Jesaja 32: Gee aandag, luister na my…

Dit is ‘n mooi somersdag, en sy stap deur die poorte die stad binne. Sy sien ouer mense rondsit en gesels, sy hoor die gelag van kinders in die strate, soos sy die stad verder binnestap. Sy stap verby ‘n groep mans wat besig is om ‘n tonnel te kap op pad na die markplein. Daar word feesgevier, mandjies vrugte, oral vrylik beskikbaar. Vol bekers wyn word geskink en geniet. Maar bo dit alles roep iemand kliphard, “Gee aandag, luister na my…”

 

Lees Jesaja 32:9-20

 

Die tyd waarin ons onsself vandag bevind is iewers tussen 836 en 715 v.C. Dit is voor die val van Jerusalem in 701 v.C. Ons is in Juda, die Suidelike ryk, en koning Hiskia is waarskynlik aan die regeer. Hiskia het bekend gestaan as die groot hervormer, maar ook as ‘n rebel.

Hiskia was die regmatige opvolger tot die troon na die dood van sy pa, Agas. Agas het toegelaat dat morele verval die land binnedring saam met die Baalse afgodsdiens, van sy vrou Isebel, wat hy toegelaat het. Hiskia was wel anders as sy pa, hy het die hoogtes en die tempel gereinig van alles wat nie behoort tot die Jodedom nie. Hiskia het die offerdiens in ere herstel, die diens van die leviete gereël, die Paasfees gevier, en selfs vir Israel, die Noordelike ryk, daarheen uitgenooi.

Met die geestelike hervorming was daar ook uiterlike welvaart. Die lande het goed gedra en die mense kon goeie oeste in. Hiskia het selfs aandag aan die stad se watertoevoer gegee deur ‘n tonnel van 600m te laat kap. Een span het aan die kant van die Gihonfontein begin kap en ‘n ander binne die stad. Hierdie watertonnel was inderdaad ‘n ingenieurs wonder. 50m onder die grond het twee spanne vir maande aaneen na mekaar toe gekap met die hoop om bymekaar uit te kom, en op ‘n dag gebeur dit toe. ‘n Tonnel van 600m lank, 50m diep, is voltooi en toe vloei die water van die fontein tot in die stad se dam.

Hierdie is alles dinge wat veroorsaak het dat die mense op hulle gemak begin raak het. Hulle het ‘n onbesorgde lewe gelei, hulle het gedink dat die lande wat hulle gesaai en geoes het, en die waterkanale wat hulle gekap het goed is en nog lank sal staan. Hulle was selfversekerd. Hulle was selfstandig.

—–

Hierteen roep die profeet: “Gee aandag, luister na my, julle vrouens wat so onbesorg lewe, luister na wat ek sê, julle wat so selfversekerd is!”

Die roep tot aandag deur Jesaja in vers 9, gaan die roep tot publieke rou in vers 11 voor, en as die profete gebruik maak van so ‘n sterk roep tot aandag is dit gewoonlik in tye van ‘n noodgeval. So ‘n roep het tipies drie elemente; opdragte om mense bymekaar te roep, dat genoem word wie bymekaar geroep word, en die rede waarom hulle bymekaar geroep word. Al drie hierdie elemente teenwoordig in verse 11-14. Die vroue word bymekaar geroep, daar word ook gesê dat hulle verskrik sal staan, hulle sal bewe, en dat hulle rouklere moet aantrek. Die rouklere het bestaan uit ‘n growwe sak, amper soos die sakke waarin ons ons tuinvullis uitsit. Hulle moes dit om hulle middel draai en kaal bolyf rondloop, dit was die algemene praktyk as mense gerou het. Die rede waarom hulle bymekaar geroep word is omdat nie net die lande nie, maar die stad ook in bedreiging is.

Nou moet verstaan word dat hierdie vroue in ‘n vreugdevolle bui is. Hulle vier fees oor die goeie oes wat hulle ingesamel het. Hulle is gelukkig. Nou staan daar ‘n man en roep hulle tot aandag. Hy sê vir hulle om op te hou waarmee hulle besig is, en rouklere aan te trek, want in min of meer ‘n jaar se tyd sal daar nie meer rede wees om fees te vier nie. Hulle sal nie wyn hê om te drink nie, of vrugte om te eet nie, hulle sal wel rede hê om te bewe. Hy sê vir hulle dat hulle eens vrugbare lande met dorings en dissel oortrek sal wees.

Hierdie twee belewenisse of tonele staan in skrille kontras met mekaar. Die een oomblik het hulle alles, die volgende oomblik word daar vir hulle gesê hulle sal niks hê nie. Wie wil nou in tye van feesvier herinner word dat daar slegte tye gaan wees?

En waar is God?

Hierdie mense, selfs onder die koningskap van Hiskia het meer en meer op hulself begin staatmaak. Hulle het hulle landerye goed versorg. Hulle het tonnels gegrou sodat water van ver vervoer kon word tot voor hul huise. Hulle het al hoe meer in gemak begin leef. En hoe meer hulle in gemak begin leef het, hoe minder het hulle aan God gedink. Aan hoe Hy hulle eens op ‘n tyd uit Egipte verlos het, aan hoe Hy nog deur al die jare by hulle is, aan hoe hulle oeste eintlik te danke aan die Here is en nie hulle eie handewerk nie, aan hoe die lewegewende water van God af kom.

Die profeet noem dat die paleis verlate sal wees, en die stad leeg. Dat selfs die wagtoring op Ofel, die wagtoring op die heuwel, leeg sal wees, daar sal wilde donkies lustig vreet en troppe vee vrylik wei. Nou verbeel jou Bloemfontein is leeg. Niemand stap in die Waterfront rond nie, daar ry nie motors in die strate nie, Woolies se deure hang skeef uit hulle skarniere, die rakke is leeg… Die kerkklok is stil… As dit aand word brand daar nêrens ‘n liggie nie, daar is nie eens selfoon sein nie, alles is verlate… Dít is wat die profeet vir hierdie mense voorspel.

—–

En tog gaan die profeet verder in vers 15, “So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word.” Ewe skielik ruk die profeet weer die mense tot aandag. So sal dit wees tot die Gees van Bo af op ons uitgestort word.

Die ‘van Bo af’ waarvan hier gepraat word verwys waarskynlik na die hemel as die plek van God. In hierdie situasie is die Gees wat van Bo af kom, die Gees wat van God af kom. Hierdie gedagte het ook via Joël 3.1 sy weg na die Nuwe Testament gevind met die Pinkster verhaal in Handelinge 2:1 en 2:15. Die Gees word intiem gekoppel aan die lewegewende aspekte van God, wat Sy wil en doel vir ons lewens insluit. Die uitstorting van die Heilige Gees is ‘n heilige krag wat deur niemand weerstaan kan word nie, en is karakteriserend van ‘n tydperk van verlossing. Die uitstorting van die Heilige Gees bring ‘n wonderlike lewenslus in die mens wat saamhang met ‘n gehoorsaamheid waarsonder verlossing nie kan wees nie.

Verse 16 tot 18 wil dit duidelik maak dat vrugbaarheid en geregtigheid met mekaar verband hou. Die mense wat hier aangespreek word sal eindelik in veiligheid en rus sonder sorge kan lewe, mits hulle regverdig handel. Die profeet maak dit duidelik; deur geregtigheid te laat geskied, word die land ‘n oord van vrede.

Hierdie vrugbaarheid word beklemtoon in die oorvloedigheid van vers 20. Die profeet maak weer gebruik van die landbou taal wanneer hy noem dat die saad langs baie waters gesaai sal word, en die vee vrylik sal kan rondloop, anders as wat hulle in stalle gevoer word vanweë droogte en onveiligheid.

—–

Nou wonder ons, wat het hierdie mense gedoen sodat die Here sy Gees oor hulle uitgestort het? Het hulle ooit hulle rouklere gaan aantrek? Het hulle op hul borste geslaan? Het hulle iets gedoen? Of het God alles gedoen?…

Aan die een kant het ons valse onbesorgdheid. Selfversekerdes wat hulle vertroue in hul oeste en ingenieursvernuf plaas. Vroue wat geroep word om berou te toon sodat hulle land en stad nie sal vergaan nie. ‘n Profeet wat verlatenheid voorspel. Velde waar dorings en dissels sal groei. Waar groot wagtorings was, sal daar nou wilde donkies wees. Mense wat op hulself probeer staatmaak.

En aan die ander kant die Heilige Gees. Waar ‘n woestyn in ‘n digte vrugteboord verander. Waar mense reg doen en ware vrede geniet. Waar die volk in ‘n veilige stad woon. Waar daar langs strome water gesaai word. Waar beeste en donkies sonder oppassers kan wei.

Dit staan direk teenoor mekaar. Hierdie mense het waarskynlik berou getoon, maar ons weet dit nie, dit staan nie in die teks nie. Wat in die teks staan is dat God sy Gees van Bo af uitgestort het. Hy het na die mens gekom. Sonder dat hulle dit verwag het, verskyn God in die vorm van die Heilige Gees en verander hulle lewens. Omdat Hy vir hulle lief was het Hy keer op keer sy hand na hulle uitgesteek en die beter lewe vir hulle aangebied. Hulle het niks gedoen om dit te verdien nie, met al hulle dade kon hulle dit nie verdien nie. Die beter lewe was ‘n geskenk aan hulle. Dit was genade van God.

So, op wie vertrou jy? Maak jy op jouself staat? Of maak jy op God staat?

Jesaja 43: God handel nuut

Om hierdie nuwe jaar in te gaan kan nogal baie interessant wees.

Dit beteken dat ons kan (en moet!) terugkyk na die jaar wat verby is terwyl ons ook vorentoe kan (en moet!) kyk. In die ontwikkelingsielkunde praat hulle van ’n aantal belangrike ontwikkelingstake wat ’n mens in elke fase van jou lewe het. Nou is die “ontwikkelingstaak” van ’n gelowige op die oorgang van die ou na die nuwe juis om weerskante toe te kan kyk … vorentoe en agtertoe.

As ons terugkyk na die afgelope 2013 sal ons waarskynlik (elkeen in ons eie omstandighede) redes kan aanvoer waarom ons dankbaar moet wees. Daar is dinge soos die Here se sorg en bewaring. Daar was vreugdes en daar was verrassende uitkomste wat gekom het waar ons nie lekker die uitkoms kon voorsien nie.

God het vir my ’n al groter verrassende en sorgende God geraak! God is inderdaad lewend en betrokke by Sy kerk en by Sy wêreld.

Daar was ook ontstellende dinge wat gebeur het en dinge wat ons getraumatiseer het.

Vir party was dit meer en vir party was dit minder.

Maar dit was ook deel van die 2013-pakkie. In die land het ons droogtes gehad. Ons het ontstellende moorde gehad. Ons het moeg geword vir die korrupsie en swak dienslewering. Nelson Mandela het gesterf.  En dit het toe nie die “nag van die lang messe” geword nie, maar eerder die dag van feesviering oor die kosbare waardes waarvoor hy gestaan het.

… en intussen raak ons op soek na al meer gestaltes van hierdie waardes!

 

Nou is die vraag hoe ’n gelowige daarop moet reageer?

En sien ons in die geloof kans vir die geloofsreis wat netnou gaan afskop?

Vertrou jy God genoeg om met geloof en hoop na 2014 te kyk?

Die gelowiges waarmee die profeet Jesaja hier in Jes 43 praat het geweet van terugkyk, maar hulle het bietjie gesukkel met die deel van hoopvol vorentoe te kyk. Hulle situasie was nie te rooskleurig nie. Hulle was vasgevang in die sterk politiek van die wêreld van die jare 500 voor Christus.

Die Galdeërs hou hul vasgevang in die ballingskap en daar is geen hoop op bevryding nie.  En nou wonder hulle oor die verlede. Hulle kyk terug na die verlede en hulle onthou van die eksodus uit Egipte. Dit was ’n besonderse ding wat daar gebeur het.

Maar nou het die tyd aangestap.  Die situasie het verander.

En hulle wonder of hierdie God van hulle nog in staat is tot sulke asemrowende verlossingswonders soos jare gelede.

Dit is dan dat die profeet vir die gelowiges sê:

“Ja, dit is goed om terug te kyk!”

Dit help om ’n geloofsgeheue oor God op te bou. Dit help om dankbaar te reageer.

Maar, sê vers 18

“Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

Daar is entoesiasme in die afwagting aan die groei in Jesaja se boodskap. Daar is hoop wat besig is om op te vlam.

En natuurlik kon die gelowiges nie die nuwe uitkoms sien nie. Hulle moes bloot Sy woord hiervoor neem. Is dit nie wat geloof is nie? Om oortuig te wees van die dinge wat jy nie kan sien nie?

Geskiedkundiges sal dan ook sê dat daardie gebeure waar die Koresmagte die Chaldeërs platgeloop het, totaal onverwags was.

En dan gebeur die tweede verrassende:  Die nuwe heidense Kores word God se instrument om vir hulle toestemming te gee om terug te keer na Jerusalem.

God se handelinge is dikwels so totaal verrassend! Dit is iets wat ons in die kerk en ons in Suid-Afrika moet hoor. Ons moet daarvoor aanhou bid sonder om moedeloos te word.

Wat God graag wil doen is om “my volk, my uitverkore volk, se dors te les” (:20).

Vir die volk om terug te stap Jerusalem toe sou ’n bykans fisiese onmoontlike wees omdat die pad deur woestyngebiede sou wees. Juis daarvoor was water… en wonderwerke! … nodig.

God sê Hy sal sy volk se dors les.  Hy sal “in die droë wêreld riviere laat ontspring” (:19)

Dit gaan oor God se sorg vir elke gelowige reisiger. Ook vir my en jou in 2014. Ons dors kan baie verskillende vorme aanneem. Maar ons word uitgedaag om vorentoe te kyk en reeds die riviere en die fonteine raak te sien.

Kan jy jou die verwondering voorstel van ’n dors woestynreisiger wat oor die duin kom en daar voor hom lê ’n oase – ’n oase waarvan hy nie geweet het nie of nog nooit vantevore daar was nie. Dit is dieselfde manier waarop God ons met wonderwerke wil versorg.

As ons vra waarom God dan so vriendelik teenoor sy kinders is, dan lees ons die antwoord in vers4: “Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou lief het, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.”

Ons is vir God kosbaar! Hy ag ons hoog!  Ons is hoog op Sy prioriteitslys. Hy het ons lief. En as jy vir iemand regtig lief is, dan gaan jy uit jou pad om vir daardie persoon te sorg.

Dit is wat God ook vanjaar vir jou op hierdie 2014 geloofsreis wil doen.

So: Kyk terug en wees dankbaar. Kyk vorentoe en wees gelowig!

God staan op die punt om ook in 2014 nuwe dinge te doen, in my en jou lewe!

Amen.