Eksodus 3: Hier is ek! Stuur my!

Dit is vir my regtig lekker om vanoggend hier te wees. Ons het die mag om die wêreld te verander. Ek sê dit nie om cliché te wees nie, ons het regtig die mag om die wêreld te verander. Diep binne elkeen van ons het ons die kragtigste ding bekend tot die mens. En dit is ‘’n idee. ‘’n Enkele idee vanuit ons gedagtes, kan ‘’n aardbeweging veroorsaak, dit kan ‘’n blits vir ‘’n beweging wees en dit kan inderwaarheid ons toekoms herskryf. Maar ‘’n idee is magteloos as dit binne ons bly.

Baie van ons het oor die naweek gebraai… ‘’n Sosatie, ‘’n tjoppie, dalk ‘’n T-bone… Saam met lekker aartappelslaai. Met ‘’n glas in die hand staar ons na die vlamme, ons kyk hoe die hout brand, hoe dit later kole raak, ons hou ons hande oor die vlamme om te toets of dit die regte temperatuur is sodat daardie uitgesoekte vleisie op die rooster kan val.

Aan wie dink jy as jy na ‘’n vuur staar? Terwyl die vlamme die een na die ander flikker en dans, waaraan dink jy? Sien jy daardie vuur in jou geestesoog? Aan wie dink jy nou?

Deur al die jare het vuur ‘’n sentrale rol gespeel in elke huishouding, van die grotman tot die grootwildjagter. Vuur beteken lewe.

Vuur gee lig,

vuur beskerm,

vuur maak kos gaar,

vuur fassineer elkeen wat daarna staar.

As jy weer vuurmaak wil ek hê jy moet vandag onthou.

Vuur, vlamme en braai,

as jy daaraan dink, dink aan vandag.

 

Kom ons blaai saam na Eksodus 3.

Ons lees van ‘’n gewone mens, ‘’n man, ‘’n skaapwagter, wat letterlik opsoek was na groener weivelde. Moses was ‘’n skaapwagter van sy skoonpa Jetro se skape. In die woestyn is dit droog, daar lewe nie baie nie, as Moses nie die skape gereeld genoeg rondskuif nie, kan die bietjie land wat wel weiding het oorbewei raak en in nuttelose bossies verander. Die gesoute skaapboer wat Moses is, gaan soek hy na groener weivelde…

Is jy dalk vandag op ‘’n punt in jou lewe waar jou lewe oorbewei voel? Waar jy voel jy kan niks meer uit jou huidige omstandighede put nie? Voel jy dalk vasgedruk in ‘’n groot woestyn van stilte?

Moses het gesoek na groener weivelde en terwyl hy daarmee besig was, aan die voet van die berg Horeb het hy ‘’n bossie gesien wat brand. As boer, as jy sien jou weiding brand dan is jou aandag dadelik op die brand gevestig. So was Moses se aandag dadelik op daardie brandende bos gevestig. Hy kyk en hy kyk weer, maar die bos brand nie uit nie, die vuur versprei ook nie. Dit bly op een plek aan die brand.

Hoe attent is jy op jou omgewing? As jy iets anders sien, gaan jy dadelik sonder ondersoek, dit wil blus, of gaan jy versigtig ondersoek instel, want net dalk is dit juis die groener weivelde waarna jy soek?

Vers 3: “En Moses sê vir homself: ‘Ek wil tog ‘’n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?’”

Wat vir Moses begin het as net nog ‘’n normale dag het uitgedraai om ‘’n dag te wees gevul met vol verwondering. Versigtig, het Moses nader aan hierdie brandende doringbos gegaan, totdat Hy ewe skielik ‘’n stem gehoor het. “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.”

Die Here het toe vir Moses gesê: “Moenie nog nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê die Here: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”

Met hierdie woorde kom ‘’n eerste karaktereienskap van die Here na vore: God se Getrouheid. Die God van Eksodus hou Sy beloftes. So word die gebeure in Eksodus gekoppel aan die beloftes wat die Here met die aartsvaders gemaak het.

Die Here het in Genesis 12:1-3 aan Abram gesê: “Trek uit jou landuit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. Ek sal jou ‘’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘’n man van groot betekenis maak en jy moet tot ‘’n seën wees. Ek sal seën wie jou seën en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

Dit is hier in Eksodus 3 al ‘’n hele paar jaar na Genesis 12. Die afstammelinge van Abram het in Egipte baie geraak en gaan nou deur die doen en late van Moses die beloofde land binnegaan. Al het geslagte gekom en gegaan het die Here steeds Sy belofte onthou en sal daarby hou. Hy is geloofwaardig en betroubaar.

Hoe getrou is jy aan die beloftes wat jy aan ander maak? Is jou woord nog jou woord? Kan mense op jou staatmaak as jy gesê het jy gaan ‘’n ding doen?

Al het daar so baie gebeur tussen Genesis 12 en Eksodus 3 het die Here steeds by Sy woord gestaan. Hy het steeds gedoen wat Hy belowe het.

In vers 7 kom ‘’n tweede karaktereienskap van die Here na vore: God se meegevoel. God se openbaring aan Moses wys nie net dat God na die mens gekom het nie, maar dat hy dit in verhouding tot die menslike lyding gedoen het. Die Here se heilige optrede is direk gekoppel aan die mens se noodroep. Die Here het homself aan Moses openbaar omdat Hy na die hulpkreet van Israel geluister het.

Een van die merkwaardigste openbarings van die Here kom voor in die gedeelte “Ek het hulle leiding ter harte geneem.” Die Hebreeuse werkwoord hier (yada ‘om te ken’) wys na iets baie meer as kognitiewe kennis. Dit wys op ‘’n deelname in en ervaring van dit wat geken word. God openbaar ‘’n heilige keuse van Sy kant af om in die ervaring van die Israeliete in te gaan, God kies om saam met die Israeliete hulle leiding ervaar.

Het jy al ooit daaraan gedink? Dat wanneer jy in verhouding met die Here staan en jy leiding ervaar dat die Here intieme kennis van jou leiding het. Wat jy voel, voel die Here! Wat jy voel terwyl jy verslae na jou vuur staan en kyk, die Here voel dit ook.

Dit sê iets van God wat bereid is om saam met Sy volk deur ‘’n moeilike tyd te gaan. Dit is die begin van die Bybelse getuienis van leiding vir Christene. ‘’n Getuienis wat uiteindelik gestalte vind in Jesus Christus wat saam met die mense gely het. Jesus wat aan die kruis, ten volle mens, elke bietjie emosionele en fisiese pyn beleef het. Verlate en vol gate gesteek, daar het Jesus gehang vir ons seer.

Wanneer mense naby aan jou seer het, of deur ‘’n moeilike tyd gaan, waar is jy? Dra jy saam met hulle die seer, dra jy saam met hulle die pyn, of is jy eenkant? Help ons mekaar deur moeilike tye of staan ons op ‘’n afstand en kyk hoe die een na die ander onder gaan?

Die Here het opgetree in solidariteit met die wat swaarkry om ‘’n nuwe toekoms te skep.

‘’n Derde karaktereienskap van die Here kom na vore in vers 13 wanneer Moses vir die Here vra: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur.’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

In die antieke wêreld, was om iemand ‘’n naam te gee ‘’n daad van intimiteit wat ‘’n verhouding bevestig het. Om iemand se naam te ken beteken dat jy toegang tot daardie persoon het, julle kan kommunikeer en met mekaar in verhouding staan.

Die Here openbaar hier die diepste van Homself aan Moses wanneer Hy sê: “Ek is wat Ek is.” Om die Naam van die Here te ken maak dit vir iemand moontlik om God te eer en in ‘’n dieper verhouding tot Hom te staan. God openbaar hier Sy heiligheid.

So leer ken ons drie eienskappe van God terwyl Moses, en ons, na die vuur staar. God is Getrou, Hy voel saam met ons, en Hy is heilig.

Daarom, gaan, sonder om bekommerd te wees oor jou vermoëns, want God is met jou. Soos Hy met Abraham, Isak, Jakob en Moses was, so is Hy vandag ook met jou, met ons. Hy is ons God en ons is Sy kinders. Hy voel saam met ons waardeur ons gaan. Terwyl jy na die vuur staar ken Hy jou diepste gedagtes en gevoelens. Hy is Heilig en sy lig sal nooit ophou brand nie.

Met die uitstorting van die Heilige Gees was daar vlammetjies op al die mense se koppe, daardie vlammetjies het in hul harte inbeweeg en brand vandag steeds voort in ons harte. Die God van Abraham, Isak, Jakob en Moses is by ons. Hy voel saam met ons. Hy is soos ‘’n vlam warm in ons harte.

As Hy na ons roep… Gaan ons, soos Moses, antwoord: “Hier is ons!”?

 

As jy weer na jou braaivleisvuur staar, terwyl jy dink, “Waarheen tog nou Here?”

Gaan jy antwoord, “Hier is ek, Here, gebruik my.”?

Gaan jy antwoord, “Hier is ek, Here, gebruik wie ek is en wat ek het.”?

Gaan jy antwoord, “Hier is ek, Here, stuur my.”?

Gaan ons antwoord, “Hier is ons, Here, gebruik ons.”?

Amen.

Prediker 4: Herman en Maria-Helena

Dominee Jan het beplan om ‘’n paartjie te trou aan die einde van die erediens. Na die dankoffer het Dominee Jan beplan om die paartjie vorentoe te roep vir ‘’n kort huwelik seremonie voor die hele gemeente. Omdat Dominee Jan al redelik oud was, kon Dominee Jan nie die name van die paartjie onthou wie hy nou wou trou nie. Dominee Jan sê toe: “Sal die wat wil trou asseblief vorentoe kom.” Onmiddellik het daar, 9 enkellopende dames, 3 weduwees, 4 wewenaars en 6 enkellopende mans na vore gekom.

Daarmee wil ek graag namens Herman en Maria-Helena, baie welkom sê aan elkeen wat vanmiddag hier saam met ons is om hierdie mooi geleentheid te vier!

Herman, Maria-Helena, ja hierdie is julle dag! Maria-Helena, jy lyk pragtig! Eks seker Herman is baie trots om jou aan sy sy te hê!

Kom ons bid saam.

Kom ons sing nou saam Amazing Grace soos aangedui op julle kaartjie. [staande]

Ek lees vir ons voor uit Prediker 4:9-12.

Die opskrif van hierdie gedeelte sê dadelik vir ons dat twee beter as een vaar. Al lyk hierdie soos algemene kennis vir ons, leef ons eintlik vandag presies die teenoorgestelde.

Ons dink ons kan alles self doen, as ek genoeg geld het, dan doen ek dit self. Ook, ek doen dinge self sodat ek in beheer van dinge kan wees. Ek doen dinge self sodat ek vir almal kan vertel, “kyk wat het ek gedoen…” So hierdie gedeelte is eintlik vandag teen die kultuur, waar al hoe minder mense voor die Here vir mekaar belowe dat hulle saam bymekaar sal staan, in die goeie sowel as die slegte.

Herman en Maria-Helena kon netsowel aangehou saambly het en gewoon aangegaan het met hul lewens, maar hulle het nie. Hulle het juis vandag gekies om voor die Here ‘’n belofte te maak dat hulle vir altyd saam met mekaar sal staan. Deur die goeie tye, sowel as die uitdagende tye.

Hierdie gedeelte begin deur vir ons te sê dat twee beter as as een vaar, en dit is waar. Die volgende sinnetjie sê “hulle inspanning kom tot iets” eintlik sê dit dat twee wat saam werk meer bereik, en dit makliker bereik, as een wat alleen alles moet doen.

Voorbeelde volg dan om vir ons beter te verduidelik hoekom twee beter as een vaar.

As die een val, kan die ander een hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom of haar op te help nie. Hy of sy gaan net daar bly lê waar geval is, seer. Soos die man wat aangeval was op sy donkie op pad na Jerusalem deur rowers ‘’n barmhartige Samaritaan nodig gehad het, so het Herman en Maria-Helena mekaar nodig, so het ons mekaar nodig wanneer die lewe ons omslaan.

As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Rut, die Moabitiese vrou het langs Boas gaan inkruip. Saam het hulle warm geslaap. Saam het hulle ‘’n nuwe lewe geskep en mekaar omhels in vreugde elke dag soos hulle al nader aan mekaar gegroei het soos die jare aangestap het.

Een kan alleen oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. Moses se opdrag om die volk uit Egipte te lei het hom oorweldig, hy het iemand gekort om hom daarmee te help. Toe gee die Here vir hom Josua. Saam was hulle nie oorweldig deur die groot taak om ‘’n nuwe bestaan in ‘’n onbekende land te gaan maak nie.

Nou moet ook onthou word, soos julle seker ook weet, is die meeste van die gedeeltes in die Ou Testament gerig op mense wat op trek is, mense wat heeltyd aan die gang is, mense op reis. Hierdie gedeelte dieselfde, dit is nie ‘n gedeelte vir mense wat stilsit nie, dit is bedoel vir reisgenote.

Ons almal wat vandag hier is weet dat Herman en Maria-Helena besig is om gereed te maak om na Windhoek te verhuis. Dit is ‘’n baie groot stap wat hulle saam neem. Dit is ‘’n stap wat saamgaan met moeilike Visums, police clearance en werkspermitte. Dit is ‘’n gespanne pad wat hulle aanpak.

Maria-Helena, Herman. Vandag wil ek vir julle gerusstel en sê dat in elke angstige situasie is die Here saam met julle. Onthou julle het mekaar om mekaar te ondersteun. Moet nie in die gespanne situasie vir mekaar kwaad raak as iets anders julle ontstel het nie. Dra mekaar se laste. Saam kan julle weerstand bied.

Help mekaar op soos die barmhartige Samaritaan, sonder om iets terug te verwag, gee aan mekaar in oorvloed. Hou mekaar warm en beskerm mekaar teen gevaar soos Boas en Rut saamgeleef het. Bied saam weerstand teen die moeilike wêreld en strewe saam na nuwe hoogtes in onbekende terrein soos Moses en Josua. Die Here was saam met al hierdie mense, so sal Hy ook saam met julle wees, oral waar julle gaan.

In hierdie saam reis is daar geen plek vir selfsugtigheid of selfgerigtheid nie. Werk saam. Wanneer julle saamry moet julle saam na die Kaart kyk, saam die Bybel lees, julle vreugdes en hartseer deel, en ook mekaar waarsku as die een dalk iets of iemand in die pad of agter ‘n bossie sien (soms met ‘’n blou en wit lig op die dak) wat dalk die reis kan belemmer.

Daar gaan vinnige afdraandes op hierdie pad wees, spoedhobbels, kronkelpaaie, ompaaie, stadige bulte, sirkels, reguit paaie, lang paaie, maar onthou deur dit alles, dat julle saam, met God, op pad is die toekoms in. Saam, met God, is julle toekoms.

Daarom, onthou, in die reis wat die lewe is, vaar twee beter as een, saam met God. ‘’n Driedubelle tou breek nie maklik nie.

Herman, as hoof van die huis moet jy vir Maria-Helena beskerm en altyd laat veilig en geliefd voel. Maria-Helena as vrou vir Herman moet jy hom liefhê met jou hele hart, maak julle huis ‘’n sagte omgewing waar julle saam mekaar kan geniet. En saam, moet julle, Herman en Maria-Helena, die Here in dankbaarheid dien.

Van vandag af, eet dus julle brood met vreugde, drink julle wyn met ‘’n blye gemoed, God het lankal reeds goedgekeur wat julle doen. Dra wit klere, geniet die lewe waarin die Here julle vir mekaar gegee het. En onthou, God is met julle waar julle ook al mag gaan.

Amen.

 

Huweliksbevestiging.

Seënbede

Matteus 5: Hervorming Sondag

Sommer aan die begin van hierdie “Grondwet van die Koninkryk”, die Bergrede – Matteus 5-7 – hoor ons alreeds die vreemdheid in Jesus se woorde, wanneer Hy sê: “Geseënd is die armes van gees…  Geseënd is dié wat treur…

“Modern society lives by the rules of survival of the fittest. “The one who dies with the most toys wins,” reads one bumper sticker. So does the nation with the best weapons and the largest gross national product. The American Dream is to reach a point in your life where you don’t have to do anything you don’t want to do and can do everything that you do want to do.”

That may be the American Dream, but it decidedly is not Jesus’ dream as revealed in the Beatitudes. The Beatitudes express quite plainly that God views this world through a different set of lenses. God seems to prefer the poor and those who mourn to the Fortune 500 and supermodels who frolic on the beach. Oddly, God may prefer South Central L.A. to Malibu Beach, and Rwanda to Monte Carlo. In fact, one could almost subtitle the Sermon on the Mount not “survival of the fittest” but “triumph of the victims.”

Various scenes in the Gospels give a good picture of the kind of people who impressed Jesus. A widow who placed het last two cents in the offering. A dishonest tax collector so riddled with anxiety that he climbed a tree to get a better view of Jesus. A nameless, nondescript child. A woman with a string of five unhappy marriages. A blind beggar. Strenght, good looks, connections, and the competitive instinct may bring a person success in a society like ours, but those very qualities may block entrance tot he kingdom of heaven. Dependence, sorrow, repentance, a longing to change –these are the gates to God’s kingdom. – Philip Yancy, The Jesus I knew.

 

Só, sê Jesus: “Geseënd is hulle wat treur, want hulle sal vertroos word.”

Wat doen jy met jou seer?

Watter pleister probeer jy oor jou pyn plak?

Die onvermydelike pyn van;

  • Die mislukte huwelik, wat van die kinders…
  • Die lelike aanranding van ’n vrou op ’n plaas terwyl die man die heining nagegaan het…
  • ’n Kind wat oorsee werk en al hoe minder kontak maak…
  • Studente met goeie punte wat nie die finansies het om bo hul omstandighede uit te styg nie…

 

 

 

 

Mense hanteer hul hartseer, hul pyn, hul verlies, hul teleurstelling, hul mislukking op verskillende maniere:

  • Party mense word kwaad, woedend – hulle soek die oorsaak, die skuldige: wie het dít aan my gedoen? Wie het gemaak dat dít of dát met my gebeur het?  Wie het my onregverdig behandel?  Hulle is altyd daarop uit om ’n beskuldigende vinger te wys – hetsy in hul wraakgedagtes of in hul skellende woorde.  Die “blaming game” – dis “apartheid”, dis die “ANC-regering”, dis my man, dis my vrou; dis die onderwyser, dis die “coach”, dis altyd iemand anders se skuld dat dit met my gaan soos dit met my gaan.  En daarom is sulke mense ook altyd daarop uit om vergelding te soek: iemand gaan hiervoor boet; iemand gaan betaal; iemand sal my vergoed vir wat ek deur hul toedoen, deur sy of haar optrede gely het…
  • Die volgende stasie op hierdie woedende lewensreis, is verbittering: wanneer jy soort van besef dat die vind van ’n skuldige en selfs die vergelding, die wraak, NIE jou pyn wegvat nie, dan kom die verbittering; dan word jy sinies; dan verloor lewe sin; die kleure verdof en word vaal, grys, donker, swart. Dan onttrek jy jou.  En die diepste bitterheid, die “ultimate” is wanneer jy die verwytende vinger hemelwaarts draai en dink: “God, dit is Jy wat my in hierdie lewe ingedompel het…”  “God, as JY almagtig is én liefdevol, sou dít nie gebeur het nie…”
  • Daar is nóg ’n manier om jou pyn te verdoof, en dit is om ietsie daarteen te drink. Baie mense hanteer hul hartseer só: ’n pil wat vir ’n tydjie lank kan help; ’n glasie alkohol wat later baie glasies moet word om die verlies en verwyte en tevergeefsheid te verdink, ja.  Maar dit kan ook ander verslawings wees: ek gaan nimmereindigend aan’t werk; ek eet of ek oefen of ek “shop” my dae om; ek gee my nagte oor aan al wat soort vermaak en plesier is – nét solank ek die pyngedagte in my kop en die seer in my hartklop verdoof kan hou, stil kan hou, op ’n afstand kan hou – ja, ek kan die pyn óók verdoof deur my skouers op te trek en te sê “sorry”, dis nie my probleem nie – gaan net weg van my voordeurklokkie af; gaan net weg van my TV-skerm af (ek skakel liewer oor na die sportkanaal); gaan net weg van my gewete af…
  • Daar is ’n vierde manier hoe ons hartseer verwerk – veral ánder mense se hartseer: ons troos met ’n goedkoop pleistertjie: “Elke wolk het ’n silwer randjie”, sê ons. “Tyd heel alle wonde…”  “Elke huis het sy kruis…”  “God pluk die mooiste blommetjie…”  Hol woorde, weet ons eintlik hier in ons binneste – veral as iemand dit ’n keer vir jóu sê.  Niksseggend.  Troosteloos.  En boonop: dis nie waar nie.

Want só praat die Bybel NIE oor verlies nie; oor die dood nie; oor teleurstelling nie.

Jesus praat anders.

Daar teen die berghang af, dalk ’n heuwel langs die See van Galilea, dáár het Jesus dwarsdeur die skare mense – die “menigte” – wat daar gesit, of gelê of teen ’n boom geleun het, gekyk en hul pyn raakgesien; trouens: volgens die Evangelies was dít veral hoe Jesus na mense gekyk het en hul harte, hul diepste binnekant gesien het: die armoede van ’n weduwee se twee sente; die angs van ’n korrupte belastinggaarder wat hom ’n boom laat inklim om Jesus te sien; die verleentheid van ’n vrou wat vyf mislukte huwelike gehad het; ’n blinde bedelaar; ’n egbreekster, ’n man met die VIGS van destyds – melaats – troosteloos…

Jesus sê: “Julle is geseënd – julle wat treur…”

Die woord “treur” laat ons dadelik dink aan “hartseer”, en dié emosie sit daarin, ja.  Maar dit gaan eintlik dieper: die Griekse woord “penthoo” hoor ons in die Engelse vertaling: “penitent” – “rou”; dit beteken “om te klaag” soos in ’n klaaglied; dit beteken “om te rou” soos wanneer ek my gordyne sou toetrek en die purper of swart klere sou aantrek… Ja, die woord “treur” wat Jesus hier gebruik, gaan ook – en ten diepste miskien veral – oor “berou”.

Ja, Jesus sluit hierby in ons “treur” oor teleurstellings…

Ja, Jesus sluit hierby in ons trane oor ’n gebroke hart, ’n gebroke huis, ’n gebroke liggaam, ’n gebroke lewe…

Ja, Jesus sluit hierby in ons rou oor die dood van ’n geliefde…

Maar Jesus bedoel met “treur” ten diepste ons rou, ons berou oor dít wat onder alle verlies lê – selfs die dood.  Jesus bedoel ‘n “treur” oor ons verlies van die lewegewende verhouding met ons Skepper; ’n verlies aan die Tuin van Eden, by wyse van spreke.  Jesus bedoel ‘n “treur” oor sonde en alles wat sedert Genesis 3 deur hierdie Skepping gekraak het en stukkend geval het en tevergeefs geraak het en die son laat verduister het en ons maansiek laat word het – soos die mense van die outyd depressie genoem het.

Wanneer Jesus die “treurendes” aanspreek, dan bedoel Hy hulle wat eerlik genoeg was, lankgenoeg stilgebly het, diep genoeg gaan dink het en besef het: die hart van die probleem is die probleem van my hart – my gebrokenheid, my sonde.  Mense wat die beskuldigende vinger laat sak; wat die verbitterde geskel los; wat al die pynstillers eenkant skuif; wat die leë trooswoorde los en besef: daar is nét Een wat my kan troos, en dit is Hy wat my van my diepste pyn en stukkendheid kan verlos: God, my Vader; Jesus, my Verlosser.

Om te treur – soos wat Jesus dit hier bedoel – is om te bely: Here, hieraan kan ek níks doen nie.  Niks wat ek sê gaan dit beter maak nie; niks waarna ek gryp gaan my hieruit trek nie – nét U kan troos.

Uit my sonde kan ek myself en niemand my en ek niemand anders, red nie.

Die Here is my Redder, Hy alleen.

Só praat die Bybel;

  • Psalm 30:6 – “Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.”
  • Psalm 30:12 – “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.”
  • Psalm 34:6 – “Die wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie.”
  • Psalm 34:19 – “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”
  • Psalm 131 – “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”
  • Spreuke 14:3 – “Die verwaande woorde van die dwaas bring vir hom straf; die woorde van wyse mense beskerm hulle.”

En u moet mooi hoor: die Griekse woord wat Jesus vir “troos” gebruik, het Hy later ook ’n naamwoord gemaak, toe Hy in Johannes 14 belowe het:

  • Johannes 14:16 – “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die Waarheid.”

God self, is my Trooster.

  • Openbaring 21:3-4 – “Hy sal die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wes nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Só word iemand wat treur, eintlik iemand met hoop!  Só kom daar lig in my donkerte, – dáárdie moment wanneer ek my omdraai na God, my oë op Hom rig, my hart op Hóm laat hoop.

Die moment dat ek – soos wat die eerste saligspreking verlede Sondag gesê het – besef hoe afhanklik ek van Hom is; hoe arm van gees ek regtig is. Troosteloos, tótdat ek na Hóm draai, Sy uitnodiging aanvaar, huistoe kom.

Dít is waar jy die geseëndes vind, sê Jesus.

Hulle wat treur.

Amen.