Lukas 19: Jesus en Saggeus

Gedurende elkeen van die voorafgaande vier Sondae het ons aan die hand van verskillende gedeeltes uit die Bybel, bewus geword van Christus se diens deur vriende.  Ons het begin met ons verantwoordelikheid teenoor mense in ons omgewing, ons het gekyk hoe ons na ons vriende kan uitreik, ons het geleer dat gebed vir ons vriende belangrik is en verlede week het ons gesien dit is belangrik om in mekaar se lewens belang te stel. Vanoggend sluit ons die reeks af met ‘’n lekker gedeelte oor vriende wat mekaar besoek. Vanoggend kuier ons in Jerigo saam met Jesus in Saggeüs se huis.

(lees Lukas 19:1-10)

Ons kan terugsit en luister, in ons gedagtes soos toeskouers kyk na dié humoristiese toneeltjie wat daar in die strate van Jerigo afspeel. ‘n Kort mensie hardloop met koddige treetjies die straat af tot by die groot wildevyeboom. Daar sukkel hy uitasem om die naaste tak by te kom. As hy na ‘n paar keer se spring eindelik ‘n tak beetkry, trek hy homself in die boom op. Haastig klouter hy na die sterkste tak aan die straatkant. Blaas blaas stoot hy die dun takke en blare weg sodat hy ‘n goeie deel van die straat kan sien.

Hoër op hoor hy die stemme van ‘n groep mense wat aankom in sy rigting. Hy het al ‘n ent terug saam met die klomp mense langs die straat probeer kyk hoe die Jesus lyk van wie daar so baie praatjies in die stad in omloop is. Hulle het juis vertel dat Jesus so pas weer ‘n blinde man, net hier buite die stad, gesond gemaak het sodat hy weer kan sien! Van dié wat dit sien gebeur het, kan nou nog nie ophou om daaroor te praat en God te prys nie. Al die verhale het hom laat besluit om self te sien hoe Jesus lyk en te hoor wat hy sê.  Maar tussen die mense kon hy egter niks sien nie.

Die langer mense is so ongeskik en het aanmekaar voor hom ingeskuif. Hy het dit ook weer aangevoel dat baie hom doelbewus probeer weghou het van ‘n goeie uitsig. Hy ken die vyandigheid van die gemeenskap maar al te goed. Gelukkig het hy onthou van hierdie boom verder af in die straat en daarom is hy nou hier. Opgewonde wag hierdie kort mannetjie met die mooi naam van Saggeüs, dit beteken ‘onskuldig’ en ‘skoon’, dat die optog moet naderkom.

Gelukkig sal hy goed kan sien sonder om self gesien te word.  Die meeste mense sal ook so na Jesus loop en kyk en met mekaar stry om beter te kan sien, dat seker min hom sal raaksien. Eintlik voel hy maar baie bewus daarvan dat juis hy wat hoof is van die tollenaars en by alles ‘n ryk en dus gesiene persoon, nou hier in die boom sit.  Hy kon maklik van sy mense gestuur het en Jesus na sy huis genooi het.  Die vooroordeel in die gemeenskap teen hom as hooftollenaar en ryk man is egter so erg dat hy dit liewer nie probeer het nie. Hy is ook nie seker of Jesus na hom toe sal wil kom nie. Wat ‘n verleentheid sal dit nie wees as Jesus die uitnodiging van die hand wys nie?

Maar wag, hier is hulle nou…

Ja, hy kan Jesus mooi sien. Wonderlik, Jesus gaan staan mooi regoor hom!  Fantasties! Perfek, dit kon nie beter nie. Vasgenael staar hy na Jesus. En dan kyk Jesus na hom. Hy noem Saggeüs op sy naam en beveel hom om gou af te kom want “Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Saggeüs snak na sy asem. Hy kan nie glo wat hy hoor nie! Hy is buite homself van blydskap. Hy kan nie vinnig genoeg uit die boom kom om Jesus na sy huis te neem nie.

Terwyl hy en Jesus op pad is na sy huis, volg die skare al protesterende en skellende: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!” Hulle neem Jesus erg kwalik dat Hy by hierdie gehate mens aan huis gaan. Is Hy dan nie ‘n profeet wat weet met wie Hy te doen het nie?

Wanneer Saggeüs egter met Jesus instap in die rykmanshuis met al die duursame en weelderige meubels en besittings, word hy skielik bewus van sy skuld en die beperkte waarde van aardse besittings. Dis asof sy lewe ‘n volledige omkeer maak. Wat vir hom absolute waarde het, dinge wat hy met al sy krag en met enige metode nagejaag het, lyk hier in die teenwoordigheid van Jesus skielik waardeloos en laat hom selfs skuldig voel.  En tog sê Jesus nie ‘n woord nie.

Maar sy teenwoordigheid laat Saggeüs alles in ‘n ander lig sien! En terwyl die mense nog buite raas en lelik skree, staan Saggeüs op om te praat. Hy kan nie langer stilbly nie. Hy moet dit sê!  Hy moet dit vir die Here sê! Hy het in die paar oomblikke ontdek dat hy voor die Here staan wat met Sy oë deur al die slim planne en skemas sien!

Ja, die Here sien in al sy rykdom die duisende mense wat te kort gedoen is, sommige wat dit nie eers kon bekostig nie, is gedwing om tolgeld te betaal of van hulle eiendom te verpand. Hoe wreed was hy nie in sy eise teenoor die arm weerloses nie!  Waar dit hom voorheen nooit soveel gepla het nie, hoor hy nou weer al daardie mense se gesoebat om hulle tog tegemoet te kom.

Ja, hy wat die naam ‘skoon’ en ‘onskuldig’ dra, is vuil en skuldig. Ja, skielik brand dit in sy gewete in dat Jesus hom daar by die boom op sy naam genoem het. Jesus was tog nie sarkasties toe Hy hom só genoem het nie?  Nou waarom pla sy eie naam hom nou?

Nee dit kan nie, nie voor die Here nie, maar ook nie voor die mense nie.  Al hierdie goed, eens op ‘’n tyd sy trots en begeerte, nou soveel beskuldigende vingers!  Skielik word sy huis met al die geriewe en beskerming waar hy hom kon terugtrek van die venynige kyke en hatige woorde van die samelewing, ‘n benoude en bedreigende vasgekeerdheid!  Dit word in hom ‘n oorweldigende wete wat soos ‘n vuur in sy binneste brand. Dit is sy uur van waarheid!  Hy moet sake nou, vandag, regstel.

En dan staan hierdie man op en hy praat, nie met die mense wat hom beskuldig en aan wie hy soveel skuld nie, maar met die Here: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Hy is tog seker nie ernstig nie! Nie net verklaar hy homself skuldig nie maar hy gaan ook baie verder as wat die wet (thora) voorskryf omtrent regstellende vergoeding. Waar het jy al ooit gehoor dat enige mens, laat staan nog ‘n ryk mens, bereid is om die helfte van sy goed vir die armes te gee? As hy dan wel so skuldig voel, waarom bly hy dan nie maar by die voorskrifte van die wet nie?

Maar Saggeüs is vry. Die dodelike greep wat geldgierigheid vir soveel jare op hom gehad het, is skielik gebreek. Hy is vry om te gee, om terug te gee. Nie te gee soos die wet vereis nie of omdat die wet dit eis nie, maar te gee omdat God se liefde hom vry gemaak het.  Hy is ook vry van wat mense van hom sê en dink.

Saggeüs se antwoord is nie ‘n grootwoord belydenis nie, maar ‘n plan van aksie! Dit sê wat hy gaan doen! Dit wat hy gaan doen, sal sigbaar uitspel wat hy glo!

Vir ‘n oomblik is dit stil in die ruim en deftige huis.

Wat gaan Jesus sê? Almal wonder. Dan praat Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.” Vandag, van hierdie oomblik af, is hierdie huishouding ingesluit in God se reddende liefde. Nou is Saggeüs se naam nie meer ‘n aanklag teen hom nie, maar beskryf dit sy nuwe toestand. Hy is nou in waarheid ‘onskuldig en skoon’!  Hy is ‘’n kind van Abraham’, want hy is deel van die gemeenskap van mense wat uit die geloof lewe!

Wat ‘n aangrypende verhaal!  Dit eindig nie hier nie maar staan oop, want vir Saggeüs het ‘n nuwe lewe begin.

En weer praat Jesus.  Hy is nog nie klaar nie, nie met Saggeüs, sy gaste en huishouding nie en ook nie met ons wat vanoggend na hierdie verhaal geluister het nie. Jesus het nog ‘n belangrike aankondiging om te maak: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.” Dit is die kern van die Nuwe-Testamentiese evangelie!  Dit is die reël van die koninkryk van God.

Ja, daarom is Jesus deur Jerigo, daarom is Hy in Saggeüs se huis, daarom is Hy vanoggend hier in die erediens en om daardie rede gaan Hy saam met elkeen van ons na ons huis en kamer.

Jesus kyk reguit na my en jou en sê:  “Ek moet vandag in jou huis tuis gaan!”

Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.