Filippense 2: Stephan-Wessel en Lynn-Marie

Filippense 2:1-4, vir Stephan-Wessel en Lynn-Marie.

 

Wanneer ons na hierdie gedeelte kyk sal ons sien dat sommer hier aan die begin word die fondasie vir eenheid gelê. In hierdie geval eenheid in die gemeente, maar vandag ook net so van toepassing op eenheid tussen julle twee. Die eenheid tussen twee mense wat lief is vir mekaar.

 

Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons mekaar troos deur die krag van Jesus Christus. Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons mekaar aanspoor deur die liefde van God. Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons saam kuier, lag en gesels, deur die krag van die Heilige Gees. Hierdie eenheid raak sigbaar wanneer ons innige meegevoel en meelewing met mekaar het. Hierdie tiepe eenheid behoort die fondasie te wees tussen twee mense wat lief is vir mekaar.

 

Paulus se blydskap en ook ons blydskap sal gesien word wanneer ons eensgesind is in liefde, van harte of gedagte en in strewe.

 

Om eensgesind in liefde te wees beteken om saam lief vir die Here te wees. Hoe nader julle aan Hom beweeg, hoe nader sal julle aan mekaar beweeg. Hy behoort die hoeksteen in julle verhouding te wees. Sonder Sy insig en wysheid gaan julle verhouding nie wees wat dit kan wees nie. Om saam gereeld tyd te spandeer om in te check by mekaar of julle nog op die pad is wat die Here vir julle uitgesit het is belangrik.

 

Om eensgesind in liefde te wees beteken ook om vir mekaar lief te wees. Nou vandag mag dit dalk absurd klink om te sê julle moet vir mekaar lief wees, maar wag maar tot daai verhoudingsiklus se wiel begin te draai. Wanneer die wittebroodfase omskakel in die magstryd en in die oorlewingsfase gaan dit moeilik raak, dan gaan julle moet kan terug dink na vandag en onthou hoekom julle saam is en Wie julle saamgebring het. Onvoorwaardelik moet julle lief wees vir mekaar as julle julle eenheid tussen mekaar wil beskerm en behou. Sonder voorwaardes moet julle vir mekaar lief wees en bly.

 

Julle albei hou van goeie ontwerp so ek’t dit goedgedink om ook hierdie vir julle in ontwerp taal te verduidelik. Om een in liefde te wees kan vergelyk word deur te besluit, gaan julle Windows of Mac gebruik om julle lewe op te ontwerp? Elkeen met sy voor en nadele, maar julle moet besluit watter Operating System julle gaan gebruik, anders gaan die taal wat julle praat incompatible met mekaar wees en uiteindelik gaan julle afsonderlike lewens ontwerp.

 

Om een van hart te wees beteken dat julle saam dieselfde dinge sal oordink. In julle gees moet julle saam dieselfde dinge oordink om so saam tot ‘n besluit te kan kom eerder as wat een vir die ander sê hoe dinge nou gaan wees.

 

Hier kan ons sê julle moet nou besluit tussen InDesign, Photoshop of Illustrator. Julle gaan vanuit dieselfde program moet dink of ontwerp sodat julle saam tot ‘n nuwe of beter ontwerp kan kom. Eerder as wat een van julle sommer gou in Paint ‘n prentjie wil teken terwyl die ander groot ontwerp skuiwe in Photoshop wil maak.

 

Om een in strewe te wees beteken dat julle gedrewe sal wees deur dieselfde begeertes en daardeur julle gedagtes, woorde en dade op dieselfde mikpunte sal rig. Daarom is dit belangrik om op ‘n gereelde basis saam te droom oor julle toekoms. Om gereeld saam te dink oor waar wil julle volgende jaar wees, waar wil julle oor drie of vyf jaar wees? Hierdie is die tiepe dinge wat vorm gee aan julle lewe en daarom ook aan julle verhouding en as julle nie drome deel nie, gaan julle drome op die einde van die dag die eenheid tussen julle bedreig.

 

Dit waarna julle as couple of egpaar strewe gaan die belangrikste wees van julle lewe! Hierdie is waarskynlik die eerste vraag wat julle saam met mekaar sal moet deurpraat en beantwoord. Waarna strewe julle? Wil julle ‘n vir ‘n groot maatskappy vinyl billboards ontwerp of julle eerder websites design of wil julle dalk iets heeltemal anders doen waaraan niemand nog gedink het nie? Waar en hoe julle julle ontwerp vir julle lewe gaan uitlê of uitlewe bepaal watter programme en bedryfstelsels julle sal moet gebruik.

 

Een in strewe vra baie van ‘n mens, van elkeen van julle! Dit vra opoffering, dit vra nederigheid, dit vra deursettingsvermoë, dit vra liefde, dit vra geduld, dit vra eerlikheid oor julle drome.

Daar is ook ‘n duidelike waarskuwing: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as hom of haarself. Niks moet gesê, gedink, of gedroom word uit selfsugtigheid nie.

 

Selfsugtigheid is nie die manier van doen van ‘n Christen nie. ‘n Selfsugtige ego soek self eer en aansien ten koste van die eenheid van die verhouding. Selfsugtigheid sal die eenheid van die verhouding altyd afbreek.

 

In nederigheid moet die een die ander hoër as hom of haarself ag. Nederigheid en ‘n gematigde opinie van jouself is die teenoorgestelde van iemand wat leef vir eie eer en aansien, en dit neem die ander in ag. Só ‘n nederige houding sal die eenheid van die verhouding bevorder, want dit bind gelowiges saam in respek en waardering.

 

Die vierde vers herhaal hoe gevaarlik selfsugtigheid in ‘n verhouding kan wees. Daarom, dink aan mekaar se behoeftes, help mekaar, kyk na mekaar deur dik en dun. Selfsugtigheid kyk net na die self, en waardeer nie mekaar nie, en is ook blind vir mekaar se behoeftes.

 

Nederigheid en liefde rig juis ons gedagtes op die behoeftes van mekaar. Om een in liefde, een van hart, en een in strewe te wees vra dat julle in julle huwelik:

 

  • Met mekaar sal praat oor die goeie sowel as die slegte. Dat julle julle vreugdes en bekommernisse met mekaar sal deel.
  • Saam sal dink oor dinge wat aan die gang is sodat julle nie verby mekaar lewe nie en maar net aanneem die een weet wat in die ander se kop aangaan nie.
  • En ook saam sal droom oor hoe julle toekoms gaan lyk, sodat julle julle kragte saam kan span om ‘n gedeelde toekoms ‘n werklikheid te skep.

 

Deur julle lewe te ontwerp met gedeelde liefde, gedeelde hart en gedagtes, en gedeelde strewe sal julle ontwerp dalk ietsie van die Bauhaus weerspieël, en verseker getuig van die Here se krag tussen twee mense wat lief is vir mekaar.

 

Formulier volg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *