef hoe belangrik dit vir gelowiges is om altyd te leef in hulle afhanklikheid van God. As jy leef omdat jy van God afhanklik is en weet dat dit Hy is wat vir jou sorg, leef jy nader aan Hom, gaan die lewe meer oor hoop en dat Jesus jou lewe moet verander.”

Miskien kan ons iets by die man leer. Ons sal dit in ons eie lewe opmerk. Sodra dit goed gaan en ons omstandighede wonderlik is, leef ons nie altyd in afhanklikheid  van die Here nie. Sien ons nie sy versorging vir ons raak nie. Miskien moet ons meer bewus word dat ons van die Here se sorg afhanklik is. Dan sal ons weer die belangrike, lewensnoodsaaklike geestelike waarhede as belangrik beskou. Miskien moet ons die Here weer toelaat om vir ons te sorg, in plaas van om so in beheer van ons lewe te wil wees!

Ons bewustheid van God se sorg dwing ons tot afhanklikheid.

God sorg vir hulle wat Hom gehoorsaam! Deur God se sorg vir ons stuur Hy ons om vir die wêreld te sorg. Ons bewustheid van God se sorg dwing ons tot afhanklikheid van God.

Die Here se belofte vir ons is duidelik: Hy is dié God wat sorg!

Amen.

 

2 Samuel: As jy dink jy is ‘n held, pasop!

Ons lees vroer dat die Filistyne hulle weermag begin oproep het om teen Israel oorlog te maak. Die Filistyne het kamp opgeslaan by Sunem. Saul het in daardie tyd die hele Israel bymekaar geroep en kamp opgeslaan by Gilboa. In 1 Samuel 28:5 lees ons dat Saul die kamp van die Filistyne gesien het en toe raak hy bang en sy hart het benoud begin klop.

 

Onthou julle vir Dawid en Goliat? Saul was in dieselfde situasie met Goliat, ‘n Filistyn. Goliat het Saul se manskappe bedreig. Saul die koning van Israel was toe stil. Toe kom die klein mannetjie van die skaap kampies, die herder, en oorwin vir Goliat deur die krag van die Here.

 

Met Saul wat vir ‘n tweede keer bang en benoud na die Filistyne kyk volg hy hierdie keer ‘n ander padjie. Hy gaan na die heks by En-Dor, En roep die gees van Samuel op.

 

Ons is vandag drie hoofstukke verder. Saul het pas op die Gilboa berge gesterf. Nie net Saul nie, maar ook al sy seuns, Jonatan inkluis.

 

Kom ons lees 2 Samuel 1:17-27.

 

Met die wapen in die hand het hulle omgekom… Hoe het die helde geval? Hierdie gedagte word drie maal in hierdie gedeelte herhaal, hoe het die helde geval?

 

Die opskrif vertel vir ons dat hierdie ‘n klaaglied oor die dood van Saul en Jonatan is. Dawid sing hier vir Saul en sy seun. Dawid sing hier ook vir sy beste vriend, Jonatan. Terwyl Dawid hier staan en sing, hoe hartseer hy ookal is, staan hy op die drumpel van koningskap. Dit na ‘n lang en bloedige tydperk waarin Saul stadig maar seker van sy troon afgeval het.

 

Dawid moet sy woorde mooi kies en sy balans hou tussen duidelikheid en misterie. Dawid moet polities korrek optree, en tog wil hy sy mees intieme emosies laat uitkom in hierdie begrafnislied.

 

Israel lê op die berge verstrooi, verslaan, vernietig. Die Filistyne het hulle dorpies ingeneem en Israel laat vlug. Hoe het die helde geval?

 

Dawid noem die Gilboaberge, daar waar die oorlog plaasgevind het, Offerland. ‘n Baie subtiele manier om te sê dat Saul moes sterf vir die sondes wat hy gedoen het. Hy was ongehoorsaam aan die Here, en uiteindelik lei die sonde, ‘n verset teen die Here, tot die dood. Hoe het die helde geval?

 

Dawid noem dat Saul se sklid nie met olie ingesmeer was nie, maar eerder met die bloed en vet van die gesneuweldes. Dawid probeer weer subtiel te sê dat Saul se geweld nie deur die Here goedgekeur was nie. Saul het in stryd met die Here opgetree. Hoe het die helde geval?

 

Dawid sing verder, al meer vervoer deur hierdie booglied, en prys Saul en Jonatan. Geliefde mense wat nie van mekaar geskei kon word nie. Pa en seun, saam deur dik en dun. Hulle was vinniger as arende en sterker as leeus.

 

Dawid laat die Israelitiese dogters oor Saul huil, want hy wil nie. Dawid se aandag is by sy goeie vriend Jonatan. ‘n Vriend vir wie hy sy lewe te danke het. ‘n Vriend wie hy meer lief gehad het as enige vrou. Dawid is bedroef oor Jonatan. Jonatan was naby aan sy hart. En met hierdie trane vlak in sy oë moet hy nou verder gaan met die politiese speletjie om almal tevrede te hou.

 

Hy kan nie homself ten toon stel nie, want net nou net sien die mense teveel van hom. Net nou net hou die mense nie van wie hulle sien nie, en dan is daar weer onstabiliteit in die reik en stort dinge verder ineen.

 

So baie soos wat hierdie lied sê oor Saul die koning wat teen God se wil opgetree het, so baie soos wat hierdie lied sê oor Jonatan wat Dawid se geliefde vriend was, so baie sê dit ook oor die een wat nie in die lied genoem word nie. Die een wat hier die lied sing word ook geopenbaar in dit wat nie gesê word nie.

 

Hoe dikwels skuil ons self nie agter ons eie gebede nie? Hoe dikwels skuil ons self nie agter die liedjies wat ons so gemaklik saam sing nie? Hoe dikwels sal ons eerder besig bly as om saam met iemand stil te sit?

 

Dawid is besig om te sing, maar dit wat hy regtig voel wil hy nie sê nie, dit wat hy regtig voel wil hy nie voor almal sing nie. Hy is bang vir wat die mense gaan sê.

 

Hoe eerlik en eg is ons in die openbaar, daar waar ons werk, waar ons leer, waar ons speel? Hoe eerlik en eg is ons om die braaivleisvuur? Praat ons gemaklik saam oor hoe die land op ‘n afdraende pad is? Of erken ons aan mekaar dat ons meer kan doen om die land ‘n beter plek te maak?

 

Daar moet ook na die ander kant van die muntstuk gekyk word. Gun ons vir mekaar die ruimte om eerlik en eg te wees? Of het ware eerlikheid iets geraak wat deur ongemaklike stiltes gevolg word? Is ons bereid om in ongemaklike eerlikheid na mekaar se stories te luister?

 

Dawid was ‘n held gewees in die oë van die Israeliete, hoe sou dit gelyk het as die held se trane begin loop het, terwyl hy aan die sing was? Hoe sou dit gelyk het as die held gesê het, ouens, my vriend, my beste vriend is oorlede omdat hy getrou was aan sy pa wat nie na die Here geluister het nie. Hoe sal dit lyk as ons helde die Here se motiewe begin bevraagteken?

 

Hoe sou dit gelyk het as dieselfde Dawid wat Psalm 22:2 geskryf het daardie woorde in hierdie lied gebruik? Hoe sou dit lyk as die held Dawid hierdie lied ‘n ekstra vers bygegee het? Vers 27: “Hoe het die helde geval? Met die wapen in die hand het hulle omgekom! My God my God, waarom het U Israel verlaat en bly U ver as ons om hulp roep?”

 

 

 

Laat ons vir mekaar ruimte in die kerk om so eerlik te wees dat ons selfs ons diepste twyfelvrae met mekaar kan deel?

 

Ek het lank oor hierdie vraag gedink… “Laat ons vir mekaar ruimte om in die kerk eerlik te wees oor ons diepste onsekerhede?” In onlangse navorsing het ‘n studie gewys dat alhoewel die oorgrote meerderheid van jongmense in die NGK positief is oor die kerk en haar toekoms voel slegs 40% van die respondente dat die kerk ‘n plek is waar sondaars kan veilig voel. Ons almal is sondaars. So statisties is 60% van ons vanoggend op ons senuwees dat iemand dalk mag uitvind oor wat regtig in ons lewens aangaan…

 

Laat ons vir mekaar ruimte om eerlik te wees oor ons diepste onsekerhede, oor dit waaroor ons twyfel, laat ons vir mekaar ruimte om eerlik te wees oor ons sondes?

 

Ek het regtig lank hieroor gedink.

 

Die kerk is in die fixing business, die kerk wil genees, maar partymal moet dit wat verkeerd of gebreek is eers ‘n tydjie gelaat word voordat dit reggemaak word.

 

Die meeste van julle weet dat ek bosluiskoors gehad het. Ekt ‘n rofie op my been gehad daar waar die luis my gebyt het. Die oomblik toe ek die rofie aftrek, en my seer begin oopstaan, sodat die wereld dit kan sien, sodat die wereld kan sien wat fout is, toe het my wond begin genees. Toe dink ek, dalk moet ons partymal ons wonde laat oopstaan sodat die wereld dit kan sien voordat dit werklik sal genees…

 

As kerk wil ons baie vinnig plysters plak en die wond toemaak en dit wat seer is wegsteek. Ek wonder of daar nie dalk waarde daarin is vir ons wonde om oop te staan nie? Deur ons wonde te laat oop staan vir genesing, sal ons nie dalk vir ons mede kerkmense wys dat dit ok is om seer in ons te dra nie, dat dit ok is om oor ons sondes met mekaar te praat nie?

 

So sal ons dan dalk ook agterkom dat met oop wonde is ons afhanklik van God vir genesing, die enigste ware geneesheer. Plysters kan geplak word, stories kan stilgehou word, maar totdat jy nie vir God toelaat om jou wonde te genees nie, sal dit nie werklik genees nie.

 

Dawid sing bedroef, maar moet die beeld hou van die sterk leier terwyl sy beste vriend onregverdig dood is tussen bloed, spies en swaard. Dawid vra drie maal “Hoe het die helde geval?” Dalk probeer Dawid hier vir die volk sê dat die held in ons elkeen juis moet val sodat God ons kan optel.

 

Dalk moet ons elkeen besef dat ons as helde moet val, en deur ons wonde te laat oopstaan vir genesing, sal God ons kom genees, en ons saam met Hom laat opstaan. As helde moet ons val sodat die lig kan skyn op die ware Helde.

 

God die Vader, die Algmagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here, en die Heilige Gees.

 

As jy dink jy is ‘n held, pasop, jy gaan val.

 

En weet dat terwyl jy val sal God steeds by jou wees, Hy het jou reeds vergewe vir dit wat jy gedoen het, en Hy wil vir altyd ‘n verhouding met jou hê!

 

Amen.