Om hierdie nuwe jaar in te gaan kan nogal baie interessant wees.
Dit beteken dat ons kan (en moet!) terugkyk na die jaar wat verby is terwyl ons ook vorentoe kan (en moet!) kyk. In die ontwikkelingsielkunde praat hulle van ’n aantal belangrike ontwikkelingstake wat ’n mens in elke fase van jou lewe het. Nou is die “ontwikkelingstaak” van ’n gelowige op die oorgang van die ou na die nuwe juis om weerskante toe te kan kyk … vorentoe en agtertoe.
As ons terugkyk na die afgelope 2013 sal ons waarskynlik (elkeen in ons eie omstandighede) redes kan aanvoer waarom ons dankbaar moet wees. Daar is dinge soos die Here se sorg en bewaring. Daar was vreugdes en daar was verrassende uitkomste wat gekom het waar ons nie lekker die uitkoms kon voorsien nie.
God het vir my ’n al groter verrassende en sorgende God geraak! God is inderdaad lewend en betrokke by Sy kerk en by Sy wêreld.
Daar was ook ontstellende dinge wat gebeur het en dinge wat ons getraumatiseer het.
Vir party was dit meer en vir party was dit minder.
Maar dit was ook deel van die 2013-pakkie. In die land het ons droogtes gehad. Ons het ontstellende moorde gehad. Ons het moeg geword vir die korrupsie en swak dienslewering. Nelson Mandela het gesterf. En dit het toe nie die “nag van die lang messe” geword nie, maar eerder die dag van feesviering oor die kosbare waardes waarvoor hy gestaan het.
… en intussen raak ons op soek na al meer gestaltes van hierdie waardes!
Nou is die vraag hoe ’n gelowige daarop moet reageer?
En sien ons in die geloof kans vir die geloofsreis wat netnou gaan afskop?
Vertrou jy God genoeg om met geloof en hoop na 2014 te kyk?
Die gelowiges waarmee die profeet Jesaja hier in Jes 43 praat het geweet van terugkyk, maar hulle het bietjie gesukkel met die deel van hoopvol vorentoe te kyk. Hulle situasie was nie te rooskleurig nie. Hulle was vasgevang in die sterk politiek van die wêreld van die jare 500 voor Christus.
Die Galdeërs hou hul vasgevang in die ballingskap en daar is geen hoop op bevryding nie. En nou wonder hulle oor die verlede. Hulle kyk terug na die verlede en hulle onthou van die eksodus uit Egipte. Dit was ’n besonderse ding wat daar gebeur het.
Maar nou het die tyd aangestap. Die situasie het verander.
En hulle wonder of hierdie God van hulle nog in staat is tot sulke asemrowende verlossingswonders soos jare gelede.
Dit is dan dat die profeet vir die gelowiges sê:
“Ja, dit is goed om terug te kyk!”
Dit help om ’n geloofsgeheue oor God op te bou. Dit help om dankbaar te reageer.
Maar, sê vers 18
“Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”
Daar is entoesiasme in die afwagting aan die groei in Jesaja se boodskap. Daar is hoop wat besig is om op te vlam.
En natuurlik kon die gelowiges nie die nuwe uitkoms sien nie. Hulle moes bloot Sy woord hiervoor neem. Is dit nie wat geloof is nie? Om oortuig te wees van die dinge wat jy nie kan sien nie?
Geskiedkundiges sal dan ook sê dat daardie gebeure waar die Koresmagte die Chaldeërs platgeloop het, totaal onverwags was.
En dan gebeur die tweede verrassende: Die nuwe heidense Kores word God se instrument om vir hulle toestemming te gee om terug te keer na Jerusalem.
God se handelinge is dikwels so totaal verrassend! Dit is iets wat ons in die kerk en ons in Suid-Afrika moet hoor. Ons moet daarvoor aanhou bid sonder om moedeloos te word.
Wat God graag wil doen is om “my volk, my uitverkore volk, se dors te les” (:20).
Vir die volk om terug te stap Jerusalem toe sou ’n bykans fisiese onmoontlike wees omdat die pad deur woestyngebiede sou wees. Juis daarvoor was water… en wonderwerke! … nodig.
God sê Hy sal sy volk se dors les. Hy sal “in die droë wêreld riviere laat ontspring” (:19)
Dit gaan oor God se sorg vir elke gelowige reisiger. Ook vir my en jou in 2014. Ons dors kan baie verskillende vorme aanneem. Maar ons word uitgedaag om vorentoe te kyk en reeds die riviere en die fonteine raak te sien.
Kan jy jou die verwondering voorstel van ’n dors woestynreisiger wat oor die duin kom en daar voor hom lê ’n oase – ’n oase waarvan hy nie geweet het nie of nog nooit vantevore daar was nie. Dit is dieselfde manier waarop God ons met wonderwerke wil versorg.
As ons vra waarom God dan so vriendelik teenoor sy kinders is, dan lees ons die antwoord in vers4: “Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou lief het, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.”
Ons is vir God kosbaar! Hy ag ons hoog! Ons is hoog op Sy prioriteitslys. Hy het ons lief. En as jy vir iemand regtig lief is, dan gaan jy uit jou pad om vir daardie persoon te sorg.
Dit is wat God ook vanjaar vir jou op hierdie 2014 geloofsreis wil doen.
So: Kyk terug en wees dankbaar. Kyk vorentoe en wees gelowig!
God staan op die punt om ook in 2014 nuwe dinge te doen, in my en jou lewe!
Amen.