Die hoofdoel van die eerste Petrusbrief is om gelowiges wat verspreid in die noordelike streke van Klein-Asië gewoon het en wat ter wille van hulle geloof vervolg en onderdruk was, te bemoedig. John Elliot sê: “At stake was not only the future growth but also the very existence of the Christian movement.” Hierdie maak dit vir ons duidelik dat dit vandag gaan om die groter Christen beweging. Gaan jy as Christen alles in jou mag doen om te verseker dat die volgende generasies, Gen X, Millenials, Gen-Z, almal steeds weet waaroor die Goeie nuus gaan? Gaan jy alles in jou mag doen om te verseker dat jou gesin weet wie Jesus eintlik was en is? Is jy bereid om soos Jesus te lewe vir die wat saam met jou lewe?
Om ‘n Christen te wees beteken dat ons bereid moet wees om anders as die wêreld te leef. As Christene is ons inderdaad vreemdelinge in die wêreld. Slegs deur gehoorsaamheid aan die Here sal ons waarlik oorleef.
Die opdragte in 1 Petrus 4:7-11 dui die weg aan waarlangs die gemeente, waarlangs ek en jy, waarlangs ons, tot sy eer saamgebind word. As gelowiges moet ons nie in die blootstelling aan stryd en lyding, plaasmoorde en verkragtings, kop verloor nie, ons moet verstandelik wakker en nugter wees. Daarom moet ons selfbeheersd wees, dit wil sê ons moet nie gou verward raak nie, nie losbandig en ongedissiplineerd lewe nie, maar met innerlike dissipline asook met ‘n koelkop verstandelik wakker wees met skerp onderskeidingsvermoë.
Wanneer ons vinnige vanuit klomp emosies optree is ons geneig om dinge te doen en te sê wat ons later oor spyt is, en wat ook die naam van die Here in die skande steek. Daarom maan Petrus dat ons selfbeheersd en nugter moet wees sodat ons altyd beredeneerd kan optree tot eer van God.
In dit alles is die liefde van hoë prioriteit. Die liefde waarvan hier in 1 Petrus gepraat word moet hartlik wees, dit kan nie afhanklik wees van wisselende emosies nie; dit moet duursaam en betroubaar wees, nie wisselvallig. Die liefde bedek baie sondes. Dit lê in die aard van die liefde om op die ander gerig te wees. Daarom kan daar met sekerheid gesê word dat ons mekaar moet lief hê deur dik en dun, nie op grond van wisselvallige emosies nie, om so ook mekaar se foute te bedek met die liefde.
Wat meer is, Petrus sê ons moet mekaar hartlik liefhê. Nou die Griekse woord wat in hierdie sin gebruik word kan vertaal word met iets soos om ‘n perd te maak gallop teen volspoed. Hierdie woordjie hartlik wil vir ons sê dat ons met intensiteit al ons kragte moet inspan om lief te hê, soos ‘n perd wat teen volspoed gallop.
Om mekaar lief te hê behels onder meer om gasvry teenoor mekaar te wees. In die Nuwe Testament word gasvryheid dikwels beklemtoon. En hier het iets my nogal getref. Ons moet gasvry wees sonder om daaroor te kla.
In die Nuwe Testamentiese tye was gasvryheid ‘n vanselfsprekendheid en ook iets wat hierdie gemeenskap van vreemdelinge en uitgeworpenes saamgebind het. Christene wat vervolg was kon enige tyd op ‘n ander Christen staatmaak vir ‘n maaltyd en ‘n warm bed. Dit is in groot waarom die Christenskap so vinnig so baie gegroei het omdat dit as ‘n gemeenskap bekendgestaan het wat na mekaar omsien, maak nie saak wat nie.
Hoe bereid is ons nog om na mekaar om te sien, maak nie saak wat nie. Die aanspraak op gasvryheid is groter op party as op ander, gereeld en gewigtig word daar gevra vir ‘n broodjie of ‘n randjie, en hoe gereeld word ons nie in versoeking gelei om nee te sê en te kla oor hoe baie daar van ons gevra word nie? Sulke geleenthede om gasvry te wees moet omarm en as voorreg gesien word om diensbaar aan Christus te wees.
As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. Die Here rus ons elkeen toe vir diens, en maak ons ook verantwoordelik om ons gawes te gebruik in diens van ons broers en susters.
En as daar op ons elkeen die verantwoordelikheid rus om ons bydrae volgens ons gawes te lewer, dan rus daar ook op ons as gemeente die taak om vir elkeen ruimte te maak om te dien. Daarom moet ons ruimte maak vir elkeen van hierdie Belydenisklas katkisante wat vandag graag volwasse lidmate van die gemeente wil raak om hul diens te lewer, en hul ook aanmoedig om diensbaar in die gemeente te wees en te bly.
Suzaan het gesê sy sal graag by die kinders wil diens lewer. Sy is mal oor kinders. So sy sal graag by die kinderkerk wil diensbaar wees. Storm het gesê hy sal graag ‘n Laerskool rugby spannetjie wil afrig. Lucanne het gesê sy sal graag haar vriende meer wil leer van hoe God in die natuur is. Carla Mostert het gesê sy is bereid om by enige plek waar daar hulp nodig is diensbaar te wees. Karla Odendaal het gesê sy sal graag help met spesiale geleenthede van die gemeente soos die Kerssangdiens, Pinkster en 40dae. Michael het gesê hy sal graag wil help met iets fisies soos bou of ontwerp. Dricus het gesê dat hy baie graag ‘n kategese klas sal wil aanbied. Hanneke het gesê dat sy graag haar gawe van sang wil gebruik om by die voorsang aan te sluit. En Jannike het gesê dat sy ook graag by die kategese wil betrokke raak en ook by die voorsang groep aansluit.
Daar het julle dit. Nege jongmense wat bereid is om hulle Godgegewe gawes uit te leef in diens van mekaar en die groter gemeenskap. Waar gaan jy betrokke raak? Om lidmaat van die gemeente te wees beteken om aktief deel te neem in die werksaamhede van die gemeente, nie net om die banke warm te sit nie. Waar gaan jy betrokke raak?
As lede van ‘n Christen gemeenskap is ons afhanklik van mekaar se gawes. Ons het mekaar nodig om te kan saamstaan as Christene teen dinge soos geweld, teen dinge soos korrupsie, teen dinge soos om neer te kyk op ander, ons het mekaar nodig om vir die wêreld die alternatief te bied. As ons dit nie gaan uitleef nie, hoe gaan ander mense van die alternatief weet?
As ons hierdie dinge nie doen nie, gaan die gemeente nie oorleef nie. As ons hierdie dinge nie doen nie, gaan ons geloofsgetuienis al stiller en dowwer raak totdat die kole in as doodgaan.
Die Evangelie begin by jou! Waar gaan jy diens doen?
Só moet ons God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid!
Amen.