stokbrood en rooiwyn

daar brand ‘n vuur
‘n vuur van vlamme
tussen my en haar
so sterk soos die doderyk

sy soen my lippe sag
haar gloeiende vel vertoon haar prag
in stille harmonie is ek
met haar

golwe breek
branders slaan
Petrus, rots
staan

die riviere het oorstroom
die waters het gespoel
my vlam vlikker steeds
in stilte

– Francois van Dijk

ongetiteld

Ek is ‘n nar.
‘n circus clown.
God se hanswors.
Met my tamatieneus, en my groot wit mond,
en uitroeptekens bokant my oë.

Ek staan Sondae voor die mense
en ek sê: Lag, mense, lag!
Word bly, mense, word bly!
Moenie meer huil nie.
Kyk daar kom ‘n nuwe aarde.

Maar as ek uit die sirkusring hardloop,
terwyl die orrel dawerend speel,
tot agter in my tent of karavaan,
dan huil ek in my hande.

Ek hou maar net soos julle aan God se genade vas.
Ek wag bewend op die Here.
Ek struikel dikwels.
Daarom loop ek so voetjie vir voetjie.

Maar my lewe is geanker
op hierdie baie stormagtige see –
deur ‘n Stuurman,
die beste een,
wat op die wal
in die hemel
aan die regterhand van God sit.

-Manie Malan