Ek is ‘n vreemdeling op aarde. Daarmee erken ek dat ek nie hier kan bly nie, dat my dae min is. Ek het ook hier geen reg op eiendom en tuiste nie. Al die goeie wat my ten deel val, moet ek dankbaar ontvang; onreg en geweld moet ek ly sonder dat iemand my verdedig. Ek het nòg op mense, nòg op dinge ‘n houvas. As vreemdeling is ek onderworpe aan die wette van my herberg. Die aarde wat my voed, het reg o my arbeid en my krag. Dit kom my nie toe om die aarde waarop ek lewe, te verag nie. Ek is aan hom trou en dank verskuldig. Ek mag my bestemming om ‘n vreemdeling te moet wees, en daarmee saam my roeping deur God tot hierdie vreemdelingskap, nie ontwyk deur my lewe op aarde met gedagtes oor die hemel om te droom nie. Daar is ‘n baie goddelose heimwee na die ander wêreld, en vir dié heimwee is daar gewis geen tuiskoms nie. Ek moet ‘n vreemdeling wees, met alles wat dit inhou. Ek mag my gemoed nie sluit vir die take, die pyn en die vreugde van die aarde nie, en ek moet geduldig wag op die waarmaking van die beloftes van God, maar dan waarlik wag – en nie vooruit in wense en drome daarna wil gryp nie. Van ‘n vaderland is hier geen sprake nie. Ek weet hierdie aare kan nie ‘n vaderland wees nie, en tog weet ek dat die aarde aan God behoort en dat ek hier nie net ‘n vreemdeling is nie, maar ‘n pelgrim en ‘n bywonder van God (Psalm 39:13). Omdat ek egter op aarde niks anders as ‘n vreemdeling is nie, sonder reg, sonder houvas, sonder beveiliging, omdat God self my so swak en gering gemaak het, daarom het Hy my één vaste pand van my bestemming gegee: sy Woord. Hierdie enigste sekerheid sal Hy nie van my wegneem nie, hierdie Woord sal Hy teenoor my gestand doen, daarin sal Hy my sy krag laat ervaar. As dié Woord van huis uit by my is, vind ek in die vreemde my pad, in die onreg my reg, in die onsekerheid my houvas, in die arbeid my krag, in die lyding die geduld.